• No results found

ULTRA VIRES-LEERSTUK

HOOFSTUK 7 DIE TURQUAND-REËL

4. DIE TURQUAND-REËL AS SELFSTANDIGE LEERSTUK

Oosthuizen44 voel dat die Turquand-reël bloot ’n verskyningsvorm van die estoppelleerstuk is. Daar kan met respek nie met hierdie skrywers saamgestem word nie. Die Turquand-reël was in sy oorspronklike vorm iets eie aan die maatskappyereg.45 Latere afwatering van die leerstuk het egter daartoe gelei dat die leerstuk nader aan estoppel beweeg het.46

Daar kan nie aangevoer word dat die Turquand-reël bloot ’n verskyningsvorm van estoppel is nie. Daar word nie aan sekere kernelemente van estoppel voldoen by die toepassing van die Turquand-reël nie. Die estoppelopwerper kan byvoorbeeld slegs slaag indien hy suksesvol kan aantoon dat hy bewus was van die wanvoorstelling en inderdaad deur die betrokke wanvoorstelling tot aksie beweeg is.47

Volgens appèlregter Greenberg se uitspraak in Mine Workers’ Union v Prinsloo48 kan enige buitestander wat bona fide handel op die Turquand-reël steun, aangesien daar ’n vermoede bestaan dat die huishoudelike bestuur van die maatskappy na behore geskied. Die woordkeuse van appèlregter Greenberg is ongelukkig waar hy die Turquand-reël aan ’n vermoede gelyk stel. Die regter kon dit bloot gestel het dat ’n bona fide-derde kan aanneem dat die huishoudelike sake van ’n maatskappy in orde is en dat die derde nie skynverwekking aan die kant van die maatskappy hoef te bewys het nie. Daar is ook ander estoppelvereistes waaraan nie voldoen word nie; die maatskappy hoef nie die skyn skuldiglik te geskep het nie.49 Die derde hoef ook nie tot sy nadeel te handel vir die Turquand-reël om toepassing te vind nie.50 Uit bogenoemde blyk dit dus duidelik dat dit veel makliker is om op die Turquand-reël te steun as op estoppel. Daar kan nie met Oosthuizen51 saamgestem word dat daar ’n

43 Sien hoofstuk 8 vir ’n volledige bespreking van die estoppelleerstuk.

44 1976:69 voetnoot 1. Sien ook The Registrar-General v Northside Developments Pty

Ltd 1988 14 ACLR 543 SC (NSW) 548.

45 Blackman 2002:4.46-4.49, Cilliers et al 2000:191-192 en Williams 1997:198-201. 46 Trebilcock 1966:310. Pennington 1959:84 voer met verwysing na die uitspraak van

Mahoney v East Holyford Mining Co 1875 LR 7 HL Cas 869 die volgende aan: “This

shows clearly that the rule in Turquand’s case does not depend on estoppel, as do the rules relating to the apparent authority of a company’s agents to act in its name.” Sien Freeman and Lockyer v Buckhurst Park Properties (Mangal) Ltd 1964 1 All ER 630 CA.

47 Blackman 2002:4.46-4.49. 48 1948 3 SA 831 A.

49 National and Overseas Distributors v Potato Board 1958 2 SA 473 A. Die Hof pas in

hierdie saak die Turquand-reël toe sonder enige oorweging van die skuldvereiste. 50 Oosthuizen 1976:116.

verskillende bewyslas voorkom by die toepassing van die Turquand-reël en die estoppelleerstuk nie. Daar word in beide gevalle van die siviele bewyslas gebruik gemaak. ’n Laaste fundamentele verskil tussen die leerstuk van estoppel en die Turquand-reël is dat estoppel nie ’n selfstandige eisoorsaak52 ooreenkomstig die positiewe reg daarstel nie, terwyl in die geval waar op die Turquand-reël gesteun word, die maatskappy eenvoudig op grond van die kontrak aangespreek kan word, aangesien hier ’n selfstandige eisoorsaak bestaan.53

Die Turquand-reël kan dus as ’n selfstandige billikheidsremedie beskryf word, wat in die maatskappyereg ontwikkel het.54 Die reël stel ’n wysiging van die gewone verteenwoordigingsbeginsels daar, deurdat vir soverre die verteenwoordiger binne die perke van die Turquand-reël handel, die prinsipaal gebonde gehou word nieteenstaande die feit dat die verteenwoordiger se volmag gebrekkig is.55

Daar mag egter gevalle voorkom waar die Turquand-reël sowel as die estopppelleerstuk toepassing mag vind.56 Du Plessis57 voel dat hierdie twee beginsels nie gesien moet word as synde in konflik met mekaar te wees nie, maar

52 Low v Bouverie (1891) 3 Ch 82, [1891-1894] All ER 348; Union Government v National Bank of South Africa Ltd 1921 AD 121 op 128 per Innes HR: “A plaintiff

cannot invoke estoppel to create a cause of action where none existed before.” ’n Verweerder mag ook nie in ’n teeneis op die leerstuk van estoppel staatmaak ten einde sy eisoorsaak te vestig nie. Sien Harms 2003:166. Dit moet egter in gedagte gehou word dat alhoewel estoppel nooit ’n selfstandige eisoorsaak daarstel nie, kan dit wel op ’n indirekte wyse daartoe lei dat ’n vordering afdwingbaar is, soos bevind is in Quinn and Co Ltd v Witwatersrand Military Institute 1953 1 SA 155 T. In die Quinn- beslissing het die eiser (Quinn) in die laerhof ’n prestasie van die verweerder (Witwatersrand Military Institute) gevorder vir spysenieringsdienste wat die eiser aan die verweerder verskaf het. Die spysenieringsdienste is gelewer op grond van ’n ooreenkoms wat die eiser met ene Smith (die oënskynlike verteenwoordiger van die verweerder) aangegaan het. In die laerhof het die verweerder aangevoer dat Smith nie oor die nodige magtiging beskik het ten einde die ooreenkoms aan te gaan nie. Die laerhof het bevind dat Smith wel nie oor die nodige magtiging beskik het nie en die verweerder is dus suksesvol. Die eiser appelleer. Die hof van appèl bevind dat alhoewel Smith nie oor die nodige magtiging beskik het nie, die verweerder as gevolg van die werking van die leerstuk van estoppel nie op hierdie feit kon steun nie aangesien die verweerder skuldiglik die skyn by die eiser geskep het dat Smith wel oor die nodige magtiging beskik het. Die verweerder se verweer word van die hand gewys en die appèl slaag. In effek het die eiser dus met sy vordering geslaag al was die agent van die verweerder nie behoorlik gemagtig om die kontrak namens hom te sluit nie.

53 Vir ’n verduideliking van die praktiese werking van beide die leerstukke, sien Blacman 2002:4.46-4.49.

54 Blackman 2002:4.46-4.49. Vir latere uitbreidings van die reël na ander verenigings soos munisipaliteite en vakverenigings, sien Oosthuizen 1976:hoofstuk V.

55 Sien hoofstuk 2.

56 Een so ’n geval het homself voorgedoen in Freeman and Lockyer v Buckhurst Park

Properties (Mangal) Ltd 1964 1 All ER 630 (CA).

eerder dat hierdie twee leerstukke mekaar aanvul. Hierdie skrywer se standpunt kan nie ongekwalifiseerd ondersteun word nie. Die praktiese realiteit is dat die howe hierdie twee beginsels op so ’n wyse toepas dat die estoppelleerstuk die Turquand- reël begin verdring het.58 Hierdie twee leerstukke is dus deur die howe in konflik met mekaar gebring.

’n Persoon wat voor ’n keuse tussen hierdie twee leerstukke gestel word, sal eerder verkies om die weg van die Turquand-reël te volg, aangesien daar aan minder vereistes as by ’n beroep op estoppel voldoen moet word. Daar moet in gedagte gehou word dat daar sekere beperkingskriteria59 op die Turquand-reël van toepassing is. Indien die reël nie toepasing vind nie, kan die derde steeds op die estoppelleerstuk staatmaak indien daar aan al die estoppelvereistes voldoen word.

5. AFBAKENING VAN DIE TOEPASSINGSVELD VAN DIE TURQUAND-

REËL

Daar moet aan die volgende twee vereistes voldoen word alvorens die Turquand-reël toepassing kan vind:

a) die onderhandelinge moet deur middel van ’n orgaan of beampte van die maatskappy60 geskied wat daadwerklik in daardie posisie of amp aangestel is, of ten aansien van wie daar ’n aanstellingshandeling plaasgevind het;61 en

b) die handeling wat die orgaan of beampte namens die maatskappy voorgee te verrig, moet een wees wat normaalweg met daardie posisie vereenselwig kan word.62

Indien daar nie aan bogenoemde vereistes voldoen word nie, kan die Turquand-reël nie toepassing vind nie en sal die derde op die estoppelleerstuk moet staatmaak vir enige verligting. Dit mag so wees dat alle situasies nie deur bogenoemde twee reëls,

58 Wolpert v Uitzigt Properties (Pty) Ltd 1961 2 SA 257 W.

59 Sien paragraaf 5.

60 Byvoorbeeld die direksie as orgaan, of ’n direkteur, besturende direkteur, voorsitter van die direksie of maatskappysekretaris as beampte van die maatskappy.

60 Freeman and Lockyer v Buckhurst Park Properties (Mangal) Ltd 1964 1 All ER 630

(CA).

62 Hierdie vereiste word dikwels beskryf deur aan te voer dat die verteenwoordiger binne sy gebruiklike volmag moes gehandel het. Vir die toepassing van die term “usual authority” sien: British Thompson-Houston Co v Federated European Bank 1932 2 KB 176 (CA): 181; Wolpert v Uitzigt Properties (Pty) Ltd 1961 2 SA 257 W;

gedek kan word nie. Die Turquand-reël kan nie toepassing vind indien die derde kennis gedra het van die feit dat daar nie aan die interne vereiste voldoen is nie.63 Dit behoort ’n bykomende vereiste te wees dat die derde wat op die werking van die Turquand-reël staatmaak inderdaad bona fide moet wees.

Dit is van kardinale belang dat hierdie reëls as die vertrekpunt dien vir enige ondersoek na die moontlike toepassing van die Turquand-reël om te verseker dat verwarring en vermenging van die estoppelleerstuk en die Turquand-reël nie plaasvind nie.

Die Turquand-reël het in die Engelse reg64 verwater tot weinig meer as ’n verskyningsvorm van estoppel, die volgende redes kan hiervoor aangevoer word:

a) Die versuim aan die kant van die howe om die Turquand-reël as selfstandige regsreël te beskou het verwarring met veral die leerstuk van estoppel tot gevolg.

b) Die howe pas ander regsreëls (byvoorbeeld estoppel) onder die vaandel van die Turquand-reël toe.65

c) Die uitbreiding van die reël buite sy natuurlike aanwendingsgebied deur byvoorbeeld estoppelvereistes op die reël oor te plant.

d) Verwarring oor die presiese aard van die Turquand-reël.

Ten spyte van bogenoemde probleme wat veral in die Engelse reg aangetref word, is sake ietwat meer bevredigend deur die howe in Suid-Afrika hanteer. In Mine Workers’ Union v Prinsloo66 het die Appèlhof dit onomwonde gestel dat die Turquand-reël ’n selfstandige leerstuk is en dat dit nie met estoppel verwar moet word nie. Onderhandelings met alle tipe maatskappyverteenwoordigers kan egter nie onder die Turquand-reël tuisgebring word nie.67 Die risiko bestaan egter ook in Suid-

Freeman & Lockyer v Buckhurst Park Properties (Mangal) Ltd 1964 1 All ER 630

(CA). Gower 1979:156. Sien hoofstuk 2.

63 Cilliers et al 2000:192. Sien ook The Mineworkers’ Union v Prinsloo 1948 (3) SA 831 (A) op 845.

64 Freeman & Lockyer v Buckhurst Park Properties (Mangal) Ltd 1964 1 All ER 630 (CA). 65 ’n Tipiese voorbeeld hiervan kan gevind word in Houghton and Co v Norhard Lowe and

Wills 1927 1 KB 246 (CA).

66 1948 3 SA 831 A.

67 Waar ’n persoon wat byvoorbeeld geldiglik aangestel is buitengewone bevoegdhede uitoefen.

Afrika dat die howe in hierdie omstandighede die Turquand-reël verkeerdelik sou aanwend.68

Du Plessis voel dat die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis die verwarring tussen die estoppelleerstuk en die Turquand-reël grootliks sal oplos. Alhoewel hierdie voorstel definitief meriete het, sal daar meer in hierdie verband gedoen moet word om te verseker dat Suid-Afrikaanse howe nie dieselfde foute maak wat in Freeman and Lockyer v Buckhurst Park Properties (Mangal) Ltd69 gemaak is nie. Daar word aan die hand gedoen dat die enigste oplossing vir hierdie situasie die afskaffing van die gemeenregtelike estoppelleerstuk sowel as die Turquand-reël is. Daar word egter verder voorgestel dat ’n statutêre verskyningsvorm van die Turquand-reël70 sowel as die estoppeelleerstuk71 in wetgewing vervat word.

6. VERHOUDING TUSSEN DIE TURQUAND-REËL EN DIE ULTRA VIRES-