• No results found

6.4 INTENSIEWE GESINSINSTANDHOUDINGSDIENSTE

6.4.2 Inhoud van intensiewe gesinsinstandhoudingsdienste

6.4.2.2 Opvoedkundige en instaatstellende dienste

Die tweede tipe diens wat ooreenkomstig die inhoud van intensiewe gesinsinstandhouding gelewer behoort te word, is opvoedkundige- en instaatstellende dienste. Opvoedkundige en instaatstellende dienste fokus op die ontwikkeling van positiewe ouerskap by die ouers, sowel as die bemagtiging van die gesin om hulle omgewing positief te beïnvloed en self bronne te benut (Berry, 1997:145). Opvoedkundige dienste fokus veral op vaardigheidsontwikkeling,

soos die verhoging van ouerskaps- en finansiële beplanningsvaardighede, asook die aanleer van lewensvaardighede soos kommunikasie- en probleemoplossingsvaardighede. Die verhoging van hierdie vaardighede moet bydra tot die daarstel van ‟n meer positiewe huislike omgewing vir kinders (Dawson & Berry, 2002:298,299; Cash, 2001:44; Fraser et al., 1997:145; Thompson, 1995:150). Opvoedkundige dienste hou ook verband met die bied van ondersteuning deur inligting te verskaf. Hierdie tipe ondersteuning word deur Juby en Rycraft (2004:585) as ‟n belangrike vorm van ondersteuning aan gesinne wat in armoede lewe beskou, aangesien dit individue kan help om hulle krisis beter te verstaan en te hanteer. Amerikaanse navorsing (Cash & Berry, 2003:5; Berry et al., 2000:198; Smith, 1995:13) dui aan dat die aard van opvoedkundige dienste wat deur maatskaplike werkers gelewer is, hoofsaaklik gerig was op oueropvoeding. Spesifieke aspekte wat aangespreek is, was die oordra van algemene opvoedkundige beginsels, die toepassing van effektiewe konsekwente dissipline, die aanleer van versorgingsvaardighede, asook die verskaffing van inligting oor gesinsbeplanning en volwasse skoolopleiding.

Instaatstellende dienste moet volgens Berry (1997:144) die gesin by informele

ondersteuningsbronne soos hulle uitgebreide gesin inskakel, of gesinne in staat stel om vriendskappe in die gemeenskap te sluit wat in die toekoms as ‟n ondersteuningsbron kan dien. Juby en Rycraft (2004:585) dui aan dat sosiale kameraadskap by gesinne wat in armoede lewe aangemoedig moet word, deur hulle by bronne in die gemeenskap in te skakel, sodat hulle gemeenskapslede kan ontmoet wat hulle instaat stel om hulle informele netwerke uit te brei. In die lig van die feit dat sosiale isolasie as ‟n eienskap van hoërisiko-gesinne vir die voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing beskou word (Kotch et al., 1999:313; Alberraccin et al., 1997:614; Polanski et al., 1985:46), moet die uitbreiding van die informele netwerke van die gesin, as net so belangrik beskou word as om ouers se versorgings-vaardighede en selfbeeld te verhoog (Berry, 1997:144).

In die intensiewe gesinsinstandhoudings loodsprojek (Interministerial Committee on Young People at Risk, 1998:27,30) wat in Suid-Afrika onderneem is was ‟n deel van die opgeleide kinderversorgers se taak om die gesin se informele netwerke met hulle uitgebreide gesin, asook die gemeenskap te versterk, sodat hulle in die toekoms in staat sal wees om krisisse te hanteer deur die sosiale ondersteuningsbronne wat opgebou is, te benut. Hulle het ook programme in seksualiteit aan die kinders van hierdie hoërisiko-gesinne aangebied, sowel as ouers se kennis oor ouerleiding uitgebrei. Kinderversorgers het dus opvoedkundige, sowel as instaatstellende dienste aan die gesinne gelewer. In terme van die Suid-Afrikaanse situasie kan ‟n goed gevestigde tuisbesoekprogram soos reeds in hoofstuk 4 beskou is, bydra om die

gesin se netwerke uit te brei, aangesien die doel van die tuisbesoeker is om as ‟n informele bron van ondersteuning vir die gesin op te tree, asook die gesin by te staan in die benutting van bronne in die gemeenskap. Kinderversorgers sou vanweë hulle opleiding dus meer spesifiek aangewend kan word om meer gespesialiseerde opvoedkundige en instaatstellende dienste te verrig, soos om seksualiteitsprogramme aan te bied, asook ouerleiding te doen. Gemeenskapsgebaseerde vrywilligers (tuisbesoekers) kan benut word om meer algemene konkrete take te verrig, soos om die gesin by te staan om huiswerk te doen en as vriend op te tree.

Indien dit nie moontlik is om die gesin se informele ondersteuningsbronne uit te brei nie, moet dienslewering sterker gerig word op die inskakeling van die gesin by meer formele ondersteuningsbronne. Formele sosiale ondersteuning vorm ‟n verdere belangrike deel van intensiewe gesinsinstandhoudingsdienste en behels dat die gesin bemagtig word om kontak te maak en in te skakel by bestaande programme in die organisasie of in die gemeenskap, wat ondersteuning kan bied (Berry, 1997:144,145). Die doel van inskakeling by programme en gemeenskapsgebaseerde instansies is hoofsaaklik sodat daar aanvullende en deurlopende ondersteuning aan die gesin gebied kan word (Cash, 2001:51). Hierdie tipe programme kan die benutting van dagsorgsentrums en skole insluit, asook inskakeling by weeklikse ondersteuningsgroepe en voortgesette volwasse onderrig, soos byvoorbeeld dagversorging-sentrums en weeklikse ondersteuningsgroepe (Berry, 1997:145).

Ten opsigte van die inskakeling van die gesin by semi-formele en formele ondersteuningsbronne sou opgeleide kinderversorgers of vrywilligers in Suid-Afrika benut kan word om ouers te vergesel na die diens, asook reëlings te tref vir hulle inskakeling by die betrokke diens. ‟n Aspek wat die inskakeling van gesinne by bestaande bronne in die gemeenskap beïnvloed is die feit dat daar dikwels in Suid-Afrika beperkte ondersteuningsbronne in gemeenskappe bestaan wat die sukses van intensiewe gesinsinstandhoudingsdienslewering, beïnvloed. Verder dui Van den Berg en Weyers (2004:351) se navorsing daarop dat daar ‟n gebrek aan deurlopende gemeenskapswerk-projekte by die organisasies wat in hulle studie betrek is, bestaan het. Gesien in die lig van die voorafgaande, behoort maatskaplike werkers in Suid-Afrika veral te probeer om vanuit ‟n ontwikkelingsgerigte perspektief bronne te skep en programme te implementeer wat deurlopende gesinsondersteuning bevorder, soos byvoorbeeld dagversorging en ouerleidingsgroepe, wat onder andere in hoofstuk 5 beskou is, aangesien hierdie bronne benodig word vir die lewering van effektiewe gesinsgesentreerde of vroeë intervensiedienste.