• No results found

Hoofstuk 2: Eienaarskap van die groter Steenbergvallei

2.6 Die VOC-periode: Die landtekens Steenbergen, Steenbergvallei, Prinskasteelberg,

2.6.5 Soetvlei

Dié soetwatervlei behels die ineenvloeiing in die voormalige Keiserrivier, min of meer onderkant die grens van die Constantia-plaas van 1685, van die Buffelsvallei en die bo-Keiser- of Spaanschematrivier (DRDLR 1906). Die vlei was nooit deel van Tokai nie, maar 'n aangrensende erfpag van Bergvliet (NASA, KAB 1795). Die vleigebied in die Ondertuine word soms as Soetvlei, in plaas van Buffelsvlei of Prinskasteelvlei, na aanleiding van ouer amptelike kaarte, gesien (DRDLR 1963,1970,1983). In die 2009-verslag van TNP word dit korrek as buite Tokai-park aangedui (TMNP 2009:14), maar kaarte 12 en 13, “Tokai future vision” in dieselfde verslag, plaas die Soetvleiarea binne Tokai-park (:28,29). Die oorsigfout het waarskynlik sy oorsprong in foutiewe inligting op die amptelike kaarte van Suid-Afrika, wat deur die Kartografiese Afdeling van die Kantoor van die Landmeter-generaal in Mowbray opgetrek word. Die foutiewe benaming het moontlik met die benaming van die Ondertuine se wingerde na die 1890's begin. Die inenting van Amerikaanse wingerdstokke na afloop van die groot filloksera-pes van die 1880's is sedert die 1890's in die Ondertuine bedryf (NASA, KAB 1896d). Mettertyd is die bedryf deur ander instansies oorgeneem en die Ondertuine is gebruik vir wingerde, wat toe die naam Sweet Valley

Vineyards kry. Hierdie verwysing kom net op enkele kaarte seder 1963 voor en die fout is in 1992 reggestel. Indien slegs een van die kaarte uit hierdie periode gebruik word, kan dit maklik tot so 'n flater aanleiding gee, soos by enkele individue teëgekom. Die regstelling wat sedert 1992 op die amptelike kaarte aangebring is, stem ooreen met die amptelike diagram van Soetvlei in die Kantoor van die Land- meter-generaal (DRDLR 1885). Uit 'n seleksie van sewe amptelike kaarte, 1933, 1942, 1963, 1970, 1983, 1995, 2003 (DRDLR), word Buffelsvlei, later Prinskasteelvlei, op drie kaarte, 1963, 1970 en 1983, as Soetvlei aangedui. Die eerste kaart van 1933 en die laaste twee kaarte, 1995 en 2003, dui Soetvlei aan as aangrensend aan Tokai. Dit is die korrekte ligging volgens die 1883-kaart (NASA, KAB 1883n), die eerste gronduitgif as leengrond of erfpag in 1764 aan Jacob Rholand as aangrensend aan Bergvliet (TANAPb 1764), asook 'n skets en die grondbeskrywing op diagram 2731 van 1885 (DRDLR 1885;Dia- gram 5 Bylaag B), wat dit as grond tussen Tokai en Bergvliet aandui.

Soetvlei is van belang vir Tokai se geskiedenis ten opsigte van weiding, naamgewing en as dreinerings- gebied van die voormalige Buffelsvlei en huidige Prinskasteelkanaal. Laasgenoemde is een van twee historiese kanale wat aan die groter gebied verbind word. Die tweede kanaal is steeds funksioneel, maar sy geskiedenis is vergete. Dit is die kanaal wat deur een van die vorige eienaars van 'n gedeelte van Baas- harmenskraal, J.A. Munnik, gegrawe is (NASA, KAB 1837c;1838a). Die kanaal word ook op diagram 2731 van 1885 (DRDLR 1885) aangedui, asook op 'n sketskaart van Melvill (NASA, KAB 1838a). Die Soetvlei is grootliks deur menslike ingryping verander. Hoewel dit voorkom of die Buffelsvlei (Prinskas- teelrivier) in die Keiserrivier invloei, is die aansluiting steeds in die noordwestelike hoek van die stukkie van Soetvlei wat oor is (MapStudio 1994/5:77).

Histories is Soetvlei belangrik vir die Tokai-area, want die oewers van Soetvlei aan Baasharmenskraal se kant was 'n gunsteling weidingsarea vir boere van die groter Steenbergvallei (NASA, KAB 1803e). In 1921 is die grond aan die oorkant van die Keiserrivier steeds deur die boere van Constantia as weiding gebruik (1821). Dit is moontlik die area waar Fredrik Russsouw en Johanna Rosendaal van Swaanwyk tussen 1688 en 1699 hul 84 koeie, osse en jong verse, 76 kalwers, waarvan 38 van ses maande en die res van 1 en 1/2 jaar, 530 klein en groot skape en 16 perde en vulletjies laat wei het (TANAPc 1699), want hul plaas was maar 25 morg groot (NASA, KAB 1688). 'n Grondverslag van 1821 (1821a) het Swaans- wyk se grond as baie swak beskou: “The greatest proportion of the land is very steep being part of the Steenberge. The remainder would not keep two cows all year round.” Dit is ondenkbaar dat die weiding oor een eeu so drasties kon verander het – Swaanswyk het nie oor sy eie weiding beskik nie en daarvoor was Soetvlei en Baasharmenskraal goed geleë om in Swaanswyk se behoefte te voorsien, veral omdat daar toe weinig boere in die Constantia-vallei was.

Soetvlei het sy naam te danke aan die aard van die water. Die geoloog, Compton (2004:34-5,95) reken water van die Tafelbergformasie het 'n pH van 4, wat die teenwoordige suur tien maal hoër as reënwater met 'n pH van 5.6, maak. Hierdie water syfer deur al die rots- en grondlae en dit het op die ou einde 'n

groot invloed op die tipe plantegroei wat deur die verskillende klippe en rotssoorte ondersteun word. Bestanddele in die grond ontbreek om die suur te neutraliseer. Maar teen die tyd wat die water in Soetvlei vergader, is dit taamlik gesuiwer deur die palmiet, Prionium serratum, (Bezuidenhout 2013). Palmiet word reeds in 1728 gedokumenteer in die rivierbedding van die Buffelsvlei (TANAPb 1728; NASA, KAB 1883n) – vandaar die naam van die vlei – “soet”. Ook in verhouding met die Keiserrivier tussen Soetvlei en Sandvlei, is Soetvlei soet. Stroomaf was die water brak wanneer die mond van Sandvlei oop- spoel (TANAPb 1728). Met springgety het Sandvlei verby die 13de mylsteen opgestoot. Indien die ri- viermond toe was tydens springgety, dam die water wat in die vallei afloop, op en dit vernietig alles wat aangeplant is (NASA, KAB 1821a). Baasharmenskraal, wat in die 18de eeu 'n natuurlike weidingsarea van die Kompanjie word (Sleigh 2004:264,340), is aan die oorkant van Soetvlei op die oewer van die Keiserrivier geleë. Die wadrywers het daar uitgespan en osse gereed gekry vir die togte na Tafelbaai of Simonsbaai.

Die herleiding van die Buffelsvleirivier18 na die Steenbergkoppierivier, voortaan Steeenbergsrivier, soos aangetoon op die 1795-militêre kaart (Brommer 2009:192), het die presiese samekoms van riviere en spruite vir navorsing deurmekaar gelaat. Die Soetvleigebied het onderkant Bergvliet, waar die Spaans- chematrivier en waarskynlik die Grootboschkloofrivier verenig het, begin. Die vermenging met die brak- water van die Keiserrivier het moontlik die suidelike grens van die vlei bepaal. Die kaart van die beleg van Muysenburg, 1795, toon met kleur aan hoe die water verskil: die onderste helfte en Sandvlei het die- selfde donker kleur, terwyl die water van Soetvlei 'n ligter kleur vertoon (Brommer 2009:192). Die Steenbergsrivier het in die laer Keiserrivier ingevloei wat weer in Sandvlei gevloei (Brommer 2009:192). Pierre van der Aa se kaart van ca 1710 dui die voedingsaar van Sandvlei aan as slegs een vleiagtige rivier (Glatigny, Maré, Viljoen 2008:312). In 1728 word Baasharmenskraal by (aangrensend tot) Sandvlei gereken (TANAPb 1728). Die Prinskasteelrivier vloei sedert ca 1800 in die Soetvlei wat weer in die Keiserrivier invloei (NASA, KAB 1800b;1883n;DRDLR 1963;2003).

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN