• No results found

5.4 MOONTLIKE GESINSONDERSTEUNINGSDIENSTE VIR HOËRISIKO-

5.4.4 Programme vir mans

5.4.4.2 Betrokkenheid van mans by projekte

Ten opsigte van projekte of programme vir mans, blyk dit uit die Britse literatuur (Daniel & Taylor, 2005:263; Featherstone, 2000:154) dat die betrokkenheid van mans in projekte beklemtoon word om verskillende redes. Geslagsgelykheid of ongelykheid is ‟n vertrekpunt in die argumente wat aangevoer word oor hulle betrokkenheid, al dan nie. Die uitgangspunt vanuit ‟n feministiese oogpunt is enersyds dat mans en vroue gelyk behandel moet word en daarom moet albei by dienslewering betrek word. Die argument in terme van ongelykheid is dat die betrokkenheid van mans in projekte teenstand bied vir die feit dat dit hoofsaaklik vroue se verantwoordelikheid is om kinders te versorg, of dat vroue geblameer word vir kindermishandeling en -verwaarlosing. In hierdie gender-argument word gefokus op die belangrikheid dat strategieë ontwikkel moet word om mans se gedrag in terme van hulle onbetrokkenheid by kinderopvoeding, asook hulle mishandelende gedrag aan te spreek (Featherstone, 2004:154). Deur slegs op vroue of moeders te fokus, word mans effektief

uitgesluit omdat daar nie van hulle verwag word om verantwoordelikheid vir hulle aksies te neem nie (Daniel & Taylor, 2005:263).

Volgens Daniel en Taylor (2005:266) is daar ‟n gebrek aan inligting, asook aan ‟n raamwerk vir dienslewering aan mans en vaders. Alhoewel maatskaplike werkers se betrokkenheid hoofsaaklik by vroue gekritiseer word, veroorsaak die gebrek aan beleid oor die betrokkenheid van mans in dienslewering dat maatskaplike werkers nie ‟n spesifieke benadering tot dienslewering aan mans ontwikkel nie. Mans wat risiko-gedrag openbaar, soos verhoudingsprobleme met die moeder, of ‟n gebrek aan belangstelling in die huishouding, behoort nie deur maatskaplike werkers by dienslewering uitgesluit te word nie, aangesien dieselfde standaarde wat vir vroue geld, vir mans behoort te geld. Dit beteken dat maatskaplike werkers mans soos vroue moet konfronteer oor wat as ‟n aanvaarbare omgewing en vlak van versorging vir kinders, beskou word. Indien die vader ‟n meer ernstige bedreiging vir die moeder of die kinders inhou, moet hierdie aspek nie geïgnoreer word nie, aangesien die moeder nie verantwoordelik gehou kan word om die kind te beskerm, of die verhouding te beëindig nie. Maatskaplike werkers moet bereid wees om hierdie mans by dienslewering te betrek en indien hulle nie ‟n bereidwilligheid toon om hulle gedrag te verander nie, moet die kind beskerm word. In hierdie gevalle moet die man eerder die huis verlaat, as wat die kind verwyder word.

Daniel en Taylor (2005) beskryf Ewart (2003) se studie wat mans se betrokkenheid in gesinsentrums in die Verenigde Koninkryk ondersoek het. Mans het aangedui dat indien hulle die keuse gehad het, hulle nie die aktiwiteite by die sentrum sou bywoon nie, terwyl sommige mans dit ook moelik gevind het om die ernstigheid van die situasie te begryp en nie verstaan het hoe hulle rol die situasie positief kon beïnvloed nie. Die grootste afskrikmiddel vir deelname aan sentrumaktiwiteite was die feit dat die opvatting bestaan het dat vroue die sentrale rol in kinderversorging speel en daarom die primêre verbruikers van gesinsentrums is. Ghate et al. (2000:47) se navorsing oor vaders se betrokkenheid by en siening van die aktiwiteite by gesinsentrums in die Verenigde Koninkryk het bevind dat buitenshuise- en sportaktiwiteite en aktiwiteite waar vaardighede uitgebou word soos “doen dit self”-aktiwiteite en volwasse opvoedingsself”-aktiwiteite as meer toepaslik beskou word deur mans. Featherstone, Rivett en Scourfield (2007:72,73) is van mening dat daar by die lewering van groep- en gemeenskapswerkdienste aan mans nie slegs gekonsentreer behoort te word op die tekortkominge van mans nie, maar ook gefokus behoort te word op die sterktes van mans.

Daniel en Taylor (2005:266) maak sekere voorstelle vir die bevordering van maatskaplikewerk-dienste waar vaders ingesluit word, in die Verenigde Koninkryk, wat ook van toepassing op die Suid-Afrikaanse situasie is, gesien in die lig van die kritiek van Hochfeld (2007) teen die huidige Finale Konsep Nasionale Gesinsbeleid (2006c). Hierdie voorstelle is onder andere dat omvattende nasionale strategieë en beleidsinisiatiewe in plek gestel moet word wat gefokus is op die betrokkenheid van vaders in ouerskap. Daar moet ook aandag gegee word aan die vervrouliking van gesinsentrums of projekte, terwyl die verwagting dat vaders betrokke moet wees by dienste, die norm moet wees, eerder as die uitsondering. Maatskaplike werkers moet opgelei word om dienste aan mans te lewer en daar moet gefokus word op die identifisering van hoe hulle houdings tot die uitsluiting van mans in dienslewering, bydra. In terme van dienslewering moet daar gefokus word op die beskikbaarheid van meer manlike personeel, asook op meer groepe vir mans. Laastens moet organisasies aandag gee aan beleid en prosedures om geweld deur mans effektief aan te spreek.

In terme van programme vir mans in Suid-Afrika is daar reeds in die vorige hoofstuk aangedui dat mans by tuisbesoekprogramme betrek behoort te word deur manlike tuisbesoekers in die gemeenskap op te lei en te benut om vaders in hulle ouerrol te ondersteun. Verder behoort mans ook verplig te word om oueropvoedingsprogramme by te woon indien gesinsinstandhoudingsdienste aan die gesin gelewer word. Inligting oor geweld en die siklus van geweld in verhoudings, behoort deel te vorm van programme vir mans om te voldoen aan beleidsvereistes met betrekking tot die bevordering van die gesinslewe, sowel as die welsyn van vroue. Dienste behoort soos wat Cannan (1992:136) vir die Verenigde Koninkryk aanbeveel, te fokus op verhoudingsaspekte, asook op werkloosheid en opleiding. In die studie wat Nel en Roestenburg (2004:121) in Soweto onderneem het, het ouers aangedui dat daar ‟n behoefte bestaan aan werkswinkels vir werklose persone asook die aanleer van tuinmaakvaardighede, klein besighede en entrepreneursvaardighede vir ouers. Hieruit blyk dit dat daar ook by mans in gemeenskappe sekere behoeftes bestaan en dat hulle betrek moet word by behoeftebepalings in terme van die beplanning van programme. Deur mans te betrek by programme, asook verantwoordelik te hou vir die versorging van hulle kinders, word die strewe na geslagsgelykheid deur organisasies wat kinder- en gesinsorgdienste lewer, bevorder.

5.5 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die tipes gesinsdienste of projekte wat in gesinsentrums in die Verenigde Koninkryk aangebied word beskryf ten einde ‟n oorsig te bied van die aard van

ondersteuningsdienste wat aan hoërisiko-gesinne gelewer kan word. Sentrumgebaseerde dienste in die Verenigde Koninkryk het hoofsaaklik ten doel om, ooreenkomstig die uitgangspunte van gesinsondersteuningsdienste, dienste in die gemeenskap op ‟n deurlopende basis te lewer, waarby alle gesinslede betrek word om die informele netwerke van gesinne uit te brei. Effektiewe gesinsondersteuningsdienste aan hoërisiko-gesinne beteken dat gesinne ingeskakel word by bestaande ondersteunings-, of gemeenskaps- en groepwerkprogramme wat in die organisasie of gemeenskap aangebied word.

Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die aard van die dienste wat in die Verenigde Koninkryk gelewer word, ooreenstem met die uitgangspunte in bestaande welsynsbeleid (Department of Social Development, 2006a:29) in Suid-Afrika, aangesien daar gekonsentreer word op voorkomende, asook vroeë intervensiedienste. Hierdie dienste behels dat hoërisiko-gesinne by gevalle- groep en gemeenskapswerkdienste betrek moet word ten einde ooreenkomstig welsynbeleid (Department of Social Development, 2006a:29; Department of Social Development, 2005:71,72) te konsentreer op voorkomende en vroeë intervensiedienste, om statutêre dienste te voorkom. Dit beteken dat voorkomende dienste in Suid-Afrika wat aangebied word vir alle gemeenskapslede of oop-toegang programme, dalk nie die probleme en behoeftes van hoërisiko-gesinne kan aanspreek nie, omdat hierdie gesinne moontlik nie van hierdie dienste uit eie inisiatief gebruik sal maak nie. Projekte of programme behoort voorsiening te maak vir die inskakeling van gesinne wat alreeds gesinsinstandhoudings- of kinderbeskermingsdienste ontvang. Voorkomende dienste wat gelewer word behoort nie hoofsaaklik gerig te wees op oop-toegang dienste wat deur gemeenskapslede benut word wat nie ook gevallewerkdienste ontvang nie.

Voorkomende dienste of programme vir hoërisiko-gesinne behoort spesifiek te fokus op oueropvoeding, waarby mans en vroue betrek word om sodoende nie net ouerskap te verbeter nie, maar tegelykertyd geslagsgelykheid te bevorder. Die ontwikkeling van bekostigbare versorgingsfasiliteite vir voorskoolse kinders is ‟n verdere aspek wat aangespreek moet word, aangesien dit vir vroue die geleentheid bied om tyd weg van hulle kinders te spandeer, asook aan voorskoolse kinders in lae-inkomste gemeenskappe toegang tot opvoedkundige aktiwiteite bied. Beskikbare versorgingsfasiliteite bied verder die geleentheid aan maatskaplike werkers om hoërisiko-moeders aan wie gevallewerkdienste gelewer word, in te skakel by ander volwasse opvoedingsprogramme, soos geletterdheidsprogramme.

Wanneer jeugopvoeding gedoen word moet jeugdiges uit die gevallelading betrek word en aandag behoort ook in hierdie lewensvaardigheidsprogramme aan verhoudingsgeweld gegee

te word, aangesien dit ‟n bydrae sal lewer tot die verlaging van geweld en gepaardgaande kindermishandeling en -verwaarlosing op die lang termyn. Mans behoort as ‟n spesifieke groep geteiken te word in terme van die verhoging van hulle betrokkenheid by kinderopvoeding, deur hulle in te skakel by bestaande projekte en programme; hulle behoeftes in hierdie verband moet spesifiek bepaal word.

Effektiewe gesinsinstandhouding hou in dat hoërisiko-gesinne ook by gevallewerkdienste of gesinsgesentreerde en intensiewe krisisdienste ingeskakel word om statutêre dienste te voorkom. Die lewering van hierdie dienste deur maatskaplike werkers, word in die volgende hoofstuk beskou.

HOOFSTUK 6

FORMELE GESINSINSTANDHOUDINGSDIENSTE AAN HOËRISIKO-GESINNE: GESINSGESENTREERDE EN INTENSIEWE KRISISDIENSTE

6.1 INLEIDING

Ooreenkomstig een van die doelwitte van die studie word die uitgangspunte van intensiewe en gesinsgesentreerde gesinsinstandhoudingsdienste aan hoërisiko-gesinne as deel van formele maatskaplikewerk-dienslewering, beskou. Die lewering van intensiewe- en gesinsgesentreerde gesinsinstandhoudingsdienste stem ooreen met die tweede vlak (vroeë intervensiedienste) waarop dienste volgens die Geïntegreerde Diensleweringsmodel vir Verbeterde Maatskaplike Dienste (Department of Social Development, 2006a:29) gelewer behoort te word om statutêre dienste te voorkom. Die eienskappe en inhoud van intensiewe gesinsinstandhoudingsdienste word in hierdie hoofstuk beskryf en die toepaslikheid daarvan binne die Suid-Afrikaanse welsynsopset word geëvalueer. Die belangrikheid van langtermyn terapeutiese dienste aan hoërisiko-gesinne word geïdentifiseer en gemotiveer na aanleiding van die probleme soos huishoudelike geweld en middelmisbruik, wat algemeen by Suid-Afrikaanse hoërisiko-gesinne voorkom. Vanweë die omvattende aard van die probleme en behoeftes van Suid-Afrikaanse hoërisiko-gesinne word die belangrikheid van die lewering van ‟n wye verskeidenheid dienste, of geïntegreerde dienslewering gemotiveer. ‟n Raamwerk vir dienslewering aan hoërisiko-gesinne in die Suid-Afrikaanse situasie word uiteengesit, waarin die verskillende tipes dienste en bronne wat beskikbaar behoort te wees, sowel as die personeel wat betrokke kan wees, geïdentifiseer word.