• No results found

4.6 SEMI-FORMELE GESINSONDERSTEUNING: TUISBESOEK-

4.6.8 Opleiding van tuisbesoekers

4.6.8.6 Supervisie van tuisbesoekers

Die supervisie van tuisbesoekers is ‟n belangrike aspek wat in programme aandag moet geniet (McGuigan et al., 2003:374; Wasik et al., 1990:108), aangesien die aard van hoërisiko-gesinne se behoeftes dikwels dienste buite die vaardigheid van die tuisbesoeker vereis (McGuigan et al., 2003:374). Tuisbesoekers moet gereelde supervisie ontvang, alhoewel die intensiteit en gereeldheid varieer na aanleiding van die aard van die program (Wasik et al., 1990:110), sowel as die intensiteit van die gesin se probleme en behoeftes (McGuigan et al., 2003:374). Deur gereelde supervisie word die tuisbesoekers ook in staat gestel om waar toepaslik persone uit ander dissiplines, soos gesondheidspersoneel by dienslewering te betrek. Aangesien gesinne ook dienste van die tuisbesoeker kan vereis wat buite hulle rol en taak is, kan supervisie bydra om die tuisbesoekers gefokus te hou op hulle primêre rol, naamlik om gesinne in staat te stel om hulleself te help (McGuigan et al., 2003:374).

Wasik et al. (1990:110) beveel aan dat die supervisie gedoen word deur ‟n professionele persoon, sodat tuisbesoekers terugvoer en ondersteuning vir hulle werk kan ontvang, maar ook dat hulle kontak met ‟n persoon het wat hulle voldoende vertrou, om hulle ervarings mee te deel. Dit is belangrik dat die tuisbesoekers begrip het vir die rol van die toesighouer in die program, om te verseker dat supervisie en leiding effektief benut word. Supervisie kan individueel of in ‟n groep geskied. Dit is belangrik dat daar in ‟n program voorsiening gemaak word vir albei metodes van supervisie, aangesien die meeste programme weeklikse individuele en groepsupervisie aanbied. Dit is belangrik dat die maatskaplike werker wat die supervisie hanteer oor kennis beskik van bestaande supervisiemodelle in maatskaplike werk om effektiewe leiding aan die tuisbesoekers te bied. Die feit dat gereelde supervisie die retensie van ouers in ‟n tuisbesoekprogram positief kan beïnvloed, beteken dat organisasies in

Suid-Afrika by die implementering van tuisbesoekprogramme, ook opleiding aan die

maatskaplike werkers oor supervisie moet gee. Sodoende word daar verseker dat effektiewe en toepaslike leiding aan tuisbesoekers, oor hulle dienslewering aan gesinne gebied word. Uit die voorafgaande bespreking oor die ontwikkeling van tuisbesoekprogramme is dit duidelik dat tuisbesoekprogramme geskik is vir implementering in die Suid-Afrikaanse situasie, veral omdat daar sterker gekonsentreer word op die ondersteuning en bemagtiging van alle gesinslede. Die implementering van tuisbesoekprogramme verseker dat basiese konkrete dienste op ‟n gereelde basis aan hoërisiko-gesinne gelewer word, aangesien hoë gevalleladings die lewering van hierdie tipe dienste deur maatskaplike werkers negatief beïnvloed. Welsynsorganisasies moet egter die tuisbesoekprogram deeglik beplan, alvorens tuisbesoekers gewerf en opgelei word. Deeglike beplanning van die program sal verseker dat die werwing, keuring en opleiding van die tuisbesoekers die doel en uitgangspunte van die program reflekteer, wat die suksesvolle uitkoms daarvan sal verhoog.

4.7 SAMEVATTING

Die uitkoms van gesinsondersteuningsdienste is om die sosiale netwerke van gesinne te verhoog deur hulle in te skakel by bronne en dienste in die gemeenskap, om sosiale uitsluiting te voorkom. Inskakeling by dienste is ook gerig op die verhoging van vaardighede en van veral ouerskapsvaardighede, om te verseker dat die hoërisiko-gesin in staat gestel word om hulle kinders doeltreffend te versorg en statutêre dienste voorkom word. Ooreenkomstig Suid-Afrikaanse beleidsdokumente word daar van maatskaplike werkers verwag om ontwikkelings- gerigte dienste te lewer, deur sterk op voorkoming te fokus. Maatskaplike werkers by welsynsorganisasies moet egter dikwels hoë gevalleladings hanteer vanweë die groot getal gesinne waaraan dienste gelewer moet word. Hierdie dienste is hoofsaaklik kinderbeskermingsdienste om te verhoed dat kinders verwyder word. Hoë gevalleladings veroorsaak dat intensiewe dienste en veral konkrete dienste vanweë die gebrek aan tyd, nie gelewer word nie.

Aangesien die uitbreiding van die netwerke van gesinne ‟n primêre taak van die maatskaplike werker is, word tuisbesoekprogramme waar vrywilligers vanuit die gemeenskap benut word om tuisbesoeke by hoërisiko-gesinne te lewer, as ‟n oplossing beskou vir die uitbreiding van die sosiale netwerke, en die bied van konkrete ondersteuning. Tuisbesoekprogramme bied verder ‟n oplossing vir die tekort aan maatskaplike werkers, wat die lewering van effektiewe gesinsinstandhoudings- en kinderbeskermingsdienste, negatief beïnvloed. Hierdie programme voldoen ook aan die uitgangspunte van ontwikkelingsgerigte maatskaplikewerk-dienslewering,

aangesien menslike en sosiale kapitaal ontwikkel word, wat die gemeenskap se kapasiteit uitbou en sodoende op die lang termyn bydra tot sosiale en ekonomiese ontwikkeling.

Effektiewe gesinsondersteuning behels dat ‟n wye verskeidenheid dienste behalwe tuisbesoekprogramme, vir hoërisiko-gesinne beskikbaar is om aan die behoeftes van die gesin te voldoen. Die aard van hierdie dienste word in die volgende hoofstuk geïdentifiseer en bespreek.

HOOFSTUK 5

SEMI-FORMELE EN FORMELE GESINSONDERSTEUNINGSDIENSTE AAN HOËRISIKO-GESINNE: SENTRUMGEBASEERDE DIENSTE

5.1 INLEIDING

Gesinsondersteuningsdienste in die Verenigde Koninkryk word hoofsaaklik vanuit gesinsentrums gelewer om ooreenkomstig die doel van ondersteuningsdienste toeganklik vir gemeenskapslede te wees, asook te verseker dat gemeenskapsbetrokkenheid by hierdie dienste aangemoedig word. In hierdie gesinsentrums, of gesinsprojekte word ‟n verskeidenheid van aktiwiteite aangebied, alhoewel verskille bestaan in terme van die doel en aard van die aktiwiteite en die kliëntsisteem wat geteiken word.

Die verskille in die doel en aard van aktiwiteite, asook die kliëntsisteem wat betrek word, word in hierdie hoofstuk beskryf. Die benaderings tot dienste wat toeganklik vir alle gemeenskapslede is, teenoor dienste wat hoofsaaklik gerig is op die kliënte wat alreeds in die kindersorgsisteem vanweë kindermishandeling en -verwaarlosing opgeneem is, word ooreenkomstig die Britse stelsel geïdentifiseer. Die toepaslikheid van hierdie dienste word geëvalueer in terme van bestaande Suid-Afrikaanse beleidsdokumente om te bepaal wat die moontlike inhoud van gesinsondersteuningsdienste of programme kan wees, om ooreenkomstig een van die doelwitte van die studie die aard van gesinsondersteuningsdienste of voorkomende dienste wat aan hoërisiko-gesinne gelewer kan word, te identifiseer. Voorkomende dienste is volgens die Geïntegreerde Diensleweringsmodel vir Verbeterde Maatskaplike Dienste (2006a:299) die primêre vlak waarop dienste aan hoërisiko-gesinne gelewer moet word om statutêre dienste te voorkom.

Effektiewe gesinsondersteuningsdienste behels dat gesinne toegang tot ‟n wye verskeidenheid dienste het waar hulle vaardighede as ouers ontwikkel word, terwyl hulle netwerke terselfdertyd uitgebrei word om onafhanklike funksionering aan te moedig. Enkele voorkomende programme, dienste of projekte word in hierdie hoofstuk geïdentifiseer wat in Suid-Afrika by kinder- en gesinsorgorganisasies aangebied behoort te word om gesinsondersteuning aan hoërisiko-gesinne te bied en sodoende kindermishandeling en -verwaarlosing en die moontlike verwydering van kinders, teen te werk.