• No results found

In resente literatuur (Hess, McGowan & Botsko, 2000:243-248; Nahom, Richardson, Romer & Porter, 2000:629,630) oor gesinsondersteuningsdienste word sterker gefokus op die evaluering van gesinsondersteuningsprogramme in terme van die uitkomste, eerder as om die beginsels van hierdie tipe dienste toe te lig. Daar is dus vir die uiteensetting van die beginsels van gesinsondersteuningsdienste gebruik gemaak van minder resente literatuur (Lightburn & Kemp, 1994; Dunst, Trivette & Thompson, 1991; Weissbound, 1991; Weissbound & Kagan, 1989).

Ten opsigte van die beginsels onderliggend aan die lewering van gesinsondersteuningsdienste sal hoofsaaklik van die beskrywing van Dunst et al. (1991:23-27) gebruik gemaak word, aangesien dit steeds benut word by die bespreking en evaluering van gesinsondersteunings-dienste in resente literatuur (Pierson, 2002:79; Hess et al., 2000:243-248; Nahom et al., 2000:629,630). Dit is noodsaaklik dat die beginsels van gesinsondersteuningsdienste volgens Pierson (2002:79) begryp word, wat meen dat maatskaplike werkers die beginsels vir gesinsondersteuningsdienste, soos gekonseptualiseer deur Dunst et al. (1991), deurlopend in gedagte moet hou by die ontwikkeling of die lewering van gesinsondersteuningsdienste om te verseker dat die program in die regte rigting beweeg.

3.4.1 Interafhanklikheid van kinders, gesin en gemeenskap

‟n Belangrike beginsel van gesinsondersteuningsdienste is dat die diens die interafhanklikheid van kinders, die gesin en die gemeenskap onderskryf (Kagan, 1996:158;

Weissbound, 1991:71; Zigler & Black, 1989:12). Die erkenning van hierdie interafhanklikheid (Dunst et al., 1991:23) hou in dat die ondersteuningsdiens daarop gerig moet wees om ‟n interafhanklikheid te ontwikkel tussen gemeenskapslede en die gesin as ‟n eenheid. Dit beteken dat gesinsondersteuningsprogramme ontwikkel moet word volgens die gemeenskaplike behoeftes en ondersteuning wat gemeenskapslede benodig. Hierdie interafhanklikheid sluit nou aan by die ekologiese perspektief as een van die aannames by

die lewering van gesinsondersteuningsdienste, aangesien die kind en die gesin binne ‟n spesifieke gemeenskap en ‟n eiesoortige kultuur funksioneer. Weissbound (1987a:53) en Kagan en Shelley (1987:9) beklemtoon die feit dat die gesin deel van ‟n gemeenskap is, wat beteken dat hulle behoeftes nie aangespreek kan word in isolasie van die gemeenskap nie. Ondersteuning moet dus binne die raamwerk van die gemeenskap gebied word, deur skakeling met gemeenskapsbronne te bewerkstellig.

3.4.2 Gemeenskapsgebaseerde dienste

Vir effektiewe implementering moet gemeenskapsondersteuningsdienste in die gemeenskap

gebaseer wees. Bestaande gemeenskapsorganisasies en ouers moet betrek word in

dienslewering om sodoende by te dra tot die bou van die gemeenskap (Manalo & Meezan, 2000:415; Kagan, 1996:158; Dunst et al., 1991:25) sodat ‟n lojaliteit of gevoel vir die

gemeenskap by gemeenskapslede ontwikkel kan word (Moroney, 1987), wat berus op sterk

interafhanklike bande tussen gemeenskapslede. ‟n Gemeenskap word gebou om instellings, organisasies, gemeenskapsleiers en gesinne te mobiliseer om saam te werk om die welsyn van gesinne te verbeter. Sodoende word lede van die gemeenskap aangemoedig om op ‟n gesinsondersteunende wyse te funksioneer (Weissbound, 1994:40). Hierdie beginsel bevestig die aanname dat gesinsondersteuning gerig is op die voorkoming van ernstige probleme by gesinne, deur die gemeenskap te bou sodat ondersteuningsdienste in die gemeenskap beskikbaar is vir alle ouers om te benut wanneer nodig.

Skrywers (Pierson, 2002:79; Cole, 1995:165; Ligthburn & Kemp, 1994:18; Weissbound & Kagan, 1989:25) beklemtoon die feit dat gemeenskapsgebaseerde gesinsondersteunings- dienste beteken dat ‟n wye verskeidenheid dienste vir gesinne op een plek beskikbaar moet wees. Dit beteken dat gesinne nie nodig het om vir verskillende tipes dienste tussen organisasies en instansies te beweeg nie, maar dat ‟n verskeidenheid dienste by dieselfde instansie of gesinsentrum beskikbaar is. Gibbons (1990) het bevind dat wanneer maatskaplike werkers dienste lewer vanuit gemeenskapsgebaseerde sentrums waar ‟n wye verskeidenheid dienste beskikbaar is, daar ‟n hoër suksessyfer is om gesinne bymekaar te hou, as wanneer die meer tradisionele tipe dienste gelewer word (Pierson, 2002:79,80).

Die feit dat gesinne by ‟n verskeidenheid van dienste by een organisasie of een punt in ‟n gemeenskap kan inskakel, het die voordeel dat die gesin sterker verhoudings kan bou met die maatskaplike werkers en personeel wat betrokke is by dienslewering. Gemeenskapsgebaseerde dienste beteken dat maatskaplike werkers en ander personeel wat betrokke is by gesinsondersteuningsdienste bewus moet wees van die bronne wat in ‟n

spesifieke gemeenskap bestaan. ‟n Begrip moet verder ontwikkel word vir die kind en gesin binne ‟n bepaalde gemeenskap, asook die opvoedingspatrone en bestaande tradisies, sodat hulle in staat is om toepaslike ondersteuningsprogramme te ontwikkel, wat bydra tot die bou van die gemeenskap (Weissbound & Kagan, 1991:25).

3.4.3 Ontwikkeling van sosiale netwerke

Die noodsaaklikheid om hulpbronne of sosiale netwerke en sosiale ondersteuning vir kinders en gesinne te ontwikkel, is ‟n verdere belangrike beginsel van ondersteuningsdienste (Kagan, 1996:158; Lightburn & Kemp, 1994:24; Dunst et al., 1991:23,24; Weissbound, 1991:72). Dit behels dat gesinne as hulpbronne vir hulle eie gesinslede, vir ander gesinne, vir programme, sowel as vir die gemeenskap gesien word (Manalo & Meezan, 2000:414), wat aansluit by die aanname dat ‟n ekologiese perspektief tot dienslewering gevolg word. Die beskikbaarheid van sosiale netwerke is ‟n belangrike element in die versterking van die gesin se vermoë om die kind se ontwikkeling te bevorder (Weissbound, 1987a:53), asook ‟n gevoel vir die gemeenskap te ontwikkel (Lightburn & Kemp, 1994:24). Daarom is die ontwikkeling en die versterking van informele sosiale netwerke die kern van gesinsondersteuningsdienste (Dunst

et al., 1991:25). Die versterking van sosiale netwerke tussen gemeenskapslede het ook tot

gevolg dat die maatskaplike kohesie in die gemeenskap verhoog word (Kubish & Stone, 2001:20), wat uit die aard van die saak ook bydra tot die bou van die gemeenskap.

Intervensies deur maatskaplike werkers moet daarom gerig word op die versterking en die ontwikkeling van die informele ondersteuningsnetwerke vir gesinne, eerder as om slegs te fokus op die formele ondersteuningsnetwerke wat deur professionele persone gebied word, aangesien informele netwerke die moontlikheid van afhanklikheid van professionele en formele sisteme beperk, of verminder. Hierdie bronne of ondersteuningsnetwerke moet ontwikkel word ooreenkomstig die behoeftes van gesinne en moet geïndividualiseer word, asook buigbaar wees om in die veranderende behoeftes van gesinne te voorsien (MacDonald, 2005:285; Pierson, 2002; Manalo & Meezan, 2000:414; Dunst et al., 1991:23).

Volgens Potgieter (1998:28) is die ontwikkeling van bronne of netwerke waar dit nie bestaan nie, asook om die bronne en die behoeftes van kliënte bymekaar uit te bring, een van die doelstellings van maatskaplike werk. Netwerkontwikkeling kan verder inhou dat die omgewing of die gemeenskap waarin gesinne woon, herstruktureer moet word om die lewenskwaliteit van alle inwoners te verhoog. Lightburn en Kemp (1994:24) meen in hierdie verband: “There is an unusual level of congruence between what family-support programs can be and what the social work profession says it should be doing.”

Warren (1997:103) stel voor dat die omvang van die ondersteuningsnetwerke wat ontwikkel word, moet varieer vanaf formele, na informele ondersteuningsbronne. Hy beklemtoon weer eens, soos reeds in die vorige hoofstuk gemeld is, dat ‟n gebrek aan sosiale ondersteuning die risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing verhoog, terwyl ondersteuningsdienste nie net die geleentheid aan ouers en kinders gee om toepaslike rolle te vervul en verantwoordelikheid te neem vir die opvoeding van kinders nie, maar ook sosiale uitsluiting moet voorkom.

3.4.4 Samewerkende verhouding en gedeelde verantwoordelikheid

By die lewering van ondersteuningsdienste moet daar ‟n samewerkende verhouding tussen die maatskaplike werkers en gesinne of gesinslede wees, gebaseer op gedeelde verantwoordelikheid, respek en gelykheid. Hierdie beginsel vorm die kern waardeur groei en verandering plaasvind, aangesien maatskaplike werkers en gesinslede as vennote optree in die identifisering van individuele en gesinsbehoeftes, asook wanneer idees, kennis en vaardighede gedeel word, binne ‟n verhouding wat as gelyk beskou word (Manalo & Meezan, 2000:415, Kagan, 1996:158; Lightburn & Kemp, 1994; Dunst et al., 1991:23; Weissbound & Kagan, 1989:25).

Gesinslede speel ‟n belangrike rol in programme, aangesien hulle vermoëns ontwikkel word om as hulpbronne vir mekaar op te tree, deel te neem aan besluitneming oor die diens wat gelewer word, asook om as advokate vir hulleself in die gemeenskap op te tree (Kagan, 1996:158), en sodoende sosiale uitsluiting verlaag. Hierdie samewerkende verhouding vorm ook die basis vir die ontwikkeling van hulpbronne, of netwerke in die gemeenskap, wat weer die kapasiteit van die gemeenskap uitbou (Manalo & Meezan, 2000:415; Kagan, 1996:158; Lightburn & Kemp, 1994; Dunst et al., 1991:23).

Maatskaplike werkers en personeel wat betrokke is by gesinsondersteuningsprogramme het ‟n belangrike rol om toepaslike bronne en dienste vir kliënte te bekom deur as advokaat en bemiddelaar vir gemeenskapslede op te tree (Manalo & Meezan, 2000:415; Lightburn & Kemp, 1994:20). Slegs as maatskaplike werkers die werklike behoeftes van gemeenskapslede kan vasstel, kan die rol van advokaat effektief vertolk word om die sienings van gemeenskapslede en kliënte te deel met ander gemeenskapsorganisasies, soos skole, kerke en besighede. Volgens Saleeby (2002:16) is ‟n verhouding wat deur samewerking gekenmerk word, ‟n belangrike voorvereiste vir maatskaplike werkers om te bepaal wat die werklike behoeftes van kliënte is, sodat die rol van advokaat doeltreffend kan wees. Die belangrikheid van die daarstelling van ‟n samewerkende verhouding beklemtoon dat ‟n sterkte-gebaseerde

aanname tot dienslewering gevolg moet word, waar maatskaplike werkers en die gesin

mekaar as vennote beskou.

3.4.5 Verhoging van ouerskapsvaardighede

Die verhoging van ouerskapsvaardighede deur ouerleiding te bied en die verskaffing van inligting oor menslike ontwikkeling is ‟n verdere beginsel van ondersteuningsprogramme. Die opvoeding van ouers word gesien as ‟n kernelement van programme of dienste (Kagan, 1996:158; Cole, 1995:165), wat die aanname dat ouers oor die kapasiteit beskik om in

ouerskap te groei en te ontwikkel, onderskryf. Alhoewel ouerskap as ‟n belangrike

samelewingsfunksie erken moet word by die lewering van gesinsondersteuningsdienste moet besef word dat die eise wat aan ouers gestel word, na gelang van die lewensfases van kinders verander (Manalo & Meezan, 2000:414; Kagan, 1996:158; Zigler & Black, 1989:12). Dit beteken dat hierdie aspek by gesinsondersteuningsprogramme in gedagte gehou moet word om te verseker dat dienste ontwikkel word wat oor alle lewensfases strek, ten einde die gesin in hulle veranderende oueropvoedingsrol by te staan (Weissbound, 1987a:53).

3.4.6 Vrywillige deelname

Ouers se deelname aan die gesinsondersteuningsprogram moet vrywillig wees en die behoefte aan ondersteuning en inligting moet beskou word as ‟n sterkte en nie as aanduidend van tekortkominge of ‟n probleem nie (Kagan, 1996:158; Lightburn & Kemp, 1994). Hierdie beginsel dui volgens Weissbound en Kagan (1989:26) op ‟n belangrike verskil in oriëntasie teenoor tradisionele programme, aangesien dit die siening dat slegs “siek” gesinne ondersteuning benodig en dat “gesonde” gesinne nie ‟n behoefte aan ondersteuning het nie, weerlê. Vir gesinne wat nie oor die verantwoordelikheid beskik om op ‟n vrywillige basis deel te neem nie, behoort ‟n meer gestruktureerde groepsituasie ontwikkel te word, aangesien gesinsondersteuningsdienste juis ten doel het om die verskillende behoeftes van gesinne en individue te akkommodeer. Hierdie beginsel sluit aan by die aanname dat die ontwikkeling

en welsyn van kinders ‟n verantwoordelikheid is wat primêr binne die gesin geleë is en

dat ouers waar moontlik aangemoedig moet word om vrywillig deel te neem aan die dienste en bronne wat beskikbaar is, om sodoende hulle verantwoordelikheid ten opsigte van kinderopvoeding na te kom.

3.4.7 Erkenning van kulturele diversiteit

Die kulturele diversiteit van gesinne moet as ‟n sterkte beskou word (Manalo & Meezan, 2000:415; Kagan, 1996:158) en die gesin se integriteit moet beskerm word (Dunst et al.,

1991:22,23). Die beskerming van die gesin se integriteit omvat volgens Hobbs et al. (1984) die beskerming van individuele gesinslede teen mishandeling en verwaarlosing deur ondersteuningsnetwerke en -bronne te skep, wat die risiko-faktore vir die voorkoms daarvan verminder. Dit beteken dat ondersteuningsdienste en hulpbronne die bestaan van stabiele verhoudings tussen alle gesinslede moet nastreef en in stand moet hou, sodat herstellende maatreëls voorkom word (Dunst et al., 1991:24). Dienslewering aan gesinne moet gekenmerk word deur die beskerming en die aanvaarding van die gesin en gemeenskap se kulturele waardes en beginsels, omdat dit as waardevol beskou word (Manalo & Meezan, 2000:415) wat ooreenstem met die etnies sensitiewe perspektief. Hierdie beginsel is ook nou verwant aan die aanname dat ‟n ekologiese perspektief tot dienslewering gevolg moet word, waar aangeneem word dat die gemeenskap ‟n invloed het op die gesin se lewe en dat maatskaplike werkers daarom ‟n sensitiwiteit vir die gesin en gemeenskap se kultuur moet toon.

3.4.8 Ontwikkeling van gesin se sterktes

Intervensie moet gerig wees op die ontwikkeling van die gesin se sterktes ten einde elkeen se funksionering te verhoog, eerder as te fokus op hulle swakhede of tekortkominge. Dit geskied deur hulle te bemagtig om in hulle eie behoeftes te voorsien (Manalo & Meezan, 2001:415; Dunst et al., 1991:24; Kagan & Shelley, 1987:11). Gesinsondersteuningsdienste is gebaseer op die beginsel dat alle gesinne oor die eienskappe en die sterktes beskik om vriendskappe te ontwikkel, bande met ander groepe te vestig en baat te vind by advies en inligting. Hierdie tipe ondersteuning bemagtig gesinne deur hulle vermoëns te kweek om onafhanklik te funksioneer, asook interafhanklik te wees (Weissbound & Kagan, 1989:23; Weissbound, 1987a:53). Hulpbronne en dienste wat beskikbaar is, moet die gesin se vermoëns tot besluitneming oor die dienste wat hulle ontvang, verhoog om weer eens onafhanklike funksionering te bevorder (Manalo & Meezan, 2000:414; Cole, 1995:165; Dunst

et al., 1991:24).

Hierdie beginsel van gesinsondersteuningsdienste is ook belangrik by die sterkteperspektief (Saleeby, 2002) en bevestig dat ‟n sterkte-gebaseerde aanname tot dienslewering gevolg moet word. Wanneer ‟n gesin se sterktes ontwikkel word, moet maatskaplike werkers, volgens Saleeby (2002:14) werklik geïnteresseerd wees om te luister na kliënte of ouers, respek openbaar vir die feit dat hulle oor sekere kennis beskik, en die vertroue openbaar dat ouers kan ontwikkel deur die hulpbronne in hulle omgewing te benut.

Die voorafgaande bespreking toon dat indien die doel van gesinsondersteuningsdienste bereik wil word, maatskaplike werkers en welsynsorganisasies programme moet ontwikkel wat die

aannames en beginsels van hierdie tipe diens ondersteun. In figuur 3.1 word ‟n skematiese voorstelling gegee van hierdie aannames en beginsels wat geïmplementeer moet word.

Figuur 3.1: Skematiese voorstelling van doel, aannames en beginsels van gesinsondersteuningsdienste

DOEL VAN GESINSONDERSTEUNINGSDIENSTE

Gemeenskapsgebaseerde voorkomende aktiwiteite wat ontwikkel word om

stress by ouers te verlig, asook ouerskapsvaardighede te verhoog om ouers in staat te stel om hulle kinders suksesvol te versorg om kindermishandeling

en -verwaarlosing te voorkom. Hierdie dienste moet ouers verder in staat

stel of bemagtig om ander bronne en geleenthede wat in die gemeenskap bestaan, te benut. Ondersteunende netwerke moet daargestel word wat die kinderopvoedingsvermoëns van ouers sal verhoog en die normale

ontwikkeling van kinders wat in nadelige of ongunstige omstandighede woon sal bevorder, om sodoende te kompenseer vir die sosiale uitsluiting

wat gesinne mag ervaar sosiale uitsluiting wat gesinne mag ervaar.

BEGINSELS  Vrywillige deelname BEGINSELS  Ontwikkeling van gesin se sterktes Same-werkende verhouding en gedeelde verant-woordelikheid tussen maatskaplike werkers en gesinne BEGINSELS  Verhoging van ouerskaps-vaardighede BEGINSELS Gemeen- skaps-gebaseerde dienste BEGINSELS Interafhanklik-heid van kinders, gesin en gemeenskap  Ontwikkeling van hulpbronne  Erkenning van kulturele diversiteit AANNAMES Welsyn van kinders is in gesin gesetel AANNAMES Sterkte gebaseerde dienslewering AANNAMES

Ouers beskik oor kapasiteit om te ontwikkel AANNAMES Voorkomende dienslewering AANNAMES Dienslewering vanuit ekologiese perspektief

Uit figuur 3.1 blyk dit dat die onderskeie aannames en beginsels van gesinsondersteunings-dienste interafhanklik is, maar ook kan oorvleuel. Die aanname dat ouers oor die kapasiteit beskik om te groei en te ontwikkel deur hulle ouerskapsvaardighede te ontwikkel, hou byvoorbeeld ook verband met ‟n sterktegebaseerde aanname tot dienslewering, aangesien ouers bemagtig word om hulle kinders effektief te versorg. In figuur 3.1 is daar egter ‟n rigiede verband tussen sekere beginsels en aannames aangedui om maatskaplike werkers en organisasies in staat te stel om by praktyk implementering ‟n basislyn bepaling te maak van die onderskeie beginsels en aannames wat in ‟n program ingesluit word.