• No results found

Die Bataafse houtveldpraktyk: periode van regstelling van korte duur, 1803-06

Hoofstuk 3: Ekonomiese verbruik van die aarde: Tokai-landgoed en omliggende grond, 1792-1883

3.2 Die Kaapse Distrik: vernaamste kommoditeite, wyn en hout

3.2.3 Die Bataafse houtveldpraktyk: periode van regstelling van korte duur, 1803-06

Die Bataafse periode van 1803 tot 1806 het 'n kortstondige herstel van regeringshoutposte beloof. Voor 1795 het die werkers op Witteboomen onder meer dakkappe, gordings16 en sparre voorsien (Sleigh, 2004:262). Tussen 1795 en 1803 het daar waarskynlik geen houtaktiwiteite plaasgevind nie, behalwe moontlike brandhoutinsameling. Nadat Witteboomen in 1803 weer as houtpos ingestel word, word daar weer houtvoorwerpe gemaak en gelewer, onder meer 130 lang waens en ander wabenodigdhede (NASA, KAB 1805e). Die hout moes uit die groter houtveld gekom het wat Houtbaai en die Steenberge insluit. Tussen 1803 en 1804 is daar 2,216 vragte brandhout vanaf Witteboomen na Kaapstad vervoer. In Februa- rie en Maart 1805 is 172 vragte brandhout gelewer. Die totale brandhout in pond is 3,582,000 lb. of 1,624,767.9 kilogram.

Die Buffelskraalhoutveld was toe moontlik reeds bekend as Tokai17 van Eksteen, hoewel hy maar twee stukkies grond, omring met regeringsgrond, besit het (NASA, KAB 1802a). Buffelskraalhoutveld word in hierdie periode gekenmerk aan gronduitbreidingsversoeke van Tokai se nuwe eienaar. Petrus Michiel Eksteen was met die dogter van die houtinspekteur, Hendrik Cloete (senior) getroud. Sou hierdie verbin- tenis die toekoms van die houtveld op die spel plaas? Hoewel Eksteen se grondaansoeke suggereer dat die benede-Buffelskraal nie meer 'n aktiewe regeringshoutveld was nie, is dit nie ingesluit by die houtveld wat Cloete opgegee het om verkoop te word nie (NASA, KAB 1803f). Dit was dus steeds gereserveerde grond wat in alle waarskynlikheid vanaf Baasharmenskraal bestuur is.

Die Bataafse regering het sy huiswerk oor die stand van brandhout in die Kaapse Skiereiland gedoen en was duidelik besorgd oor die tekort aan brandhout en die plundering van goewermentsbosse. Hout was naas brood die tweede grootste behoefte vir inwoners aan die Kaap. Hout is as 'n potensiële inkomste vir die groeiende bevolking van Kaapstad gesien, maar dit was 'n verwaarloosde bron van inkomste. De Mist skryf die swak houttoestand toe aan “duisende” slawe, wat per dag uitgestuur is om hout te gaan verga- der. Beskikbare hout was so ver van Kaapstad verwyder, dat die slawe hul eerder tot die goewerments- 16 Dwarshout in boukunde; ook in skeepsboukunde gebruik (Kruyskamp 1961:695).

17 Herwig, die tweede eienaar, het die plaas se naam na Tokai verander. Die Engelse spelling, Tockay, word deurgaans deur die Engelse administrasie in dokumente en briewe gehandhaaf (NASA, KAB 1800f).

bosse naby Kaapstad gewend en die bosse verniel of aan die brand gesteek het. De Mist se aanbeveling was die onmiddellike aanplanting van hout, maar hy het dit ook as 'n langtermynprojek gesien. Hy het ook die VOC-regering blameer, wat volgens hom nie genoeg hout aangeplant het nie. Boomaanplanting kon net as regeringsbeleid slaag, want waar dit aan die burgery oorgelaat is, het hulle dikwels die jong boompies voor volle wasdom weens 'n tekort aan geld verkoop. Daarteenoor kon die regering die nodige dissipline aan die dag lê om die houtbosse tot volle wasdom te beskerm. Dit sou ook die invoer van hout, wat met hoë koste gedoen is, uit Plettenbergbaai en Java vervang. Daarom word Hendrik Cloete (senior) van Constantia, as inspekteur van die “Land's Domeinen en Bossen tussen de Tafelbaaij en de Baaij Fals” aangestel. Hy sou 'n opsigter en spanne werkers tot sy beskikking hê en moes direk met houtpoting18 rondom Kaapstad begin (Van der Merwe 1926:294-6). Cloete se benoeming op 11 Augustus 1803 is ook as 'n regulasie afgekondig, wat die gesag van sy amp bevestig (Naudé 1951:58).

Hendrik Cloete Senior is juis benoem, omdat hy in die omgewing van die Kaapse houtveld gewoon en die omgewing en sy mense goed geken het (NASA, KAB 1803a). Sy taak was baie omvattend. Een van sy eerste opdragte was 'n bestekopname van regeringsposte. Die moontlike ontkoppeling of vervreemding van niewinsdraende regeringsposte met die oog op verkoping, verhuring of in erfpag of in lening uitgee moes tot die beste voordeel van die regering ondersoek word. Voorts sou enige vorm van gronduitgifte aan individue met die voorwaarde van bepoting van houtgewasse geskied. Cloete se eerste taak was die opruiming van Witteboomen na 'n hewige brand. Alle droogbare en verkoopbare hout moes versamel word sodat die jong plantjies nie beskadig kon word nie en kon gedy. Daarvoor het Cloete 30 Khoi- militia wat by Rietvalleij gestasioneer was, vir drie weke tot sy diens gehad, asook enkele ander militêre personeel (NASA, KAB 1803b,c).

Tydens Cloete se voorlegging op 7 Julie 1803 oor die goewerment se poste en houtveld raak die insluiting van Buffelskraal by enige houtveld vaag. Al die poste word bespreek, maar sonder enige verwysing na Buffelskraal of die Steenberge. Volgens die vorige bedeling het die bergfynbosveld, sowel as die vlakte- fynbos van Buffelskraal, na alle waarskynlikheid onder Witteboomen geval. Die veronderstelling is dat Witteboomen se historiese verbintenis met die Buffelskraalhoutveld gehandhaaf sou word. Cloete was daarmee bekend, want hy het in die omgewing geboer. Die houtposte naby die Steenbergvallei word deur Cloete gelys as Witteboomen, Orangieskloof, Baasharmenskraal en Muysenburg. Baasharmenskraal word juis uitgelig weens sy waarde as weiveld vir die omliggende boere, omdat die Steenbergvallei nie weiding bied nie. Dit sou te veel mense benadeel indien daardie pos vervreem word. Terselfdertyd herbevestig Cloete Baasharmenskraal as die sentrum van wortelhout- en rietuitgrawing. Hy verwys na die werkers wat daar woon om riet te kap en duinehout uit te grawe (NASA, KAB 1803f). Die beskrywing laat die moontlikheid dat die kwatêresandduine van die groter en laer Buffelskraalarea te 18 Die Van Dale-woordeboek (Kruyskamp 1961:1558) omskryf die poot van hout as alle vorme van voortplanting,

same met die vleie ingereken is by rietkap en die kap van Kaapse duinesandfynbos, asook die grawe van wortelhout. Cloete is wel met weiding by Baasharmenskraal bevoordeel, maar as boer was hy deeglik bewus van die tekort aan weiding.

3.2.3.1 Grondaansoeke en -uitgifte kompromitteer ou VOC-houtveld

Het Cloete doelbewus nie 'n uitspraak oor die Buffelskraalgedeelte van Witteboomen gemaak nie, of was daar reeds vervreemding van die grond? Petrus Michiel Eksteen bring in Cloete se dienstydperk twee ansoeke vir grond. Die eerste aansoek van 19 Oktober 1803 het die grond tussen die twee stukke, die eerste 39 morg en De Anneks, behels (NASA, KAB 1803h). Dit is dieselfde grond wat Gordon en Van Reede van Oudtshoorn vir Teubes in 1794 geweier het. Hoewel die Goewerneur en Raad die versoek goedgesind was, word dit vir finale oorweging na die Inspekteur van Landsdomeine en Bosse verwys. Hiervan het waarskynlik niks tereg gekom nie. Volgens 'n kantaantekening is die kwessie na “Bylaag 6”, sonder datum, verwys. Hierdie bylaag kon nie opgespoor word in die argiefgroep, Bylae tot die Bataafse Republiek (BR)19, nie. Die transportakte van 2 Junie 1851, waarvolgens die grond van Petrus Michiel Eksteen na Sebastian Valentyn Eksteen en Jacob Pieter Eksteen oorgedra word, sluit nie grond in of enige transaksie wat na 1803 verwys nie (DRDLR 1851). In 1804 verwerp Cloete nog 'n grondaansoek van P.M. Eksteen en H.O. Eksteen – eerstens weens sy persoonlike, nabye verwantskap met Petrus Michiel en tweedens omdat H.O. Eksteen geld aan Cloete verskuldig was (NASA, KAB 1804). Daar kan aanvaar word dat Cloete die 1803-aansoek waarskynlik teengestaan het, hoewel dit deur die Goewerneur en Raad goedgekeur is. Tydens die hantering van die versoek was daar geen verwysing na Buffelskraal of Tokai as 'n tradisionele houtveld wat deel van die Witteboomenhoutpos was nie. Cloete was moontlik gebind deur beleid. Grond mag nie buite Kaapstad uitgegee word wat in 'n area lê waar die regering reeds begin het met die kweek, inlê of saai van jong boompies nie. Verder sou grond as weiding en uitspanplase aan die nabygeleë eienaars uitgegee word. Grond, omliggend van bewerkte en toegeruste plase en met woon- huise, sou aan die eienaars op voorwaarde aangebied word. Dit behels die bepaling van die koopsom in verhouding met die markwaarde van verder weg geleë grond by publieke veilings en dat die kopers binne die eerste jaar hul eiendomsgrond met ingespitte klip of hout sou omhein vir weiding of bewerking. Voorts is daar ook gepoog om grond voor die winter- en reënseisoen te laat beset en te bewerk sodat die grond nie weer vir 'n jaar onbewerk sou lê nie (NASA, KAB 1805a). Op die oog af sou daar gereken word dat Eksteen se 1803-versoek toegestaan moes word. Die weiering daarvan laat die moontlikheid van houtveldaktiwiteite.

Gronduitgifte is deur grenslynkwessies bemoeilik. Daar was onsekerheid oor die grenslyne tussen rege- rings- en private grond. Vervolgens is die gebied vanaf die Rietvallei, noord van Tafelbaai, tot by Muy- senburg, die Steenberge, die Constantiagebergte (Vlakkenberg) en tussen Tafelberg en Duiwelsberg by 19 Die bylae wat ondersoek is, is BR284, September 1803 en bylae BR 285-290 vir Oktober 1803. BR290 handel

Kaapstad vir heropmeting in 1804 ter syde gestel. Die landmeter, Jan Willem Wernich, het opdrag gekry om die hele gebied se grond, regeringsgrond en private grond, op te meet, te karteer en 'n register saam te stel (NASA, KAB 1804). Die uitgif van grond was vir die goewerneur en raad 'n ekonomiese kwessie wat veral aan houtgewasse gekoppel was (Van der Merwe 1926:141-2). Die grenslynkwessie is ook be- moeilik deur stroke niemandsland tussen eiendomme of tussen regeringsgrond en eiendomme. Dit het as sogenaamde “waste land” of niemandsland bekend gestaan (Barrow 1968: 379-380). Buffelskraalhout- veld was noord, oos en suid omring met moontlike stroke niemandsland. Aan die noordekant, tussen die Buffelskraalhoutveld en Constantia van 1685, was twee stukke van ongeveer 25 en 6 morge. Dit is in 1811 aan Eksteen as erfpag uitgereik (NASA, KAB1811;a). Vyf-en-dertig morg / 30 hektaar tussen Baas- harmenskraal, Buffelskraal en Raapekraal is in dieselfde jaar aan W. Fiford en N. Donough gegee

(1811b). Ryk Cloete, toe die eienaar van Buitenverwachting,het 57 morg / 49 hektaar aan die bergkant van Buitenverwachting ontvang (1811c). Kleinbergvliet, grond tussen Plaas 907 en Raapekraal, is in 'n grondaansoek van 1812 beskryf as niemandsland (1812;1814a). Dit lê suid van die Buffelskraalvlakte en is in 1814 aan Carr uitgereik. Die stroke niemandslandgrond rondom Buffelskraal was ongetwyfeld ge- deeltes van die Buffelskraal-Raapekraalhoutveld. Dit kon op twee moontlike wyses benut gewees het – as weiding van regeringsvee ten opsigte van die grond van Carr, Fiford en Donough se grond teenaan die Soetvlei of die Keiserrivier, of dit was in 'n stadium areas waar wortel- en duinehout versamel is. Al die stukke is binne die onmiddellike bereik van Baasharmenskraal. Na Cloete se verslag oor regeringsposte was die niemandslandstroke waarskynlik gunstige oorwegings vir gronduitgifte.

Die kortstondige bestaan van die Bataafse periode het voorkom dat grondeise afgehandel word of dat die vasstelling van grense tussen regeringsgrond en private grond in die Steenbergvallei afgehandel kon word. Die aansoeke het in 'n uitgerekte proses verval – enersyds weens 'n gebrek aan 'n nasionale register van staatsgrond, en andersyds oor die inspekteur se betrokkenheid by individue, soos sy nabye verwant- skap aan P.M. Eksteen en 'n skuldbrief tussen hom en H.O. Eksteen (NASA, KAB 1804). Hiervolgens moes hy hom van die proses verskoon. Boonop kon die landmeter nie by al sy take uitkom nie (1805b). Uitstaande grondeise, onder meer ook van die inspekteur, is na 'n spesiale komitee verwys, maar kon nie afgehandel word voor die Britse oorname in 1806 nie.

Die onderhandelinge oor die oorgawe van die Kaap na die beslissing by Blouberg word op 18 Januarie 1806 naby Somerset-Wes deur generaals Janssens en Beresford, onderskeidelik die verteenwoordigers van Bataafse Republiek en Brittanje, onderteken (Krynauw 1999:162). Die laaste rekeningstate van Hendrik Cloete is aan die Britse regering vir betaling gelewer. Tydens dieselfde geleentheid is 'n opsom- ming oor die stand van regeringsbosse en poshuise gegee (NASA, KAB 1806). Die nuwe regering het dus kennis gedra van die houtsituasie en die werksaamhede op die houtposte. Maar die gebrekkige be- stuur oor houtbeheer en gronduitreiking deur die vorige Britse regering het moontlik weer 'n verslapping van dissipline beteken. Onder hierdie omstandighede was daar weinig beheer en toesig om boere te

verhinder om op grond waarvoor aansoek gedoen is, te begin boer, of om slawe en ander te belet om hout op ongeoorloofde plekke te versamel.

Hoewel inspekteur Cloete die belangrikheid van enkele houtposte beklemtoon en begin het met die aanplanting van bome, eindig die Bataafse periode voordat enige grense te boek neergelê is. Dit beteken dat die houtvelde, verbind aan die Witteboomenpos, sonder meer onbeskryf gelaat word. Teen 1841 was die kroongrond rondom plase - spesifiek in die Kaapse Distrik - nog nie in 'n register aangeteken nie: “The extend of the waste land remaining or what portion of it may be available for settlement are un- known; no survey/: with the exception stated or inspection having been made to ascertain these particu- lars.” Klein stukkies grond is tydig en ontydig verkoop na gelang van die aanvraag daarvoor (NASA, KAB 1841). In die lig hiervan kan aanvaar word dat Benede-Buffelskraal as houtveld voortgeleef het, maar dat dit nie as sodanig deur enige van die drie owerhede sedert 1795 bestuur is nie.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN