• No results found

AGTERGROND: DIE VERMOË EN VERTEENWOORDIGING VAN ’N MAATSKAPPY

5. AANSPREEKLIKHEID VAN DIE VERTEENWOORDIGER TEENOOR DIE MAATSKAPPY

6.2 Die posisie in die VSA

Die gewone verteenwoordigingsbeginsels word in die Amerikaanse maatskappyereg toegepas. Die leerstuk van toegerekende kennis het nooit pos gevat in Amerika nie en gevolglik is die Turquand-reël ook nie in die VSA oorgeneem nie.114

Die volmag van ’n verteenwoordiger word in die VSA pertinent aan daardie verteenwoordiger deur die direksie gedelegeer.115 Indien die nodige volmag egter nie aan die verteenwoordiger deur die direksie gedelegeer is nie, kan ’n

111 Oosthuizen 1976:296. Sien Naudé 1970:115 vir ’n bespreking van die posisie van ’n maatskappydirekteur in hierdie omstandighede.

112 Sien paragraaf 4. 113 Sien hoofstuk 5.

114 Vir ’n volledige regsvergelykende studie van die verteenwoordigingsreg in die VSA, sien die opeenvolgende hoofstukke.

derde op een van die volgende gronde staatmaak om die maatskappy aan die ooreenkoms gebonde te hou:

(a) Ratifikasie

Indien die direksie bewus word van die ooreenkoms wat deur die verteenwoordiger sonder die nodige volmag aangegaan is en die direksie neem nie onmiddellik stappe om die ooreenkoms te verwerp of af te keur nie, kan die maatskappy op grond van ratifikasie aanspreeklik gehou word. Dit sou veral die geval wees waar die ooreenkoms voordelig vir die maatskappy is.116

(b) Estoppel

Estoppel sal toepassing vind waar die maatskappy die skyn verwek het dat die verteenwoordiger oor die nodige volmag beskik het en die derde dan op grond van hierdie skyn tot sy nadeel gehandel het.117

(c) Stilswyende of inherente volmag118

Stilswyende volmag vind in die Amerikaanse reg toepassing waar ’n derde die maatskappy aanspreeklik probeer hou op grond van ’n ooreenkoms weens die feit dat die direksie in die verlede soortgelyke ooreenkomste aanvaar of geratifiseer het.119 Dit blyk dat daar in hierdie geval stilswyend verleende werklike volmag moet wees. Daar word in Kidd v Thomas A. Edison Inc120 verwys na gebondenheid vir die prinsipaal ongeag: “...the agent’s minor deviations.” Die prinsipaal kan egter nie gebonde gehou word indien die agent

116 Scientific Holding Co Ltd v Plessey Incorporated 510 F 2d 15 (2d Cir 1974).

117 Yucca Mining & Petroleum Co v Howard C Phillips Oil Co 365 P 2d 925 (NM 1961); Hamilton 1997:324.

118 “Implied or inherent authority”.

119 Kidd v Thomas A. Edison Inc 239 F 405 (SDNY):408, 242 F. 923 (2d Cir 1917) per Hand R: “If a man select another to act for him with some discretion, he has by that fact vouched to some extent for his reliability. While it may not be fair to impose upon him the results of a total departure from the general subject of his confidence, the detailed execution of his mandate stands on a different footing. The very purpose of delegated authority is to avoid constant recourse by third persons to the principal, which would be a corollary of denying the agent any latitude beyond his exact instructions. Once a third person has assured himself widely of the character of the agent’s mandate, the very purpose of the relation demands the possibility of the principal’s being bound through the agent’s minor deviations.” Blackburn v Witter 201 Cal App 2d 518; Hessler Inc v Farrell 226 A 2d 708 (Del1967); O’Kelley en Thompson 1999:32; Hamilton 1997:325.

’n handeling verrig wat wesenlik van die handelinge wat hy normaalweg verrig verskil nie.

(d) Skynbare of oënskynlike volmag121

Skynbare of oënskynlike volmag is van toepassing waar daar ’n handeling deur die prinsipaal aangegaan is wat ’n redelike omsigtige persoon sou laat glo dat die verteenwoordiger oor die nodige volmag beskik. Dit is belangrik dat daar in hierdie geval ’n handeling van die prinsipaal of maatskappy self moes wees. ’n Voorbeeld hiervan sou wees waar die derde in die verlede soortgelyke ooreenkomste met ’n spesifieke verteenwoordiger gesluit het, en daar weer so ’n ooreenkoms met hierdie spesifieke verteenwoordiger gesluit word. Die verteenwoordiger beskik in hierdie betrokke geval nie oor die nodige volmag nie. Vir die derde party om op klaarblyklike volmag staat te maak moes hy oor werklike kennis van byvoorbeeld die vorige ooreenkomste beskik het, terwyl die derde op stilswyende volmag kan steun, selfs indien kennis van die vorige ooreenkomste by hom ontbreek. Dit mag ook gebeur dat dieselfde handeling die derde in staat kan stel om op stilswyende volmag of klaarblyklike volmag te steun.122

Indien die maatskappy op enigeen van bogenoemde gronde aanspreeklik vir die nakoming van die ooreenkoms gehou kan word, kan dit tot nadeel van die maatskappy strek. Die verteenwoordiger kan op een van die volgende gronde123 persoonlike aanspreeklikheid opdoen:

(a) Uitdruklike waarborg

Die verteenwoordiger kan ’n uitdruklike waarborg verskaf dat die maatskappy die ooreenkoms sal nakom. Hierdie waarborg kan uitdruklik of stilswyend gegee word en moet meestal deur oorweging124 ondersteun word.

121 “Apparent authority”.

122 O’Kelley en Thompson 1999:32; Hamilton 1997:325; Dooley 1995:184. 123 Sien O’Kelley en Thompson 1999:32; Hamilton 1997:326.

(b) Verwarring aangaande die rol van die verteenwoordiger

Die verteenwoordiger kan persoonlike aanspreeklikheid oploop indien hy die indruk skep dat hy in sy persoonlike hoedanigheid onderhandel en nie namens die maatskappy nie.125

(c) Statutêre aanspreeklikheid

Sekere wette mag persoonlike aanspreeklikheid vir die verteenwoordiger voorskryf, byvoorbeeld waar belastings nie betaal word of waar ’n kennisgewing nie na inlywing gepubliseer word nie.126

(d) Persoonlike betrokkenheid by onregmatige handelinge127

’n Maatskappyverteenwoordiger kan persoonlike aanspreeklikheid oploop indien hy betrokke is by onregmatige handelinge.128

(e) Volmag129

’n Maatskappy verteenwoordiger kan persoonlike aanspreeklikheid opdoen indien hy sy werklike volmag om die maatskappy te bind, oorskry.

Dit blyk dus duidelik dat daar in die Amerikaanse reg swaar op die persoonlike aanspreeklikheid van verteenwoordigers gesteun word ten einde die maatskappy te beskerm. Hierdie benadering is egter nie altyd suksesvol nie, aangesien die verteenwoordiger nie oor die vermoë mag beskik om die maatskappy te kan vergoed vir die skade wat gely is nie.