• No results found

3.6 GESINSONDERSTEUNINGSDIENSTE EN KOMPONENTE VAN SOSIALE

3.6.1 Armoede, lae inkomste en gebrekkige toegang tot arbeidsmark

Soos reeds in die eerste hoofstuk beskryf, word Suid-Afrikaanse hoërisiko-gemeenskappe en die gesinne wat in hierdie gemeenskappe woon, gekenmerk deur armoede vanweë lae opvoedkundige kwalifikasies wat ‟n gebrekkige inkomste of werkloosheid tot gevolg het. Hierdie situasie gee aanleiding tot sosiale uitsluiting en swak maatskaplike kohesie in

gemeenskappe. Spencer en Baldwin (2005:29) dui aan dat alhoewel sosiale uitsluiting gewoonlik op gesinsvlak ervaar word, dit gewoonlik die oorsaak is van die ekonomiese en opvoedkundige faktore wat in die samelewing aanwesig is. Aksies om sosiale uitsluiting aan

te spreek moet volgens Pierson (2002:167) gerig word op die fisiese, sowel as die sosiale struktuur van die gemeenskap. Kubisch en Stone (2001) is van mening dat die enigste

manier om gemeenskappe op te bou en sosiale uitsluiting te verminder, is om onder andere aandag te gee aan die fisiese infrastruktuur van die gemeenskap, asook plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bevorder. Die veiligheid van die gemeenskap, ongelykhede in gesondheid, sowel as die opvoedingsvlak in die gemeenskap, moet ook aangespreek word.

Skrywers (Gilligan, 2002:19; Weissbound, 1991:70) is dit eens dat gesinsondersteunings-dienste nie beskou moet word as die oplossing, of die antwoord vir gemeenskapsbehoeftes soos armoede, lae inkomste, werkloosheid, of ontoereikende opvoedingsgeleenthede nie. Gesinsondersteuningsdienste is die doeltreffendste as dit gekombineer word met ander tipes dienste. Effektiewe gesinsondersteuningsdienste behels ‟n inklusiewe visie waarby elemente van ‟n wye verskeidenheid velde, soos volwasse opvoeding, gemeenskapsontwikkeling, vroeë kinderjare dienste en werkskepping betrokke is. Verder moet dissiplines soos maatskaplike werk, justisie en onderwys, gesamentlik onderneem word om gesinsondersteuning te bevorder (Gilligan, 2000:28).

Die betrokkenheid van ‟n wye verskeidenheid dissiplines en velde by gesinsondersteuning is in ooreenstemming met die Finale Konsep Nasionale Beleid vir Gesinne (Department of Social Development, 2004a:6,35,36,39) se doel om ‟n geïntegreerde diensleweringsisteem daar te stel wat gesinne sal ondersteun ten einde gesinsdisintegrasie te voorkom. Hierdie diensleweringsisteem moet gebou word deur intersektorale samewerking op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak en behels dat vennootskapsooreenkomste met die privaatsektor aangegaan word om geïntegreerde dienslewering aan gesinne te bewerkstellig. Daar word aangedui dat die Regering, en spesifiek die Departement van Onderwys en Landbou verantwoordelikheid moet neem vir programme wat armoede verlig en werkloosheid bekamp, beroepsvoorligting doen en entrepreneursvaardighede ontwikkel, wat die beginsel van intersektorale samewerking bevestig. Daar is egter geen aanduiding van hoe en wanneer hierdie aksies geneem moet word nie. Belangrike aspekte wat nie ingesluit word nie, is onder andere die vroeë kinderjare opvoeding van kinders en die hoë syfer van vroeë skoolverlating, asook die hoë voorkoms van geweld in gemeenskappe wat ‟n negatiewe invloed op die sosiale

struktuur of die maatskaplike kohesie in ‟n gemeenskap het. Die strukturele oorsake van gesinne se probleme word dus nie aangespreek nie.

Die feit dat intersektorale samewerking beklemtoon word, beteken in die Suid-Afrikaanse situasie dat welsynsorganisasies wat gesinsinstandhoudingsdienste lewer sterker moet

afbaken wat hulle rol en taak is met betrekking tot die gesinne in ‟n gemeenskap, aangesien

daar nie van maatskaplike werkers verwag kan word om deur voorkomende programme aspekte soos armoede, werkloosheid, swak opleiding, vroeë skoolverlating en gemeenskapsgeweld aan te spreek nie. In navorsing (Coulton, 1993:26; Tracy, Green & Bremseth, 1993:23) wat in die VSA onderneem is oor die aard van die probleme en behoeftes van kliënte van kindersorgorganisasies, is bevind dat die stressors van die meeste gesinne, ekonomiese probleme en swak behuisingsomstandighede was. Hierdie stressors dui op groot omgewingsbehoeftes wat buite die beheer van die kindersorgsisteem is (Coulton, 1993) en wat die rol en taak van maatskaplike werkers in intervensie ernstig bemoeilik (Coulton, 1993; Tracy et al., 1993). Hierdie bevinding is ook van toepassing op die Suid-Afrikaanse situasie en word ondersteun deur September (2006:69), wat van mening is dat die meeste gesinne wat in die kindersorgsisteem maatskaplikewerk-dienste moet ontvang, vanweë armoede meer benodig as wat kinder- en gesinsorgdienste veronderstel is om te bied.

‟n Verdere aspek wat in gedagte gehou moet word, is dat die voorkoms van armoede, werkloosheid en lae opvoedkundige kwalifikasies, soos in die Suid-Afrikaanse samelewing, van die belangrikste indikatore vir ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en

-ver-waarlosing is (Weissman et al., 2003:10; Chaffin et al., 2001:276; Kotch et al., 1999:307;

Brown et al., 1998:1075). Die klem op intervensie deur maatskaplike werkers kan gevolglik sterker val op intensiewe gesinsinstandhoudingsdienste as op gesinsondersteunende, of voorkomende dienste, aangesien hulle oorweldig word deur gevalle waar daar ‟n hoë risiko is dat die kind, of kinders in gevaar is. Maatskaplike werkers wat in areas werk met ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing, sou dus minder tyd tot hulle beskikking hê vir gesinsondersteuningsdienste. Tracy et al. (1993:21) beklemtoon dat daar van maatskaplike werkers by kindersorgorganisasies verwag word om eerstens kinderbeskermingsdienste te lewer, maar terselfdertyd die verwydering van kinders te voorkom deur gesinsinstandhoudingsdienste te lewer. Hierdie tweeledige verantwoordelikheid, om ‟n besluit te neem tussen verwydering en dienslewering aan die gesin, is alreeds moeilik en dit word verder gekompliseer deur die sosiale faktore wat in lae-inkomste gemeenskappe teenwoordig is.

Sterk klem word in die Finale Konsep Nasionale Beleid vir Gesinne (Department of Social Development, 2004a:6,35,36,39) geplaas op die feit dat gesinne se primêre verantwoordelikheid is om vir hulle lede te sorg deur beskikbare bronne soos opleiding, werk, inkomste, huishoudelike geriewe en familie en vriendskapsnetwerke, te benut. Soos in die vorige hoofstuk gemeld, beskik die grootste gedeelte van Suid-Afrika se gesinne nie oor hierdie bronne nie, wat dit dikwels vir hulle onmoontlik maak om self hulle gesinslede te versorg. Groot druk word op maatskaplike werkers geplaas om sinvolle intervensiedienste te lewer, te midde van gebrekkige bronne tot hulle beskikking. Hochfeld (2007:83) meen dat slegs middelklas nukleêre gesinne in Suid-Afrika oor die vermoëns beskik om vir hulleself te sorg en dat die Nasionale Gesinsbeleid in hierdie verband nie die hoë vlakke van armoede en werkloosheid wat dit vir gesinne onmoontlik maak om vir hulleself te sorg, in ag neem nie. Leon (1999:15) is van mening, dat alhoewel die samelewing van gesinne verwag om self in hulle kinders se behoeftes te voorsien, hulle dikwels vanweë finansiële stres nie daartoe in staat is nie, asook swak toegerus is, of onbekwaam voel om dit te doen. Bronne in gemeenskappe is dikwels skaars, afwesig, of gefragmenteerd. Dienste wat geïntegreerd is ten

opsigte van gesondheid, geestesgesondheid, opvoedkunde en ontspanning, is noodsaaklik om die welstand van kinders te verseker. Om verandering in kinders en gesinne se

lewensomstandighede te bewerkstellig, moet kliënte van welsynsorganisasies bemagtig en voorsien word van uitgebreide gemeenskapsgebaseerde dienste.

Die ontwikkeling van gemeenskappe deur ondersteuningsdienste en gemeenskapswerk kan nie oorgelaat word aan privaat inisiatiewe en vrywillige welsynsorganisasies alleen (Leon, 1999:15; Cannan & Warren, 1997:17) om die strukturele probleme in gemeenskappe op te los nie (Cannan & Warren, 1997:17). Die staat behoort soos in Frankryk en Duitsland ‟n

statutêre verantwoordelikheid te hê om die gesinslewe te ondersteun. Grondvlak werk moet gekomplementeer word deur programme vanaf regeringsvlak, gerig op sosiale en

ekonomiese ontwikkeling om bronne in gemeenskappe te vestig, asook die basis verskaf vir maatskaplike werkers en ander beroepe om op grondvlak die gemeenskap verder te ontwikkel. Programme soos dagsorg vir kinders, naskoolse versorging en veilige gemeenskappe is die basis vir suksesvolle gesinne, maar benodig finansiering, aangesien vrywillige organisasies dikwels nie oor genoeg finansies beskik om hierdie programme in stand te hou sonder regeringsondersteuning nie (Cannan & Warren, 1997:17). Moroney (1987:35) dui aan dat in ‟n vennootskap tussen die staat en privaat instansies, die staat nie kan verwag dat gesinne versterk moet word, en dat gesinslede meer bevoegde versorgers moet wees bloot deur te

suggereer dat gesinne vir hulleself kan sorg deur betrokkenheid by informele ondersteuningsgroepe nie. Dit is noodsaaklik dat daar sterker aangedring word op finansiële ondersteuning vir ondersteuningsprogramme, om ‟n wisselwerkende vennootskap tussen gesinne en regering tot stand te bring, anders sal al hoe meer gesinne afhanklik raak.

Binne die Suid-Afrikaanse welsynsopset is dit noodsaaklik dat intersektorale samewerking plaasvind sodat ‟n gekoördineerde poging aangewend kan word om sosiale uitsluiting soos gemanifesteer deur armoede, werkloosheid en lae opvoedkundige kwalifikasies aan te spreek. Dit sal behels dat ‟n verskeidenheid van programme op nasionale vlak ontwikkel en geïmplementeer moet word, aangesien die welsynsbegroting tot dusver sterk gefokus het op bestaansbeveiliging (Department of Social Development, 2006a:11; Department of Social Development, 2004b:3) en nie werklik op die daarstel van bronne in gemeenskappe nie. Alhoewel bestaansbeveiliging ‟n belangrike komponent van die Regering se anti-armoede program is, is dit belangrik om te let op die feit dat daar ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing is by gesinne wat bestaansbeveiliging vir kinders ontvang (Chaffin et al., 2001:1276; Keller & McDade, 2000:297; Kotch et al., 1999:307; Kotch et al., 1995:1122). Daar was ‟n toename in ontvangers van die kindertoelaag vanaf 348 532 in April 2000 tot 2,5 miljoen in Februarie 2003 volgens Amoateng en Richter (2007:9). Wanneer dit nodig raak om ‟n groot deel van ‟n welsynsbegroting aan bestaansbeveiliging vir gesinne met kinders af te staan, soos wat tans gebeur, beteken dit dat daar reeds ernstige strukturele probleme in gemeenskappe is wat nie meer deur gewone maatskaplikewerk-dienste opgelos sal word nie.