• No results found

ULTRA VIRES-LEERSTUK

7. DIE IMPAK VAN STATUTÊRE BEPALINGS 1 Inleiding

7.3. Artikel 36: Spesifieke aangeleenthede 1 Die tipe handeling

Daar moet as uitgangspunt in gedagte gehou word dat artikel 36 slegs van toepassing is waar handelinge nietig of vernietigbaar is bloot vanweë die feit dat die betrokke handeling die vermoënsfeer van die maatskappy oorskry. Artikel 36 sal nie toepassing vind waar daar ’n verdere gebrek is nie, byvoorbeeld waar die handeling onwettig is nie.

7.3.2 Volmag van die persoon of persone wat namens die maatskappy optree Ingevolge artikel 36 is geen handeling van die maatskappy nietig bloot vanweë die feit dat dit buite die vermoë van die maatskappy val nie. Die vraag of daar dus aan die volmagvereiste voldoen is, word volgens Naudé steeds op die tradisionele wyse bepaal:

Where the act falls within the company’s capacity and powers, the enquiry as to whether the authority requirement has been satisfied will in no way differ from a similar enquiry before commencement of the new Act.70

Die artikel bepaal ook verder dat die maatskappy as prinsipaal van die direkteure hom ook nie op die gebrekkige volmag van die direkteure mag beroep indien die gebrek slegs voortspruit uit die feit dat die handeling buite die vermoënsfeer van die maatskappy val nie. Indien die gebrek aan volmag om enige ander rede bestaan, byvoorbeeld ’n verbod wat in die statute vervat is, sal die maatskappy nie gebonde wees aan die handeling nie.

7.3.3 Die gebruik van die woord “direkteure” in artikel 36

Artikel 36 gaan gebuk onder die ernstige gebrek dat daar deurgaans na “direkteure” in die meervoud verwys word. Die argument word geopper dat die woord “direkteure” na die direksie verwys, aangesien die wetgewer deurgaans in die wet na die direksie as die “direkteure” verwys.

Oosthuizen71 voel dat dit onbillik is dat ’n maatskappy agter die feit skuil dat die insidentele volmagoorskryding dié van ’n besturende direkteur of selfs ’n komitee van direkteure was en nie dié van die hele direksie nie. Hy voer verder aan dat as gevolg van hierdie onbillikheid, “direkteure” geïnterpreteer moet word as ’n verwysing na optrede deur die direksie, optrede deur die besturende direkteur, sowel as optrede deur ’n enkele of meerdere direkteure wat ooreenkomstig die statute deur die direksie gemagtig is om namens die maatskappy op te tree.72

Daar moet met Cilliers73 saamgestem word dat alhoewel hierdie pleidooi van Oosthuizen meriete het, die blote onbillikheid van die situasie nie die breë uitleg soos deur Oosthuizen voorgestel kan regverdig nie. Oosthuizen self gee toe dat dit te betwyfel is of die howe so ’n breë interpretasie soos deur hom voorgestel sal ondersteun:

Naudé Company Contracts p. 333 spreek die hoop uit dat die voorskrif geïnterpreteer sal word as ‘the board of directors or any person authorized by them to act on behalf of the company’. Alhoewel hierdie wye interpretasie onteenseglik te verkies is, is dit te betwyfel of die howe so ’n wye interpretasie aan die woord ‘direkteure’ sal toeskryf. Vandaar dan die engere interpretasie in die teks voorgestaan.74

Alhoewel die onderhandelinge van ’n maatskappy soms deur die direksie as ’n geheel behartig word, word hierdie onderhandelinge egter meestal deur ’n besturende direkteur of ’n uitvoerende beampte onderneem. Dit moet ingedagte gehou word dat hierdie probleem selfs sou bestaan indien die besturende direkteur oor oorspronklike bevoegdheid beskik. Hierdie oorsig deur die wetgewer laat artikel 36 dus met weinig, indien enige effek. Die enigste twee wyses waarop artikel 36 dus gered kan word is eerstens deur ’n wye interpretasie van die woord “direkteure”, hoe onwaarskynlik dit ook al mag wees, en tweedens deur die artikel te wysig deur die woord “direkteure” te verwyder en dit te vervang met die woorde: “die direksie of enige persoon wat deur die direksie gemagtig is om namens die maatskappy bepaalde handelinge te verrig.”

70 Naudé 1974:318. 71 Oosthuizen 1979:1. 72 Cilliers 1987:21. 73 Cilliers 1987:20. 74 Cilliers 1987:21.

7.3.4 Kennis van die bevoegdheidsoorskryding

Daar word algemeen aanvaar dat kennis van die bevoegdheidsoorskryding aan die kant van die derde as irrelevant vir die doeleindes van artikel 36 beskou kan word.75 Alhoewel die leerstuk van toegerekende kennis nie pertinent in artikel 36 genoem word nie, word die werking daarvan vir die bepaling van die maatskappy se bevoegdhede, soos vervat in die akte en statute, opgeskort. Die effek hiervan is dat handelinge steeds bindend en geldig is, al is beide die derde party sowel as die persoon wat namens die maatskappy handel, bewus van die bevoegdheidsoorskryding en ook bewus van die ander party se kennis van hierdie bevoegdheidsoorskryding.

Naudé huldig die volgende standpunt in verband hiermee:

Knowledge is after all, irrelevant – whether one approves of the approach or not. Once it is accepted that a third party who knew, is protected, there is no point in depriving him of this protection merely because the directors also knew. Fraudulent contracts are possible, but even where both the directors and the third party knew that the other knew, fraud could hardly have been committed on that ground alone.76

Henochsberg huldig in die derde uitgawe van sy werk die siening dat artikel 36 nie ’n derde sal beskerm wat kennis dra van die feit dat die handeling ultra vires is nie. Hy voer aan dat die kennis van die derde ’n addisionele faktor is wat die werking van artikel 36 uitsluit:

The other party’s knowledge of this constitutes an additional factor and the voidness from which s.36 would otherwise protect the act is then not by reason only that the company was without capacity or power so to act.77

Daar moet saam met Oosthuizen78 gestem word dat artikel 36 nie die bogenoemde uitleg regverdig nie, aangesien kennis aan die kant van die derde as irrelevant vir die doeleindes van artikel 36 beskou kan word.79

75 Cilliers et al 2000:185-186; Gibson 1997:341; Van Jaarsveld 1974:100; Naudé

1974:325.

76 Naudé 1974:138. 77 1985:71.

In die vierde uitgawe van Henochsberg kom die skrywer tot ’n ander gevolgtrekking: Secondly the section operates irrespective of whether or not the company or the other party affected knew that the doing of it was ultra vires the company. The existence of such knowledge cannot qualify as the fact additional to the fact that the company was without capacity etc. …80

Die bogenoemde siening is dus korrek, naamlik dat blote kennis aan die kant van die derde dat die handeling inderdaad ultra vires was, hom nie van die beskerming van artikel 36 sal ontneem nie. Die vraag ontstaan egter nou of hierdie siening regverdig is. Waarom moet ’n persoon wat die hof met “vuil hande” nader gehelp word? Daar word dus aan die hand gedoen dat ’n derde slegs die beskerming van artikel 36 behoort te geniet indien die derde bona fide is.

Dit mag ook dalk wees dat beide die derde party, sowel as die direkteure wat namens die maatskappy onderhandel, bedrieglik optree. Dit kan tot groot nadeel van die maatskappy strek en is weereens nog ’n sterk aanduiding dat sodanige mala fide partye nie toegelaat behoort te word om op die werking van artikel 36 te steun nie. Waar beide partye egter bona fide is, moet daar met Naudé oor die toets vir die gebondenheid van ’n maatskappy saamgestem word:

By die formulering van hierdie toets moet onthou word dat daar ’n keuse tussen twee breë uitgangspunte is wat daaruit spruit dat noodwendig te doen gekry word met ’n opweging van die belange van die maatskappy (en in ’n ekonomiese sin, sy lede) enersyds en die onskuldige derde wat met die maatskappy onderhandel andersyds.81

Die belange van die onskuldige derde moet dus swaarder weeg as dié van die maatskappy, aangesien dit billik is dat die maatskappy, eerder as die derde, die gevolge dra van die onbesonne optrede deur die direkteure van die maatskappy. Die maatskappy het immers self die beheer oor wie hy as ampsbekleërs aanstel.82

Daar word dus aan die hand gedoen dat die tempering van die ultra vires-leerstuk ten koste van die maatskappy behoort te wees en ’n bona fide derde behoort te bevoordeel. Indien die derde egter mala fide is, verval die rede vir sy beskerming en behoort die maatskappy nie gebonde te wees nie.

79 Cilliers et al 2000:185-186; Gibson 1997:341; Van Jaarsveld 1974:100; Naudé4:325. 80 1985:55.

81 Naudé 1971:505, 506. 82 Naudé 1971:506.

7.3.5 Onderskeid tusssen binnestanders en buitestanders wat handelinge met die maatskappy aangaan

Daar is diegene wat aanvoer dat daar geen onderskeid in artikel 36 getref word tussen gevalle waar die derde met wie die maatskappy ’n regshandeling sluit ’n direkteur van die maatskappy, ’n lid van die betrokke maatskappy of ’n algehele buitestaander is vir die doeleindes van die bepaling van die geldigheid van die handeling nie en dat die tweede deel van artikel 36 slegs daarvoor voorsiening maak dat die maatskappy en sy direkteure en lede steeds intern gebonde is aan die bevoegdheidsfeer van die maatskappy.83

Bogenoemde onderskeid is van kardinale belang vir die ondersteuning van die verdere argument dat artikel 36 nie by binnestanders toepassing vind nie, aangesien daar nie bloot op die bevoegdheidsoorskryding van die maatskappy staatgemaak word nie, maar ook op die vertrouensbreuk deur die derde party wat inderdaad ’n binnestander is. Dit is gevolglik belangrik om vas te stel of daar inderdaad sodanige vertrouensverhouding bestaan het. Om dit te bepaal moet onderskei word tussen gevalle waar die binnestander ’n direkteur is en gevalle waar hy bloot ’n lid van die maatskappy is.

Daar word in beide Engeland84 en Suid-Afrika85 aanvaar dat ’n ultra vires-handeling aangegaan deur ’n direkteur, neerkom op ’n vertrouenspligskending. Die posisie is egter meer gekompliseerd waar die derde party ’n lid van die maatskappy is. Artikel 65(2) van die Maatskappywet is in hierdie verband van belang:

Die akte en statute bind die maatskappy en sy lede asof dit onderskeidelik deur elke lid onderteken is, tot nakoming, behoudens die bepalings van hierdie Wet van al die bepalings van die akte en van die statute.

Daar rus ’n plig op lede om hulle by die konstitusie van die maatskappy te hou.86

83 McLennan 1979:329; Oosthuizen 1979:1; Oosthuizen 1976:137; Naudé 1974:325; Van Jaarsveld 1974:100.

84 In re Faure Electrical Accumulator Company (1889) 40 ChD 141; Cullerne v London

and Suburban General Permanent Building Society (1890) 25 QBD 485; Gower

1992:96.

85 Cillers et al 2000:144; Gibson 1997:344; Naudé 1970:115; Sparks & Young Ltd v John Hoatson (1906) 27 NLR 634.

Daar kan dus geargumenteer word dat hierdie plig sou insluit dat lede hul daarvan moet weerhou om ultra vires-handelinge met die maatskappy aan te gaan. In dieselfde asem kan daar egter geargumenteer word dat die akte en statute ’n kontrak tussen die maatskappy en sy lede daarstel,87 maar slegs tot die mate waarin die kontrak die lede in hul hoedanigheid as lede raak.88 Dit is dus moontlik om aan te voer dat daar nie ’n kontraktuele verhouding tussen die maatskappy en ’n lid bestaan waar die lid met die maatskappy kontrakteer in ’n hoedanigheid wat geensins met sy lidmaatskap in verband gebring kan word nie, dus waar hy in sy hoedanigheid as ’n derde handel. Gevolglik kan verder aangevoer word dat daar geen verpligting op die lid rus om hom te hou by die konstitusie van die maatskappy waar hy as derde optree nie. Dit is duidelik dat hierdie moontlikheid weereens die behoefte na ’n oorkoepelende bona fides-element by artikel 36 onderstreep.89

8. REGSVERGELYKENDE BLIK

8.1. Engeland