• No results found

Hoofstuk 3: Ekonomiese verbruik van die aarde: Tokai-landgoed en omliggende grond, 1792-1883

3.5 Slawe en arbeid op Tokai

3.5.4 Kontrak en stukwerkers

Die regeringskommissie van 1880 het die arbeidskwessie vierkantig voor die deur van die wynboere gelê. Dit gee 'n historiese beeld van die boer-arbeiderverhouding van ongeveer 80 jaar in 'n paar sinne weer. Benewens die Kommissie se gevolgtrekking oor slawe en kinderarbeiders, het hulle ook swart arbeiders verskoon. Ongeskoolde swartes van Delagoabaai (Mosambiek), Damaraland (Namibië) en Kaffraria34 was volgens die Kommissie nie geskik vir die werk nie. Boonop was daar volgehoue verhoudingskwes- sies tussen die boere en die Kleurlinge. Dit het arbeid verder gestrem weens die sosiale posisie van die Kleurlinge. Hulle het hulself as 'n onafhanklike groep beskou en was nie bereid om tot 'n baasknegver- houding toe te tree nie (NASA, KAB 1882:5).

Teen 1849 het die arbeidsmag aansienlik verklein. Die wyngaard was toe reeds verdeel tussen Eksteen (senior) en sy seun Bastiaan en daarom is dit onseker om te weet hoeveel arbeiders steeds op die plaas teenwoordig was. Die arbeiders vir wie Eksteen (senior) gesorg het, het op ongeveer 10 per maand te staan gekom. Sommige maande is 'n ekstra helper vir akkers optel bygehuur. Vir die dek van die woning se grasdak, wat elke paar jaar gedoen moes word, is ook 'n ekstra helper bygehuur. Teen 1849 het Petrus Michiel sewe arbeiders teen Rds 8, een arbeider teen Rds 5, 'n kok en 'n huisbediende (manlik) teen Rds 9 per maand gehuur. Hy het ook elke maand een stukwerker teen 2 skellings per dag gehuur. Laasgenoem- 34 Brits-Kafferland of Kaffraria, die Oostelike Provinsie, is in 1865 deur die Britse regering geannekseer en by die

de het Petrus Michiel die meeste gekos: Rds 76 teenoor die gemiddelde lone van die sewe arbeiders van Rds 68 per maand (NASA, KAB 1842b). Die kontrakwerkers het gewoonlik blyplek gekry, asook kos en 'n stukkie grond waarop hulle kon groente aanplant. Bastiaan en Japie het die praktyk met hulle kontrak- werkers met blyplek gevolg (1883b). Ook 'n kothuis, gemerk “Biempie se huisie” word in Pondokvallei by die fontein op twee kaarte aangedui (1885b; DRDLR 1887b). Indien elke struktuur 'n manlike werk- nemer gehuisves het, het die Eksteenboerdery teen 1883 ongeveer vyf manlike arbeiders gehad. Hulle het ook gebruik gemaak van stukwerkers (NASA, KAB 1883b) en van die manlike werkers se vrouens het waarskynlik in die woonhuis of elders gewerk. Met druk tye was daar genoeg werklose arbeiders in die omgewing wat bereid was om stukwerk te onderneem. Biempie se identiteit kon nie opgespoor word nie (DRDLR 1887b).

3.6

Gevolgtrekking

Om individuele boere se wynproduksie oor 'n verloop van tyd vas te vat, bly moeilik weens 'n gebrek aan dokumentasie. Waar statistiek gebruik kan word, soos in Eksteen (senior) se geval, gee dit geringe inlig- ting van die werklike situasie. Tog dra dit by tot die groter geheel. Dit bevraagteken die siening dat boere na die slawevrystelling eintlik vier jaar van opbloei beleef het. Maar dit was nie die geval op Tokai nie. Indien dit die geval op Tokai was, sou Eksteen geld gehad het om sy lenings af te los. Andersom gestel: indien sy lenings in hierdie periode afgelos is, sou dit 'n periode van voorspoed vir Tokai suggereer. Ek- steen kon hoogstens sy ewigdurende erfpag se agterstallige betalings met die 1841-oes terugbetaal. Dit was oor die algemeen 'n goeie oesjaar (Ross 1993:135). Met dié terugbetaling van £180 vir twaalf jaar, was daar waarskynlik nie voldoende geld oor om ook lenings terug te betaal nie.

Die aanname in 1882 (NASA, KAB 1882) dat wynboere outyds is en dat vernuwing in die wyn- en wingerdverbouing te wyte is aan wynboere se geskiedenis van afhanklikheid aan slawearbeid, kom met bagasie oor die verhouding tussen die Britse regering en die afstammelinge van boere uit die VOC-tyd- perk. Hierdie aanname van 1882 is die slotsom van die kommissie wat die stand van wynbou in 1882 ondersoek het. Die Britse regering het nie werklik die impak van handearbeid op intensiewe bedrywe soos die landbou besef nie en die maatreëls wat hulle as alternatief aangebied het, het nie gewerk nie. Die boere het inderdaad op hul slawe vir kennis, uithouvermoë en beskikbaarheid staatgemaak, maar wynbou was toe al 'n besigheid. Die plaaseienaar was terselfdertyd die finansiële bestuurder, hoe primitief ook al. Te oordeel aan Eksteen se skrif35 en die boekhouding in 1849 was hy intens gemoeid met sy boerdery, maar hy het nie 'n boekhoudingstelsel nagelaat nie. Die mate waarin die boere toeberei en opgewasse vir hul taak was, kan aan Eksteen se eienaarskap gesien word. Al kon hy nie die plaas van ondergang red nie, het hy die plaas vir meer as 47 jaar besit.

35 Mense wat gereeld skryf, se skrif vertoon gladder as mense wat nie kan skryf nie. Eksteen se skrif lyk nie hortend of stokkerig nie. Persoonlike waarneming.

Die Kaapse regering is deur verskeie liggame in die gemeenskap oor die benarde posisie van wynboere ingelig. Die wynboere self en die wynhandelaars, wat die Kamer van Koophandel saam met die boere in 1804 gestig het (Van Zyl 1973: 172, 301, 507 e.a.) en koerante (Van Zyl 1973: 172, 301, 507 e.a.), asook die Cape of Good Hope Trade Society in Londen (Van Zyl 1973:316), gestig in 1825, het almal vertoë gerig. Die boere het nie kapitaal gehad nie. In die finale verslag van “The macro-economic impact of the wine industry on the Western Cape” van 18 Januarie 2001 (SAWIS 2001:7,) word die belangrikheid van kapitale investering in die wynbedryf, insluitend arbeid en entrepeneurskap, steeds beklemtoon: “Capital investment is required to support or generate any given amount of economic activity. Capital investment, together with labour and entrepeneurship, form the basic productive factors needed for production.” Die effektiwiteit en geslaagdheid van die kombinasie van hierdie faktore bepaal die totale produktiwiteit en winsgewendheid van sodanige produksieprosesse. Die 2001-verslag beklemtoon voorts dat die gesament- like faktore inherent afhang van tegnologiese ontwikkeling en ag die vlak van opleiding van die arbeiders as baie belangrik. Die 1882-aanname is dus nie verkeerd wanneer dit na 'n opgeleide komponent van slawe op wynplase van voor 1838 verwys nie. Dit laat net na om te noem dat boere in die praktyk vir die opleiding van die slawe gesorg het. Al sou die opleiding deur slawe aan slawe oorgedra gewees het – daardie opleiding het op die plaas gebeur. Dit is daardie aspek wat verlore geraak het, maar nie vervang is nie. Die 1882-aanname ontbreek in die erkenning deur die Britse regering en die koloniale regering dat die verpligte inboekstelsel van 1835 onsuksesvol was. Dit het eerder bygedra tot 'n verdere vervreemding van 'n groep binne die gemeenskap (Liebenberg 1959:1), 'n groep wat reeds ontheem was. In 1882 word die blaam vir die agteruitgang van die wynboubedryf geheel en al op die boere geplaas. Die gebrek aan kapitaal en die faktore wat dit veroorsaak het, word dus ook indirek by die wynboere gelê. Vernuwing kon net deur kapitaalkragtigheid bereik word. Die wynboere se ergste verliese is met die vrystelling van slawe gely (Van Zyl 1973:524). Boere het gemiddeld £32 per slaaf ontvang, ongeag die koopprys van die slaaf. Weens die intensiewe aard van arbeid vir die wynboer, was die slawe vir sommige boere hul ver- naamste kapitale bate en is dit te verstane dat die wynboere ernstige verliese gely het.

Die Afrikaanse wynboere was volgens die Engelse te traag om te vernuwe. Die amptenary se houding in die 19de eeu het toenemend krities geword teenoor die Afrikaanse wynboere. Die uiteindelike gevolg was 'n vertrouensbreuk tussen wynboere aan die een kant en regeringsamptenare aan die anderkant. Ty- dens Jacob Cloete (NASA, KAB 1880b) se getuienis voor die ondersoekkommissie in 1880 oor filloksera is Cloete se waarnemings op sy eie plaas verskeie kere in twyfel getrek. Die nalatenskap van die houding van Engelse amptenary jeens Eksteen vind weerklank in die vooroordeel jeens die Eksteens in die werk van verskeie skrywers.

Die verlies aan arbeid op Tokai het die finale nekslag vir Eksteen (senior) aangekondig. Onderlinge finansiële betrokkenheid van leen en uitleen van die gesinslede het 'n kettingreaksie tot gevolg gehad. Een se lyding was almal se lyding. Hoe dit gekom het dat Bastiaan en Japie oor die vermoë beskik het

om die plaas te koop, kon nie opgespoor word nie.

Boere tussen 1860 en 1882 het teruggeval op metodes wat werk en gewerk het in die dae toe hulle nie die kapitaal gehad het om te vernuwe nie. Daarom is die wynbou deur diverse sektore, wat minder arbeid ge- verg het, vervang, soos wat Eksteen (senior) probeer het deur op veeboerdery terug te val. Boere het die afskaffing van slawe sien kom en weens die instelling van Ordonnansie 50 was die skrif wat arbeid betref, reeds aan die muur. Wynboere soos Sebastian Eksteen het op klein skaal in verhouding met sy vader ge- boer, maar hy het nie bankrot gespeel nie. Die afplatting van wynbou in verhouding met die skaapwolbe- dryf en graanproduksie het wynboere waarskynlik versigtig gemaak om te waag.

Tussen die verslae van die Grondraad en die historiese getuienis oor Swaanswyk blyk Tokai nie veel an- ders as die omliggende plase te wees nie. Tog is daar opmerklike verskille. Tokai is een van die water- rykste plase in die vallei. Die plaas se ligging in verhouding tot die hoogste piek van die bergreeks en die teenwoordigheid van verskeie rûens en dale, vleie en vlaktes in die topografie van die landskap maak die plaas tog anders. Filosofies sou dit daarop neerkom dat elke plaas volgens sy eiesoortige natuur ontwik- kel moes word. Van der Merwe (1926:299) se aanhaling uit McCall Theal, History of South Africa, 1795

– 1872, Vol. 1, p. 172, omskryf dit so: “Die Kaapenaars moet alleen probeer volmaak, wat die natuur in

hul omgewing wil.” Tokai se aarde het op die ou einde bepaal wat werk en wat nie. Die grond is nie ge- skik vir weiding nie, tensy dit herhaaldelik gebrand word. Enige aanplantings moes of deeglik bemes word om die suurgrond se samestelling te verander of moes aanplantings wees wat in suurgrond gedy. Voorts het winterstorms se waterafloop altyd die potensiaal van skade. Die VOC se reservering van die Buffelskraalhoutpos was nie om dowe neute nie. Die VOC-regering het waarskynlik na die mislukking van die eerste skaappos reeds besef dat die grond nie geskik vir agrariese doeleindes was nie.

Markkragte en persoonlike vermoë is egter wigte en teenwigte wat nie geïgnoreer kon word nie. Eksteen het in 1802 begin boer onder omstandighede wat onderhewig was aan politieke en noodwendige ekono- miese verandering. Die oorskakeling van die Kompanjie se sentraal beheerde ekonomie tot 1795 na 'n mededingende ekonomie onder die Engelse bewind het die boere onverhoeds gevang (Blommaert, Wiid 1937:8). In 1795 het wynboere geen uitgawes in die vorm van belastings gehad nie (Van Zyl 1973: 513- 4). Daarteenoor het die instelling van ewigdurende erfpag 'n volgehoue las op die erfpaghouers geplaas, plus bykomende belastings in die wynbedryf.

Tokai se wynopbrengs kon nooit meeding met die Constantia-plase of selfs Bergvliet nie. Die uitein- delike 60,000 stokke van Bastiaan in 1883 toon aan dat die plaas se wynboubedryf klein gehou moes word. Die wissellende klimaatstoestande, wat ook die Constantia-plase soms erg geknou het, het ook Tokai se druiweaanplantings benadeel. Teen die 1880's was die uitvoer van Kaapse wyn gering teenoor die kragtige sektor wat dit in 1825 was. Die naam van die plaas, “Tokai” is heel moontlik 'n bespotting en was moontlik as sodanig ervaar. Die Engelse naam van die negentiende eeu, Prinskasteel, is baie meer

gepas en sou vandag die geskiedenis van die plaas omvat vanaf die VOC-periode. Dit omvat die grot as landmerk en bring afstand met die oorheersende Constantiabergbenaming.

Petrus Michiel Eksteen is die sentrale figuur in die grond se ekonomiese verbruik. Oor sy karakter kan daar nie uitgewei word nie. Daar is nie eerstehandse getuienis wat hom kenmerk as 'n deurbringer nie. Daar is maar een geleentheid, toe hy op 29 November 1836 volmag aan Carel Maritz Zastron voor sewe getuies op Tokai gegee het, waar daar sprake van Eksteen saam met besoekers op Tokai geboekstaaf is (NASA, KAB 1840). Daar is wel eerstehandse getuienis dat hy alles in die stryd gewerp het om die plaas tot 'n modelplaas uit te brei en dat hy met dieselfde ywer gepoog het om vir sy kinders 'n toekoms te ver- seker. Petrus Michiel se afhanklikheid van lenings en verbande is tekenend van die tye waarin hy geleef het. Hy het, soos ander boere, die stelsel gebruik. Sy ondernemingsgees was altyd teenwoordig, tot die einde toe. Oor sy verhoudings met sy slawe is daar ewe-eens geen rekord nie. Die wig wat besig was om in te dryf tussen die Engelse owerheid en die Afrikaanssprekendes, is immer teenwoordig.

Die grond van die aarde onder die Prinskasteelgrot en teen die hange van Vlakkenberg sou beter daaraan toe gewees het indien dit 'n houtpos gebly het. Die vernietiging van fynbos en geelhoutbome in die Prins- kasteelkloof onderkant die grot, asook teen die hange van Vlakkenberg, is nie net deur die VOC-houtkap- pers of die Eksteens of ander boere van die omgewing gedoen nie, maar deur die regering toegelaat, om- dat die regering konstant nagelaat het om kroongrond of die sogenaamde “wasteland” op te meet en te karteer. Houtveldpraktyke gedurende die VOC-periode behoort ook erfenisstatus te verkry. Dit het na alles gesorg dat die bergfynbosveld plek-plek behoue kon bly.

Die nietasbare erfenis van die Eksteens se stryd om ekonomiese oorlewing, hul deursettingsvermoë en hul ideale om van die plaas 'n sukses te maak, is verteenwoordigend van die gewone wynboer van die 19 de eeu. Dit is hierdie aspek wat erfeniserkenning moet kry. Daarmee saam mag erfenis van die kennis van toegewyde slawe in verskeie praktyke op Tokai nie verlore gaan nie. Die slawe se inspraak dien ook ver- melding as arbeiders tydens die houtveldperiode.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN