• No results found

Hoofstuk 2: Eienaarskap van die groter Steenbergvallei

2.5 Die Skiereilandse Khoina se gebruik van die Steenbergvallei – moontlike standplase

2.5.2 Die Steenbergstandplase of krale

Die Steenberge het waarskynlik in Oktober 1652 sy naam vanuit Houtbaai gekry (Thom 1952:65-6). Van Riebeeck en twaalf soldate het op 29 Julie 1653, toe hulle om Tafelberg gestap het, moontlik reeds na die bergreeks as die Steenbergen, voortaan Steenberge, verwys (:165). Tydens die besoek is ondersoek of die houtbosse in Houtbaai ontgin kon word en daar word opmerkings oor die klipperige en rotsagtige terrein gemaak. Hoewel die area buite die grense van die eerste grens val, was dit 'n belangrike deurgangsroete vir die Khoina. Soos hierbo aangetoon, kan 'n lys van standplase al met die roete langs voorgestel word. Om standplase met betrekking tot die oostelike Steenberge aan te toon, is moeiliker, want die Steenberge grens net op sy noordelike grens aan die belangrike Khoi-roete, asook die suidoostelike punt by die latere Muysenburg aan die noordsuidroete. Die benaming van die berg vanuit Houtbaai beteken dat standplase aan die noordwestelike kant van die Steenberge aan die voet van Vlakkenberg in Houtbaai was.

Daar word verskeie kere na standplase by die Steenberge verwys (Thom 1954:365;1958:277,279,281). Die duidelikste Steenbergstandplase is ongetwyfeld agter die Steenberge (Thom 1958:440). Dit was in die vlakte tussen Valsbaai en Noordhoekstrand, maar aan Valsbaai se kant, geleë. Die Kompanjie se beespos en seinpos, Agter 't Steenberge (Sleigh 2004:172), is waarskynlik in 1776 daar aangelê. Teen 1710 was dit steeds 'n weiveld van die Kompanjie (Glatigny, Marais, Viljoen 2008:308,312). Die tweede Khoi-standplaas in die vlakte het as die Bergvallei bekend gestaan. Dit is die huidige Noordhoekvallei (Thom 1958:18 vn1). Beide die twee staanplekke was verder weg van die eerste nedersetting. Om dit van die Gewelberge se kant te bereik, moes die herders en hul vee deur een van drie passe vanuit Hout- baai trek. Hierdie passe is in Augustus 1657 en tussen 8 en 10 Januarie 1658 deur Jan van Riebeeck ondersoek (1954:142). Slegs Kloofpas word vermeld (:213). Die pad via Kloofpas sou die Khoi-groepe toelaat om aan die voet van die Steenberge na 't Hoek van de Steenberge, later Muysenburg, te trek. Hoe- wel daar op die 1795-kaart van die beleg van Muysenburg twee passe tussen Houtbaai en die groter Steenbergvallei aangedui word, is dit baie steil (Brommer 2009:192; Diagram 2 Bylaag B). Die mees logiese roete is via Kloofpas na agter Wynbergheuwel. Van daar het die roete moontlik oor die vlakte na die oostekant van die Zeekoevallei gegaan. Dit word gesuggereer deur Van Goens se idee om die Zee- koevallei as die suidelike punt van die kanaal te beplan ten einde die Khoina uit die gebied te weer (Thom 1954:10). Om by die agter-Steenberge te kom, moes die herders by 't Hoek van de Steenbergen (latere Muysenburg) verby trek (Thom 1958:37).

Daar was dan ook 'n standplaas of -plase by 't Hoek van de Steenbergen. Die punt van die Steenberge by Muysenburg is reeds op 28 April 1652 vanaf die eerste rif, moontlik Windbergrug, waargeneem, maar dit is toe die Klein Tafel genoem (Thom 1952:36). Die roete na die suidelike Skiereiland het verby 't Hoek van die Steenberg gegaan (1958:37). Die standplase is in Desember 1661 deur die Tabakdiewe benut waar hulle op 17 Desember deur die fiskaal besoek is. Die reis vanaf die Fort met 'n pakos was toe 'n dagreis ver (1958:456). Dit suggereer 'n ruwe terrein. Die Tabakdiewe het om en oor die voetheuwels van die Steenberge met hul vee getrek, want op 12 en 13 Desember 1661 het hulle in en by die Kloofpas oorgestaan (1958:448). Die soldate van die Fransman, De Beaulieu, het in Maart 1620 opgemerk dat die inboorlinge selde hoë heuwels bestyg (Raven-Hart 1967:99,100). Wanneer die Khoina hout gaan soek, het hulle in groot groepe geloop en allerhande geluide gemaak en geskreeu om die wilde diere te verjaag (:181). Hierdie verhuising na verskillende standplase om die voetheuwels van die Steenberge na die stert van Wynbergheuwel betwyfel standplase teen die hange van die Steenberge. Dit word ook bevestig deur verspieders van Van Riebeeck tydens die vyandelikhede – daar was geen standplase bo-op, langs of aan die oostekant van die Steenberge nie (Thom 1958:86-8). Jan van Riebeeck se ekspedisies oor die Steenberge het behalwe moontlike deurgange, geen melding gemaak van standplase nie (1954: 226). Voorts het die handelsroetes van die blankes agter vee aan noordwaarts vanaf Tafelbaai gelei (Schoeman 2009: 90).

'n Staanplek wat moeilik geplaas word, is die sogenaamde skuiling van die Steenberge. Die weidingspo- tensiaal, water, moerasse of vleie, veiligheid teen aanvalle en wilde diere asook blootstelling aan uiter- mate wind en weer het alles 'n rol gespeel. Volgens Thinder-Smith (2006:32) was die gunstelingveldtipe renosterveld as vestigingsgebied vir skaapherders (die Khoina). Tokai word nie deur Thinder-Smith as renostervelds gereken nie.

In Oktober 1658 het die Kaapmans by die Steenberge en die Kloofpas oorgestaan, maar indien hulle deur die Kochoquas bedreig word, sou hulle verder in Houtbaai intrek (Thom 1954:365). Die standplase by die Steenberge was dus naby aan Kloofpas, want hier word veiligheid en mobiliteit as oorwegings gesien, omdat hulle vinnig moes trek. Dit is moontlik dieselfde standplase as die skuiling waarna daar op 3 of 4 en 6 Oktober 1660 verwys word (1958:277,279). Die ligging was moontlik tussen Kloofpas en die agter- kant van Bosheuwel (Wynberg) : “...that we should allow the Goringhaiquas, that is the Kaapmans, to come back and live in their land behind the Bosheuwel in the shelter of the Steenberge, beyond our cir- cumscribed limits, and in the Houtbay and Bergh valleys etc.” (1958:279). Die goeie weiding wat later deur die Kompanjie en die Constantia-boere benut is (NASA, KAB 1803;Naudé 1951:76), was aan die oorkant van die Keiserrivier, tussen Baasharmenskraal en die Zeekoevallei. Die afwesigheid van weiding te Constantia en die suidelike Steenbergvallei word onderskeidelik deur Schutte (2003:212) en Grond- raadverslae (NASA, KAB 1821;1821a;1822) bevestig. Hier kan drie staanplekke voorgestel word: aan die voet van Kloofpas wat die Pagasvlei en Sillery-areas (vleie) suggereer. Die tweede moontlikheid is die voormalige Strawberry en wat 'n geringe gedeelte van die oorspronklike Constantia, later Bergvliet, uitgemaak het (DRDLR 1887), maar die area was meer blootgestel as beskutte vleigebied. Dit is 'n droër heuwelronding langs die Spaanschematrivier en stroomaf van Sillery. Die derde moontlikheid is naby die Hoek van die Steenberge, spesifiek die area onder die palmietplante in die omgewing van Soetvlei of tussen Soetvlei en die Oog in Bergvliet – dus naby of by die latere Baasharmenskraalweiding. Dit is dan ook die weiding wat vir die Steenbergvallei se boere in die 18de eeu gereserveer is, omdat die Steenberg- vallei nie natuurlike weiding het nie (Naudé 1951:75-81). Ook hierdie area is oop en bied nie werklik 'n natuurlike skuilplek nie. Hierdie weidingsarea is waarskynlik deur die skape van die pos by Aan de Steenbergen benut. Dit is na alle waarskynlikheid in 1678 deur Hüsing en Gerritsz, nuwe vryburgers wat skape kon aanhou en jaarliks die Kompanjie met skape moes betaal, gebruik (Sleigh 2004: 172); asook die agtereenvolgende eienaars van Swaanswyk, die Michielsze (TANAPb 1683) en die Russouws

(TANAPc 1699), wat albei skape gehad het. Die skuilte van die Steenberge was aan die Kaapmans en die Saldanhars bekend. Daar was 'n erkende staanplek en naby standhoudende water en weiding, anders sou beide groepe nie daarom meegeding het nie. Die weiding vanaf die Keiserrivier ooswaarts na die Zeekoe- vallei is in 1700-1712 deur Van der Stel benut (Böeseken, 1964:208-9), moontlik reeds vanaf die laat 1680's, en binne bereik van die skuilplek wat aan die Steenberge gekoppel word. Die skuiling is moontlik eerder 'n versamelwoord vir die onderskeie oorstaanplekke wat deur die rivierlope, bergrûens en topogra- fie van die noordoostelike Steenberge agter Wynbergheuwel moontlik was. Dit was na aan die weiding

tussen Baasharmenskraal en Zeekoevallei en herders kon of oos- of suidwaarts met hul vee na goeie weiding trek. Dit kan ook die rede wees waarom die VOC besluit het om naby die oostelike Steenberge 'n skaappos aan te lê, maar met die verskil: die VOC kon 'n veiliger skuiling behalwe 'n kraal oprig - vandaar die behuising op die latere skaappos (Sleigh 2004:172-3).

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN