• No results found

Die lewering van gesinsondersteuningsdienste vanuit gesinsentrums word in die Verenigde Koninkryk as een van die mees effektiewe en buigbaarste maniere beskou om gesinsondersteuning te doen. Gesinsentrums het hoofsaaklik in die laat-sewentiger en tagtigerjare in die Verenigde Koninkryk vanuit bestaande dagsorg- en kleuterskoolfasiliteite ontwikkel, deur speelfasiliteite te kombineer met ‟n ontmoetingsplek vir ouers, asook vryetydsbestedings- en opvoedkundige aktiwiteite vir gemeenskapslede aan te bied (Adamson, 2006:171; Pierson, 2002:83; Loyd, 1997:147; Cannan, 1992:149). Warren-Adamson (2006) noem dat daar aanduidings is dat daar in die toekoms in die Verenigde Koninkryk sterker gekonsentreer sal word op die ontwikkeling van kindersentrums, vanweë werkende moeders, sowel as verandering in beleid (Lewis, 2003; Lister, 2003).

Aangesien beleidsdokumente in Suid-Afrika (Department of Social Development, 2006a:29; White Paper for Social Welfare, 1997:62), aandui dat daar hoofsaaklik op voorkomende en vroeë intervensiedienste gefokus moet word, is dit toepaslik om die ontwikkeling en eienskappe van gesinsprojekte of gesinsentrums in die Verenigde Koninkryk te verduidelik. Die ontwikkeling van gesinsentrums of gesinsprojekte in die Verenigde Koninkryk is volgens Smith (1996:14-16) gegrond op vier aannames of argumente.

5.2.1 Aannames onderliggend aan gesinsentrums

Aangesien gesinsentrums ontwikkel het uit bestaande dagsorgfasiliteite is ‟n belangrike aanname of argument dat opvoeding van ouers gekombineer moet word met opvoedkundige

programme vanaf ‟n jong ouderdom van kinders, om hulle intellektuele kapasiteit te

ontwikkel en sodoende agterstande te voorkom. Die tweede aanname wat gemaak word is dat die netwerke van ouers deur die bywoning van sentrumaktiwiteite uitgebrei word, asook dat ouers deur deelname aan hierdie aktiwiteite bemagtig word om hulleself te help, ooreenkomstig die beginsels van gemeenskapswerk (Smith, 1996:14-16). In hierdie verband is Cannan (1992:45,105) van mening dat gemeenskapswerk die ontwikkeling van gesinsentrums sterk beïnvloed het, aangesien ‟n gesinsentrum die skakel is tussen die kwaliteit van gesinne se lewens, die gemeenskap en die netwerke waarin die gesin lewe. Vanweë hierdie skakeling word voorkomende dienste as gelyk aan gemeenskaps- ontwikkeling, asook as gelyk aan deelnemende aktiwiteite en die ontwikkeling van informele netwerke beskou, om sodoende individue se bronne uit te brei en hulle selfvertroue te verhoog, ten einde sosiale isolasie en uitsluiting teen te werk.

Die laaste aanname is volgens Smith (1996:16-24) dat daar gefokus word op voorkoming deur die identifisering van hoërisiko-kinders, sowel as op intervensie met gesinne wat probleme ervaar. Hierdie aanname of argument is dat gesinsentrums of gesinsprojekte bydra tot die bestryding van agterstande deur sosiale ondersteuning te bied, vaardighede uit te

bou, asook inligting en bronne aan hoërisiko-gesinne te bied. Die belangstelling in

gesinsentrums word volgens skrywers (Ghate, Shaw & Hazel, 2000:1; Smith, 1996:16-24) waarskynlik sterker gemotiveer in terme van voorkoming, die identifisering van hoërisiko-gesinne, asook op die feit dat agterstande effektief uitgeskakel, of verminder word. Die eerste twee argumente vir die daarstelling van sentrum-gebaseerde dienste bly volgens Smith (1996) steeds belangrik omdat dit gerig is op die aanname dat gesinsentrums die opvoedkundige klimaat in die huis en gemeenskap, asook die sosiale netwerke wat die sosiale kapitaal van ‟n gemeenskap is, positief beïnvloed. In die lig van hierdie argumente, word die eienskappe van gesinsentrums in die volgende afdeling uiteengesit.

5.2.2 Eienskappe van gesinsentrums

Holman (1988:114) beskryf die algemene eienskappe van gesinsentrums en benut Phelan (1983) se navorsing in die Verenigde Koninkryk om die eienskappe van die eerste gesinsentrums te beskryf. Meer resente literatuur is benut om die eienskappe soos deur Holman (1988) beskryf is, te verifieer. Die belangrikste eienskappe is dat gesinsentrums in

gemeenskappe geleë is waar daar ‟n hoë voorkoms is van die sosiale en omgewingsfaktore

wat teenwoordig is (Batchelor, Gould & Wright, 1999:202; Pithouse, Lindsell & Chueng, 1998:4; Holman, 1988:114) wanneer kinders verwyder word en waar gesinne vanweë hierdie faktore stres ondervind (Holman, 1988:114). Dienslewering is daarom gerig op gesinne wat deur maatskaplike werkers en ander persone beskou word as hoërisiko-gesinne (Smith, 1996:169) en waar daar ‟n groot behoefte bestaan aan voorkomings- en

beskermingsdienste, om te verhoed dat kinders in die formele kindersorgsisteem opgeneem

word vanweë die omstandighede wat in die gemeenskap en in hulle gesinne bestaan (Pithouse

et al., 1998:32).

Dienslewering in gesinsentrums fokus op alle gesinslede (Armstrong & Hill, 2001:351; Pithouse et al., 1998:4), asook die ontwikkeling van ouers se sterktes eerder as hulle probleme (Holman, 1988:114). Hierdie dienste is toeganklik vir die inwoners van die gemeenskap volgens Phelan (1983) omdat die sentrum in die gemeenskap geleë is en ook sterker ingestel is op die behoeftes van die gemeenskapslede (Holman, 1988:114).

Interorganisatoriese samewerking in die ontwikkeling van dienste is ‟n verdere belangrike

eienskap van dienste wat vanuit gesinsentrums gelewer word (Pithouse et al., 1998:33). Uit die bogenoemde is dit duidelik dat dienste ooreenkomstig die aanname van gesinsondersteuning aan die gesin as ‟n eenheid gelewer word (Manalo & Meezan, 2000:414; Lightburn & Kemp, 1994:18). Gemeenskapsgebaseerde dienste word ook aan gesinne gelewer waar die risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing bestaan om statutêre dienste te voorkom, wat in ooreenstemming is met die uitgangspunte van voorkomende dienslewering, soos uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Welsynsbeleid (Department of Social Development 2006a:29; Department of Social Development, 2005:71,72; Ministry of Welfare and Population Development, 1997:66).

5.2.3 Doel en plek van dienslewering

Die doel van gesinsentrums is hoofsaaklik gerig op gemeenskapsgebaseerde

gesinsinstandhouding, waar selfhelp ‟n prominente eienskap van intervensie is (Pithouse et al., 1998:4), asook om die welsyn van kinders in nood te verbeter, deur ‟n verskeidenheid gesinsondersteuningsdienste aan gesinne en gemeenskapslede te bied (Pithouse & Holland, 1999:169). Gesinsentrums fokus sterk op die ontwikkeling van die kapasiteit van inwoners om self dienste te ontwikkel, ooreenkomstig hulle behoeftes (Cannan & Warren, 1997:8). Cannan (1992:109) is van mening dat die doel van gesinsentrums gerig is op die versterking van gesinne deur die verandering van die ekologiese balans van hulle omgewing.

Ten opsigte van die plek waar dienste gelewer word, word sentrumgebaseerde dienste gedefinieer as dienste wat gelewer word vanuit geboue wat spesifiek gebou is vir hierdie doel, asook in ‟n opset soos ‟n kliniek, ‟n kantoor, versorgingsoorde, skole, woonhuise en enige ander plek in die gemeenskap wat toeganklik vir gesinne is en waar hulle nie nodig het om vervoer te gebruik, om die diens te ontvang nie (Chaffin et al., 2001:1278; Ghate et al., 2000:6; Pithouse et al., 1998:5; Smith, 1996:180). Die tipe diens of program, asook die aantal ouers wat by die program betrek word, word beïnvloed deur die plek waar die program geïmplementeer word en die fisiese spasie wat beskikbaar is. Beskikbaarheid van bronne in ‟n gemeenskap kan daarom die plek waar die program geïmplementeer word, beïnvloed (Pithouse et al., 1998:5; Weissbound, 1987b:245). Indien spasie ‟n probleem is, kan ouers se huise benut word (Weissbound, 1987b:245).

In die studie wat Pithouse et al. (1998:32) en Smith (1996:67,68) onderneem het is munisipale huise byvoorbeeld by sommige projekte as gesinsentrums benut, terwyl daar in Ghate et al. (2000:6) se studie van kamers gebruik gemaak is in bestaande geboue van ander organisasies.

Gardner (2003:71,72) se navorsing het getoon dat die helfte van die projekte wat by die navorsing betrek is, ‟n kantoor as basis gehad het, maar hulle dienste gelewer het in skole, gemeenskapsentrums en gesondheidsentrums in die gemeenskap. Die ander helfte van die projekte het die grootste gedeelte van hulle dienste vanuit gesinsentrums gelewer, wat gekombineer is met tuisbesoekprogramme. Pithouse et al. (1998:32) het bevind dat indien ‟n spesifieke gebou benut is, daar gewoonlik ‟n kombuis, ‟n betaaltelefoon, sitkamer, ‟n lokaal waar byeenkomste gehou is en kantore vir die personeel was. Wanneer dienste uit ‟n sentrum aangebied is, het ander organisasies ook die gebou vir dienslewering benut. Ouers in Pugh (1992) se studie het egter aangedui dat indien hulle ‟n keuse het, hulle ‟n multi-funksionele sentrum wat dagversorging en ander aktiwiteite vir gesinne aanbied verkies, eerder as verskillende aktiwiteite wat oral in die gemeenskap aangebied word (Pithouse et al., 1998:41). Dit is duidelik dat die term “gesinsentrum” benut word wanneer dienste op ‟n deurlopende basis binne ‟n gemeenskap aangebied word. ‟n Gesinsentrum verwys dus nie primêr na dienslewering vanuit geboue wat slegs vir die doel benut word nie. Enige plek in ‟n gemeenskap waaruit dienste op ‟n deurlopende basis bedryf word en toeganklik vir gemeenskapslede is, word as ‟n gesinsentrum beskou.

5.2.4 Aard van dienste

Die aard van dienste is hoofsaaklik gerig op die voorsiening van materiële of konkrete

dienste (dagversorging, speelgroepe, uitstappies en inval dienste), asook gerig op intervensie

(ouerskapsvaardighede, advies, berading, gesinsberaad) deur middel van groep- en gemeenskapswerk (Warren-Adamson, 2006:172; Ferguson, 2001:9; Pithouse et al., 1998:6; Hearn, 1997:238; Smith, 1996:180). Cannan en Warren (1997:8,9) beskou gesinsentrums as plekke met aktiwiteite vir kinders en ouers, en waar beradings- en terapeutiese dienste, sowel as ontspannende en opvoedkundige aktiwiteite, aangebied word. Hierdie aktiwiteite het volgens Cannan (1992:109) tot gevolg dat gesinsentrums gesinne versterk deur ondersteuning en bronne te bied, wat eweknie ondersteuning bevorder, ouerskapsvaardighede uitbrei en die individuele gedrag van gesinne verander. Dienslewering is volgens Cannan en Warren (1997:8,9) gerig op individuele gebruik, sowel as die gemeenskap wat ouers in staat stel om die oorgang vanaf kliënt na ‟n vrywillige of betaalde werker, deur opleiding te maak.

‟n Belangrike aspek wat in gedagte gehou moet word is dat ‟n ontleding (Pithouse et al., 1998:32; Smith, 1996) van die tipe dienste wat gelewer is, daarop dui dat dit op ‟n

deurlopende basis geskied, alhoewel die dienste nie noodwendig alles uit een gebou gelewer

as ‟n bron in die gemeenskap beskou word, aangesien die plek waar dienste aangebied word gereeld deur gesinne benut kan word.

Die feit dat gesinsondersteuningsdienste op ‟n deurlopende basis aangebied word, is belangrik vir die Suid-Afrikaanse situasie, aangesien navorsing deur Van den Berg en Weyers (2004:351) in die Noordwes-Provinsie in Suid-Afrika na die aard van die gemeenskapswerkdienste wat deur organisasies gelewer word, bevind het dat ‟n baie klein persentasie (15%) van die projekte van deurlopende aard was. Die skrywers is van mening dat hierdie situasie waarskynlik wel ‟n aanduiding is van die aard van die dienste wat ook in die res van die land gelewer word. Die afleiding wat gemaak kan word is dat die moontlikheid bestaan dat hoërisiko-, of lae-inkomste gesinne in Suid-Afrika nie toegang het tot deurlopende dienste wat as ‟n ondersteuningsbron in die gemeenskap beskou en benut word nie. Vanweë hierdie rede is dit vir hierdie studie belangrik dat die dienste wat by verskillende tipes gesinsentrums aangebied kan word, geïdentifiseer en evalueer word.