• No results found

Geologiese onderbou en die spreiding van timmer en brandhout

Hoofstuk 3: Ekonomiese verbruik van die aarde: Tokai-landgoed en omliggende grond, 1792-1883

3.2 Die Kaapse Distrik: vernaamste kommoditeite, wyn en hout

3.2.1 Houtveldbestuur, grondreservering versus gronduitreiking en tekorte aan brandhout

3.2.1.2 Geologiese onderbou en die spreiding van timmer en brandhout

Hoewel die geskiedenis van houtvoorsiening taamlik volledig deur Appel (1966) in sy MA-verhandeling “Die geskiedenis van houtvoorsiening aan die Kaap de Goede Hoop 1652-1795”, Universiteit van Stel- lenbosch gedek word en deur Sleigh in Die Buiteposte (2004, Kaapstad: Protea) aangevul word, word die Buffelskraal se houtveld nie as sodanig beskryf en behandel nie. Ook die Notules van die Politieke Raad, ca 1714-1795 (TANAPb), lewer beperkte inligting. Buffelskraal was 'n gereserveerde area, maar is ter- selfdertyd as 'n aktiewe houtveld ekonomies deur die VOC ontgin (Appel 1966:60-1,72;Sleigh 2004:182). Dit was fynbosveld. Naas hout is daar in die 19de eeu ook blomme deur Kleurlinge gepluk en verkoop, hoewel die meeste permitte vir Tafelberg uitgereik is (NASA, KAB 1892a).

2 Volgens Kruyskamp (1961:795) is een Amsterdamse hoed gelykstaande aan 38 maat of ongeveer 9.81 hektoliter.

Die geskiedenis van die geologie kan ook help om die agrariese potensiaal van die grond beter te begryp. Dit kan help om te verklaar waarom fynbos, wat aan die een kant die grond as waardeloos in voeding- stowwe definieer (Van Rensburg ca.1985:6), die grond ook 'n ruilwaarde gegee het. Slegs sowat 26% of 284 hektaar (DRDLR 1919:45) van ongeveer 1,106 hektaar (DRDLR 1896; 1902) van die Tokai-grond is vir boerdery afgestaan. As 'n bron van brandhout het fynbos of kreupelhout3 gesorg dat nog die VOC (Appel 1966:72;Sleigh 2004:182), of die Goewerneur en Raad van die Bataafse Republiek (NASA, KAB 1803a:54-63), nog die Britse administrasie (Sim 1907:78) bereid was om die grond as landbougrond uit te gee. Die topografie was bepalend. Die terrein is oorwegend bergagtig en plek-plek moeilik geskik vir landbou of veeteelt. Daar was wel 'n gedeelte, wat deur die kommissarisse Van Reede van Oudtshoorn en Gordon uitgesonder is, maar dit was 9 morg in die rivierbedding van die Buffelsvallei (TANAPb 1794c). Die groter Buffelskraalgebied was dus nie landbougrond nie. Die grond is ook nie as weiding benut nie, want die area tussen die vleie op die vlakte is daarvoor benut (Sleigh 2004:264). Die plaas van Petrus Michiel se gesamentlike oppervlakte wat uit eiendomsgrond, leengrond en ewigdurende erfpag bestaan het, was in 1814 sowat 334 morg /284.4 hektaar (DRDLR 1887b;NASA, KAB 1811;11a). Al die om- liggende kroongrond na 1814, wat tot 1883 onbewerk gelaat is, het meer as 800 hektaar beslaan (DRDLR 1887;1996). Dit was bergveld-, graniet- en duinefynbos. Die geologiese onderbou van Tokai onderskei drie grondformasies, naamlik Kaapse granietrots, Skiereilandse sandsteen en Kaapse kwartêre4 sand (Rebelo 2010:27).

Tokai-park is geleë in die winterreënstreek en die plantegroei is oorwegend fynbos5. Fynbos groei op plekke waar die reënval 250mm en meer is. Die grond waarop fynbos voorkom, is oor die algemeen arm en onvrugbaar (Van Rensburg 1958:6,7), wat kenmerkend is van die geologie van die Tafelberggroep of Tafelbergsandsteen van Prinskasteelberg (Mabbutt 1952:14). Die vroeë houtversamelaars wat fynbos vir brandhout bymekaar gemaak of gekap het, het sedert die 17de eeu 'n onderskeid tussen soorte fynbos gemaak (Jeffreys, Naudé 1944:43). Uiteraard sou sekere areas van die Kompanjie se houtveld te Buffels- kraal dus meer gesog gewees het as ander gebiede, soos die Pondokvallei, wat tot in die laat agtiende eeu as houtveld teruggehou is (TANAPb 1794c).

3 Vir die duur van die hoofstuk word die term, kreupelbos of kreupelhout, gebruik vir alle tipe fynbosstruike wat as brandhout gekap is. Waar dit na die speldekussing verwys, word dit spesifiek so aangedui. Kreupelbos word so vroeg as 1658 as 'n versamelnaam in die Plakkaatboek genoem wanneer veldbrand verbied word: “ ...die brand van gras, bies (riete) en kreupelbosse ...” (Jeffreys, Naudé 1944:43).

4 Die kwartêre periode is die jongste periode waarvolgens sandgesteentes in ouderdom ingedeel is (Odendal, Gouws 2005:641).

5 Fynbos is 'n diverse groep plante wat min of meer altyd elemente van Restio's of taai biesieagtige plante, 'n heide-element en die hoër struike, die proteoïede-element bevat (Van Rensburg ca 1985:6).

Die hele basis van Tokai-park is Kaapse granietrots (Rebelo 2010: 27). Die boonste gedeelte van die berg bestaan uit Tafelbergsandsteen wat ou lae graniet en skalie bedek. Die heuwels word gekenmerk aan ver- weerde graniet en die vlakte aan sand. Die proses van vorming het miljoene jare gelede begin. Die oud- ste van die rotse is grys sedimentêre neerslae van die Malmesbury-groep wat deur verwering en oor tyd 'n rooierige kleilaag gevorm het. Hierdie laag, wat ouer as 550 miljoen jaar is, is deur gesmelte magma bin- negedring, wat deur gestadigde afkoeling growwe of ruwe Kaapse granietrots gevorm het. Die Kaapse Graniet- en Malmesbury-skalie is oordek met kwartsiet van die Tafelberggroep of -sandsteen wat tot so- wat 'n 550 meter dik neerslag op plekke vorm. Die kwartsiet is op sy beurt deur verwering tot 'n wit sanderige grond met van die armste grond in voedingstowwe afgebreek. Laasgenoemde vorm die bepa- lende faktor vir planttipes (Trinder-Smith 2006:22-3). Rebelo (2010:27) onderskei die granietrotse bo- kant Westlake (Raapekraal) en direk onderkant die Prinskasteelgrot op Tokai-park, maar verskeie ander rotse word nou sigbaar namate die plantasies van Tokai-park afgeoes word. Tussen die Prinskasteelrivier en Vlakkenberg kan 'n hele paar rotse, wat heelwaarskynlik van die boonste granietbasis losgekom het, gesien word. Merkwaardig is veral die koepelrots bokant die Moslembegraafplaas in die Slamsevallei. (Diagram 9 Bylaag B). Rebelo (:28) meen die berghange van Constantiaberg is te arm om wild te onder- hou. Die berghange is voor plantasieaanplanting in 1883 nie as landbougrond uitgereik nie (DRDLR 1813;1887a), maar is waarskynlik benut as houtveld en beperkte timmerhout, wat op twee plekke in klowe voorgekom het (TANAPb 1714a).

Anders as Tafelberg het Tokai min klowe met diep en klam toestande om houtagtige plantegroei soos Afromontane bosse te ondersteun. Die beskermde en klam klowe, beskut teen vuur, lewer houtagtige plante of Afromontane Bos. Dit groei dikwels deurmekaar met subtropiese ruigteplantegroei of struike van die fynbosgroep (Trinder-Smith 2006:24). Die waarneming in 1714 van twee kleiner bosse timmer- hout iewers teen Prinskasteelberg en vier groot bosse – hoofsaaklik timmer- en wamakershout - teen die oostelike hange van Vlakkenberg net wes van die Constantia-plaas van 1685 (TANAPb 1714b), strook hier met die geologiese en ekologiese observasie van Trinder-Smith. In die laat 1890's is inheemse bome uit twee klowe vir bouwerk te onderskeidelik die Porter-skool en die Tokai-bosboustasie afgekap (NASA, KAB 1901b). Dit bevestig die voorkoms van beperkte Afromontane bosse in Tokai-park.

Die 1714-houtvonds het “wagenmakershoutbosschen” of waboomproteas, Protea nitida (TANAPb 1714b;SANBI:2008), teen die hange van Vlakkenberg ingesluit. Daar is tans geen sigbare bewys daarvan nie. Die mees noordelike bos, Helsebos en die omliggende grond, is in 1815 deur Hendrik Cloete senior en eienaar van Groot Constantia as ewigdurende erfpag verkry. Die 25 morg of 21.29 hektaar word be- skryf as 'n “vrystaande houtbos” (NASA, KAB 1815:64). J.G. Cloete, seun van Hendrik, se berggrond is in 1823 uitgebrei tot 72 morg of 61 hektaar om die plaas, Grootbosch, te vorm. In 1886 strek dit oor twee- derdes van die Grootbosch-, Lange- en Donkerboschkloof (DRDLR 1886). Daardie area is vandag win- gerde wat op terrasse hoog-op teen die hange van Vlakkenberg aangeplant word (Persoonlike waar-

neming, April 2015). Teen 1714 kon inheemse bome soos die opregte geelhout, Afrocarpus latifolus, wat waarskynlik ook aan weerskante van die Prinskasteelrivier gegroei het, reeds afgekap gewees het, want teen daardie tyd was die opstal te Swaanswyk reeds gebou. Die naaste plek aan die opstal waar inheemse bome kon groei, is in die Prinskasteelrivierkloof. Stompe sou sonder enige moeite vanaf die oewers van die rivier gekap en gesleep kon word. Die afgeleë ligging van Swaanswykplaas in 1682 het 'n skuiling genoodsaak. 'n Opstal en buitegeboue op die werf, asook tekens van 'n ontwikkelde plaas is duidelik sig- baar op die landmetersdiagram van 1711 (NASA, KAB 1711). Ook die inventaris van 1699, na Russouw se afsterwe, beskryf 'n woning as “...het land met desselvs opstaande timmeragien, en bougereedtchap leggende aan de Steenbergh...” (TANAPbc 1699).

Die tweede grondlaag van belang is verweerde graniet. Die diep, verweerde granietgrond wat die heu- wels kenmerk, is effens meer vrugbaar, veral in klammer areas waar digter struikagtige fynbosplante voorkom (Trinder-Smith 2006:24). Die wingerde van die Constantia-plase is op hierdie grondlaag aan- gelê. Rebelo (2010:28) meen dit is ook díe grondlaag wat histories groot troppe wild, roofdiere en bob- bejane van habitat voorsien het. Dit is die groeiplek van silwerboomwoude en welige rivieroewerplante (Van Rensburg ca1985:16). So lewer 'n gedokumenteerde veldbrand in 1890 aan weerskante van die As-, Middel- en Vlagstokrivieroewers bewys van suikerbosse op dié grondlaag (NASA, KAB 1890a). Ook diefstal van fynboshout in 1889 teen die hoër heuwels langsaan plantasies, suggereer protea- en ander fynbos wat natuurlik daar voorgekom het (NASA, KAB 1890:59).

Sowat 4,022 aangeplante vrugtebome en 4,379 eikebome is in 1695 op Constantia opgeteken, (Böeseken 1964:153), danksy die verweerde granietgrondlaag. Voor Van der Stel se boerdery is die landskap geken- merk aan heuwels bedek met fynbos, Afromontane bosse in die klowe, vleie en moerasse. Kommissaris Hendrik Adriaan van Reede beskryf die grond in 1685, twee maande na die uitgif aan Simon van der Stel, as “... landt heijde, moras, koorn en boslandt... ” (:206). Die grond was dus moerasagtig en oortrek met heide en groter struike of kreupelbos soos proteas, tolletjiesbosse en silwerbome. Dit is egter onseker oor wat Van Reede met “koorn” bedoel. Ook was daardie area volgens Van Reede nog onbewerk en dit kon nie koring wees nie. Volgens Kruyskamp (1961:1041) is die woord “koorn” nie 'n werkende vorm vir “koren” in Nederlands nie (Afrikaans: koring of graan). Dit kan egter verwys na die woord “koornsla” (Kruyskamp 1961:1020) (slaai of opslag) wat verwys na 'n onkruid wat in sanderige landbougrond voor- kom, naamlik 'n tipe madeliefie, Arnoseris minima. Maar dit was braakland en Van Reede verwys waar- skynlik na 'n soortgelyke tipe blommetjie wat aan hom bekend was. Die madeliefiefamilie, die

Asteraceae, kom volop voor in die Kaapse Skiereiland (Trinder-Smith 2006:23-4,258-84). Van Reede verwys dus na inheemse blomme naas die heide en ander struike vanuit sy verwysingsraamwerk vir van die blombosse6 , want die woord “koorn” bestaan nie in Nederlands nie.

Grootwild soos elande, hartebeeste en renosters is in 1699 gedokumenteer (NASA, KAB 1699). Ook Simon van der Stel se jaglisensie vir die Steenberge, suggereer volop groot- en klein wild (NASA, KAB 1700). Die naam, Buffelsvaleij, waaraan Buffelskraal sy naam te danke het, suggereer grootwild. Maar sedert 1676 met die vestiging van 'n skaappos, was daar menslike aktiwiteite in die area. Daar kan aan- vaar word dat die buffeltroppe, wat in die 1650's tydens naamgewing daar voorgekom het (Godée-Mols- bergen 1916:26), reeds migreer het of totaal uitgewis is. Ook die Michielsze sou nie kon tuin maak en druiwe aanplant sedert 1682 op Swaanswyk (Pretorius 1998:22), indien daar nog buffeltroppe was nie. Twee jong olifantjies, wat in 1689 in Houtbaai aangekom en die jong aangeplante boompies begin verniel het, is van kant gemaak (Sleigh 2004:269), terwyl die Kaapse buffel nog met geleentheid in Simon van der Stel se tyd op die Kaapse Vlakte gedokumenteer is (Day, Broekhuyse, Hesse e.a. 1952:70). Groot- wild het nie heeltemal uit die gebied padgegee nie, soos wat Oortmans se jaglisensie van 1699 suggereer (NASA, KAB 1699), maar dit het opmerklik skaars geraak, want in 1690 is 'n verbod uitgevaardig teen ongeoorloofde wildjag. Jaglisensies was vir slegs twee maande geldig en tussen 15 Augustus en 15 Desember was die jagseisoen geslote (Jeffreys, Naudé 1944:256-7).

Die derde geologiese grondlaag is die Constantiabergvlakte, bekend as Kaapse kwartêre sand of sand- grond wat 'n neerslag van die laaste vyf miljoen jaar is. Dit is deur wisseling en vermenging van sand- duine en seesandduine gevorm. Die sandduine is uit sedimente van steen en graniet gevorm, terwyl see- sandduine 'n mengsel van gebreekte skulp en effe soutagtig is. Uiteraard is hierdie grondlaag baie arm en ondersteun hoofsaaklik 'n spesifieke fynbostipe, die Kaapse vlaktesandfynbos (Rebelo 2010:27). Die sandgrond, wat ook die armste kwartsiet is, huisves gewoonlik grassoorte van die Restionaceae en kleiner struike wat hoofsaaklik tot die Ericaceae, Asteraceaea en Rosaceae behoort (Trinder-Smith 2006:23-24). Botaniste trek parallelle tussen geologiese lae en fynbostipes. Die grond wat in 1811 en 1814 aan Eksteen as onderskeidelik leengrond en ewigdurende erfpag uitgegee is, lê gedeeltelik op hierdie grondlaag (NASA, KAB 1811;1811a;1814). Het Eksteen hom misreken met die grond wat hy in 1813 aangevra het (NASA, KAB 1809a;1813)?

Dit blyk voorts dat 'n groot gedeelte van die park, gemerk as Plaas 14647 (DRDLR 1996c) en gekenmerk aan die armste grondlaag van Tokai-park, Kaapse vlaktekwartêresand, nie net deur die VOC gereserveer is nie, maar ook daarna deur die Britse koloniale regering as kroongrond teruggehou is (NASA, KAB 1883a). Daar word reeds in 1795 na hierdie spesifieke duine as 'n vlakte verwys. Tydens die Britse op- mars vanaf Muysenburg na Wynberg het een kolon soldate die oggend van 14 September begin om langs die Steenberge te marsjeer. Die kampkommandant van die Steenbergkamp wat op Russouw se grond was, het inderhaas sy stellings na die “vlakte” tussen die grond van Russouw en Teubes verskuif om nie omsingel en afgesny te word van die ander verdedigingstroepe voor Wynbergheuwel nie (Nel 1972:255). Die area is nie om dowe neute 'n vlakte genoem nie. Hierdie area is ook nooit as plaasgrond uitgegee nie. 7 Die area behels die grond suid van die Ondertuine tot teenaan Dennedal, Tokai-woonbuurt (DRDLR 1996c).

Hier word verwys na die kroongrond gemerk Plaas 907 in 1883, wat suidoos van die Tokai-landgoed lê en as Gedeelte E by die Tokai-kwekery en plantasie ingereken is (DRDLR 1887b;1996c). Plaas 1464 be- slaan 73 hektaar, wat 'n samestelling is van die ou gedeelte van Plaas 907 en 'n klein gedeelte van die Tokai-landgoedtoevoeging van 1814. Die grond, Kaapse vlaktesandfynbos, word grootliks deur ekoloë in ooreenstemming gebring met die spesies fynbos wat gedurende 1917-1919 deur William Purcell op Berg- vliet oorkant Soetvlei opgeteken is. Purcell het 600 plantspesies opgeteken (Rebelo 2010:28). Voorts word dit betwyfel of hierdie arm grond van die vlaktesandduine van die latere Plaas 1464 enigsins wei- ding vir beeste of skape kon voorsien, tensy gras8 aangeplant is. Wat wel sin maak, is die nabyheid van Plaas 1464 aan Soetvlei vir weiding. Duckitt het in 1810 op Baasharmenskraal, teenoor en langsaan Soet- vlei, hooi gemaak (NASA, KAB 1810a). Dit maak die vlakte 'n handige oorstaanplek vir vee weens die nabyheid van water en weiding. Die vlakte was oortrek met fynbos, maar is sedert 1886 stelselmatig met bome aangeplant (NASA, KAB 1887:5). Vakke, waarvan die laastes nog eens denneplantasies dra, is di- rek langs die Tokai-woonbuurt geleë en 'n gekose stapplek vir honde-eienaars en hul honde. Die fynbos- hervestigingsprogram kry hoofsaaklik weerstand van hierdie groep, asook inwoners van Tokai (Moll 2011;Preston 2011;Full Circle 2008:42).

Die grootste gevaar vir sandduine is die stroping van die plantegroei. Waar dit gebeur het, was die proses onomkeerbaar. Uitwissing van duineplantegroei het die duine weerloos gemaak teen die aanslae van die wind. Teen 1723 was van die duine in die omgewing van die Soutrivier nog sowat 80 voet / 24.38 meter hoog (Sleigh 2004:26). Die oorsaak van die groot seeramp van Junie 1722, toe verskeie skepe in Tafel- baai gesink het, word toegeskryf aan 'n laag sand van kaalgestroopte sandduine wat deur die wind in die baai gewaai is. Dit het die baai vlakker gemaak. Die duine van Plaas 1464 het waarskynlik ook deur- geloop onder houtplundering, wat dit weer aan winderosie blootgestel het. Dit was dus in boere se eie belang om aangrensende regerings- of kroongrond te beskerm. Waar die plantegroei vernietig is, het die wind die sand in hul akkers ingewaai (Sleigh 2004:26;NASA, KAB 1796a).

Die berge en die sandvlakte het romdom 1800 niks anders as brandhout opgelewer het nie. Dit is dikwels in bondels takbosse ingebind en het uit verskillende soorte kreupelhout en heidebosse soos die Protea (en) phylicas en ander struikhoutgewasse bestaan9. 'n Klein wavrag is in die stad vir 5 tot 7 Riksdaalders (Rds) verkoop (NASA, KAB ca 1800). Bergveld is nie as landbougrond uitgegee nie. Dit suggereer dat die bergveld van Vlakkenberg en die Prinskasteelberg sedert 1714 doelbewus deur die onderskeie ower- hede teruggehou is. Die besluit is in 1792 en daarna gehandhaaf.

8 E. van Wyk van SANBI en skrywer het in November 2014 monsters van veertien grassoorte in hierdie area gepluk vir identifikasie deur SANBI. Slegs een blyk inheems te wees (Kyk Bylaag C: C1 en C3). Die proef- lopie verteenwoordig nie 'n wetenskaplike meting van Plaas 1464 se grassoorte nie.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN