• No results found

2.5 EIENSKAPPE VAN HOËRISIKO-GEMEENSKAPPE, GESINNE EN

2.5.1 Eienskappe van hoërisiko-gemeenskappe

2.5.1.1 Armoede, werkloosheid en opvoedkundige vlak

Armoede, werkloosheid en die opvoedkundige vlak van gemeenskapslede is veranderlikes wat verband hou met die voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing in ‟n gemeenskap.

Armoede is ‟n komplekse verskynsel waaroor daar verskillende teorieë bestaan. Vir die doel van hierdie studie word daar nie gefokus op die ontleding van hierdie teorieë, of die bepaling van die oorsake daarvan nie, maar eerder op die feit dat armoede ‟n risiko-faktor is wat teenwoordig is op gemeenskapsvlak wanneer kindermishandeling en -verwaarlosing voorkom. Armoede word geassosieer met kindermishandeling (Frederick & Goddard, 2007:335), maar die voorkoms van armoede beteken nie op sigself dat kinders mishandel sal word nie, alhoewel dit die risiko vir mishandeling verhoog (Lachman et al., 2002:588). Navorsing (Ernst, 2000:570; Coulton et al., 1998:1037; Drake & Pandey, 1996:1012; Garbarino &

Kostelny, 1992:463) dui aan dat daar in gemeenskappe waar ‟n hoë vlak van armoede heers, ‟n hoër voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing is. Alhoewel armoede sterker verband hou met die verwaarlosing van kinders (Connell, Bergeron, Katz, Saunders & Tebes, 2007:580,584) as met fisieke mishandeling (Weissman et al., 2003:1159; Maluccio, Pine & Tracy, 2002:44; Burke, Chandy, Dannerbeck & Watt, 1998:396) of met seksuele mishandeling (Connell et al., 2007:580; Brown et al., 1998:1075; Drake & Pandey, 1996:1012) blyk die voorkoms van enige van hierdie vorms van mishandeling (Brown et al., 1998:1075) hoër te wees in gemeenskappe waar armoede voorkom.

Armoede in gesinne word gewoonlik gedefinieer deur die vasstelling van ‟n armoede-lyn, of die minimum bedrag wat ‟n gesin benodig om te oorleef. Indien ‟n gesin se inkomste laer as die vasgestelde bedrag is, word dit beskou dat die gesin in armoede leef. Die armoede-lyn verskil in gesinne afhangende van die gesinsgrootte en die ouderdomsverspreiding in die gesin. Jones en Nelson (2000:10) beskou hierdie definiëring as ‟n beperkte perspektief op armoede, aangesien die wyer omvang van die kwessies wat die arm gesin in die gesig staar, soos die sosiale, gesondheids- en opvoedkundige aspekte van armoede, nie in ag geneem word nie. Hulle meen dat armoede meer omvattend gedefinieer moet word, aangesien ‟n hoër inkomste in ‟n arm gesin, nie al die probleme wat die gesin ervaar, sal oplos nie. Indien armoede meer omvattend gedefinieer word, moet die kwalitatiewe invloed wat armoede op gesinslede het, ook in ag geneem word. Hier word onder andere verwys na die gebrek aan mag wat individue vanweë armoede ervaar, hulle isolasie, sowel as sosiale uitsluiting wat daarmee gepaard gaan en die verwaarlosing wat kan ontstaan.

Alhoewel die armoede-lyn as ‟n beperkte maatstaf vir die bepaling van armoede beskou kan word, het die inkomste van ‟n gesin wel ‟n beduidende invloed op die risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing. Gesinne met ‟n gemiddelde inkomste onder die armoede-lyn, het ‟n hoër risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing getoon, soos blyk uit navorsing (Weissman et al., 2003:10; Chaffin et al., 2001:276; Brown et al., 1998:1075). Verdere risiko-faktore vir kindermishandeling en -verwaarlosing wat verband hou met gesinsinkomste, is of die gesin hulp ontvang in die vorm van bestaansbeveiliging vir gesinne met kinders (Connell et al., 2007:584; Chaffin et al., 2001:1276; Keller & McDade, 2000:297; Kotch, Browne, Dufort, Winsor & Catellier, 1999:307; Kotch, Browne, Ringwalt, Stewart, Ruina, Holt, Lowman & Jung, 1995:1122), wat dikwels nie hierdie gesinne se lewenskoste dek nie (Green, 2000:288). Lae opvoedkundige kwalifikasies van ouers word ook herhaaldelik in navorsingstudies (Chaffin et al., 2001:1276; Kotch et al., 1999:307; Brown et

al., 1998:1075) as aanduidend van ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en

-verwaarlosing bevestig.

In Suid-Afrikaanse gemeenskappe kom grootskaalse armoede voor. Volgens die Witskrif vir Welsyn (Ministry for Welfare and Population Development, 1997:3) leef ongeveer ‟n derde (35,2%) of 18 miljoen van die bevolking in armoede. Dit beteken dat ongeveer die helfte (54%) van die kinders in Suid-Afrika in armoede leef. Volgens Barnes, Wright, Noble en Dawes (2007:11,21) ervaar 81% van die kinders in Suid-Afrika materiële verwaarlosing, aangesien hulle in huishoudings leef waar die inkomste laag is. Hierdie kinders loop potensieel die gevaar om dan verwaarloos en mishandel te word, soos reeds aangedui. Huishoudings in Suid-Afrika waar die grootste armoede voorkom, is by die Swart bevolkingsgroep, asook by enkelouers en in plattelandse gebiede. ‟n Verdere belangrike aspek is die toename in die voorkoms van huishoudings wat een of ander vorm van bestaansbeveiliging ontvang (Casale & Desmond, 2007:85), aangesien die ontvang van bestaansbeveiliging herhaaldelik in navorsing (Connell et al., 2007:584; Chaffin et al., 2001:1276; Keller & McDade, 2000:297; Kotch et al., 1999:307; Kotch et al., 1995:1122) as ‟n risiko-faktor vir kindermishandeling en -verwaarlosing aangedui is.

(a) Werkloosheid en vlak van opleiding

Volgens beleidsdokumente (Witskrif vir Welsyn, Ministry for Welfare and Population Development, 1997:3; Department of Social Development, 2004a:17) bestaan daar ‟n noue verband tussen armoede, werkloosheid en die vlak van opleiding in ‟n gemeenskap. In Suid-Afrika kom grootskaalse werkloosheid in die formele sektor van die ekonomie voor, aangesien werksgeleenthede aan slegs die helfte van die werksmag gebied word. Die voorkoms van werkloosheid is veral hoog onder mense wat nie ‟n betrekking in die formele sektor kan bekom nie, waarvan die grootste gedeelte in hierdie groep onder 24 jaar oud is. Volgens Casale en Desmond (2007:86) toon ‟n ontleding van statistiek in Suid-Afrika dat huishoudings met ‟n gesinslid wat ‟n inkomste uit ‟n betrekking bekom, afgeneem het in die tydperk vanaf 1995 tot 2003. Dit word onder andere toegeskryf aan verhoogde werkloosheidsvlakke, asook aan ‟n daling in die gemiddelde lone wat werkende persone ontvang. Volgens Viljoen en Levin (2000:46) se onderskeiding van die verskillende tipes werkloosheid wat kan voorkom, word Suid-Afrika grootliks gekenmerk deur strukturele werkloosheid. Hierdie tipe werkloosheid word beskou as langdurig (langer as 24 weke) en is die gevolg van ‟n gebrek aan die nodige vaardighede wat vereis word vir die beskikbare

werksgeleenthede. Barnes et al. (2007:12,22) dui aan dat 50% van die kinders in Suid-Afrika in huishoudings woon waar geen persoon bo die ouderdom van 18 jaar ‟n werk het nie.

Die vaardighede of die vlak van opleiding waaroor gemeenskapslede beskik, bepaal toegang tot werksgeleenthede en ‟n bepaalde inkomste. In Suid-Afrika is daar ‟n noue verband tussen armoede en gebrekkige opleiding. Die vlak van gebrekkige opleiding word geïllustreer deur die feit dat ‟n groot aantal van die Suid-Afrikaanse bevolking ongeletterd is. Ongeveer 27% van die bevolking in stedelike areas, en 50% in plattelandse omgewings, is ongeletterd (Witskrif vir Welsyn, Ministry for Welfare and Population Development, 1997:3). Hierdie situasie het ‟n direkte invloed op hulle sosio-ekonomiese status en die aard van die gemeenskap waarin hulle hulle bevind (Department of Social Development, 2004a:21). In ‟n studie wat deur Loots (1997:29) onderneem is, is bevind dat 68% van die werklose persone in Suid-Afrika jonger as 34 jaar oud is en dat 51% van hierdie groep ongeletterd is (ongeletterdheid is in hierdie studie beskou as ‟n skoolopleiding laer as graad 9). Ses-en-negentig persent van die respondente wat werkloos was, het geen naskoolse opleiding gehad nie. Die opvoedkundige vlak van werklose persone is dus ook laag.

(b) Opvoedkundige vlak

Die belangrikheid van naskoolse opleiding word beklemtoon deur die feit dat die grootste groei in werksgeleenthede in Suid-Afrika in professionele beroepe en bestuursposisies voorkom, wat beteken dat die moontlikheid om ‟n werk te bekom al meer afhanklik raak van die opvoedkundige vlak van, of die opvoedkundige kwalifikasies waaroor, ‟n persoon beskik. Dit beteken dat diegene wie se opvoedkundige vlak laag is en wat tans nie oor ‟n opvoedkundige kwalifikasie beskik nie, verder geïsoleer word, omdat hulle geleenthede om ‟n werk in die formele sektor van die ekonomie te bekom, al kleiner raak (The State of South Africa‟s Population Report, 2000:20).

Werkloosheid en die gebrek aan opvoedkundige kwalifikasies kan in Suid-Afrika ook in verband gebring word met vroeë skoolverlating. Volgens die Finale Konsep Nasionale Beleid vir Gesinne (2004a:11) is daar ‟n groot aantal kinders tussen die ouderdom van ses en 15 jaar wat nie skool bywoon nie, terwyl vroeë skoolverlating as ‟n wesenlike probleem beskou word, en toegeskryf word aan armoede of onstabiliteit in die gesin. Barnes et al. (2007:12,23), dui aan dat 24% van die kinders in Suid-Afrika nie in die regte graad vir hulle ouderdom is nie, asook dat 6% van kinders glad nie skoolgaan nie. Maluccio et al. (2002:36) identifiseer vroeë skoolverlating as ‟n risiko-faktor wat ‟n oorsaak, sowel as ‟n gevolg van armoede in

hoërisiko-gemeenskappe is. ‟n Oorsaak van vroeë skoolverlating kan wees dat kinders nie ‟n graad suksesvol voltooi nie en gevolglik die jaar moet herhaal. Kinders wat meer as twee grade in hulle skoolloopbaan moet herhaal, het ‟n beduidende hoër risiko om die skool vroeg te verlaat en nie hulle hoërskoolloopbaan te voltooi nie. Hierdie risiko word verder verhoog by kinders in skole met ‟n gebrek aan die nodige mannekrag, asook onvoldoende hulpbronne vir remediërende onderwys.

In Suid-Afrika blyk daar ‟n hoë voorkoms van vroeë skoolverlating te wees, as Loots (1997) se bevinding dat 51% van die werklose persone onder 34 jaar die skool voor graad 9 verlaat het, ontleed word. In graad 9 is ‟n kind wat elke jaar van sy skoolloopbaan suksesvol voltooi het, 15 jaar oud. Die Suid-Afrikaanse Skolewet (Nr 84 van 1996; Republic of South Africa, 1996a) bepaal dat ‟n kind skoolpligtig is totdat hy/sy 15 jaar oud is, of graad 9 bereik het, watter een ook al eerste gebeur. Hierdie wet bepaal verder dat geen kind toegang tot die skool geweier mag word omdat sy ouers nie die skoolfonds kan betaal nie. Kinders in Suid-Afrika verlaat dus nie die skool omdat hulle ouers nie die fooie kan bekostig nie. Hulle kan wel die skool verlaat omdat hulle nie skolasties vorder nie, vanweë die gebrek aan ondersteuningsisteme in hoërisiko-gemeenskappe, sowel as ‟n gebrek aan ondersteuning deur die gesin. Kinders kan ook besluit om die skool te verlaat om die gesinsinkomste aan te vul, aangesien wetgewing (Republic of South Africa, 1997: Wet nr 75 van 1997, Art 44(1)) bepaal dat ‟n persoon vanaf die ouderdom van 15 jaar die arbeidsektor kan betree.

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die risiko-faktore vir die voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing, soos armoede, werkloosheid en lae opvoedkundige kwalifikasies op ‟n omvattende vlak in die Suid-Afrikaanse samelewing voorkom. Dit beteken dat die voorkoms van kindermishandeling en veral kinderverwaarlosing in gemeenskappe waar hierdie risiko-faktore teenwoordig is, hoër sal wees, omdat verwaarlosing soos reeds bespreek, sterker in verband gebring word met armoede, of lae gesinsinkomste.