• No results found

Britse grondbeleid na 1806: einde van beskermde houtveldbestuur

Hoofstuk 3: Ekonomiese verbruik van die aarde: Tokai-landgoed en omliggende grond, 1792-1883

3.2 Die Kaapse Distrik: vernaamste kommoditeite, wyn en hout

3.2.4 Britse grondbeleid na 1806: einde van beskermde houtveldbestuur

Na 1806 word die Britse beheer en bestuur aan die Kaap gekenmerk aan konsolidasie van gesag op ver- skeie terreine. Die ekonomiese, sosiale en administratiewe probleme van die onderskeie regerings sedert 1795 was steeds teenwoordig. Maar omdat die Britse owerheid onseker was of die Kaap 'n Britse kolonie sou bly, het daar nie daadwerklike optrede gevolg oor ekonomiese vraagstukke nie (Freund 1982:229-30). Beleidsvraagstukke, soos die kwessie van regeringsgrond, asook houtkwessies, het wel onmiddellik aan- dag gekry, maar timmerhoutkwessies was belangriker (NASA, KAB 1806). Die hoof-doelwit was om al die bosse van die Kaapkolonie kroongrond te maak (Sim 1907:78). Die Britse regering het die bedeling van staatsgrond, bosbeheer en besit soos wat hy dit van die vorige bedelings sedert 1795 oorgeërf het, voortgesit. In 1862 is al die VOC-plakkate as 'n addendum tot die “Statute of Law of the Cape of Good Hope” gepubliseer. Uit die 1,200 wette was daar 100 wat min of meer op bosbouaangeleenthede betrek- king het (:76). Maar volgens Sim (:76,78) het die bosboubestuursprobleem uit 'n gebrek aan wetgewing in die VOC-periode voortgespruit.

Die bos- of houtbeheer was aanvanklik nou gekoppel aan die grondbeleid. Goewerneur Cradock het die ontwikkeling van grond as 'n landbouekonomie beskou en wou die uitreiking van grond tot die beste voordeel van die staat doen. Erfpag moes geskrap word ten gunste van ewigdurende erfpag (Duly 1965: 360). Intussen het die regering binne 'n maand die hoofhoutposte, Witteboomen en Baasharmenskraal, vir Nuweland, eiendom van Duckitt, verruil (NASA, KAB 1806b;c;d). Duckitt, die landboukundige, is daar- deur bevoordeel, maar dit was ten koste van houtveldreservering en houtveldbestuur. Vir Tokai sou dit beteken dat die omliggende grond uiteindelik kroongrond sou word, maar dat die privatisering van Baas- harmenskraal ernstige weidingsimplikasies vir Eksteen en die ander boere sou inhou.

Cradock se nuwe grondbedeling het voorsiening gemaak vir 'n kommissaris, wat aan die hoof van rege- ringsgrond, na 1814 kroongrond, gestaan het en terselfdertyd in beheer van hout was. Sy vernaamste taak

was die bestuur van die uitreiking van grond. Aanvanklik wou goewerneur Lord Caledon (1807-1811) die gebruik van alle vorme van leningsgrond van die Hollanders ophef en was daarom nie gretig om gronduitgifte in enige vorm toe te staan nie. Die regering wou ten alle koste die reg behou tot die beheer van grond om die meeste moontlike inkomste uit grond te verseker - die leningsbedrag moes dus in oor- eenstemming met die agrariese waarde van die grond wees. Die Britte was egter gebonde aan 'n interna- sionale ooreenkoms en hul posisie was nie permanent aan die Kaap om goedsmoeds die administrasie te veel te wysig nie. Goewerneur Cradock, Caledon se opvolger, wou egter van die Kaap 'n permanente kolonie maak en het in die geheim 'n grondbeleid opgestel. Hy het hom ook beywer om die Afrikaans- sprekende boere (“Dutch” - ) se vertroue met sy grondbeleid te wen. Daarom het hy in 1813 ewigdurende erfpag of “perpetual quitrent” ingestel. Hierdie stelsel was byna gelykstaande aan volle eienaarskap. In ruil vir bykans volle eienaarskap het die boer 'n respektabele en verantwoordelike grondeienaar geword. Die voorwaardes was dat ongeag die grootte van die grond, die jaarlikse huurgeld nie Rds 250 (ongeveer £15) oorskry nie, maar dat boere die grond binne drie jaar moes bewerk. Alle ewigdurende erfpag sou voorafgegaan word deur 'n behoorlike opmeting, kartering en 'n titelakte. Geen leningsplaas kon meer uitgereik word nie en houers van leningsplase is aangemoedig om hul plase na ewigdurende erfpag om te skakel (Duly 1965:359-61).

'n Plaaslike grondkommissie, bestaande uit die landdros en heemraadslede en in noue samewerking met 'n ingesweerde landmeter, moes elke aansoek se perseel persoonlik besoek, assesseer en die leningsbedrag per jaar vasstel. Duly (1965:361) reken dit is net die ingesweerde landmeter wat 'n nuwe vereiste was. Die goewerneur het nagelaat om oneffektiewe amptenary aan te spreek, maar het die oplossing in 'n in- gevoerde amptenaar met verskeie vaardighede soos landmeetkunde, administrasie en die verengelsing van die boere gesien. Vervolgens is 'n amptenaar uit Londen na die Kaap gestuur (:362). Charles D'Escury20, die nuwe inspekteur van Regeringsgrond en Geboue, maar later gewysig as Inspekteur van Bosse en Grond, het sy eie kop gevolg, sy administrasie verwaarloos en grondaansoeke laat ophoop. Duly (:363-6) gee 'n uiteensetting van D'Escury se gebrek aan samewerking en hoe dit die Britse grondbeleid aan die Kaap laat misluk het. Die gronduitgifte rondom Kaapstad was in 'n groot gemors. Vanaf 1813 tot 1828 het die Kaapse regering 1,337 titelaktes groter as 250 morg en 720 titels minder as 250 morg goedgekeur, 'n jaarlikse gemiddeld van minder as 130. Die aansoeke om grond was in 1813 ten minste 3,000 en teen 1824 meer as 5,000. Meer as 2,900 versoeke is vanuit die distrikte aangestuur na Kaapstad, maar geen van hierdie distrikte se verslae is teruggestuur nie. Sommige aansoekers het in twintig jaar, nadat hulle die geld vir die opmeting en verslag betaal het, geen taal of tyding van hul aansoeke gehoor nie. D'Escu- ry is in 1827 geforseer om sy posisie neer te lê na die bekendmaking van 'n verdoemende verslag deur 'n kommissie van ondersoek. In 1829 is die Kaapse Grondraad of die Cape Land Board ingestel (:367). 20 Baron von Collet D'Escury was 'n Hollander wat in 1795 saam met prins Willem van Oranje na Engeland gereis

het. In 1799 het D'Escury 'n Britse onderdaan geword. Deur kontakte is hy uitgewys en aangestel in die posisie in 1814 sonder dat hy enige noemenswaardige bewys van staatsadministrasie gelewer het (Duly 1965:362).

Eers toe het al die nalatighede van D'Escury se werk aan die lig gekom. Cradock se grondhervormings- plan het skandelik misluk. Die inspekteur se pos is in 1832 vervang met die pos van die koloniale land- meter-generaal (:370).

Die belangrikste gevolg van hierdie aanstelling was die skeiding van magte tussen regeringsbosse en grondsake. Die landmeter-generaal se kantoor sou voortaan direk met die grondtransaksies werk. Eers in 1865 is die Lands' Beacon Act, Wet no. 7 van 1865 aanvaar (Sim 1907:65). Daarvolgens moes al die plase heropgemeet en registers op datum gebring word – 'n taak wat eers teen 1890 in die groter Steen- bergvallei afgehandel is (DRDLR 1890). Teen 1865 was verskeie gedeeltes van die oorspronklike 1714- houtveld reeds in private besit. Die boere het heelwaarskynlik ook geweet dat daar nie behoorlik rekord gehou word van kroongrond nie – veral as daar nie Afromontane bosse gegroei het waaruit die regering finansieel kon voordeel trek nie. Boonop het inheemse hout stadig gegroei. Houtbestuur is in terme van ekonomiese benutting van timmerhoutbosse beskou. Dit het gemaak dat die regering se fokus van die begin af op die (inheemse) bosse van die Suid- en Oos-Kaap was. In 1812 het kaptein Jones 'n verslag oor die houtsituasie in die Suid-Kaap uitgebring, maar geen wetgewing het daarop gevolg nie. Twee kommissies van 1865 asook 1872, se bevindinge het op bosregulasies in 1875 vir die sentrale houtarea, die Suid-Kaap, uitgeloop ( Sim 1907:78). Die regering se gesag was net beperk tot inheemse bosse, wat by die dag besig was om leeg gekap te word.

In 1814, toe D 'Escury aangestel is, het Petrus Michiel Eksteen sy grond gekonsolideer met die registrasie van 255 morg ewigdurende erfpag. Dit het die grond, wat in 1794 vir Teubes geweier en in 1803 nie aan Eksteen afgestaan is nie, ingesluit (DRDLR 1813; NASA, KAB 1814). Die grond, wat onder meer Pon- dokvallei en Buffelsvlei insluit, was ongetwyfeld houtveldgrond van besondere kwaliteit. Die struktuur wat op die 1795-militêre kaart aangetoon word, was ook op die grond (Brommer 2009:192). Dit was moontlik die hart van die Buffelskraal, of die enkelstaande pondok met 'n kampie of kraampie wat suid- oos front, wat as Buffelskraal bekend was. Uit die skamele inligting was die struktuur moontlik die oor- staanplek vir houtwerkers en / of boswagters.

Op 1 Maart 1815 het die goewerneur 'n proklamasie oor die versameling van hout op aangewese openbare plekke en die verbod op die brand van veld uitgevaardig. Hierdie proklamasie was in wese 'n heruitrei- king van die 1743-plakkaat. Daar was in daardie stadium, 1815, erge bergbrande en dit is toegeskryf aan onwettige houtversameling waar die hout wat onder die bome of struike lê, aan die brand gesteek is. Dit moes die lewendige plante uitdroog om droë hout vinnig beskikbaar te maak: “Setting fire to the under- wood upon the waste of public land, with the view of obtaining such wood in a dry state with less trouble to themselves...” Hier word die sondebokke as slawe en Oosterlinge uitgewys. Die bring van enige hout wat verbrand is deur vryswartes, Oosterlinge, Khoina en slawe na die stad of die verkope van sodanige hout op enige plek is ook met hierdie proklamasie verbied (NASA, KAB 1815b). Dit wil dus voorkom of die Britse regering teen 1815 besef het dat die groter openbare houtveld besig was om dramaties te krimp

en moontlik kon verdwyn. Teen 1815 was al die grond rondom Tokai, behalwe in die ooste waar Baas- harmenskraal aan Duckitt gegee is, asook die uitverhuring van Raapekraal, regeringsgrond en houtveld. Hierdie proklamasie van 1815 het enige verdere uitbreiding teen Tokai verhinder. Dit het nietemin ook die geleentheid geskep tot ergenis, indien houtplundering en brandstigting sou gebeur, waarop Eksteen in 1842 in 'n memorandum aan die Koloniale regering gesinspeel het (1842). Die nadeligste effek van die verkope van tradisionele houtveldgrond is die bewaringsaspek wat so verlore geraak het. Waar Buffels- kraal en Raapekraal voor 1792 bekend was as 'n versamelpunt vir silwerboomhout (Sleigh 2004:182; Appel 1966:72), word daar deur sommige ekoloë betwyfel dat die silwerboom ooit sover suid voorgekom het. Hoewel ene Kraus reken dat die silwerbome inderdaad so ver suid as Muysenburg voorgekom het, word dit as 'n moontlike oordrywing afgemaak (SANBI 2008).

Vir alle praktiese doeleindes was die plakkate van die VOC steeds geldig, maar die Koloniale regering moes stelselmatig die wette wysig weens voortgesette houtplundering. Twee ordonnansies, Ordonnansie 5 van 1836 (Foster, Tennant, Jackson 1887:192-4) en Ordonnansie 28 van 1846 (Jackson, Tennant 1906: 413-7), was pogings om die Kaapse Vlakte en Duine se gebruik by hernuwing met wetgewing vas te vat. Weiding kon net met lisensies geskied, maar houtplundering en onwettige rietkappery het na 1836 steeds voortgegaan. Die bou van 'n harde pad deur die duine het die probleme van gestroopte duine - met die gevolglike waaisandprobleem - op die spits gedryf en Ordonnansie 5 is in 1846 met Ordonnansie 28 her- roep. Enige versameling van duineplantegroei is verbied. Swaar boetes, wat wissel van £5 en hoër tot tronkstraf en wat harde arbeid insluit, is in Ordonnansie 5 van 184621 vervat. Ook eienaars of huurders van grond in die Duine of Kaapse Vlakte se vryhede ten opsigte van die plantegroei is ingeperk. Montagu het na die bou van die pad in 1845 vygies of Mesembryanthemum op die duine teen die reusekoste van tussen £1,600 tot £1,700 aangeplant (Lister 1957:13). Lister se opmerking moet saam met Brown (1887: 49) gelees word om die vygieoplossing in perspektief te sien: “From what has been stated, it appears that in the earlier portion of this century (19 de eeu), and in times proceeding, so far as is known, little or no supervision over the crown forests of the Colony was excercised by the Government.” Brown vervolg dan met sy verduideliking dat daar sedert 1820 geen inkomste uit die verhuring van kroongrond gemaak is nie. Brown loof Montagu, koloniale sekretaris, wat twintig jaar later pogings aanwend om met planta- sies die waaisand van die Kaapse Vlakte, tussen Tafelbaai en die Hottentots-Hollandberge, te herwin. Die aanplanting van vygies was dus geen geringe onderneming nie. Voorts reken Sim (1907:65), dat Ordon- nansie 28 van 1846 (ook in Montagu se tyd) en in kombinasie met wetgewing teen ongeoorloofde vure, Wet nr. 18 van 1859, die Forest and Herbage Preservation Act, heel bruikbaar was. Sim (:35) skryf die latere besluitneming oor die aanplanting van uitheemse hout in bosboupraktyk toe aan gebrekkige kennis oor die inheemse hout en VOC-bosse van die Wes-Kaap. Daar kan aanvaar word dat daar geen formele 21 Die naam van Ordonnansie 5 van 1846 is: “... for preventing the Mischiefs arising from the cutting, rooting up,

and destroying of Trees, Shrubs and Bushes growing on the Cape Flats and Downs” (Jackson, Tennant 1906:413-7).

beskerming of houtveldbestuur tussen 1806 en 1883 op Tokai, of die groter Steenberge, plaasgevind het nie. Die plaas, Kleinplaas, is in 1815 bo-op Silwermyn uitgereik (DRDLR 1815). Aanplanting van hout is wel in 1876 aangemoedig met die aanvaarding van Wet Nr. 4 van 1876, wat afdelingsrade en munisipa- liteite aangemoedig het om bome te plant. Die helfte van die onkoste, tot 'n bedrag van £250, kon van die regering terugverhaal word (Sim 1907:82-4). Dit sou eers die Bosbouwet van 1888, Wet Nr. 28 van 1888, wees, wat kroongrond en kroonbosse definieer (:65). Teen daardie tyd was Tokai reeds 'n kwekery en plantasie.

Die Kaapse Skiereiland was teen die middel van die 19 de eeu 'n boerderygemeenskap waarin al die in- gesetenes vir hul eie oorlewing in 'n bestaanstryd gewikkeld was. Boerdery se verdringing van fynbos was spontaan en het onverhinderd voortgegaan. Slegs in enkele gevalle, soos tussen Sandvlei en Zee- koevlei teen die kus, is duineplantegroei as kroongrond beskou (NASA, KAB 1821). Of dit werklik as sodanig bewaar is, word betwyfel in die lig van Ordonnansie 28 van 1846. In Januarie 1883 is die areas op die Kaapse Vlakte, wat deur Lister met akasias aangeplant is, as kroongrond verklaar (1883a). Die plaas, Tockay-Estate of Tokai-landgoed, is op 21 Februarie 1883 namens die koloniale regering deur die hoofinspekteur van Openbare Werke, W.M. Griers, in 'n private transaksie aangekoop. Daarvoor is £8,223/10/7 uit die departement se begroting geneem. Die doel van die aankope was vir die daarstelling van 'n inrigting vir geestesgestremde persone (NASA, KAB 1883g). Die belang van die omliggende kroongrond sou eers betekenis kry met die uitreiking van toestemming aan De Vasselot om daar 'n kwekery te begin (NASA, KAB 1883l).

In die tyd van Sebastian (Bastiaan) en Jacob Pieter (Japie) Eksteen is daar na die plaas as die Prinskasteel verwys. Hierdie verwysing blyk ook uit 'n kaart van seeluitenant Archdeacon (:1949) wat in 1869 opge- trek en vir die eerste keer in 1870 gepubliseer is. Die tweede verwysing kom uit korrespondensielêers van die Departement van Openbare Werke in 1883 rakende 'n diagram van die plaas: “I have the honour

to forward herewith a copy of the diagram of the farm "Prins Kasteel"”now known as “Tokai.” (NASA,

KAB 1883i) Die Engelse amptenary het die berg by sy ou naam, Prinskasteelberg, geken. Die kroon- grond rondom Tokai is benewens die plaas ook Prinskasteel genoem.

Die verdere verloop en bestuur van bosbou word in Hoofstuk vier bespreek.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN