• No results found

Vanuit ‟n ekologiese perspektief (Sheafor et al., 2000:91,92; Germain & Gitterman, 1980:1) is die probleme of behoeftes van hoërisiko-gesinne en die gepaardgaande risiko-faktore eerder die gevolg van interaksies tussen die persoon en sy/haar omgewing, as geleë slegs in die persoon of gesinsisteem, of slegs in die omgewing. Volgens Germain en Gitterman (1980:5) bied die ekologiese perspektief ‟n aanpasbare evolusionêre perspektief op mense wat in konstante verandering met al die elemente in hulle omgewing lewe. Skrywers (Jack, 2000:713; Tracy, 1995:975) beskou die ekologiese perspektief as toepaslik wanneer gesinsinstandhoudingsdienste aan hoërisiko-gesinne gelewer word, omdat die omgewing of gemeenskap vanuit ‟n ekologiese perspektief beskou word as die bron van – sowel as die oplossing vir – die behoeftes of probleme van individue en gesinne.

Volgens die ekologiese perspektief bestaan daar ‟n interaktiewe wederkerige verhouding (transaksies) tussen die individu en sy omgewing (Welsch, 1987:161; Germain & Gitterman,

1980:28). In hierdie interaksies tussen mense en hulle omgewings ontstaan daar versteurings tussen die normale aanpasbare balans, of die “goodness of fit”. Hierdie versteurings verteenwoordig die stres wat veroorsaak word deur die onverenigbaarheid van die behoeftes en kapasiteit van individue, en die kwaliteite van die omgewing. Die stres (behoeftes, probleme), manifesteer op drie interafhanklike vlakke naamlik lewensoorgange soos ontwikkelingsfases, status- en rolveranderinge en krisisse, asook omgewingsdruk soos byvoorbeeld onsimpatieke organisasies, sosiale netwerke en fisiese strukture, en

wanaanpassing in interpersoonlike prosesse of verhoudings en kommunikasie (Germain &

Gitterman, 1980:13,28).

Bronfenbrenner (1977) se ontleding van menslike ekologie word as ‟n algemene vertrekpunt in literatuur (Jack, 2000:714; Tajima, 2000:1384; Jack, 1997:109; Drake & Pandey, 1996:1003; Garbarino & Kostelny, 1992:456) benut vir die bespreking van die risiko-faktore vir kindermishandeling en -verwaarlosing in ‟n gesin. Bronfenbrenner (1977:514) beskou menslike ekologie as die wedersydse akkommodering van die mens en sy onmiddellike veranderende omgewing, vir sy lewensduur. Hierdie wedersydse akkommoderingsproses word deur verhoudings binne en tussen onmiddellike omgewings (mikro- en meso-sisteem), sowel as groter formele en informele sosiale kontekste (makro-sisteem), beïnvloed.

Welsch (1987:155) bevestig Bronfenbrenner (1977) se siening, deur tot die gevolgtrekking te kom dat die persoon in omgewingsoriëntasie in menslike ekologie uit die som van die verhoudings tussen individue en hulle omgewings, wat voortdurend in interaksie met mekaar is, bestaan. Hy stel die interaksie binne die menslike ekosisteem as konsentriese sirkels voor (figuur 2.1). Die grense tussen hierdie vlakke is egter deurdringbaar, aangesien dit verandering tussen die verskillende vlakke en tussen die menslike ekosisteem en die fisiese omgewing toelaat.

In figuur 2.1 word die menslike mikro-, meso- en makro-sisteem uiteengesit. Volgens Welsch (1987:155-159) bied die ekologiese perspektief ‟n uitstekende kognitiewe raamwerk om die realiteite van die maatskaplikewerk-praktyk in Suid-Afrika te verstaan. Die onderskeie sisteme soos voorgestel in figuur 2.1 word vervolgens bespreek.

Fisiologies Inter-persoonlik Intra-persoonlik Gesin of kleiner groep

Gemeenskap Kulturele Samelewing mikro meso makro Fisiologies Inter-persoonlik Intra-persoonlik Gesin of kleiner groep

Gemeenskap Kulturele Samelewing mikro meso makro

Figuur 2.1: Vlakke van menslike ekosisteem

2.4.1 Mikro-sisteem

Volgens figuur 2.1 word die mikro-sisteem beskou as die individu. Welsch (1987:158,171) dui aan dat die individu die sentrale rol in die ekosisteem het, aangesien alle gebeure en ondervindings geïnterpreteer word in terme van hoe dit verband hou met die individu, asook wat die invloed daarvan op die individu is, soos byvoorbeeld die fisiese behoefte aan kos, ‟n skuiling en veiligheid. Bronfenbrenner (1977:514) beskou die mikro-sisteem as die onmiddellike omgewing van die individu waar ‟n spesifieke rol vertolk moet word en waar interaksie tussen gesinslede plaasvind.

2.4.2 Meso-sisteem

Skrywers (Germain & Gitterman, 1980:145,197; Bronfenbrenner, 1977:514) beskou die meso-sisteem as die interaksie wat die individu met ander sisteme het, soos byvoorbeeld gesinslede, die skool, vriende, die kerk en die werkplek. Die meso-sisteem verwys dus ook na die sosiale netwerke waaroor die individu beskik, soos byvoorbeeld vriende, bure en kennisse, asook na die feit dat sosiale netwerke, of die gebrek daaraan, stres vir die individu en gesin kan veroorsaak.

2.4.3 Makro-sisteem

Die makro-sisteem word beskou as ‟n uitbreiding van die meso-sisteem. Die makro-sisteem bestaan uit die sosiale strukture wat die individu beïnvloed, grense stel, of wat bepaal wat in ‟n spesifieke struktuur gebeur. Hierdie strukture is onder andere die gemeenskap (Bronfenbrenner, 1977:515), asook die aard van die behuising waarin gesinne in ‟n gemeenskap woon (Germain & Gitterman, 1980:197), die verspreiding van bronne, dienste en informele netwerke, kommunikasie en vervoerfasiliteite, die massamedia, asook regeringsinstansies op plaaslike en nasionale vlak.

Die institusionele patrone van kulture en sub-kulture, soos die ekonomiese, sosiale, politieke en regstelsels wat ‟n invloed op die mikro- en meso-sisteem kan uitoefen is ook belangrik (Bronfenbrenner, 1977:515), aangesien regerings en gemeenskappe die sosiale, ekonomiese en tot ‟n mate die kulturele konteks waarbinne kinders grootgemaak word, beïnvloed (Spencer & Baldwin, 2005:28). Germain en Gitterman (1980:137,138,196) verwys ook na die dienste (opvoeding en gesondheid) wat in burokratiese instellings vir individue en gesinne beskikbaar is en wat die individu se hantering van, en aanpassing in die omgewing, beïnvloed.

Na aanleiding van die voorafgaande kan die ekologiese perspektief as ‟n geskikte teoretiese raamwerk vir intervensie aan hoërisiko-gesinne in maatskaplike werk beskou word, omdat die individu of gesin as deel van ‟n bepaalde gemeenskap gesien word waarbinne die gesin of individu funksioneer of aanpas. Volgens Welsch (1987:161) word maatskaplike funksionering gemeet aan die hanteringsvaardighede en die aktiwiteite van individue en gesinne en die eise wat die omgewing aan hulle stel.

Jack (2000:704) fokus op die feit dat die ekologiese perspektief die balans tussen die stressors en ondersteuning wat in die gesinsomgewing bestaan, ontleed. Hy beskou die benutting van die ekologiese perspektief, wanneer maatskaplike werkers dienste aan gesinne lewer, nie as ‟n teoretiese perspektief wat benut kan word op ‟n lukrake manier nie, maar as die “tool-kit itself”. Maatskaplikewerk-dienslewering aan hierdie gesinne fokus daarom op die passing tussen die individu of gesin en die gemeenskap, deur groei te bewerkstellig in die individu of gesin, die gemeenskap, of in albei. Volgens Welsch (1987:156) is die primêre doel van maatskaplike werk om individue, gesinne, groepe en gemeenskappe in staat te stel om hulle probleme te hanteer deur die bronne in hulle omgewing te benut. Die ekologiese perspektief bied die geleentheid aan maatskaplike werkers om deur intervensie op enige vlak van die menslike ekosisteem te fokus.

Kindermishandeling en -verwaarlosing word vanuit die ekologiese perspektief beskou as die resultaat van komplekse interaksies tussen risiko-faktore wat teenwoordig is in die individu, die gesin, die gemeenskap, asook op sosiokulturele vlak (Weissman, Jogerst & Dawson, 2003:1156; Ernst, 2000:5561; Coulton, Korbin & Su, 1999:1020; Brown, Cohen, Johnson & Salzinger, 1998:1075; Drake & Pandey, 1996:1004). Dit is daarom noodsaaklik dat maatskaplike werkers wat gesinsinstandhoudingsdienste lewer, bewus is van die eienskappe of die risiko-faktore wat in gemeenskappe, in die gesin, sowel as in die individu voorkom, wat kan bydra tot kindermishandeling en -verwaarlosing wat die verwydering van kinders tot gevolg kan hê. Die eienskappe van hoërisiko-gesinne en die ekologiese omgewing waar gesinsinstandhoudingsdienste in Suid-Afrika geïmplementeer moet word, word vervolgens bespreek.

2.5 EIENSKAPPE VAN HOËRISIKO-GEMEENSKAPPE, GESINNE EN