• No results found

ULTRA VIRES-LEERSTUK

7. DIE IMPAK VAN STATUTÊRE BEPALINGS 1 Inleiding

7.2 Die doel waarvoor die maatskappy opgerig is

’n Verteenwoordiger van ’n maatskappy kon nooit oor die nodige volmag beskik het om handelinge te verrrig wat buite die vermoënsfeer van die maatskappy geval het nie.60 Die handeling was dus om twee redes nietig, in die eerste plek omdat dit buite die vermoënsfeer van die maatskappy geval het, en tweedens omdat die persoon nooit oor die nodige volmag kon beskik om die handeling te verrig nie.

Die direksie kon egter wel handelinge ratifiseer waar ’n persoon sy volmag oorskry het. Naudé61 toon egter tereg aan dat dit nie in hierdie geval moontlik kon wees nie, aangesien die handeling alreeds ultra vires was. Die direksie kon dus nie ultra vires - handelinge ratifiseer nie.

Om te bepaal of ’n handeling inderdaad ultra vires was, was ’n derde aangewese op die bewoording van die akte van oprigting. Daar kon voorts nie van die derde verwag word om kennis te gedra het van die ware doel waarvoor die maatskappy opgerig is, indien hierdie doel nie duidelik in die akte van oprigting omskryf is nie.62

Die leerstuk van toegerekende kennis het egter ongekwalifiseerd gegeld, ingevolge hierdie leerstuk is die derde geag ten volle op hoogte van die openbare dokumente van die maatskappy te gewees het.63

Die Maatskappywet het ’n verkorting van die hoofdoelstelling van ’n maatskappy daargestel, maar ook die effek van die doelstellings van die maatskappy tegelykertyd verbreed. Slegs een hoofdoelstelling word ingevolge artikel 33 van die

59 Sien hoofstukke 5 en 7. 60 Naudé 1974:318. 61 Naudé 1974:318.

62 Sien Marshall Industrials Ltd v Khan 1959 4 SA 684 D:692 asook Cotman v Brougham (1918) AC 514.

Maatskappywet toegelaat. Hierdie beperking word afgelei uit die feit dat die woord “hoofdoelstelling” in die enkelvoud gebruik word:

(1) ’n Maatskappy opgerig ingevolge artikel 32 het die vermoë bepaal deur die hoofdoelstelling in sy akte uiteengesit en by sy vermoë word daar onbeperkte doelstellings aanvullend tot die gemelde hoofdoelstelling ingesluit behalwe die besondere aanvullende doelstellings wat uitdruklik in sy akte uitgesluit word.

Die wetgewer maak verder voorsiening vir die outomatiese uitbreiding van die vermoë van die maatskappy deurdat onbeperkte aanvullende doelstellings ter vervulling van die maatskappy se hoofdoelstelling toegelaat word.64 Die aanvullende doelstellings word outomaties van toepassing op die maatskappy, tensy dit uitsluitlik in die akte van die maatskappy uitgesluit word.65

Ingevolge artikel 33(2) kan ’n maatskappy ook ’n swewende hoofdoelstelling hê, dit beteken dat indien die hoofbesigheid van die maatskappy uitsluitlik onder een van sy aanvullende doelstellings resorteer, daardie aanvullende doelstelling outomaties die hoofdoelstelling word:

(2) As die hoofbesigheid te eniger tyd werklik gedryf deur ’n maatskappy in subartikel (1) bedoel, binne die vermoë van die maatskappy val slegs uit hoofde van ’n doelstelling aanvullend tot die hoofdoelstelling in sy akte uiteengesit, word sodanige hoofbesigheid geag die hoofdoelstelling van daardie maatskappy te wees vir die doeleindes van die gemelde subartikel.

Dit blyk dus dat die werking van hierdie artikel tot gevolg het dat ’n doelstelling van ’n maatskappy gelykgestel word aan die hoofbesigheid van ’n maatskappy.

Met betrekking tot ’n maatskappy wat reeds bestaan het voor die inwerkingtrede van die Wet, bepaal artikel 33(3) soos volg:

Ondanks enigiets vervat in die akte van ’n bestaande maatskappy word die hoofbesigheid wat hy werklik by die inwerkingtreding van hierdie artikel dryf, geag sy hoofdoelstelling te wees.

Reeds bestaande maatskappye kon ook by wyse van ’n spesiale besluit hul aktes gewysig het om hul doelstellings in lyn met die Wet te bring.66 Naudé67 se siening oor hierdie aspek blyk korrek te wees, naamlik dat dit die wetgewer se bedoeling was

64 Artikel 33(1). 65 Artikel 34. 66 Artikel 52(2).

om bestaande maatskappye by die nuwe skema in te lyf, sonder om die maatskappye se bestaande bevoegdhede en magte te vernietig. Hierdie standpunt maak ekonomies sin, aangesien dit die bestuur van reeds bestaande maatskappye sou ontwrig indien dié maatskappye se bestaande bevoegdhede en magte sondermeer vernietig sou word.

Artikel 34 bepaal dat ’n maatskappy oor onbeperkte bevoegdhede beskik om hom in staat te stel om sy hoof- en aanvullende doelstellings te verwesenlik, onderworpe aan die beperkings soos deur die Wet gestel.

Daar bestaan onsekerheid oor die interpretasie van hierdie artikel. Die terme “hoofbesigheid” en “hoofdoelstelling” is vaag en word verwarrend gebruik. Die feit dat ’n maatskappy ook oor onbeperkte aanvullende doelstellings beskik, maak dit gevolglik moontlik vir ’n maatskappy om sonder beperkings aan enige besigheid, behalwe dit wat uitdruklik verbied word, deel te neem. Die logiese vraag wat dus volg is waarom die wetgewer hom nog met die onbenullige bepaling, dat ’n maatskappy oor ’n hoofdoelstellingsklousule moet beskik, ophou?

Die vaagheid van artikels 33 en 34 het tot gevolg dat dit bykans onmoontlik is om aan te toon dat ’n handeling buite die vermoënsfeer van die maatskappy val. Hierdie feit, gekoppel met die struikelblokke wat deur artikel 36 daargestel word, het tot gevolg dat daar nog geen litigasie rondom bogenoemde artikels plaasgevind het sedert die inwerkingtrede van die wet nie.68

Daar is sommige persone wat sou aanvoer dat dit juis ’n positiewe aspek van hierdie artikels is, en dat hierdie artikels, alhoewel hul gebuk gaan onder gebreke, met rus gelaat moet word. Hiermee standpunt kan nie ondersteun word nie. Artikels 33(1) en 34 maak daarvoor voorsiening dat sekere tipes besigheid nie onder die aanvullende doelstellings tuisgebring kan word nie as gevolg van hul spesifieke uitsluiting in die akte en statute. Dit is egter onmoontlik en onprakties om elke vorm van ongewenste besigheid by name uit te sluit. Daar bestaan verder ook onsekerheid oor hoe die situasie, waar die maatskappy dan juis by besigheid betrokke raak wat spesifiek uitgesluit is, hanteer sou word.69 Die vaagheid van bogenoemde artikels het vir meer as 30 jaar reeds tot gevolg dat hierdie knelpunt nie deur middel van regsontwikkeling

67 Naudé 1974:322. 68 McLennan 1997:334. 69 McLennan 1997:335.

opgelos kan word nie. Die enigste uitweg blyk die verwydering van dié artikels deur die promulgasie van nuwe wetgewing te wees.

7.3. Artikel 36: Spesifieke aangeleenthede