• No results found

Hipotese, welvaartsposisie van Petrus Michiel Eksteen (senior)

Hoofstuk 3: Ekonomiese verbruik van die aarde: Tokai-landgoed en omliggende grond, 1792-1883

3.4 Druiweverbouing en wynbereiding

3.4.8 Verarming binne die Kaapse wynboubedryf

3.4.8.3 Hipotese, welvaartsposisie van Petrus Michiel Eksteen (senior)

Van Zyl (1973) gee interessante modelle om die welvaart van boere in sy navorsingperiode te bereken. Hier word swaar op sy modelle gesteun, vanweë die betroubaarheid van sy navorsing. Juis omdat daar maandelikse opgawes van inkomste en uitgawes vir elf maande deur Eksteen (senior) bygehou is, is 'n eenvoudige vorm van 'n welvaartsmodel vir Eksteen moontlik. Daarvolgens het sy uitgawes sy inkomste oorskry. Hierdie rekening strek van Januarie tot November, dus oor elf maande en nie 'n volle jaar nie. Inligting in daardie staat is weer versamel uit 'n boekie met 'n swart omslag waarin die uitgawes opgete- ken is. Die handskrif stem ooreen met die van Petrus Michiel Eksteen. Ook houtlewering en die lewe- ring van slagskaap word daarin opgeteken. Benewens die boekie is daar ook verskeie velle papier waarop rekord gehou is. Hierdie bedrae se somtotaal verskil van die somtotaal in die staat van inkomste en uit- gawe, “Ontvangste en uitgawes op de Plaats Tokay voor rekening van den insolvente boedel van P.M. Eksteen Senior” 1849, Januarie tot November. Dit wil voorkom of daar 'n item van ongeveer Rds 48 ont- breek op die totale inkomste van Rds 3,232/5 (NASA, KAB 1842b). Die werklike somtotaal skyn Rds 3,280/5 te wees. Omdat hierdie staat nie deur Petrus Michiel onderteken is soos met al die ander state van 1849 in die boedellêer nie, kan aanvaar word dat hy in hierdie dae, dus Desember 1849 of vroeg in 1850 oorlede is. Hierdie afleiding word gemaak uit die vreemdheid van die situasie om so 'n staat vir elf maande en nie vir 'n volle jaar nie, op te stel. Sy sterfdatum is onbekend.

Ten einde 'n welvaartstaat in die 19 de eeuse perspektief op te stel, word dit naas 'n staat van 'n bereke- ning deur Van Zyl (1973:534,541-3; Figuur 11, 12 Bylaag A) geplaas. Die waardasie van Tokai kom uit “Insolvente Skedulenr.1” van 5 Januarie 1849. Daarvolgens is die tekort op die balansstaat £2,692/1/6 (NASA, KAB 1842b). Dus weet ons reeds dat hierdie boerdery nielonend is en dat die boer bankrot ver- klaar is. Maar die belang van die oefening is om aan te toon dat die boerderyuitgawes die inkomste uit wynbou oorskry. Eksteen het reeds in 1842 druiweverbouing met ander landbou-aktiwiteite aangevul toe hy gebrande veld as weiding begin aanwend het (1842). Daar kan ook gesê word dat ten spyte van ander boerdery-aktiwiteite, die boerdery teen 'n verlies bedryf is. Die wynboer het ook reeds 'n gedeelte van die wyngaard aan sy seun vir Rds 400 per jaar, sowat £30, verhuur (1842b). Omdat wynpryse nie vasgestel was nie (Van Zyl 1973:526), kon die welvaartspeil van die wynboere net gemeet word aan dit wat hulle oorgehou het, nadat al hul uitgawes van die inkomste afgetrek is. Die omskakelingsyfer wat gebruik word, is £1 gelykstaande aan Rds13.333. Volgens Van Zyl se gekopieerde model het Eksteen teen 'n verlies van Rds 3,130 of £234 geboer (Kyky Figuur 11-2,Bylaag A1).

Mauve (s.j.:7) en ander skrywers skryf graag ook Eksteen (senior) se spandabelrigheid. Daar bestaan weinig bewyse om aan te toon wat Petrus Michiel met sy kontant gedoen het, behalwe die sigbare ont- wikkeling van Tokai tussen 1802 en sy sterfdatum. Kompensasie van sy slawe het £1,940/14/3 ¾ beloop, maar na aftrekkings £1,591/9 opgelewer (NASA, KAB 1836a;1842b). Ook ontvang hy sy oorlede vrou se erfporsie van moederskant aan hom en sy kinders, £1,196/19/1, geld wat hy tussen haar erflating en sterwe toegeëien het, waarskynlik weens sy huweliksreg. Enkele ander bates, soos die los goedere, was £771/2 en 'n private verband van £285/12/6, wat op 15 Mei 1833 ten gunste van hom deur die weduwee Cloete uitgeneem is. Enkele ander bedrae vul die balanstaat aan en bepaal die totale waarde op

£5,900/16/1. Hester Anna Cloete het op 30 Oktober 1836 gesterf. Die plaas se waarde is toe reeds op £2,000 beraam. Tussen 1836 en 1849, toe die insolvente boedelrekening van Petrus Michiel gedoen is, was die waarde steeds £2,000 (NASA, KAB 1842b). Daar is dus geen waardevermeerdering in die vorm van rente op kapitale belegging verreken of geboue aangebou nie.

Ook die versekeringsertifikaat, gedateer 4 Maart 1840, beraam die totale waarde van die opstal op £1,050. Indien die losgoed en lewende hawe van 1836 van £771/12 in berekening gebring word teen die waarde van die plaas en die buitegeboue £2,000 - £1,050 - £771), was die wynboubedryf maar sowat £179 werd (NASA, KAB 1842b). Volgens Boer B se inkomste uit wynlewering vir 1839 was die wynprys Rds 50 of ongeveer £3/15 per lêer wyn (Van Zyl 1973:541-3). Die 1836-verspreidingsrekening van Eksteen en sy oorlede vrou dui nie die inkomste uit wyn aan nie (NASA, KAB 1842b). Teen £3/15 moes Eksteen ongeveer 47.7 lêer wyn verkoop het om sy sy balanstaat te laat klop. Dit verhaal egter nie die arbeids- kostes, vervoer, belasting, erfpagfooie op die 31 morg en die 155 morg, rente op skuldbriewe, kos vir die huishouding en vir die arbeiders nie. Die balanstaat se somtotaal in 1836 word op £5,900/16/1 vasgestel waar die bates en die laste mekaar uitbalanseer, danksy die slawekompensasiebedrag. Die erfporsie van

die kinders word wel as 'n las verreken. Eksteen (senior) het dit teen 1836 reeds uitgegee. In 1849 is die somtotaal van die insolvente boedel £5,963/19, waar die plaas se waarde na dertien jaar steeds dieselfde waarde van £2,000 het, terwyl die losgoed en lewende hawe se waarde van £771 tot £329/2/6 afgeneem het. Die toevoeging van lewende hawe sou eers na 1836 gebeur, want die briefwisseling oor die swak kwaliteit van die grond begin in Mei, 1836. In 1842 maak Eksteen melding dat hy die grond vir weiding gebruik (1836;1842). Uitstaande skuld teen hom het £942/15 op sy insolvente boedelrekening bedra, ter- wyl daar 'n tekort van £2,692/1/6 op die balans van £5,963/19 is. Die gesamentlike kapitale bedrag in kontant in 1836 het ongeveer £2,788 plus ander bedrae gesamentlik £339, dus £3,127 bedra. 'n Gemid- delde lewering van 45 wynlêers teen 'n gemiddeld van £5 oor dertien jaar sou £2,925 oplewer. Sy netto uitgawes vir elf maande in 1849 bedra Rds 3,232 of ongeveer £242 vir elf maande en £264 vir twaalf maande. Oor dertien jaar sou dit £3,432 bedra. Dit dui op 'n tekort van £507. Indien hy sy skuld afgelos het, was daar nie geld vir bedryfskapitaal nie. Die slotsom is dat die wynbedryf in die Kaapkolonie vir boere, wat met lenings en skuld begin boer het, rampspoedig was. Kaapse wyn het van 1840 tot en met 1853 'n afname van 80 % beleef (Van Zyl 1973:360-2). Behalwe vir 1841, 1843 en 1853, het wyn 67% van die totale uitvoerhandel van die Kaapkolonie uitgemaak. Dit wil voorkom of Tokai se wynverbouing sedert 1836 reeds 'n afname toon. Daar was nie meer arbeiders nie en sy seuns moes help om die druiwe te pluk (NASA, KAB 1837). Die geraamde aantal lêers wat in die hipotese hierbo op sowat 45 per jaar oor dertien jaar gelewer is, is dus 'n oorskatting.

Die plaas het in sigbare waarde toegeneem. Indien die gronduitbreiding, die kanaal, paaie, wingerde, tuine en leivore in aanmerking geneem word, moes die plaas se waarde aansienlik toegeneem het. Deur al die bedrae na Riksdaalders terug te verwerk, sou die koop / verkoopprysgeskiedenis so lyk: die 39 morg alleen het Eksteen in 1802 sowat Rds12,800 gekos (NASA, KAB 1802a). Die waardasie van die grond in 1836 en 1849 is Rds 26,666. Na gronduitbreiding en die ontwikkeling van die plaas koop die seuns dit in 1850 vir Rds 25,733 (1842b). In 1883 koop die regering dit vir £7,500 of Rds 99,998 (1883b). In die eerste fase van ontwikkeling, tussen 1802 en 1836-1849, het die oorspronklike koopsom verdubbel. Tussen 1850 en 1883 het die koopsom bykans viervoudig toegeneem. Die meeste ontwikke- ling is waarskynlik gedurende die eerste vyftig jaar op die plaas gedoen. Teen 1883 was die plaas in 'n goeie toestand waaroor die amptenare van die Departement van Openbare Werke heilig probeer waak het (1883b;c;f).

3.4.9

Sosio-ekonomiese impak van Eksteen (senior) se welvaartsposisie

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN