• No results found

DIE LEERSTUK VAN TOEGEREKENDE KENNIS

4. OMSKRYWING VAN DIE LEERSTUK VAN TOEGEREKENDE KENNIS

Die leerstuk van toegerekende kennis van die openbare dokumente van ’n maatskappy is onlosmaaklik gebonde aan die beginsel van openbaarmaking.27 Dit is duidelik dat die beginsel van openbaarmaking die grondslag vorm van die leerstuk van toegerekende kennis.28 Sekere inligting is vir die publiek toeganklik en gevolglik kan elkeen wat met die maatskappy onderhandel, geag ten volle op hoogte van die openbare dokumente te wees.

Die akte van oprigting en die statute is die belangrikste openbare dokumente. Niemand kan regsgeldig teenoor die maatskappy aanvoer dat hulle nie bewus was van beperkings wat in die akte of statute vervat is nie.29 Indien die statute dus byvoorbeeld die bepaling bevat dat slegs die direksie bevoeg is om sekere kernbates te vervreem, of om die maatskappy se onroerende eiendom met ’n verband te verswaar, kan ’n buitestander hom nie daarop beroep dat ’n enkele direkteur voorgehou het dat hy wel die volmag gehad het om die handeling te verrig nie. Daar word derhalwe aanvaar dat voldoende publisiteit aan die beperkinge op die verteenwoordiger gegee is deurdat dit in die statute vervat is.

26 Du Plessis 1991:284; Grobler 1989:41-46; Sealy 1989:210; Hannigan 1987:178; McLennan 1986:560; Oosthuizen 1979:14.

27 Sealy 1981:55. Dit is nie ’n uitgemaakte saak welke dokumente as openbare dokumente kwalifiseer nie, die leerstuk stel dit as algemene reël dat openbare dokumente alle dokumente is wat by die registrateur vir openbare insae beskikbaar is. Dit is egter so dat die reël nie in praktyk ten opsigte van al hierdie dokumente toegepas word nie. Volgens Gower 1969:153-164 en Palmer 1968:242-243 behoort spesiale besluite en moontlik ook besonderhede van direkteure as spesiale besluite beskou te word. Oosthuizen 1976:160 voer aan dat slegs die volgende dokumente as openbare dokumente beskou behoort te word:

a) die geregistreerde maatskappygrondwet;

b) enige ander dokumente waarin die magte en bevoegdhede van maatskappyverteenwoordigers uiteengesit word, mits (i) ’n afskrif daarvan by die registrateur geregistreer is; (ii) dit vir openbare insae beskikbaar is; en (iii) die grondwet ’n verwysing na hierdie dokumente bevat.

Volgens Pretorius 1985:89 is die finansiële state van ’n maatskappy nie vir doeleindes van die leerstuk van toegerekende kennis openbare dokumente nie. 28 Fourie 1988:218-219; Oosthuizen 1976:210; Naudé 1971:506. Sien ook onder

andere artikels 6, 59(1), 63(1) en 68(1) van Wet 61 van 1973.

Kennis van die inhoud van die dokumente word dus die derde toegereken bloot as gevolg van die feit dat publisiteit aan die dokumente verleen is. Dit is nie ter sake of die buitestander inderdaad bekend is met die inhoud van die dokumente nie.30

Die leerstuk het slegs ’n negatiewe toepassing wat beteken dat die leerstuk nie positief kennis van die inhoud van die openbare dokumente aan ’n persoon toereken nie, maar dat die persoon geag word om tot sy nadeel kennis te dra van die inhoud van die maatskappy se openbare dokumente, al dra hy geen kennis daarvan nie.31

Die vraag wat dus na vore kom is of daar ’n verpligting op buitestanders rus om die openbare dokumente van maatskappye te bestudeer? Daar kon uit die uitspraak32 van hoofregter Jervis in Royal British Bank v Turquand33 afgelei word dat persone wat met ’n maatskappy onderhandel, inderdaad verplig is om die openbare dokumente van ’n maatskappy te lees. Hierdie uitspraak van regter Jervis is in Mine Workers’ Union v Prinsloo ondersoek.34 Regter Greenberg skets die posisie as volg:

In Turquand’s case when Jervis CJ, said that parties dealing with companies ‘are bound to read the statute and the deed of settlement’ all he meant was that they are bound by these documents, i.e. that these documents define the limits of contracts into which the companies can lawfully enter, and not that there was an obligation to read them.35

Hierdie interpretasie, soos daargestel deur regter Greenberg, het tot gevolg dat ’n buitestander se versuim om die openbare dokumente te raadpleeg, vir die buitestander die gevolg inhou dat hy geag word kennis te hê van enige beperking op die volmag van die direkteure en op die vermoë van die maatskappy en nie sy goeie trou as verskoning kan aanvoer nie.36

30 Oosthuizen 1979:3-4; Oosthuizen 1976:14.

31 Du Plessis 1991:300; McLennan 1979:342-344; Paterson en Ednie 1962:175; Campbell 1959:479; Freeman and Lockyer v Buckhurst Park Properties (Mangal) Ltd 1964 2 QB 480; 1964 1 All ER 630.

32 Royal British Bank v Turquand (1856) 6 E&B 327:332: “We may now take for granted

that the dealings with these companies are not like dealings with other partnerships, and that the parties dealing with them are bound to read the statute and the deed of settlement. But they are not bound to do more.”

33 (1856) 6 E&B 327. 34 1948 3 SA 831 A.

35 Mine Workers’ Union v Prinsloo 1948 3 SA 831 A:848.

36 Oosthuizen 1976:160-161; Campbell 1959: 473. Sien hoofstuk 8 vir ’n bespreking van die estoppelleerstuk.

Die buitestander sal nie suksesvol kan aanvoer dat die maatskappy teenoor hom die skyn gewek het dat die verteenwoordiger die nodige volmag gehad het, indien die bevoegdhede van die betrokke verteenwoordiger in die openbare dokumente van die maatskappy beperk word nie. Dit is dus nie moontlik dat die verwekte skyn in stryd met die inhoud van die openbare dokumente kan wees nie.37 Die buitestander sal ook nie op die skynvolmag van ’n direkteur kan staatmaak, wat deur die openbare dokumente verwek word, indien die buitestander erken dat hy onbewus van die inhoud van die openbare dokumente was nie.38

5. PRAKTIESE TOEPASSING VAN DIE LEERSTUK VAN TOEGEREKENDE