• No results found

DIE LEERSTUK VAN TOEGEREKENDE KENNIS

8. REGSVERGELYKENDE BLIK

8.1 Posisie in Engeland

Die leerstuk van toegerekende kennis is in Engeland in effek deur wetgewing afgeskaf.76 Die howe het uiting gegee aan die statutêre bepaling en die regter beslis soos volg met verwysing na die leerstuk van toegerekende kennis in TCB Ltd v Gray:77

It being the obvious purpose of the section to obviate the commercial inconvenience and frequent injustice caused by the old law, I approach the construction of the

74 Sien paragraaf 8.

75 Oosthuizen 1979:5; Oosthuizen 1976:26; Campbell 1959:476.

76 Companies Act 1985 artikel 35. Vir ’n volledige bespreking van die voorgeskiedenis

van hierdie artikel sien hoofstuk 6. Artikel 35 van die Companies Act van 1985 is vervang deur artikel 35 van die Companies Act van 1989. Artikel 35 van die 1989

Companies Act is op sy beurt deur artikels 39 en 40 van die Companies Act van 2006

vervang. Die status quo met betrekking tot die leerstuk van toegerekende kennis word egter in die nuwe wetgewing gehandhaaf. Sien hoofstuk 6 vir ’n volledige bespreking van artikels 39 en 40 van die Companies Act van 2006.

section with a great reluctance to construe it in such a way as to reintroduce, through the back door, any requirement that a third party acting in good faith must still investigate the regulating documents of a company.

Die leerstuk van toegerekende kennis is dus pro tanto deur artikel 9(1) van die European Communities Act78 afgeskaf deurdat die derde se beskerming onderhewig aan sy bona fides gestel word.79

8.2 Posisie in die VSA

Alhoewel die Engelse maatskappyereg die ontwikkeling van die Amerikaanse maatskappyereg aanvanklik sterk beïnvloed het, is die leerstuk van toegerekende kennis nooit in die Amerikaanse reg oorgeneem nie en was dit gevolglik nie vir die wetgewer nodig om dit formeel af te skaf nie. Die rede hiervoor is dat daar van meet af aan nie van die vennootskapsanalogie gebruik gemaak is nie. Die maatskappykonstitusie is as die bron van die bevoegdhede van die direksie gesien.80

8.3 Posisie in Australië

Die gemeenregtelike leerstuk van toegerekende kennis is afgeskaf deur artikel 165 van die Corporations Law van 1989.81 Hierdie artikel bepaal dat kennis van die openbare dokumente van die maatskappy nie aan derdes toegereken kan word nie. Die leerstuk van toegerekende kennis is egter steeds in een uitsonderingsgeval van toepassing en dit is in die geval soos beoog in artikel 165(2) wat te make het met “registrable charges”. Die ratio agter die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis was dat dit die werking van die “indoor management rule”82 onnodiglik en op ’n onaanvaarbare wyse ingeperk het.83 Artikel 165 is byna woordeliks in die

78 1972.

79 Oosthuizen 1976:141 voetnoot 13.

80 Oosthuizen 1976:427. Sien ook die regsvergelykende bespreking in hoofstuk 7. 81 Die leerstuk van toegerekende kennis is alreeds ten tyde van die Co-operative

Scheme afgeskaf (artikel 68C), sien Lipton en Herzberg 1988:71, 73-74. Die Co- operative Scheme was die voorganger van die Corporations Act van 1989. Voor 1989

het elke staat in Australië oor sy eie maatskappywetgewing beskik en is die maatskappyereg op ’n federale grondslag bedryf. Daar is egter met die Co-operative

Scheme gepoog om groter eenvormigheid in die Australiese maatskappyereg te

bewerkstellig. Vir ’n volledige bespreking van die ontwikkeling van die Australiese maatskappyereg, sien Tomasic et al 1992:15-22.

82 Of te wel die werking van die leerstuk soos vervat in die saak van Royal British Bank

v Turquand (1856) 6 E&B 327.

Corporations Act van 2001 oorgeneem en word in artikel 13084 van hierdie wet vervat.

Daar kon egter sekere aannames gemaak word aangaande die geldigheid van sekere maatskappydokumente ingevolge artikel 164. Hierdie aannames kan kortliks soos volg saamgevat word:

a) Dat daar te alle tye aan die bepalings van die akte en statute van die maatskappy voldoen is.

b) Dat ’n dokument behoorlik deur die maatskappy geseël is indien dit op die oog af die maatskappy se seël bevat en die handtekeninge van twee persone. Die een handtekening moet ’n handtekening wees van ’n persoon wat na bewering ’n direkteur van die maatskappy is, terwyl die ander handtekening dié van ’n persoon moet wees wat na bewering die sekretaris of ook ’n direkteur van die maatskappy is. (In die geval van ‘n maatskappy wat slegs ’n enkele direkteur het, moet die handtekening dié van ’n pesoon wees wat na bewering die enigste direkteur en sekretaris van die maatskappy is).85

9. GEVOLGTREKKING EN AANBEVELINGS

Dit is ’n ongelukkige toedrag van sake dat die leerstuk van toegerekende kennis so sterk wortel geskied het in die Suid-Afrikaanse reg.86 Alhoewel die vennootskapsanalogie (wat soos reeds aangedui die ratio vir die skepping van die reël was) alreeds laat vaar is, 87 het die leerstuk van toegerekende kennis steeds ’n verstikkende effek op die Suid-Afrikaanse verteenwoordigingsreg.

In die eerste plek beïnvloed die leerstuk die verhouding tussen die maatskappy en die derde party met wie gekontrakteer word. Indien die bevoegdhede van die verteenwoordiger van die maatskappy in die akte of statute beperk word, kan die

84 Corporations Act van 2001 artikel 130:

“(1) A person is not taken to have information about a company merely because the information is available to the public from ASIC.

(2) Subsection (1) does not apply in relation to a document that has been lodged with ASIC to the extent that the document relates to a charge that is registrable under this Act.”

85 Artikel 164(3).

86 Hierdie leerstuk is alreeds in die jurisdiksie waar dit geskep is (Engeland) en ook in Australië tot niet gemaak, die leerstuk staan egter steeds sterk in Suid-Afrika.

verteenwoordiger dus nie geldige regshandelinge namens die maatskappy aangaan nie.88 Die derde kan nie aanvoer dat die maatskappy die skyn verwek het dat die verteenwoordiger oor die nodige volmag beskik het en hom dus op die estoppelleerstuk beroep nie.89 Beskerming in terme van die Turquand-reël is ook nie vir die derde beskikbaar nie.90

Tweedens beïnvloed die leerstuk die verhouding tussen die derde en die betrokke verteenwoordiger van die maatskappy. Die derde kan gewoonlik die verteenwoordiger persoonlik aanspreeklik hou op grond van die verbreking van die sogenaamde stilswyende waarborg van volmag.91 Die kennis wat aan die derde toegereken word ontsenu egter sy beroep op die stilswyende waarborg van die verteenwoordiger.92

Derdens lei die leerstuk van toegerekende kennis verder tot een van die mees onbevredigende aspekte van die werking van artikel 36 en dit is dat die derde se goeie of kwade trou geen effek het op sy beskerming wat hy ingevolge die artikel geniet nie.93

Indien al die bogenoemde punte van kritiek in ag geneem word saam met die feit dat die leerstuk moontlik ongrondwetlik94 mag wees, blyk dit duidelik dat die tyd ryp geword het om hierdie indringer met wortel en tak in die Suid-Afrikaanse reg uit te roei.95 Die enigste oplossing blyk die statutêre afskaffing van die leerstuk te wees.96

87 Oosthuizen 1979:5; Oosthuizen 1976:26; Campbell 1959:476. 88 Die maatskappy kan egter hierdie onregmatige optrede ratifiseer.

89 Aangesien kennis aan die derde toegereken word, kan hy nie daarin slaag om aan te toon dat hy inderdaad deur die optrede mislei is nie.

90 Du Plessis 1993:176. Sien ook hoofstuk 7.

91 Blower v Van Noorden 1909 TS 809; Peak Lode Gold Mining Co Ltd v Union

Government 1932 TPD 48; Nebendahl v Shroeder 1937 SWA 48; Calder-Potts v McMillan 1956 3 SA 360 OK; Ncqula v Muller’s Book Shop 1960 4 SA 300 OK. Sien

ook Joubert 1969:109.

92 Joubert 1979:121; Hahlo 1977:494. Die derde kan egter die verteenwoordiger aanspreeklik hou indien hy uitdruklik waarborg dat hy oor die nodige volmag beskik of indien hy op ’n bedrieglike wyse voorgee dat hy inderdaad oor die nodige volmag beskik. Wiley v African Realty Trust Ltd 1908 TH 104.

93 Oosthuizen 1976:138. Sien ook hoofstuk 6.

94 Sien paragraaf 7 vir ’n bespreking van die grondwetlikheid van die leerstuk van toegerekende kennis.

95 Vir ondersteuning van hierdie standpunt, sien McLennan 1997:336; Du Plessis 1993:176; Oosthuizen 1979:14; Gower 1961:artikel 141.

96 Vir verdere bespreking van die statutêre ingryp wat voorgestel word, sien hoofstuk 6. Daar moet met respek van Oosthuizen 1979:14 verskil word waar hy voorstel dat die leerstuk van toegerekende kennis afgeskaf word en met ’n weerlegbare vermoede vervang word waar ten gunste van die maatskappy vermoed word dat die derde bewus was van die geregistreerde maatskappygrondwet. Die algehele afskaffing van hierdie leerstuk is die enigste werkbare oplossing.

HOOFSTUK 6