• No results found

4.6 SEMI-FORMELE GESINSONDERSTEUNING: TUISBESOEK-

4.6.7 Keuring van tuisbesoekers

By die keuring van tuisbesoekers is daar sekere aspekte soos onder andere opvoedkundige kwalifikasies, geslag en etnisiteit wat deur die welsynsorganisasie in gedagte gehou moet word. Hierdie aspekte word vervolgens beskou.

4.6.7.1 Opvoedkundige kwalifikasies

Tuisbesoekers se opvoedkundige kwalifikasies moet ooreenstem met die tipe program wat beoog word. Indien die program byvoorbeeld sterk fokus op gesondheid, word opgeleide verpleegsters hoofsaaklik gebruik. Die opvoedkundige kwalifikasies van tuisbesoekers varieer van persone wat oor ‟n Baccalaureus-graad beskik, na slegs hoërskoolopleiding (Wasik et al., 1990:93,94). Die profiel van die tuisbesoekers van die Kempe-program is ‟n vrou van 36 jaar oud, getroud is met twee kinders, kollege-opleiding het en alreeds ongeveer 16 jaar in die gemeenskap woon (Hiatt et al., 2000:88). Die Healthy Start/Healthy Families-program vereis dat tuisbesoekers byvoorbeeld hulle hoërskoolopleiding moes voltooi het (Duggan, McFarlane, Fuddy, Burrell, Higman, Windham & Sia, 2004b:600).

In die ondersoek wat McGuigan, Katzev en Pratt (2003:372) gedoen het oor die aspekte wat ouers se deelname aan programme beïnvloed, is bevind dat die kanse groter is dat ouers by die program betrokke bly, as die kwalifikasies van die tuisbesoeker minder as ‟n Baccalaureus- graad is. Volgens Wasik et al. (1990:93,94) vereis programme waar veral gefokus word op lae-inkomste gesinne gewoonlik ‟n tuisbesoeker met ‟n laer opvoedkundige kwalifikasie, met die uitgangspunt dat vrywilligers uit die gemeenskap benut word om die sosio-kulturele agtergrond van die tuisbesoeker te laat aanpas by dié van die gesinne wat bedien word. Instansies met programme wat gemeenskapslede of vrywilligers uit die gemeenskap betrek, beskou die program ook as die skep van werksgeleenthede vir gemeenskapslede, en as bemagtiging, omdat gemeenskapslede opleiding ontvang.

In programme wat nie vereis dat ‟n persoon oor ‟n naskoolse, of hoërskoolkwalifikasie beskik nie, moet spesifiek aandag gegee word aan ouderdomsvereistes wanneer ‟n program ontwikkel word (Gray et al., 2001:642; Hiatt et al., 2000:88). Wasik et al. (1990:97) beveel daarom aan dat hierdie programme nie tuisbesoekers oorweeg wat jonger as 21 jaar is nie. Hierdie siening word gemotiveer deur die feit dat die aard van die werk vereis dat ‟n persoon oor die vaardigheid en oordeel beskik om lewensgebeure in perspektief te beskou, en ook omdat die sukses van tuisbesoekprogramme afhanklik is van die mate waarin ‟n gesin die tuisbesoeker kan vertrou en vertroue kan ontwikkel dat die tuisbesoeker hulle tot hulp kan wees. Jonger tuisbesoekers het dikwels nog nie voldoende lewenservaring wat benodig word om ‟n suksesvolle tuisbesoeker te wees nie.

Skrywers (Gray et al., 2001:642; Hiatt et al., 2000:88) beklemtoon die feit dat die werk van die tuisbesoeker veeleisend is. Dit is daarom belangrik dat tuisbesoekers volwasse individue is met die kapasiteit om ander mense te help. Persone wat reeds oor basiese kommunikasie-

en interpersoonlike vaardighede beskik moet geselekteer word om die sukses van die

program te verseker. ‟n Verdere vereiste om as tuisbesoeker by ‟n program in te skakel is hoofsaaklik dat die potensiële kandidaat self ‟n ouer is.

In Suid-Afrika sal die kwalifikasies van tuisbesoekers waarskynlik laer as voltooide hoërskoolopleiding wees, aangesien lae-inkomste gemeenskappe gekenmerk word deur lae opvoedkundige kwalifikasies. Organisasies kan die gemeenskapsprofiel benut om die gemiddelde opleidingsvlak van gemeenskapslede te bepaal ten einde te besluit oor die vereiste opvoedkundige kwalifikasies wat benodig word. In die “Isolabantwana”-program (Doran, 1999:397) moet vrywilligers ‟n toets aflê om aan te dui dat hulle beheer het oor die inhoud van die opleidingsprogram voordat hulle toegelaat word tot die program. Hierdie werkswyse kan ook gevolg word vir die keuring van tuisbesoekers by die implementering van ‟n tuisbesoekprogram.

4.6.7.2 Geslag van tuisbesoeker

Ten opsigte van geslag blyk die meeste tuisbesoekers vroue te wees (Hiatt et al., 2000:88; Wasik et al., 1995:99). Die geslag van die tuisbesoeker moet deur die tipe program wat oorweeg word, bepaal word. Vir sekere tipes programme beveel Wasik et al. (1995:98) aan dat slegs vroue benut word, veral waar dienste gelewer word aan enkelmoeders, vroue wat alleen woon en vroue met jong kinders, asook programme waar spesifiek gefokus word op voorgeboortelike en nageboortelike sorg. Hierdie skrywers voer aan dat die geleentheid vir wanopvattings deur die gemeenskap groot is indien ‟n manlike tuisbesoeker op ‟n gereelde basis tuisbesoeke aan vroue in hulle huise bring. Dieselfde wanopvattings kan selfs van toepassing wees op vroue wat getroud is, of ‟n saamleefmaat het, terwyl die eggenoot of die saamleefmaat ook weerstand kan bied teen die lewering van tuisbesoeke deur ‟n man as hulle nie tuis is nie.

By programme waar tuisbesoekdienste gelewer word aan manlike vroeë skoolverlaters of tienervaders is die benutting van manlike tuisbesoekers meer geskik. In die Kempe Community Caring Program (Gray et al., 2001:651) is manlike vrywilligers benut om dienste aan vaders te lewer, terwyl mans ook ingeskakel is by ‟n ondersteuningsgroep wat deur ‟n manlike vrywilliger hanteer is. Leventhal (2001:436) meen dat een van die uitdagings in bestaande tuisbesoekprogramme in die VSA, die uitbreiding van tuisbesoekdienste aan mans is, aangesien ernstige fisieke mishandeling dikwels deur vaders, stiefvaders en saamleefmaats geskied. Hierdie mans het swak ouerskapsvaardighede, het probleme om hulle impulse te beheer en kan ook gewelddadig teenoor hulle lewensmaats optree. Twee moontlike oplossings

word voorgehou, naamlik eerstens om moeders in staat te stel om beter keuses oor lewensmaats te maak en hulle op te voed oor kinderbeskerming, soos byvoorbeeld dat kinders nie in die sorg van hierdie mans gelaat kan word nie. Hierdie oplossing is die een wat meestal tans in die VSA in tuisbesoekprogramme benut word. Tweedens moet hierdie mans opgevoed word oor ouerskapsvaardighede om hulle in staat te stel om kinders toepaslik te versorg, wat ‟n oplossing is wat tans in die VSA meer aandag moet geniet. Manlike tuisbesoekers behoort oorweeg te word in die Suid-Afrikaanse situasie om spesifiek manlike versorgers se kennis en vaardighede oor kinderversorging en toepaslike opvoedingsmetodes, te verhoog.

4.6.7.3 Etnisiteit van tuisbesoeker

Etnisiteit is ‟n verdere aspek wat oorweeg moet word by die beplanning van ‟n

tuisbesoekprogram. Kerkverband, nasionaliteit, taal en familiepatrone, is alles deel van etnisiteit. Die besluit oor die etnisiteit van tuisbesoekers vereis noukeurige oorweging in ‟n program. Die vroeë vorms van ondersteuning is gedoen deur vriende, familie en gemeenskapslede wat beteken dat die etnisiteit van die tuisbesoekers ooreengestem het met die kliëntsisteem. Waar die etnisiteit van die tuisbesoeker aansluit by dié van die gesin, dui ‟n ontleding van dienste daarop dat die tuisbesoekers oor laer kwalifikasies beskik (Solomon, 1976). Daar is egter geen universele reël wat gevolg kan word nie, en dus word aanbeveel dat die voor- en nadele van die benutting van tuisbesoekers met dieselfde etnisiteit as die gesin oorweeg word. Dit is belangrik om in ag te neem dat alle tuisbesoekers in elk geval in hulle opleiding georiënteer moet word om kultureel sensitief teenoor gesinne op te tree (Wasik et

al., 1990:99). In Suid-Afrika sal tuisbesoekers se etnisiteit waarskynlik hoofsaaklik

ooreenstem met dié van die gesinne wat hulle besoek, aangesien hierdie vrywilligers ooreenkomstig ontwikkelingsgerigte beleid uit die gemeenskap gewerf word om die menslike en sosiale kapitaal in die gemeenskap te bou.