• No results found

Hoofstuk 3: Ekonomiese verbruik van die aarde: Tokai-landgoed en omliggende grond, 1792-1883

3.5 Slawe en arbeid op Tokai

3.5.1 Slawe en Prysnegers

Al die werk in die wingerde tussen 1795 en 1860 is deur nieblankes verrig (Van Zyl 1973:29). Die af- skaffing van slawerny het die wynboere in 'n onmiddellike ellende gedompel – nie net vanweë die verlies van arbeid nie, maar ook van kennis. Vir Eksteen was dit ook 'n geweldige kapitale verlies – die uitbeta- ling van die kompensasiegeld was kwalik genoeg om sy gesamentlike boedelrekenning, ten tyde van sy vrou se afsterwe, te balanseer (NASA, KAB 1842b). Sy slawe is op 23 Desember 1834 vir £4,446/5 gewaardeer (:1834a), maar volgens die kompensasieriglyne en die opvolgende waardasie van Junie 1835, kry hy slegs £1,591/19 in Augustus 1836 uit (:1835a;b; 1836a). Van Zyl (1973:524-5) plaas dan ook die klem op die verlies aan kapitale bate, maar voeg terselfdertyd by, dat dit juis die intensiewe aard van arbeid vir die wynboer was, wat tot ernstige verliese bygedra het. Die intensiewe arbeid, of gespesiali- seerde arbeid in die praktyk van wingerd- en wynverbouing, word dan ook in 'n regeringsverslag na die 32 Prysnegers is sogenaamd bevryde slawe van skepe, wat na 1808 nog onwettig probeer het om slawe te verhan-

del. Hulle is dan in Kaapstad ontskeep, waar hulle veronderstel was om bevry te word. Hulle is saam met die slawe laat bly en vir 14 jaar by slawe-eienaars as vakleerlinge ingeboek (Shell 1997:146,148).

stand van wynbou van 1882 uitgelig. Daarvolgens het bekwame slawe in die wingerd en kelder voor 1834 boere gemaksugtig gemaak. Die werk is aan die slawe oorgelaat. Volgens die kommissie se bevin- dinge was die slawe goed opgelei en boonop fisies sterk - hulle het jaar na jaar dieselfde patroonmatige arbeid volgens seisoene verrig. Baie boere het toe nie die nodigheid ingesien om te vernuwe nie, hul wynboupraktyk was verstok en het nie met tydige aanbevelings tred gehou nie (NASA, KAB 1882:5). Historici soos G.M. Theal, aangehaal deur Van Zyl (1973:524-5), voer aan dat die boere van die Kaapse Skiereiland in ekonomiese ellende gedompel en gevolglik gedwing is om boedel oor te gee. Die feit dat daar steeds welvarende boere na 1838 was, bring Van Zyl tot die slotsom dat Theal oordryf. Liebenberg (1959:iv;183) reken Theal oordryf en dat die ekonomiese gevolge verkeerd deur Suid-Afrikaanse historici vertolk word.

Liebenberg (1959:187-9) gebruik statistiek van insolvente boedels tussen 1833 en 1834 ter stawing van sy siening. Onreëlmatige toename aan bankrotskappe tussen 1833 en 1834 sou dan aantoon dat die slawe- vrystelling geen effek op die ekonomiese ondergang van die boedels gehad het nie, want van die 146 boe- dels was slegs 18 boere. As versterking van sy argument verwys Liebenberg verskeie historici wat die swak ekonomie in die vroeë 1830's uitwys; dat daar 'n ongekende droogte op die noordoosgrens was en dat resessies en depressies mekaar snel opgevolg het. Liebenberg (1959:1) verloor egter uit die oog dat die impak van arbeidstekorte eers na 1 Desember 1838 gevoel sou word, want baie slawe was vir 'n oor- gangsperiode van vier tot ses jaar by hul werkgewers ingeboek (Ross 1993:132). Eksteen se werkers het nie tot 1 Desember 1838 aangebly nie, vergeleke die sensusopgaaf van 1837. In die distrikte om Kaap- stad het baie van die ingeboekte arbeiders onmiddellik die diens van hul werkgewers verlaat en na Kaap- stad en ander dorpe gestroom (Liebenberg 1959:88). Vrygestelde slawe het verskuif na lokasies buite dorpe en wou nie meer plaaswerk verrig nie. Die lokasies was die woonplekke van die Khoina (:89). Eksteen se slawe het vermoedelik die plaas verlaat toe Eksteen sy kompensasiefooi op 24 Augustus 1836 ontvang het. Dit is opmerklik dat hy nie self die geld gaan afhaal het nie, maar wel sy seun, H.O. Ek- steen, gestuur het (NASA, KAB 1836a). Het hy onrus of probleme op die plaas verwag?

Liebenberg (1959:85-97) bespreek breedvoerig hoe oeste op 1 Desember 1838 op die land gestaan en verdor of bederf geraak het en boere sonder arbeid gestrand gelaat is, ten spyte van baie aantreklike loon- aanbiedinge van enkele boere vir slawe om aan te bly. Koring en wyn is die ergste geraak. Ten spyte daarvan word 'n ekonomiese opbloei in die jare 1837, 1838 en 1839 beleef. Dit skryf Liebenberg (:197-8) direk toe aan die vrystelling van die slawe. Meer as 'n miljoen Britse pond het die Kaapkolonie, wat in 'n benarde finansiële posisie was, ingekom. Die kapitaal wat voorheen in die slawe belê was, het vloeibaar geword. Vir die Eksteens het die ekonomiese opbloei weinig beteken. Elizabeth Scholtz, moeder van P.M. Eksteen, is in 1837 bankrot verklaar (NASA, KAB 1837a). Petrus Michiel (junior) het op 5 Sep- tember 1848 boedel oorgegee (1846). Hermanus Arnoldus, seun van Eksteen (senior), se boedel is op 16 Maart 1849 opgeveil (1840a) en Eksteen (senior) se bankrotboedel is op 5 Januarie 1849 onder gereg-

telike administrasie geplaas. Sy boedel sou op 19 Januarie 1852 afgehandel gewees het, maar 'n beswaar, wat nie opgevolg is nie, het die afhandeling daarvan tot 31 Mei 1859 teruggehou, waarna dit as afgehan- del beskou is (1842b). Daniel Russouw het Swaanswyk in 1842 aan twee skoonseuns verkoop (Dane 1981:20), Eksteen van Bergvliet is in 1837 bankrot verklaar33 (:62), Colyn van Hoop op Constantia het in 1858 insolvent geraak (:51) en Buitenverwachting, wat toe Plumstead geheet het, is in 1851 opgeveil (:105). P.M. Eksteen se ondergang was nie so vreemd nie.

Die verlies aan opgeleide arbeiders is ongetwyfeld intens op Tokai beleef. Vir Petrus Michiel sou dit rampspoedige implikasies inhou. Volgens 'n opgaaf van 1837 het Petrus Michiel een Hottentot, Gotlieb, op sy werf gehad (NASA, KAB 1837). Eksteen en sy seuns moes self die druiwe van 130,000 stokke pluk, pars en wyn maak. Eksteen (senior) het verskeie bekwame slawe gehad. Van sy twintig plaaswer- kers was elf so vertroud met hulle werk, dat hulle dit sonder toesig kon doen. Nege plaasarbeiders het die harde handewerk gedoen. Drie slawe is as hoofhandelaars geassesseer, terwyl drie slawe as sekondêre handelaars beskou is (1835b). Hierdie onderskeid is deur die assessore, wat die waardasie van slawe in 1835 moes doen, getref. Dit verskil merkbaar met die opname van Desember 1834 (Kyk Figuur 15 By- laag A). Die slaweopgaaf van 23 Desember 1834 lys 14 slawe, wat in tien verskillende rigtings spesifie- ke, aangeleerde vaardighede gehad het. Sommige slawe was in meer as een area opgelei. Daar was onder meer ses wadrywers waarvan een ook 'n koetsier was, een skoenmaker, een kelderbestuurder, twee klere- makers, waarvan een ook 'n kok was, een messelaar en dekker, een vrouekok en twee breisters waarvan een ook 'n kleremaakster was (1834a). Die slawe het dus nie net die boerdery ondersteun nie, maar was ook van hoë waarde in die huishouding van die Eksteens. Die kompensasieriglyne het uit Londen gekom en weinig met die plaaslike omstandighede voeling gehad. Om die erns van die kapitale verlies te besef, moet die proses van die waardasie begryp word.

Daar het baie verwarring geheers. Ordonnansie 1 van 1835, wat spesiaal vir die assessering van slawe afgekondig is, het bepaal dat al die slawe in die Kaapkolonie as Non preadial of nielandbouers geklassi- fiseer moes word (Liebenberg 1959:139-40). Die klassifikasie maak voorsiening vir (A) Preadial at-

tached labourers of landbouverbonde arbeiders, (B) Preadial unattached labourers of landbou onverbon-

de arbeiders en (C) Non preadial labourers of nielandbouarbeiders. Die landbouarbeiders, klasse A en B is op hul beurt weer in vyf klasse ingedeel, naamlik hoofslaaf, handelaars, venters, plaaswerkers en plaas- arbeiders. Die nielandbouarbeiders se indeling was weer eens hoofhandelaar, sekondêre handelaar, senior handelaar of persoon, hoofhuisbediende en huisbediende. Slawe wat nie by bogenoemde ingedeel kon word nie, of 'n kind onder ses jaar oud, of 'n ou en sieklike en andersins nieaktiewe slaaf, is apart gehou. Die maatstaf vir kompensasie wat voorgehou is, was die prys wat 'n slaaf sou behaal indien hy of sy tus- sen 1823 en 1830 verkoop sou word. Kinders onder ses, bejaarde en siek slawe moes soos ander slawe behandel word. Dit was ook geldig vir slawe wat sedert 1 Desember 1834 gesterf het, in die tronk was, of 33 Dane (1981:62) beskryf H.O. Eksteen se bankrotskap as “How are the mighty fallen”.

voor 1 Desember 1834 ter dood veroordeel is.

In die praktyk is Petrus Michiel se slawe op 29 Junie 1835 geklassifiseer as groep B: landbou onverbonde en groep C: nielandbouarbeiders. In Groep B word tussen elf plaaswerkers (field labourers) met 'n totale waarde van £1,255 en nege plaasarbeiders (inferior field labourers) met 'n totale waarde van £618/15 on- derskei. Onder die derde groep is daar drie hoofhandelaars (head tradesmen) ter waarde van £442/10 en drie sekondêre handelaars vir £327/10; tien hoofhuisbediendes (head domestic servants) ter waarde van £1,145 en elf huisbediendes van £1,145. Die vyf kinders onder ses jaar oud se waarde is op £68/15 be- raam. Die opgaaf meld dat daar geen drosters is nie (NASA, KAB 1835a;b). Liebenberg (1959:130-1) se gevolgtrekking is dat die waardasieproses onredelik is. Dit word gestaaf aan die waardasie van Eksteen se slawe. Die kompensasiewaardasie van Eksteen se 53 slawe was ongeveer 'n derde van die geldwaarde in vergelyking met die waardasie van Desember 1834 (NASA, KAB 1834a; 1835;b; 1836a;Figuur 15 Bylaag A). Dit was dus 'n enorme kapitale verlies.

Daar was weinig alternatiewe keuses tot arbeiders vir boere oor. Die inwerkingstelling van Ordonnansie 50 van 1828 het tussen agt- en tienduisend Khoina werkloos deur die kolonie laat rondswerf. Gedryf deur honger en geldnood het hulle stukwerk hier en daar gedoen, maar het toenemend op sogenaamde onbe- nutte grond rondom dorpies gebly. Vrygestelde slawe het hulle by hierdie groepe geskaar (Liebenberg 1959:48). Die redakteur van De Zuid-Afrikaan het op 23 Maart 1832 die rondswerwery van die Khoina toegeskryf aan die inboorlinge se natuurlike gedragspatroon, dus om te swerf op soek na middele om te oorleef. Die redakteur meen dan ook dat die gebrek aan stabiliteit voortspruit uit die afwesigheid van vaste woonplekke (Du Toit, Giliomee 1983:107). Eksteen het blykbaar stuk- en seisoenwerkers uit die groep ontheemdes ingeneem om hom met die oeste te help (NASA, KAB 1842b). Daar was dus 'n same- dromming van werkloses in die omgewing. Dit was waarskynlik dieselfde nedersetting waarvan Isabella Eksteen van Tokai in Februarie 1883 melding maak. Swerwers in die omgewing het vir 'n dagloon om den brode by die plaas aangedoen: “... that there are no tenants on the Estate but those on sufferance from day to day, or subject to a month's notice.” (1883b) Ook die verslag van die kommissie van ondersoek na die stand van die wynbou in 1882 vermeld die teenwoordigheid van swerwers buite dorpe en dat hulle stukwerk op plase verrig (1882). Khoina en / of Kleurlinge het hulle dan ook mettertyd per kontrak op Tokai gevestig, maar volgens Isabella kon hulle (die eienaars) met 'n maand se kennisgewing die diens- kontrak opsê (1883b). By implikasie moes die werkers, wat in vyf hutte op Tokai gewoon het, wegtrek. Hul hutte was noord van die Ondertuine (1885b). Hulle het ook hul eie tuinery bedryf (1883c), moontlik in die vlei, noord van die Ondertuine, waar klein struktuurtjies op die kaarte aangedui word (1883n). Die koopkontrak het hulle tien maande gegee om hul oeste af te haal, voordat hulle moes trek (1883c). Of Eksteen werklik sleg met sy slawe gewerk het, kon nog nie deur ander bronne gestaaf word nie. Hy het wel tussen 1819 en 1834 sowat 19 slawe deur sterftes verloor (NASA, KAB 1834), wat 'n gevoelige finansiële verlies was en ook 'n invloed op die maatskaplike welvaart van sy gesin gehad het (1831). Sy

laaste opgaaf in 1835 staaf dat hy nie drosterslawe gehad het nie (1835b). Somerset het in 1816 'n slawe- registerstelsel ingebruik geneem, sodat daar tred gehou kon word met die waarde van slawe (Van Bart 2012: 120). Daarvolgens het Eksteen (senior) 73 slawe gehad, waarvan 19 oorlede en vier per akte oorge- dra is (NASA, KAB 1834). Die 19 gestorwe slawe verwys na die aantal slawe wat hy tussen 1820 en 1830 verloor het. Die feit verskyn in 1831 in 'n ietwat wrange opmerking in 'n kantlynnota op Eksteen se brief van1931. Die amptenaar haal in die derde persoon Eksteen se persoonlike omstandighede van 'n vorige memorandum aan: “... that without speaking of former times he has lost during the last ten years upwards of 18 slaves most of whom were highly valuable that in consequence of repeated disasters Memoralist now finds himself almost unable to provide for his familiy in a decent manner...” (NASA, KAB 1831) In der waarheid verwys Eksteen na die kapitale verlies, asook die verlies aan arbeiders wat hy met die slawe se afsterwes verloor het. Waar 'n opgeleide slaaf afgesterf het, sou dit 'n kennisvakuum op die plaas laat. Om dit te vul, moes 'n slaaf met 'n soortgelyke vaardigheid aangekoop word. Tussen 1822 en 1827 moes Eksteen elf slawe op skuld en met verbandlenings aankoop. Die totale koste was sowat Rds 54,000. Die laaste verband is op 29 Desember 1829 afgelos (1835). Onder hulle was Joemat, die skoenmaker, en Willem 1, 'n wadrywer (1834). Eksteen het dus swaar gesteun op die vaardigheid van sy slawe.

Die Prysnegers, wat as vakleerlinge vir veertien jaar by hul meesters ingeboek moes word (Shell 1997: 146-7), het ook onder Somerset se reëling geval. Drie Prysnegers is in 1815- en in die 1819-opgawes van Tokai aangetoon (Todeschini, Blanckenberg 2007:9,10), maar nie in 1822 of 1825 nie (NASA, KAB 1822a;1823b;1825;Todeschini, Blanckenberg 2007:11). Na 1819 kom daar nie weer Prysnegers voor in enige van Eksteen se opgawes nie. Indien die Prysnegers tot 1821 in sy diens was, kon hulle reeds in 1807, toe slawehandel verbied is, tot sy diens toegetree het sonder dat Eksteen enige verklaring verderaan van die arbeiders moes gegee het. Hulle het moontlik sy diens verlaat. Die verwysde drie arbeiders het daarom nie op die lys van 73 slawe verskyn nie (NASA, KAB 1834). Agtien sterftes van slawe oor tien jaar beteken meer as een slaaf per jaar. Dit is baie aan menslike verlies. Eksteen se rapportering van die verliese suggereer tog dat daar nie gemene spel of nalatigheid van die werkgewer by betrokke was nie. Slawe het nie lone ontvang nie, maar al hul behoeftes is in kapitaal verreken. In 1826 is die koste per slaaf per jaar op tussen Rds 150 en Rds 200 vir kos, drank, klere en medisyne beraam (Van Zyl 1973: 515). Teen 1825 het Petrus Michiel 22 manlike slawe besit wat hom met plaaswerk kon help (NASA, KAB 1825). Daar was ook 12 seunsslawe onder sestien, elf vroueslawe en ses meisieslawe onder veer- tien jaar oud. Volgens die kompensasieregister waarin die slawe in verbonde en onverbonde plaaswerkers ingedeel word, het Eksteen elf plaaswerkers en nege mindere plaaswerkers of “inferior” plaaswerkers gehad (1835b). Indien hierdie 21 plaaswerkers as meetstok vir 'n teoretiese bepaling van 1825-1826 gebruik sou word, sou Eksteen se onkoste aan plaaswerkers alleen sowat Rds 3,150 (21 x 150) beloop het, konserwatief bereken teen Rds 150 per slaaf. In 1849 het Petrus Michiel 18 lêer wyn, wat 'n totale

inkomste van Rds 1,220 gegee het, verkoop (1842b). Die prys per lêer word as £5 of Rds 65 in die staat van sy ontvangste en uitgawes van 1849 aangegee. Wynpryse was nie konstant nie, maar die prys van 1825/1826 stem min of meer ooreen met 1849. Van Zyl (1973:527) gee die wynprys in Oktober 1826 aan as kwalik Rds30 per lêer, dus ongeveer £2/5 . Eksteen het 37 en 'n agste lêer wyn in 1825 gelewer. In- dien dit benader word tot 38 lêer, sou sy inkomste uit wyn Rds 1,140 (38 x 30) wees, of £85/10. Die wyninkomste sou dus nie sy begroting vir slegs 21 van sy slawe kon betaal nie. Eksteen se inkomste uit sy wyn sou in 1825-1826 kwalik genoeg gewees het om sy lopende uitgawes te dek. Volgens Van Zyl (1973:527) het die daling van wynpryse vanaf 1820 drastiese afmetings aangeneem, sodat boere begin agter raak het met die betalings van hul belastings, onder meer distrikbelasting en erfpag. Eksteen moes toe reeds vir jare 'n kontantvloeiprobleem gehad het. Sonder arbeid was daar na alle waarskynlikheid kwalik sprake van 'n wynoes in 1838.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN