• No results found

6.4 INTENSIEWE GESINSINSTANDHOUDINGSDIENSTE

6.4.2 Inhoud van intensiewe gesinsinstandhoudingsdienste

6.4.2.1 Konkrete dienste

Konkrete dienste is een van die tipes dienste wat aan gesinne gelewer behoort te word. Hierdie dienste fokus op die tipes probleme wat in die omgewing aanwesig kan wees en ‟n invloed op die gesin uitoefen, soos byvoorbeeld behuising (Maluccio, 2002:153) en sluit in die bied van praktiese ondersteuning (Ferguson, 2001:9). Konkrete dienste verwys veral na die voorsiening van materiële goedere of finansiële bystand aan die gesin om die nodige materiële goedere te bekom. Hierdie tipe dienste kan die reëlings vir vervoer, hulp met huishoudelike take, asook die verskaffing van basiese bronne soos kos, klere, en ‟n skuiling insluit (Cash & Berry, 2003:4; Maluccio, 2002:152,153; Cash, 2001:44; Ferguson, 2001:9; Fraser et al., 1997:146).

Die funksie wat konkrete dienste vervul varieer na gelang van die stadium waarin die gesin verkeer in terme van die hulpverleningsproses. Wanneer konkrete hulp by die aanvang van dienslewering in die VSA gebied word, kan dit die onmiddellike krisis waarin die gesin verkeer verlig (Maluccio, 2002:153), aangesien dit gewoonlik die gebrek aan basiese bronne is wat die gesin onder die aandag van die kindersorgsisteem gebring het (Cash & Berry, 2003:4). Die voorsiening van konkrete hulp word ook beskou as die lewering van voor die handliggende kindersorgdienste, aangesien daar nie van ‟n gesin verwag kan word om hulle verhoudingsvaardighede te ontwikkel en gedragsprobleme aan te spreek indien daar omgewingstressors teenwoordig is, soos byvoorbeeld ‟n gebrek aan kos, klere en behuising nie (Maluccio, 2002:153; Cash & Berry, 2001:4; Littell & Tajima, 2000:430; Berry, 1997:145). Sommige programme in die VSA het om hierdie rede noodfondse om gesinne in hierdie verband by te staan (Berry, 1997:144).

Die voordele van konkrete dienslewering aan die gesin word sterk in die Amerikaanse literatuur (Maluccio, 2002:153; Cash & Berry, 2003:4; Berry, 1997:145), beklemtoon. Konkrete dienste dra by tot die daarstelling van ‟n werksverhouding tussen die maatskaplike werker en die gesin. Die aktiewe betrokkenheid van die gesin by dienslewering word aangemoedig en in stand gehou, deur gesinne in kontak te bring met netwerke wat in die gemeenskap bestaan. ‟n Verdere voordeel van konkrete ondersteuning is volgens Juby en Rycraft (2004:585) dat instrumentele ondersteuning aan die gesin gebied word, wat veral betekenisvol is vir gesinne wat in armoede lewe en ‟n krisis beleef vanweë onvoldoende finansiële bronne. Deur konsekwent instrumentele ondersteuning aan hierdie gesinne te bied word daar van die stres wat ervaar word, soos honger verlig, wat tot beter funksionering kan lei en wat volgens Dawson en Berry (2002:300) die gesin in staat stel om meer effektief aan dienslewering deel te neem.

Die aard van die konkrete dienste wat deur maatskaplike werkers gelewer word is volgens skrywers (Cash, 2001:44; Berry, 1997:145,149,150; Smith, 1995:13) dat hulp hoofsaaklik verleen word met die instandhouding van die huishouding en die versorging van die kinders. Konkrete dienslewering vereis ook direkte hulp van die maatskaplike werker, soos om gebreekte vensters te vervang en meubels te bekom, inkopies te doen, asook die gesin by te staan met die ontwikkeling van tuisteskeppervaardighede, soos die beplanning en die voorbereiding van maaltye (Smith, 1995:13). In ‟n program in Noord-Carolina het maatskaplike werkers aangedui dat hulle byvoorbeeld vir ‟n uur lank ‟n gesin in ‟n kruidenierswarewinkel sou bystaan om bekostigbare, gesonde kos te identifiseer, ‟n verdere uur in die huis sou spandeer om aan die moeder te wys hoe om ‟n gesonde ete voor te berei en ‟n verdere uur sou spandeer om toepaslike ouervaardighede te modelleer (Berry, 1997:145). In Berry et al. (2000:197) se navorsing in die VSA is bevind dat die konkrete dienste wat hoofsaaklik deur maatskaplike werkers gelewer is, die tref van reëlings vir die vervoer van gesinslede was (64%), reëlings vir die versorging van kinders ook gereeld getref is (52%) en finansiële bystand en die verskaffing van kos (40%) deurlopend gedoen is. ‟n Verdere belangrike aspek is dat verwysings deur die maatskaplike werker gedoen moet word na ander

gemeenskapsgebaseerde bronne sodat verdere ondersteuning aan die gesin gebied kan word

deur byvoorbeeld voedingsprogramme, skole en die AA (Thompson, 1995:150). Die inskakeling van die gesin by ander gemeenskapsbronne is baie belangrik, aangesien die korttermynaard van intensiewe dienste, die lewering van aanvullende dienste om die gesin in stand te hou, noodsaaklik maak (Cash, 2001:51).

Die lewering van konkrete dienste is ‟n belangrike aspek by verbruikersgerigte dienste, omdat gesinne se behoeftes dikwels konkreet is. Indien hierdie konkrete behoeftes nie deur die maatskaplike werker aangespreek kan word nie, vanweë organisasiebeleid of gebrekkige fondse, gaan ‟n belangrike geleentheid om die gesin te help, verlore. Om hierdie redes moet ‟n balans tussen die lewering van konkrete en terapeutiese dienste gevind word (Maluccio, 2002:154), aangesien dienste waar probeer word om die risiko vir die verwydering van kinders te verlaag, ook onder andere gerig moet wees op die verbetering van die fisiese aspekte van die huishouding en die ekonomiese stabiliteit van die gesin (Berry, 1997:145). Die deelname van ouers in programme blyk volgens Littell en Tajima (2000:426,428) hoër te wees wanneer ‟n wye verskeidenheid konkrete dienste en voorspraakpogings deur die maatskaplike werker beskikbaar is. Voorspraak deur die maatskaplike werker het ook die samewerking van ouers by dienslewering verhoog.

Die lewering van konkrete en instaatstellende dienste het volgens Berry (1997:150,152,154) meer positiewe uitkomste vir gesinne in die VSA, as terapeutiese dienste. Indien die uitgangspunt van ‟n gesinsinstandhoudingsprogram korttermyn en krisisgeoriënteerd is, is dit meer toepaslik om te fokus op die lewering van konkrete en instaatstellende of opvoedkundige dienste, as sterk terapeutiesgerigte dienste. Die verdere voordeel van die lewering van konkrete dienste is dat dit kan bydra tot groter gemotiveerdheid by die gesin om deel te neem aan terapeutiese dienste, nadat die gesinsituasie gestabiliseer het.

In terme van die Suid-Afrikaanse situasie is die implementering van intensiewe gesinsinstandhoudingsdienste met betrekking tot die lewering van konkrete dienste soos hierbo beskryf, problematies. Aangesien Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers met hoë gevalleladings werk, is dit nie moonlik om ‟n groot hoeveelheid tyd aan die lewering van konkrete dienste in die vorm van direkte hulp in die huis af te staan nie. Die lewering van konkrete dienste is egter noodsaaklik om die gesin in stand te hou en indien hierdie dienste nie gelewer word nie, kan dit bydra tot verwyderings, aangesien die gesin se huishoudelike situasie nie sal verander nie, tensy konkrete ondersteuning gebied word.

In Kruger (1996:122,123) se studie oor die lewering van intensiewe gesinsinstandhoudings-dienste in die Wes-Kaap is bevind dat maatskaplike werkers in die meeste gevalle konkrete hulp verleen het, deur byvoorbeeld kospakkies aan gesinne te verskaf. Finansiële bystand is ook gebied, maar slegs in 50% van die gevalle. Hulp is ook verleen met betrekking tot die verkryging van toelaes en huisvesting. Die minste hulp is verleen by die verskaffing van huishoudelike artikels soos byvoorbeeld klere, gordyne en toiletware. Konkrete dienste soos

om die gesin in die huis aktief te ondersteun deur hulle te help om huishoudelike take te vervul, is nie deur maatskaplike werkers gelewer nie. Die vraelys het nie voorsiening gemaak vir die bied van konkrete hulp in terme van die inskakeling by netwerke, of ondersteuningsdienste in die gemeenskap, soos byvoorbeeld tydelike dagversorging van die kinders nie, wat ‟n belangrike aspek is wat aandag moet geniet by die lewering van enige gesinsinstandhoudingsdiens. Uit die bogenoemde wil dit voorkom asof beperkte konkrete dienste gelewer is.

In die verslag (Interministerial Committee on Young People at Risk, 1998:27,30) oor loodsprojekte wat in Suid-Afrika onderneem is, word verslag gedoen oor ‟n intensiewe gesinsinstandhoudingsprojek wat onderneem is. In hierdie projek het die personeel bestaan uit twee maatskaplike werkers, twee gekwalifiseerde kinderversorgingswerkers en twee gemeenskapsfasiliteerders. Slegs 20 gesinne is geïdentifiseer om intensiewe gesinsinstand-houdingsdienste te ontvang, wat daarop dui dat daar in hierdie loodsprojek ook met ‟n klein gevallelading gewerk is. Die doel van die projek was om die verwydering van 20 kinders te voorkom en slegs vyf kinders is in die jaar wat die projek onderneem is, verwyder. Die resultate wat verkry is, dui wel op die effektiwiteit van intensiewe gesinsinstandhoudings-dienste, as die uitgangspunte soos hierbo beskryf, geïmplementeer word.

Uit die bestudering van hoe die projek geïmplementeer is, is ‟n belangrike verskil met die Amerikaanse programme dat opgeleide kinderversorgers benut is om konkrete dienste te verrig, in plaas van maatskaplike werkers. Hierdie kinderversorgers is aangewend om kinders na die skool te vergesel, gesinne te help om mediese dienste te bekom, kinderversorging te doen, huiswerk in die huis te doen, asook as rolmodel vir die ouers op te tree as voorbeeld van hoe hulle teenoor hulle kinders moet optree. Gesinne is dus wel in kontak gebring met netwerke in die gemeenskap. Die aard van die dienste wat deur die kinderversorgers gelewer is, sou egter ook deur vrywilligers gelewer kan word, deur ‟n tuisbesoekprogram te implementeer soos in hoofstuk 4 bespreek is. Sodoende word die gemeenskap se sosiale kapitaal uitgebou wat op die lang termyn positief kan inwerk op die gemeenskapslewe.