• No results found

Prekoloniale landtekens met betrekking tot die Steenbergvallei

Hoofstuk 2: Eienaarskap van die groter Steenbergvallei

2.2 Prekoloniale landtekens met betrekking tot die Steenbergvallei

2.2.1

Vroeë verkenning van die Steenberge: naamgewing

Die verkenning van die Skiereiland verder weg van Tafelbaai en naamgewing van plekke hou verband. Die joernaalskrywers van die eerste dagboeke vanaf 1652, soos vervat in die Van Riebeeck-reeks (Thom (red.) 1952;1954;1958), vermeld nie inheemse name vir bergreekse of pieke deur die Kaapse Khoina nie. Wanneer Oedasoa op 4 November 1660 versoek dat hy graag in die “skuiling van die Steenberge” onder die beskerming van die Hollanders wil intrek, word die Nederlandse naam, Steenbergen, neergeskryf en nie 'n Khoi-naam nie (1958:277,279). Dit skep die indruk dat die Kaapse Khoina nie werklik plekname vir berge gegee het nie, of dat hulle eerder na die gebied van 'n leier of 'n groep verwys het. Hierdie praktyk is ook deur die Hollanders gevolg. Grond is nie aan 'n pleknaam gegee nie, maar die bewoner is verwys, soos die gebied van die Saldanhars of Oedasoa se grond; of die Land van die Namaquas. Die taal van die Khoina was vreemd op die oor van die blankes – dit is opvallend dat die eerste tolke soos Harry, Eva en Doman uit die Khoi-geledere gekom het en nie uit die Hollandse taalgroepering nie. Trouens, Elphick (1977:103) redeneer dat die Hollanders nie 'n poging aangewend het om die Khoina se taal te probeer verstaan het nie. Hulle het ook op die tolke gesteun om hul van inligting omtrent die geografie en etnografie te voorsien. Maar dit is nie heeltemal so eenvoudig nie, want teen 1663 of 1664 is die eerste woordelys, die Wreede-woordelys in Amsterdam gedruk. Dit is tussen 1659 en 1663 deur G.F. Wreede aan die Kaap de Goede Hoop opgeteken en saamgestel en na Amsterdam gestuur (Godée-Molsbergen 1916:215).

Van belang vir die studie is die Skiereilandse Khoina, naamlik die Gorachouquas (Tabakdiewe), Goring- haiqua (Kaapmans) en Goringhaikona - die Strandlopers of Watermanne (Sleigh 2004:62). Vanaf Julie

1658 word oorwegend na die stamme op hul Khoi-name verwys (Thom 1954:172,189,295). 'n Vierde groep, die Cochoquas of Saldanhars2 met hul hoofman Oedasoa, het jaarliks van hul gebied suid van die Bergrivier na die Skiereiland agter weiding aangetrek en het ook oorstaanplekke gehad (Thom 1952: 368vn;1954:104). 'n Bewuswording by die Europeërs van die kultuurgoed soos taal en benoeming van begrippe uit die leefwêreld van die Khoina het traag posgevat, maar nie totaal uitgebly nie. Vir die set- laars was hul eie kultuur superieur tot die plaaslike kultuur. Verkenning en benoeming van die omgewing is veral sterk deur verslae van reisigers voor 1652 om die Kaap beïnvloed.

Die benoeming van landtekens aan die Kaap is deur die eerste seevaarders om die Kaap toegeken en op- geteken sonder inagneming van die inheemse plekname. Hierdie praktyk is reeds sedert 1601 deur die Nederlanders voortgesit (Godée-Molsbergen 1916:6). Ou verslae voor 1652 maak geen melding van die Steenbergvallei nie. Wanneer skipbreukelinge of matrose by geleentheid Tafelberg uitgeklim het, is dit gewoonlik opgeteken, soos toe Antonio de Saldanha in 1503 die berg uitgeklim het (Raven-Hart 1967:8). Skepe wat by die Baai van Saldania (Tafelbaai) aangedoen het, het vars water en kos, gewoonlik vis en meesal vee, van die inboorlinge deur ruilhandel bekom om aan boord te neem. Probleme soos skeerbuik en beskadigde skepe het veroorsaak dat daar dikwels langer in Tafelbaai vertoef is, waartydens siekes in tente op die strand versorg is of skipbreukelinge op die strand moes bivakkeer. Hoewel dit die indruk laat dat daar tyd vir verkenning was, blyk daar min gegewens oor die oostekant van Tafelberg, behalwe vir die kap van timmerhout wanneer herstelwerk aan maste gedoen moes word. Raven-Hart (:44) reken die houtveld was in 1608 ongeveer 3 myl vanaf Tafelbaai.

Verkenning voor 1652 het selde plaasgevind, hoofsaaklik weens vrees vir roofdiere en inboorlinge. Die berge was boonop ru en vreesaanjaend, soos beskryf deur Edward Terry in Junie 1616: “This remotest part of Africa is very mountainous, over-run with wild beasts, as lions, tigers, wolves, and many more beasts of prey” (Raven-Hart 1967:82). Hierdie indruk van angsbelewing vir die ruwe en onbekende bin- neland blyk ook uit sketse en beskrywings na 1652. In 'n skets van Tafelbaai in 1658 deur ene Schouten word Tafelberg grotesk tot die omgewing uitgebeeld (Thom 1954: teenoor 190). Die Steenberge kon vanaf drie plekke verken word: via Houtbaai wat die westekant van die Steenberge vertoon, om Tafelberg aan die oostekant en vanaf Valsbaai. Teen 1652 was dit 'n ruwe en afskrikwekkende binneland.

Hierdie ruwe karakter van die binneland het dan ook die eerste Europeërs na 1652 geïntimideer. Die Steenberge is vir die eerste keer in Augustus 1653 deur die Van Riebeeck-geselskap binnegedring toe die bootsman en kanonnier te voet vanaf Houtbaai na Valsbaai vertrek om die Valsbaai-omgewing te verken. Drie dae later, op 3 Augustus, het slegs die bootsman teruggekeer. Die kanonnier het weens hipotermie omgekom. Hoewel Van Riebeeck 'n soekgeselskap uitgestuur het, word nie weer van die noodlottige insi- dent gelees nie (Thom 1652:167,169). Die ruwe berge, onvriendelike klimaat en wilde diere het verken- 2 Daar was twee groepe Cochoquas (Saldanhars) met leiers Ngonnemoa en Oedasoa van die Saldanha-omgewing

ners afgeskrik. Wild in die Houtbaaigebied word reeds op 6 Mei 1652 gerapporteer (:37).

Die kortste roete vanaf Houtbaai na Valsbaai is via die Baviaanskloof tussen Vlakkenberg en Constantia- berg (Prinskasteelberg). Maar dan sou die bootsman en kanonnier hul teen die Afromontane bosse van Donkerboskloof en Langboskloof asook steil kranse aan die oostekant van die Steenberge vasgeloop het. In 1714 is na 'n ondersoek onderskeidelik vier en twee klowe bokant Constantia van Simon van der Stel en op Prinskasteelberg genotuleer (TANAPb 1714:1714a). Die roete van die twee verkenners in 1653 moes daarna suid oor die oostelike hange en onder die rotswande van Prinskasteelberg na Valsbaai toe geswenk het. In die winter is die vlakte bedek met moerasse, vleie en waterstrome. In 'n goeie reën- seisoen kom syferwater voor. In daardie stadium was daar nog nie hout ontgin nie – die terrein was dus dig begroei met fynbosstruike en volop wild wat waarskynlik buffels ingesluit het. Selfs kommissaris Hendrik Adriaan van Reede verwys in 1685 in sy dagboek na die aard van Van der Stel se grond as vol “landt heijde, moras, doorn en boslandt” (Böeseken 1964:206). Verkenning vanuit Houtbaai is dus deur onherbergsame terrein bemoeilik. Vrees vir die omgewing weg van die Fort het nog vir jare lank voort- geduur, soos toe die soldaat, Louijs Labé, in 1659 alleen langs Leeukop gaan visvang het. 'n Gedeelte van sy kopbeen, sy klere en enkele beendere is twaalf dae later op 12 September 1659 gevind (Thom 1958:130).

Die Steenberge is ook nie vanaf Valsbaai verken nie, moontlik omdat dit so na-aan Tafelbaai was waar skepe in die 1500's vir water en veeverruiling aangedoen het (Becker 1980:4). Die afstand tussen Hang- klip (Hanglip) en Kaappunt is ongeveer 25 kilometer (Raven-Hart 1967:81). Raven-Hart en Tredgold (1995: 21-2) reken dat sterk winde skepe teruggehou het. Die bemanning moes vir ure teen die wind stoei. Sleigh (2004:295) vergelyk die baai met 'n perdehoef. Die baai-opening wys suid in die rigting van die somermoesonwind. Dit middelgang van Valsbaai is onbeskut teen beide die somer- en winterseisoen- wind, maar bied beskutte strande aan die westekant. Die oostekant, begrens met hoë berge, loop deur on- der die suidewind. Dit is juis aan die oostekant by Hangklip waar die Portugese seevaarders by die Dol- ce-, later Lourens-rivier, aangedoen het om vars water in te skeep. Beskrywings deur seevaarders het merendeels op Hangklip en die gevaarlike rotse in daardie omgewing gefokus, soos dié van John Davis in 1615 (Raven-Hart 1967:81). Bekker (1980:10) se slotsom is dat die Portugese seevaarders die kuslyn om Kaappunt as bedrieglik beskou het. Slegs een Portugese skip, die Bom Despacho, het in 1630 in Valsbaai geanker om noodsaaklike herstelwerk aan die vaartuig te doen. Maar volgens rekord het geen persoon voet aan wal gesit nie (:7). Die baai sou eers in die vroeë 18 de eeu as 'n geskikte wintershawe ondersoek en bevind word (Sleigh 2004:298-301;Bekker 1980:56-9).

Verslae van verkenning van die oostelike Steenberge vanaf Tafelbaai is ook beperk. Ook uit die eerste verslag oor Houtbaai van die Fransman De Beaulieu, voor 1652, word nie melding van die verkenning van die Constantiabergarea gemaak nie. Hoewel Raven-Hart (1967:99) beweer dat De Beaulieu wel die Steenberge beskryf, is dit onseker. Augustin de Beaulieu rapporteer in Maart 1620 dat sy soldate aan die

westekant, dus verby Leeukop, om Tafelberg gestap en die see op twee plekke gesien het – Raven-Hart meen dit was Houtbaai en Valsbaai wat hulle gesien het. Dit is slegs moontlik om Valsbaai vanaf Hout- baai te sien wanneer 'n mens op die bergkruin van die Twaalf Apostels staan. Die feit dat hulle ook die Vlakte as vrugbaar beskryf en die ligging daarvan tussen die westelike en oostelike bergreekse kon waar- neem, bevestig dat hulle redelik ver suid op die bergkruin was. Hul beskrywing van die inheemse bome, volgens Raven-Hart moontlik geelhoutbome, was dat dit hoog gegroei en so dik soos appelbome met 'n baie harde hout gelyk het. Hierdie verslag van De Beaulieu se manskappe het hom nuuskierig gemaak en hy onderneem die volgende dag sy eie tog. Sy roete neem hom na agter Tafelberg3 en hy loop ongeveer 3 “leagues” of 14,5 km in die binneland in verby die invloei van die Liesbeek in die Soutrivier. Anders as sy makkers stap hy dus aan die oostekant van Tafelberg om. Voorts merk hy die oorsprong van die Lies- beek op in die berge tussen Kaappunt en “this Bay”: “This stream has its source in the mountains which lie between the point of the Cape and this Bay and forms the boundary to the West.” Volgens Raven-Hart word hier na die Steenberge verwys, maar dit is moeilik om dit te bevestig, want die Liesbeek begin teen die oostelike hange van Tafelberg. Ek reken “this Bay” was waar hy sy verslag geskryf het – is Tafelbaai. De Beaulieu kon moontlik op grond van sy getuienis - plus die getuienis van sy makkers se verslag van die vorige dag - aflei dat daar nog 'n bergreeks agter Tafelberg was, maar die oorsprong van die stroom se beskrywing suggereer dat hy gedink het dit is een bergreeks. De Beaulieu (Raven-Hart 1967:100) het voorts die wild as oneindig beskryf, naamlik baie soorte soos ape, marmotte (dassies), leeus, rooikatte, jakkalse, ystervarke, volstruise, olifante en ander diere wat hy nie ken nie. Dit verhoog die aanname dat De Beaulieu nie alleen gestap het nie, want die terrein was na alle waarskynlikheid dig bebos, bedrieglik en baie gevaarlik.

Vroeë seevaarders, soos Thomas Roe in 1615 (Twidle 2010:52), het die Skiereiland as 'n argipel of see- eilandgroep beskryf. Roe beskryf die suidekant as “On the southend whereof is the Cape of Good Hope, divided from the Mayne by a deep Bay on the S.E. side.” Jan van Riebeeck (Thom 1954:142,164-5,190) onderskei in 1657 tussen die Bosberge, wat agter Tafelberg gereken is, en die Steenberge. Hy beroep hom op die kaart van die kommissaris van die Raad van Indië, Rijkloff van Goens, se eerste besoek aan die Cabo de Bona de Esperansa, April en Mei 1655, toe laasgenoemde 'n kanaal tussen Tafelbaai en Valsbaai beplan het (Thom 1954:9, vn). Böeseken (1948: Kaart 52) beskou Vlakkenberg as deel van die Bosberge, maar volgens Van Riebeeck (Thom 1954:104vn;142,213,226;1958:90,95) was die Clooffpas of Kloofpas (Constantia-kloof) die skeiding tussen die Bosberge en die Steenberge. Die vertolking van die Tafelberg- reeks wat vanaf Tafelbaai tot by ongeveer Vishoek as een bergreeks deur vroeë besoekers voor 1652 gesien is, was dus heeltemal moontlik.

3 Die Bosberg of Klassenkop lê agter Tafelberg, maar noord van Constantia-kloof. Die Agtertafel lê tussen die Bosberg en Tafelberg (MapStudio 1995:62; Thom 1954:142).

Tredgold (1995:39) merk op dat die mense van die 17de eeu nog nie bewondering vir die natuurskoon- heid van berge gehad het nie, maar dit met vrees beskou het. In die 18de eeu het dr. Samuel Johnson deur die Skotse Hooglande gereis en daarop aangedring dat die blindings van sy koets dig moes hang om die uitsig van die “horrod crags” te verberg. Die skrywer reken na 'n lang seereis wou die mense strand sien en aan land gaan.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN