• No results found

5.3 TIPES GESINSENTRUMS

5.3.1 Kliëntgesentreerde benadering of sentrum

Dienslewering vanuit kliëntgesentreerde sentrums is hoofsaaklik gerig op gesinne waar

daar ‟n hoë risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing bestaan. Gesinne word gewoonlik deur maatskaplike werkers wat statutêre dienste lewer, na die sentrum verwys. Hierdie verwysing word gedoen omdat die gesin as ‟n hoërisiko-gesin beskou word, vanweë kindermishandeling en -verwaarlosing wat alreeds plaasgevind het, of omdat die potensiaal daarvoor bestaan (Pithouse et al., 1998:55; Holman, 1988:162). Die sentrum is nie oop vir alle gemeenskapslede nie, alhoewel gesinne van nabygeleë gemeenskappe wat verwys word, ook geakkommodeer word (Holman, 1988:163).

Hierdie tipe sentrum word ook beskou as die maatskaplikewerk-kinderbeskerming

gesinsentrum (Ghate et al., 2000:6; Cannan, 1992:31), waar die fokus sterk gerig is op die

te verminder en sodoende verwydering van kinders uit die gesin te voorkom (Pithouse et al., 1998:55). Daar word van gesinne verwag om die aktiwiteite by die sentrum by te woon as deel van ‟n spesifieke ooreenkoms (Ghate et al., 2000:8; Pithouse et al., 1998:76) tussen die welsynsorgansisasie en die gesin. Dit beteken dat indien bywoning nie geskied nie, kinderhofverrigtinge geopen kan word en die kind verwyder kan word. Die ooreenkoms hou in dat daar duidelike reëls bestaan oor deelname aan die dienste wat gelewer word, asook duidelike gevolge indien daar nie deelgeneem word aan die intervensieplan nie (Pithouse et

al., 1998:76).

Aktiwiteite en die benutting van hulpbronne in die sentrum is gerig op ‟n spesifieke diens en

omdat die gesinne verwys word vanweë die risiko wat vir kindermishandeling en -verwaarlosing bestaan, is aktiwiteite soos individuele berading en groepwerk gewoonlik gerig op gesinne wat kinders onder die ouderdom van vyf jaar het (Holman, 1988:163). Slegs

professionele personeel bied die program aan, wat tot gevolg het dat ‟n baie spesifieke

program met gesinne gevolg word wat spesifieke professionele vaardighede vereis in berading en groepwerk, byvoorbeeld spelterapie (Holman, 1988:163). Algemene ondersteuning en advies word ook gegee, terwyl kinders ingeskakel word by speelgroepe en byvoorbeeld ook toegang het tot speelgoedbiblioteke (Pithouse et al., 1998:64), asook dagsorgfasiliteite en versorgingsfasiliteite vir kinders wanneer ouers berading ontvang (Ghate et al., 2000:53-55). Ouers het daarby baat gevind om hulle probleme te deel met ander gesinne met dieselfde probleme, terwyl die beskikbaarheid van dagsorg veilige versorging aan kinders gebied het wanneer gesinne ‟n krisis ondervind (Holman, 1988:163).

Die bestuur van die sentrum is gerig op professionalisme, eerder as op deelname vanuit die gemeenskap, wat beteken dat plaaslike inwoners nie leidende rolle as vrywilligers, of as voltydse komiteelede beklee nie (Holman, 1988:163). Professionele hulp word gerig op ‟n klein getal kliënte wat verwys word as gevolg van ernstige probleme (Ghate et al., 2000:54; Holman, 1988:163) en dus nie op gemeenskapsontwikkelingsdienste nie. Skrywers (Batchelor

et al., 1999:205; Holman, 1988:163) is dit egter eens dat die kliëntgesentreerde sentrum se

grootste nadeel geleë is in die feit dat dit nie oop is vir alle gemeenskapslede nie en dat gesinne gestigmatiseer word deur aktiwiteite by die sentrum by te woon. Die feit dat die sentrum nie ‟n wye verskeidenheid aktiwiteite aanbied nie, asook dat ouers nie inspraak het in die tipe dienste en aktiwiteite wat gelewer word nie, het verder tot gevolg dat gemeenskapslede die sentrum nie as ‟n bron in die gemeenskap beskou nie.

Pithouse et al. (1998:59) argumenteer ten gunste van die kliëntgesentreerde sentrum aangesien sekere gesinne onder sekere omstandighede sterk gefokusde maatskaplikewerk- intervensie benodig om verandering in die verhoudings, houdings en gedrag van hierdie gesinne te bewerkstellig, asook te verseker dat die kind beskerm word en die gesin in stand gehou word. In hierdie omstandighede het die tevredenheid of die ontevredenheid van die kliënt met dienslewering min te doen met die aard van intervensie wat deur die maatskaplike werker voorgestel word. Alhoewel hierdie siening in stryd is met die huidige uitgangspunte in maatskaplike werk wat ‟n vennootskap tussen maatskaplike werkers en kliënte, bemagtiging en selfbeskikkingsreg beklemtoon, moet aanvaar word dat stigmatisering, ongemak en ‟n gebrek aan mag onafwendbaar is vir kliënte wat van spesialisdienste gebruik moet maak, veral waar intervensie gerig is op die assessering en monitering van kindermishandeling en -verwaarlosing. Navorsing oor die effektiwiteit van hierdie tipe sentrum word vervolgens bespreek, waarna die dienste in terme van die Suid-Afrikaanse situasie geëvalueer word.

5.3.1.1 Navorsing oor kliëntgesentreerde sentrum

Pithouse et al. (1998:64,78,81) het navorsing onderneem waarin die effektiwiteit van ‟n maatskaplikewerk-kinderbeskermingsentrum, vergelyk is met die effektiwiteit van maatskaplike werkers wat veldwerk doen met gesinne waar die risiko vir die verwydering van die kinders hoog is. Die rede vir hierdie tipe navorsing was om te bepaal of die lewering van dienste vanuit ‟n gesinsentrum enigsins die status van gesinne se betrokkenheid in die kinderbeskermingsisteem beïnvloed, aangesien sentrumgerigte en veldwerkdienste sterk ooreenkomste toon. Albei dienste se fokus was op kinderbeskermings- en gesins- instandhoudingsdienste. Maatskaplike werkers wat by albei dienste betrokke was het gevallewerk, gesinsberading, groepwerk en materiële ondersteuning en advies aan gesinne gebied, terwyl die gesinne betrek kon word by dieselfde ondersteuningsdienste wat in die gemeenskap bestaan het. Gesinne het uit dieselfde gemeenskappe waar daar ‟n hoë voorkoms van werkloosheid was, gekom.

‟n Belangrike verskil was dat die veldwerkers hoër gevalleladings gehad het as die sentrumwerkers en onder andere ook verantwoordelik was vir nuwe ondersoeke na kindermishandeling en -verwaarlosing, voorbereiding van kinderhofverslae, kinderhofsake, keuring van pleeg- en aanneemouers, asook vir die reël van konkrete ondersteuning aan gesinne. Hierteenoor was die verantwoordelikheid van die maatskaplike werkers in die sentrum slegs om die beplande intervensie te implementeer. Dienste by die sentrum was korter en meer intensief en het behels dat ouers (wat die mans wat by die gesin woon ingesluit

het), vir ‟n periode van drie tot vier dae ‟n week, vir ses weke tot ‟n jaar, vir intervensie ingeskakel het. Indien die intervensie oor langer periodes geskied het, was gesinne se betrokkenheid by die sentrum se aktiwiteite hoër by die aanvang van dienslewering, as wanneer dienslewering naby terminering was. Gesinne wat die intervensieplan by die sentrum bygewoon het, het steeds die dienste van hulle veld maatskaplike werkers behou, alhoewel hierdie werkers se insette baie verminder het in die tydperk wat die gesinne die sentrumdienste bygewoon het. Hierteenoor was die veldwerkers vir ‟n jaar betrokke by die onderskeie gesinne, wat gewoonlik drie besoeke ‟n maand ontvang het, maar gevarieer het na aanleiding van die omstandighede van die gesin en die gepaardgaande risiko vir skade by die kinders.

Na ‟n jaar is gevind dat nie een van die gesinne wat die sentrumdienste bygewoon het, meer as ‟n hoë risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing beskou is nie, terwyl nie een van die gesinne wat slegs dienste van die veldwerker ontvang het, se hoërisiko-status verander het nie. Gesinne wat die sentrum bygewoon het, het aangedui dat hulle dit verkies het om die sentrum by te woon, omdat dit meer privaat was, aangesien tuisbesoeke deur maatskaplike werkers as meer stigmatiserend beskou is. Sentrumdienste het aan ouers die geleentheid gegee om aktiwiteite by te woon sonder onderbrekings, asook om weg van die huis te ontspan. Ouers het aangedui dat hulle positiewe veranderinge ervaar het in hulle selfbeeld, hulle selfvertroue verhoog het, asook beter verhoudings met hulle lewensmaats en kinders gehandhaaf het. Die sentrum is ook as ‟n bron beskou wat hulle in die toekoms weer sal benut. Maatskaplike werkers wat gesinne kon verwys na die sentrum het die diens as baie waardevol in die lewering van kinderbeskermings- en gesinsinstandhoudingsdienste, beskou.

Gesinne wat slegs veldwerkdienste ontvang het, kon nie spesifieke veranderinge identifiseer wat plaasgevind het nie en het materiële ondersteuning as die belangrikste bron van ondersteuning, geïdentifiseer. Veranderinge in houdings en gedrag in terme van ouerskap, het beduidend meer voorgekom by gesinne wat die sentrum bygewoon het, terwyl die gesinne wat slegs veldwerkdienste ontvang het, deelname aan dienste eerder beskou het as ‟n strategie om die verwydering van hulle kinders te voorkom. Die inligting wat bekom is uit die onderhoude wat die maatskaplike veldwerkers met die gesinne gevoer het, bied nie duidelike redes vir die bogenoemde bevindings nie, maar twee moontlike redes word uitgelig.

Eerstens blyk dit dat die geleentheid vir intensiewe terapeutiese dienste deur die veldwerkers altyd beïnvloed is deur ander dienste wat as belangriker beskou is, soos ondersoeke na kindermishandeling en -verwaarlosing. Tweedens is hierdie maatskaplike werkers hoofsaaklik

beskou as persone wat die mag het om hulle kinders te verwyder, eerder as dat hulle ‟n ondersteunende en instaatstellende rol vertolk, soos wat die maatskaplike werkers by die sentrum deur hulle kliënte beskou is. Dit wil voorkom asof goedbeplande gereelde kontak met ouers sterker bydra tot positiewe verhoudings en motivering by kliënte. Die skrywers argumenteer dat hoërisiko-gesinne toegang tot ‟n kombinasie van veldwerkerdienste en gespesialiseerde sentrumgebaseerde dienste moet hê, aangesien die navorsing aandui dat gesinne wat nie toegang tot ‟n sentrum het nie, dit onmoontlik gevind het om hulle hoërisiko-status in terme van kindermishandeling en -verwaarlosing te verander. ‟n Belangrike aspek wat uit die navorsing na vore kom en wat in die volgende hoofstuk meer omvattend uiteengesit word, is die feit dat hierdie gesinne by sterk terapeutiese dienste betrek is.

In terme van die Suid-Afrikaanse situasie stem die dienste wat deur die veldwerkers gelewer is ooreen met die tipe dienste wat deur maatskaplike werkers by gesinsorgorganisasies gelewer word, aangesien daar met hoër gevalleladings gewerk is en daar pre-statutêre en statutêre werk gedoen word. Dit wil voorkom asof meer intensiewe korttermyndienste in die sentrums gelewer is as deur die veldwerkers, terwyl die feit dat dienslewering aan ‟n duidelike ooreenkoms gekoppel word, moontlik ook deelname verhoog. ‟n Aspek wat in gedagte gehou behoort te word in terme van Suid-Afrika is dat hoërisiko-gesinne terapeutiese dienste of gevallewerkdienste moet ontvang, maar dat die ouers ook by groepsaktiwiteite ingeskakel behoort te word om hulle kinderversorgingsvaardighede te ontwikkel, asook hulle sosiale netwerke uit te brei. Kinders behoort ook ingeskakel te word by ondersteunende aktiwiteite soos speelgroepe en dagversorging. Omvattende dienste aan die hoërisiko-gesin as ‟n eenheid behoort dus gelewer te word, wat ooreenstem met die uitgangspunte in beleidsdokumente (Department of Social Development, 2006a:29; Department of Social Development, 2005:71,72), naamlik dat voorkomende en vroeë intervensiedienste aan gesinne gelewer behoort te word.