• No results found

Hoofstuk 2: Eienaarskap van die groter Steenbergvallei

2.6 Die VOC-periode: Die landtekens Steenbergen, Steenbergvallei, Prinskasteelberg,

2.6.8 Prinskasteel / Constantiabergdreinering

2.6.8.1 Engelse benoeming

Die afloopstroomname van die Constantiaberg dateer meesal uit die Engelse periode vanaf 1883. Kaarte uit die voorperiode vermeld slegs die Buffelsvalleij op die Van der Graaff en Barbier-kaart van 1788 (Brommer 2009:164;Diagram 3 Bylaag B). Die Buffelsvallei of vlei se naam word in die Engelse periode na die Prinskasteelrivier, dus van die berg waarvandaan dit kom, hernoem. Die naam kom reeds voor op 'n 1870-kaart (Archdeacon 1949). Die ander stroomname is waarskynlik almal deur die hoofkonservator, Westelike bewaringsarea, Sir David Hutchins, benoem, naamlik die Signal-, Flagstaff-, Ash- en Middle- riviere (NASA, KAB 1902b). Die enigste twee ouer name is die Buffelsvlei en die Pondokvallei en -stroom, maar beide het in onbruik verval. Die grootste stroom en waarin al die riviere uiteindelik vloei, is die Prinskasteelrivier. Die opvanggebied van die hoofstroom is 'n sponsarea suid van die hoogste kruin en die stroom dreineer oos. Die eerste stroom onderkant die uitkykpunt is die Asrivier. Volgens Hutchins is dit die eerste rivier na Prinskasteelrivier wat noord vloei. Die Middelrivier se afloop is verder noord en dit vloei in die Flagstaff- of Vlagpostrivier. Hierdie twee strome het gedurende Hutchins se periode water aan die kwekery se dam verskaf. Die volgende rivier is die Vlagstokrivier waarin die dam van die Porter- skool gebou is. Die Vlagstokrivier word weer deur die Seinstroom aangevul. Volgens die 1902-kaart (DRDLR 1902) vloei die strome oorkant die gewese Uilhuis ineen. Hierdie stroom, wat weens wateruit- late taamlik verswak word, vorm die noordelike bank van die Tokai-opstal. Dit vloei naby die huidige perdestalgebou in die Prinskasteelrivier, wat daar noord vloei. 'n Honderd meter stroomaf, op die draai van die Prinskasteelrivier ooswaarts, word die rivier gekanaliseer. Die Prinskasteelkanaal vloei deur die vlakte na waar dit uiteindelik in die Soetvlei dreineer. Pondokvlei kry die dreinering uit die Pondokvallei en dit vloei in 'n kanaal noord van die Ondertuine, wat in die oorspronklike Prinskasteelrivierbedding

aangelê is. Dit word met 'n stroominlaat van Buitenverwachting aangevul. Die water word verder geka- naliseer en vloei onder die Ondertuine in die rivierbedding wat met palmiet gevul is (Map-Studio 1994/5:77).

Daar bestaan weinig rekords oor die afsonderlike stroomname voor die bosbouperiode. Moontlike raak- punte uit die VOC-era kan nie bevestig word nie. Die Vlagpos– en Seinriviere se Nederlands of Afri- kaans vertaalde name is problematies indien die oorsprong voor 1883 gesoek word, omdat die inligting in 1672 oor die Kompanjie se seinplan vaag is oor die betrokkenheid van die berge in die suidelike Skierei- land (TANAPb 1672). Sleigh (2004:171) reken dat die Steenberge deel uitgemaak het van 'n vroeë sein- stelsel. Die latere seinstelsel het sedert die 1740's van Simonsbaai via Muysenburg seine herlei wat per ruiter na die Kasteel geneem is. Dit is in 1793 opgradeer toe die renbode met seine na Wynberg vervang is. Die Britse administrasie na 1795 het die VOC-seinstelsel as onprakties en outyds beskou en met hul eie stelsel vervang (:283, 341, 346). Dit wil dus blyk dat die pieke van die latere Tokai-area nie by 'n seinstelsel ingesluit was nie, maar Sleigh (:171-2) verwys tog na seinposte van die 17de eeu in die meer- voud met betrekking tot die Steenberge.

Die meeste seinposte in die eerste jare was aan die Tafelbaaikant van die Kaap. In 1671 en die daarop- volgende jaar is Valsbaai en die berge van Valsbaai vir 'n seinstelsel ondersoek. In Augustus 1672 is be- sluit om 'n vlagseinstelsel te ontwerp om die koms van vyandelike skepe na die Kasteel deur te sein. Die verslag is onvolledig en die name van die bergpieke word weggelaat. In Januarie 1673 is die tuisgemaak- te vlae “naar de buijteposte Steenberg, de Taeffelbergh en in de Clooff” oorland gestuur. Dit beteken die seinposte in die afgeleë Steenberge moes beman gewees het, maar daar was nie 'n vaste blyplek agter die Steenberge nie en dit was nie 'n voltydse funksie nie. Die skaappos se naam was Aan de Steenbergh en daar was verblyf waar die skaapoppassers en die mynwerkers tussen 1776 en 1885 gewoon het (Sleigh 2004:73). Sleigh (:171) reken dat net die beespos se wagters seiners was, maar beide poste het seinvlae gekry. Indien die seiners in byvoorbeeld Pondokvallei gewoon het, was dit nader om Muysenbergpiek uit te klim as van agter die Steenberge. Van Muysenberg se piek is die hele Valsbaai sigbaar. Seiners in Pon- dokvallei kon moontlik seinterme as name aan landmerke gegee het. Hutchins se intense betrokkenheid by die area is meer oortuigend, so ook die militêre teenwoordigheid in die 1880 en 1890's. Dit betrek die teenwoordigheid van soldate se skietoefeninge op die militêre skietbaan, wat vir 'n tydjie lank op Tokai gedoen is (NASA, KAB 1886c). Tydens skietoefeninge word daar gewoonlik 'n vlag gehys om aan te toon dat bosbouaktiwiteite in daardie area gestaak moes word. Dit gee aan die heuwel, Seinheuwel, sy naam. Op sy beurt gee die heuwel weer die naam aan die stroom, Seinrivier. 'n Skets van die skietbaan, Rifle Range, 1894, dui die rigting van vuur as suidoos na noordwes aan, strekkend van bokant die Porter- skool in die rigting van Beverleyrif20, die rug waarop die pad tussen Buitenverwachting en Tokai gaan. Die skietaktiwiteite was midde in 'n jong plantasiearea, net noord van die Vlagposrivier (1896c). 20 Beverleyrif is slegs in een dokument teegekom, maar daar kan meer verwysings wees. (NASA, KAB 1896c).

2.6.8.2 Rifle Range (Skietbaan)

Die Rifle Range is 'n stukkie grond van ongeveer 25 morg en 544 vierkante roede wat tussen die Tokai- plaas se noordelike grens van 1814 en die grens met Buitenverwachting lê (NASA, KAB 1896c). Hierdie grond is in 1811 deur Petrus Michiel Eksteen vir vyftien jaar in erfpag bekom saam met 5 morg en 452 vierkante roede (1811;1811a). Die erfpag, wat vandag as die Rifle Range (Skietbaan) bekend staan, is aangrensend aan die ewigdurende erfpag wat in 1814 aan Eksteen uitgegee is en die Tokai-landgoed van suid na noord konsolideer (DRDLR 1813, 1814;Diagram 7,35 Bylaag B). Goedkeuring is in 1844 verkry om die grond in erfpag of leengrond na ewigdurende erfpag (perpetual quitrent) om te skakel (NASA, KAB 1844a), maar dit is nooit gedoen nie. Desnieteenstaande is die grond in 1850 saam met die land- goed as erfpag te koop aangebied (1842b). Sedert 1813 is leengrond nie meer uitgereik nie (Duly 1965 : 361). Met die aankope van die plaas in 1883 het die grond outomaties na die koloniale regering terugge- gaan – moontlik omdat die uitreiking van leengrond verval het en daar boonop geen strukture volgens die 1883-kaart van Toka opgerig is nie (NASA, KAB 1883n;Diagram 8 Bylaag B). Die koopooreenkoms verwys nie na die leengrond nie (1883b). Ook die kaart van November 1885, wat grootliks met die 1883- kaart ooreenstem, verwys net na die vrygrond en ewigdurende erfpaggrond van Tokai-landgoed(1885b)21. Twee stukke grond tussen Tokai en Buitenverwachting dui twee porsies leengrond aan (DRDLR 1880e). Die grond aan Tokai se kant is in 1907 en 1914 tot Constantiaberg toegevoeg (HRC 1931). Die herop- meting van die Constantia-plase is in die 1880's in ooreenstemming met die Land Beacon's Consilidation Act, Wet No. 7 van 1865, gedoen. Dit is in 1890 afgehandel. Hoewel die Tokai-landgoed van Jacob en Sebastian Eksteen aanvanklik op die lys was, is dit van die finale lys verwyder (DRDLR 1890), waar- skynlik omdat dit nie meer in private besit was nie. Die grondbelastingregisters (RLR-reeks) in die Kaapse Argief eindig ook met die inwerkingstelling van 'n ander gronduitleningstelsel, ewigdurende erfpag, en dui nie aan wanneer die erfpaggrond van die Eksteen-seuns, Jacob en Sebastian, opgesê is nie. Dit het waarskynlik verval toe die regering die Tokai-landgoed in 1883 gekoop het. 'n Navraag van die distrikbosboubeampte oor die grond aan die Landmeter-generaal in 1925 kon geen antwoord verskaf nie, behalwe 'n dokumentverwysing “G.L.1057 gedateer 8 November 1886” (DRDLR 1925;NASA, KAB 1886c). Dit verwys na die skietbaan.

Die Militêre owerhede het sedert 1886 die lang strook grond as 'n skietbaan gebruik – vandaar die naam Rifle Range. Dit was teen die wense van die bosboupersoneel, omdat hulle gevrees het dat die gevange- nes wat boompies plant, getref kon word en dat veldbrande sou ontstaan. Die brief van 8 November waarna verwys word, behels korrespondensie oor die wenslikheid al dan nie van toestemming (NASA, KAB 1886c). Die militêre oppergesag het teen 1895 grond elders vir skietoefening bekom, hoewel daar 21 Tokai-landgoed se opmeting het tussen 1881 en 1890 gebeur en die 1885-kaart was waarskynlik die amptelike kaart van die opmeting, terwyl die 1883-kaart (NASA, KAB 1883n) De Vasselot se kaart was wat die uitmeet van die kwekerygrond aandui (NASA, KAB 1883l). Die bronkaart wat weg is, word aan Hyslop toegeskryf (NASA, KAB 1883e). De Vassellot se kaart is op die bronkaart gebaseer.

voor 1895 van die terrein gebruik gemaak is. Die grond was aanvanklik Bosbou se eiendom (1896c), maar het op die ou einde na Justisie gegaan. In 1902 was daar reeds 'n tuin genaamd “Rifle Range Gar- den” wat deel uitgemaak het van die Porter-grond (DRDLR 1902;1902a; Diagram 35,54 Bylaag B). Hoewel die Kaapse essenhout (Ekebergia capensis) inheems is, is dit nie inheems tot hierdie area nie en die Asrivier is dus nie na die esboom vernoem nie. Die kans is goed dat dit na verbrande hout, as, ver- wys, omdat daar twee punte is wat soortgelyke name dra, naamlik “Voorbrand” aan die suidoostelike punt tussen die plato en die piek en “Blackburn-kloof” tussen die plato en die kruin aan Houtbaai se kant - die suidwestelike hoek van die kruinkoepel.

2.6.8.3 Pondokvallei

Die enigste kaart wat die Pondokvallei aandui, is die 1902-kaart van Fourcade (DRDLR 1902). Die 1885-kaart (NASA, KAB 1885b) dui wel Biembie se kothuis in 'n bos aan waar die Pondokvallei is, maar die vallei word nie benoem nie. Die valleitjie by Biempie se kothuis is deur 'n waterstroom noordwes daarvan gevoed. Die waterstroom kom nie meer voor op die 1902-kaart nie, maar wel 'n dam en sy uit- loop, gemerk Pondokvallei. Die dreinering van die heuwel noordwes en waarop die skietbaan in 1906 aangedui is, vloei in die Pondokvallei (DRDLR 1906), maar die afloop is mettertyd gekanaliseer, waar- skynlik voor 1902. Die kaart dui ook 'n kanaal of leivoor op die noordgrens van die skietbaan aan. Die waterafloop is in 'n leivoor afgelei om die tuinery, wat op die skietbaangrond deur superintendent Orpen van die Porter-institusies gevestig is, van water te voorsien (1902). Die waterstroom onderkant die dam vloei in 'n vlei, Pondokvlei met sy eie fontein. Dit word vandag die Prinskasteelvlei (Rebelo 2010:49) genoem. Die 1931-kaart (HRC 1931) vertoon 'n waterreservoir naby die area van die tuinery waar die skietbaan was.

Die dubbele betekenis van vlei en vallei is ook by Pondokvallei / -vlei ter sprake. Die Pondokvallei is 'n kom met 'n standhoudende fontein tussen die waterskeiding met die Vlagposrivier (suid) en Eksteen se leengrond van 1811 aan die noordekant (NASA, KAB 1811,1811a). Die Pondokvallei, wat direk noord van die Tokai-opstal lê, is in die 1814-grondtransaksie as ewigdurende erfpag tot die landgoed toegevoeg (1814;DRDLR 1813). In 1889 is begin met die bou van die jeugrehabilitasiesentrum op die suidelike helling van die vallei en op 3 November 1892 is Pondokvallei en ander gedeeltes aan die Porter-skool afgestaan (NASA, KAB 1889c,e;1892d). Die grondverdeling is aanvanklik net in 'n wettige ooreenkoms tussen die Koloniale Kantoor en die Department van Grond, Myne en Landbou saamgevat (1892d), maar die Porter-grond is later, op 24 Junie 1919, met die Minister van Justisie as trustee, geregistreer (DRDLR 1919a).

Die oorsprong van die Pondokvallei se naam is onseker. Die woord pondok is Maleis-Portugees en be- teken hut (Boshoff, Nienaber 1967:513). Die naam van die vallei kom ongetwyfeld van hierdie hut of hutte wat eens in die vallei opgerig was. Dit word betwyfel dat die Engelse 'n naam soos Pondok sou gee,

want op die Melvill-kaart (NASA, KAB 1885b) word Biempie se huis as 'n “cottage” aangedui. Met pleknaamwoorde soos Pondok (DRDLR 1902) en Jakobsleer (1963;2003) aan die westelike helling van die valleitjie kan ons aflei dat die gebied deur die VOC-periode benut kon wees en benoem is. Moontlik is dit die plek waar die skaapoppassers, moontlike seiners en die mynwerkers tussen 1776 en 1885 ge- woon het (Sleigh 2004:73). Dit is 'n beskutte valleitjie met water teenoor die eerste 39 morg wat op 'n heuwel tussen twee strome geleë is, maar blootgestel word aan die suidoostewind (MA 1800a, DRDLR 1813). Pondokvallei is ook nader aan die vleie geleë waar die skape heel waarskynlik aan die oorkant by die latere Baasharmenskraal gewei het. Dit sou ook makliker wees om die vee snags in 'n beskutte area te laat oorstaan teen roofdiere en wind. Roofdiere, siekte en diefstal was enkele probleme waarmee skaap- boere en die Kompanjie moes rekening hou. Rondom die Buffelsvlei en die lang en nat winters was die terrein nog meer ongunstig. Brandsiekte het algemeen in skaapstalle voorgekom en siek en ongesonde skape is dikwels saam geslag. Dit het die probleem vererger. Die siekte het dan ook gou versprei, omdat geen hok of kraal gevrywaar kon word nie (Böeseken 1966:236). Dit was dus belangrik dat die skape op 'n droër area gehou moes word.

Nadat die skape in ca 1678 of 1682 verwyder is, is die hut nog as huisvesting vir die berg- of mynwerkers gebruik (Sleigh 2004:172). Ook die skaaphok22 is verwyder toe die buurman, Michielsz, dit in Desember 1683 by die Kompanjie oorneem. Aanvanklik het daar net twee bergwerkers gewoon, maar gedurende die twee jaar voor die sluiting het daar vyf bergwerkers gewoon. Die nuwe skag was by die Witteboomen (Sleigh 2004:174) en aansienlik nader as die skag agter die Steenberge (Raven-Hart 1971:337). Indien die bergwerkers elke dag die heuwel moes uitstap om na die Witteboomenmyn te stap, kon die heuwel moontlik soos Jakob se leer gevoel het. Daar was toe nog nie 'n buitepos met geboue by Witteboomen nie (Sleigh 2004:261). Die soldate by die Steenberge is gedurende 1673 en daarna, kort voor die vestiging van die buitepos, ook as seiners gebruik (:171). Dit verhoog die moontlikheid dat die plekname soos Vlagposrivier, Seinheuwel en -rivier uit dieselfde periode dateer en dat Pondokvallei toe reeds die ba- siskamp was. Die benoemings skyn egter 'n blote toevalligheid met die Engelse benaming wat Hutchins in 1902 gee, te wees (NASA, KAB 1902b).

Twee bergwerkers wou na Sumatra vertrek en sodoende het hul name behoue gebly. Hulle was Jurgen Reijchard, stellasiebouer of ondersteiger en adelborst Christian Reijchard, die berghopman of voorman. Ander werkers is Frederik Mathias von Werlinghoff en die bergmeester, Gabriël Muller (TANAPb:1686), wat later alleen agtergebly het (1686a). Indien die voorman, Thomas Creutzig, van die silwermyn agter die Steenberge bygereken word, is die totaal bergwerkers vyf. Dit stem ooreen met die statistiek van 24

22 TANAPb (1683a) vermeld die skaaphok by Bommelshock. Sleigh (2004:168-170) meen dis verkeerd en ver- wys na die veepos Aan de Steenberg. Hy verdedig sy siening met die feit dat die besluit deur ondere andere Simon van der Stel onderteken is en dat Van der Stel geweet het hoe ver Bommelshock, een van die eerste drie veeposte, was, nl. Rietvalleij, Bommelshock en Vissershok langs die Dieprivier.

Maart 1685, soos verskaf deur Sleigh (2004:173), vir die aantal bergwerkers wat op die ou skaappos ge- woon het. Omdat Muller die bergmeester was, was hy ook betrokke by die silwermyn aan die agterkant van die Steenberge nadat die Witteboomenmyn toegemaak het. Pondokvallei was min of meer halfpad tussen die Witteboomen en Silwermyn. Deur hierdie persone kry Tokai se historiese verlede betekenis. Dit is die eerste Europeërs wie se name behoue gebly het en wat op Aan die Steenberg gewoon het. Die myners wat onder meer in 1687 by die Silwermyn agter die Steenberg betrokke was, is Thomas Creutzig en die voorman, Gabriël Möller (of Muller). 'n Besoeker aan die myn, Johann Wilhelm Vogel, het 24 en 25 Maart 1687 saam met die mynwerkers in 'n hut, wat 'n entjie van die myn af was, geslaap. Daar was ook 'n afdraande by betrokke (Raven-Hart 1971:337-8). Sleigh (2004:172) beweer dat die vee- wagters by die buitepos Agter de Steenberg in 'n tent gewoon het, omdat hulle hul tent moes verskuif na gelang van die plek waar die vee gewei het. Hierdie buitepos het tot ongeveer 1691 bestaan. Maar vol- gens Vogel is die hut waarin hulle in 1687 geslaap het, 'n hut wat deur die mynwerkers wat daar gewerk het, gebou. Hierdie hut was waarskynlik dieselfde hut van die ou buitepos Aan de Steenberg. Die af- draande was bergaf van die Steenbergreeks na die Tokai-area. Die statistiek vir Agter de Steenbergh strek ook tot 1685 (Sleigh 2004:173) en sluit nie bergwerkers in nie. Ook die laaste inligting oor die buitepos voor die sluiting in 1691 maak nie melding van bergwerkers nie. Die silwermynskagte is steeds sigbaar langs die Ou Kaapse Wegroete. Die naam van die myn leef voort in die huidige naam van die park, Silwermyn.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN