• No results found

4.5 SEMI-FORMELE GESINSONDERSTEUNING: GEMEENSKAPS-

4.5.1 Gemeenskapsgebaseerde respons tot kinderbeskerming, MIV/VIGS

September, Beerwinkel en Somtsewu (2004:8-26) beskryf ‟n program wat ‟n gemeenskapsgebaseerde respons tot kinderbeskerming, MIV/VIGS en TB genoem word. Hierdie program is deur die Child and Youth Research and Training Programme aan die Universiteit van Wes-Kaapland ontwikkel en is in samewerking met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in sekere provinsies in Suid-Afrika geïmplementeer. Die program is deur September en Blankenberg (2004:56) aanbeveel as een wat op plaaslike vlak in alle provinsies in Suid-Afrika geïmplementeer behoort te word as deel van ‟n nasionale strategie vir kinderbeskerming.

4.5.1.1 Doel en implementering van die program

Die doel van die program is om gemeenskappe en gesinne se kapasiteit om kinders te beskerm te verhoog, asook gemeenskappe se gedrag te verander, sodat hulle meer sensitief en simpatiek is teenoor die beskerming van kinders. Die uitgangspunte van die program bepaal dat ‟n proses gevolg word wat inpas by die gemeenskapswerkmetode in maatskaplike werk. Ten opsigte van die implementering van die program is werkswinkels op nasionale, sowel as provinsiale vlak gehou. Verteenwoordigers uit verskillende gemeenskappe, soos die provinsiale kinderbeskermingskoördineerders, MIV/VIGS koördineerders, maatskaplike werkers wat verantwoordelik is vir gemeenskapsprojekte, asook gemeenskapslede uit verskillende gemeenskappe is georiënteer om die gemeenskapsgebaseerde voorkomende projekte vir die voorkoming van kindermishandeling, -verwaarlosing en MIV/VIGS te implementeer.

In al die gemeenskappe wat by die program betrek is, is komitees gestig bestaande uit gemeenskapslede en vrywilligers of natuurlike helpers wat by die projek betrek is. Maatskaplike werkers of die kinderbeskermingskoördineerders was verantwoordelik vir die koördinering van die gemeenskapsgroepe en is ook betrek sodat hulle die gemeenskap kon bystaan in die volhoubaarheid van die projek. Uit die terugvoer wat deur die onderskeie areas

gegee is oor die vordering van die program dui die skrywers (September et al., 2004) aan dat die komitees hoofsaaklik betrokke was by die identifisering van prioriteitsbehoeftes van die gemeenskap, asook om gemeenskapslede te werf om by die program betrokke te raak.

4.5.1.2 Uitkoms van die program

In die verslag wat opgestel is, word die aktiwiteite en die terugvoer van die onderskeie projekte afsonderlik volgens elke area aangeteken (September et al., 2004:10-26). Uit ‟n ontleding van die terugvoer oor die aktiwiteite van die verskillende komitees is dit duidelik dat hierdie komitees ‟n verskeidenheid van aktiwiteite onderneem het. Daar is onder andere by sommige projekte bewusmaking oor kindermishandeling gedoen, deur van deur tot deur in die gemeenskap te beweeg, asook praatjies by formele instellings soos kerke en skole, te doen. Vrywilligers by een projek het aangedui dat hulle gesinne waar die kinders ‟n hoë risiko het om verwyder te word, besoek, maar die aard van die dienste wat gelewer word, is nie aangedui nie, terwyl tuisbesoeke by ‟n ander projek gelewer word om middelmisbruik, asook positiewe ouerskap te bespreek. By sommige projekte sien vrywilligers om na kinders wat mishandel en verwaarloos word en beplan die komitees die daarstelling van veiligheidshuise in die gemeenskap, terwyl daar by ‟n ander projek kospakkies gegee word aan kinders wat as die hoof van die gesin funksioneer. Ander aktiwiteite wat vrywilligers onderneem het, is bystand aan senior burgers wie se gesinne hulle ouderdomspensioen misbruik, en ondersteuning aan terminaal siek pasiënte en hulle gesinne, asook lewensoriëntering aan adolessente.

Uit die behoeftes wat hierdie gemeenskapsgroepe geïdentifiseer het vir verdere opleiding, blyk dit dat ‟n groot behoefte bestaan het na meer inligting oor die hantering van verwysing van gevalle waar kindermishandeling en -verwaarlosing voorkom, asook die hantering van gesinsgeweld en die verkryging van ‟n interdik. Verdere behoeftes was die identifisering en ondersteuning van hoërisiko-gesinne, basiese kommunikasievaardighede om bure in nood te help, bystand aan senior burgers wat mishandel word deur hulle kinders, assessering van maatskaplike toelaes vir kinders en gesinne, asook inligting en opleiding oor die behoeftes van gesinne wat moet omsien na gesinslede wat VIGS het, of HIV-positief is.

Uit die aard van die aktiwiteite wat onderneem is, is dit duidelik dat hierdie gemeenskapsgebaseerde projekte ‟n wye verskeidenheid algemene behoeftes van gemeenskapslede aanspreek. Informele ondersteuningsbronne in die vorm van gemeenskapslede word in die gemeenskap geskep, wat ooreenkomstig die doel van gesinsondersteuningsdienste die kapasiteit van die gemeenskap ontwikkel en

gemeenskapslede ‟n gevoel vir die gemeenskap laat ontwikkel. Ooreenkomstig die uitgangspunte van die maatskaplike ontwikkelingsbeleid, word gesinne se netwerke

uitgebrei, en die menslike kapitaal van gemeenskapslede word ontwikkel.

Die feit dat daar ‟n groot behoefte by vrywilligers bestaan het aan inligting oor die verwysingsprosedures vir kindermishandeling en -verwaarlosing, kan beteken dat maatskaplike werkers se gevalleladings verhoog, omdat die gemeenskap meer ingelig is oor die eienskappe van kindermishandeling en -verwaarlosing. Alhoewel kinderbeskerming gedoen word, kan daar nie aanvaar word dat kindermishandeling en -verwaarlosing afneem as gevolg van hierdie tipe programme nie, aangesien dit nie empiries getoets is nie. Die feit dat gevalleladings kan verhoog omdat gemeenskapslede meer ingelig is, verhoog die druk wat op formele maatskaplikewerk-dienste in terme van ondersoeke en terapeutiese dienste geplaas word.

4.5.2 „n Gemeenskapsgebaseerde kinderbeskermingsprogram: “Eye of the child” – “Isolabantwana”-program

Die “Isolabantwana”-program (Doran, 1999:396-399) wat deur die Kinder- en Gesinsorgvereniging in Kaapstad ontwikkel is, is ‟n goeie voorbeeld van ‟n program wat spesifiek op kinderbeskerming gemik is, gemeenskapsgebaseerd is, maar ook ondersteuning bied aan maatskaplike werkers in terme van die werkslading wat hanteer word.

4.5.2.1 Doel en implementering van die program

Die doel van die program is om gemeenskapslede betrokke te maak by die beskerming van kinders wat mishandel, verwaarloos of verlaat is. Die program is onder andere gegrond op die volgende beginsels, naamlik, dat maatskaplike werkers die hulp en betrokkenheid van gemeenskapslede benodig by kinderbeskerming, dat alle gemeenskappe oor gemeenskapslede beskik wat bereid is om kinders in nood te help, asook dat hierdie gemeenskapslede met die nodige opleiding en ondersteuning in staat sal wees om kinders in nood te help.

Programimplementering beteken dat ‟n taakgroep vanuit die gemeenskap saamgestel word

om saam met maatskaplike werkers ‟n plan vir ‟n gemeenskapsgebaseerde kinderbeskermingsprogram te identifiseer. Mans en vroue vanuit die gemeenskap word deur die taakgroep geïdentifiseer om hoërisiko-kinders vir kindermishandeling, -verwaarlosing en verlating te identifiseer, met ander woorde om die “oë” te wees in die gemeenskap. Die uitgangspunt is dat geen kind weggewys word nie en vrywilligers (die “oë”) verantwoordelik is om die versorging van hierdie kinders te assesseer, asook ‟n besluit te neem oor

verwydering, al dan nie. Vrywilligers is 24 uur beskikbaar en die meeste van die werk word na ure gedoen. ‟n Kind wat verwyder moet word, word geplaas by gemeenskapsgebaseerde

versorgers, wat die korttermynversorging van die kinders hanteer, totdat die medium- en

langtermynbeplanning uitgesorteer is. Die rol van maatskaplike werkers is om beskikbaar te wees vir die vrywilligers (“oë”) met betrekking tot die bespreking van hulle besluit, om ondersteuning en leiding te bied, asook die toekomstige beplanning vir die versorging van die kind te doen.

Omvattende opleiding word deur die maatskaplike werkers aan die vrywilligers en die taakgroepe gebied in samewerking met ander rolspelers, soos byvoorbeeld die polisie en klinieke, asook die Kommissaris van Kindersorg. Vrywilligers moes ‟n toets aflê en slegs diegene wat getoon het dat hulle goeie beheer oor die opleidingsmateriaal het, is aanvaar as deel van die projek. Die Kommissaris van Kindersorg het aan vrywilligers die mag gegee om ‟n kind te verwyder in terme van Artikel 12(1) van die Kinderwet (Wysigingswet op Kindersorg, 96 van 1996). Vrywilligers het ook ‟n sertifikaat van akkreditering van die Kommissaris van Kindersorg ontvang.

4.5.2.2 Uitkoms van die program

Volgens Doran (1999:398.399) is die voordele van die program omvattend, soos byvoorbeeld dat die gemeenskap aktief betrek word by kinderbeskermingsdienste, asook dat gemeenskapslede bemagtig word om ‟n diens aan die kinders in hulle gemeenskap te lewer. Gemeenskapslede se netwerke is ook uitgebrei, aangesien skakeling met ander formele bronne plaasvind. Gesinne en kinders in die gemeenskap kry die geleentheid om hulp te benut van gemeenskapslede wat bereid is om hulle te ondersteun in tye van nood, wat beteken dat die informele netwerke van gesinne wat hulp benodig uitgebrei word.

Uit die bespreking van die voorafgaande twee programme is dit duidelik dat die benutting van vrywilligers ‟n groot bydrae kan maak tot die lewering van ontwikkelingsgerigte kinderbeskermingsdienste. September, Beerwinkel en Jacobson (2000:25,26) het vanuit hulle ondersoek na ‟n gemeenskapsrespons op kindermishandeling en -verwaarlosing, sekere aspekte geïdentifiseer wat by suksesvolle programme, insluitend “Isolabantwana”, voorgekom het. Hierdie aspekte is eerstens ‟n hoë vlak van betrokkenheid deur al die rolspelers, asook die strewe na ‟n gemeenskaplike doel. Tweedens is die gekoördineerde skakeling tussen formele en informele bronne in die die breë gemeenskap van belang, aangesien formele of informele werkers die probleem van kindermishandeling en -verwaarlosing, nie alleen kan aanspreek nie. Laastens is die opleiding van vrywilligers, asook voortgesette opleiding om die kapasiteit van

die gemeenskap uit te bou, ‟n belangrike voorvereiste vir suksesvolle program- implementering.