• No results found

Gesinsondersteuningsdienste in Suid-Afrika moet ontwikkel word ooreenkomstig die areas waar die grootste nood in terme van dienslewering aan kinders en gesinne bestaan. Volgens skrywers (September, 2007:99; Lombard & Kleijn, 2006:225,230; September & Blankenberg, 2004:9) is kinderbeskerming tans die grootste fokusarea in die lewering van kinder- en gesinsorgdienste. Kinderbeskermingsdienste word gelewer om kinders te beskerm terwyl daar terselfdertyd waar toepaslik, probeer word om die gesin in stand te hou. Hierdie dienste word

gelewer deur die Departement Maatskaplike Dienste, sowel as nie-regeringsorganisasies (September, 2007:98; September & Blankenberg, 2004:4,9,10). Volgens Die Witskrif vir Welsyn (Ministry for Welfare and Population Development, 1997:66) moet dienslewering aan gesinne eerstens gerig wees op voorkoming deur gesinsfunksionering te verhoog, voordat kinderbeskermingsdienste gelewer word.

Die doel van kinderbeskermingsdienste is om mishandeling, verwaarlosing en verlating te voorkom en word gelewer binne ‟n statutêre raamwerk. Programme moet gerig word op die beskerming van kinders, asook die bevordering van hulle welsyn, veral kinders in moeilike omstandighede (Department of Social Development, 2006a:32,34). Ooreenkomstig beleidsdokumente (Department of Social Development. 2006a:29; Department of Social Development, 2005:71,72) moet dienste gelewer word op vier vlakke, naamlik voorkoming, vroeë intervensiedienste, statutêre dienste en herintegrasie- en rehabilitasiedienste. Volgens September (2006:71) word die prosedures vir die ontwikkeling en implementering van ‟n kinderbeskermingsisteem in die Nasionale Beleidsraamwerk en Strategiese Plan vir die Voorkoming en Hantering van Kindermishandeling, Verwaarlosing en Eksploitering (2005) omvattend beskryf. Sy is egter van mening dat die uitdaging eerder is om hierdie beleid in die praktyk te implementeer, aangesien daar ‟n gebrek is aan leierskap met gespesialiseerde welsynservaring om beleid te implementeer, te moniteer en te evalueer.

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat kinderbeskerming en gesinsinstandhouding interafhanklik is, aangesien die lewering van gesinsinstandhoudingsdienste (wat gesinsondersteuning insluit) outomaties ook beteken dat kinderbeskermingsdienste gelewer word. Wanneer voorkomende dienste (gesinsondersteuningsprogramme) ontwikkel word, moet daar dus onder andere gefokus word op gesinne in gemeenskappe waar daar ‟n hoë risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing is, of waar dit alreeds plaasgevind het, om ooreenkomstig die bogenoemde beleidsdokumente, statutêre dienste te voorkom.

4.3.1 Rol en taak van die maatskaplike werker by lewering van kinderbeskermings-dienste

Ten opsigte van die rol en taak van die maatskaplike werker by die lewering van kinderbeskermingsdienste word daar in die Nasionale Beleidsraamwerk en Strategiese Plan vir die Voorkoming en Hantering van Kindermishandeling, Verwaarlosing en Eksploitering (2005) onder andere sterk gefokus op die feit dat dienste gekoördineer moet word, asook dat terapeutiese dienste aan die gesin, kind en oortreder gelewer moet word. Indien hierdie terapeutiese dienste nie self gelewer kan word nie, moet verwysings gedoen word na ander

instansies wat die dienste kan lewer, terwyl gesinne ook ingeskakel moet word by hulpbronne en ondersteuningsdienste (Department of Social Development, 2005:82; September & Blankenberg, 2004:12,13). Wanneer kinderhofverrigtinge nie geopen word nie, moet die gesin se omstandighede gemoniteer en geëvalueer word, terwyl ondersteuningsdienste gelewer word. Die identifisering van alternatiewe versorgingsmaatreëls vir kinders wat beskerm moet word, sluit die werwing, opleiding en ondersteuning van veiligheidsouers en residensiële kinderversorgers in (September & Blankenberg, 2004:12,13).

Verdere take van die maatskaplike werker is om voorkomende en ontwikkelingsgerigte aktiwiteite vir die bekamping van kindermishandeling te ontwikkel, asook vrywilligers te werf, te selekteer, op te lei en te ondersteun vir benutting in dienslewering (Department of Social Development, 2005:82). Die rol en taak van die maatskaplike werker is dus ook sterk gerig op die benutting of inisiëring van dienste en bronne om die gesin in stand te hou, aangesien verwydering as die laaste uitweg beskou word. Gesinsinstandhoudings- en kinderbeskermingsdienste word dus gelewer.

Indien ‟n ontwikkelingsgerigte perspektief geïmplementeer word, moet daar gekonsentreer word op die benutting van gemeenskapslede of para-professionele persone om sekere ondersteuningstake, soos advies en bystand te verrig, ten einde gesinne se netwerke uit te brei ooreenkomstig die doel van gesinsondersteuningsdienste. Dat die gemeenskap by kinderbeskermingsdienste deur die benutting van vrywilligers betrek moet word, vorm deel van die inisiatiewe wat vir kinderbeskerming volgens inheemse literatuur (September, 2006:70; September & Blankenberg, 2004:56) op plaaslike vlak ontwikkel moet word. Hierdie aspek sal vervolgens in terme van informele- en semi-formele gesinsondersteunings- dienste beskou word.

4.3.2 Benutting van informele of natuurlike helpers

Informele gesinsondersteuning verwys volgens skrywers (Gardner, 2003:55; Ghate & Hazel, 2002:109; Pierson, 2002:13; Cochran, 1991:46; Ballew, 1985:38) na informele of natuurlike

helpers, soos vriende, bure en familielede wat in die gesin se onmiddellike omgewing hulp

kan bied. Jacques (2000:365) noem dat die tradisionele vorme van versorging in Afrika, soos die uitgebreide gesinsisteem wanneer moontlik gebruik word, maar dat dit al hoe moeiliker raak, omdat hierdie natuurlike netwerke besig is om te disintegreer. Waldfogel (2000:48) is van mening dat die gesinne wat hulp benodig in terme van kinderbeskermingsdienste die kapasiteit van die diensleweringsisteem oorskry en dat daar daarom sterker gefokus moet word op die benutting van informele en natuurlike helpers wat familielede of

gemeenskapslede kan insluit. Hierdie persone kan waardevolle dienste lewer wat maatskaplike werkers betrokke by intensiewe gesinsinstandhoudingsdienste waar hoofsaaklik op kinderbeskerming gefokus word, nie kan doen nie. Ten opsigte van die mobilisering van informele hulp, word in hierdie hoofstuk gekonsentreer op die daarstelling van georganiseerde gemeenskapsgebaseerde vorms van ondersteuning deur die benutting van die gemeenskapswerkmetode in maatskaplike werk, wat die eienskappe van informele ondersteuning naboots deur die gesin van hulp in hulle onmiddellike omgewing te wees. Volgens Maluccio et al. (2002:175) is dit dikwels die taak van die maatskaplike werker om verskillende vorme van informele hulp te mobiliseer om kliënte, gesinne en gemeenskappe tot voordeel te wees. Die benutting van informele helpers, vrywilligers of gemeenskapsgroepe om gesinsondersteuning aan hoërisiko-gesinne te bied, word toenemend in die literatuur (September, 2006:70; Armstrong & Hill, 2001:354; Maluccio et al., 2002:175) as ‟n intervensiestrategie beskou wat deur maatskaplike werkers benut moet word. Hierdie tipe hulp word dikwels as meer aanvaarbaar, meer buigbaar en meer toeganklik, as formele hulp deur maatskaplike werkers beskou (Armstrong & Hill, 2001:354).

Die ontwikkeling van gemeenskapsgebaseerde sosiale ondersteuningsprogramme hou in dat maatskaplike werkers hierdie programme moet ontwikkel in lae-inkomste gemeenskappe waar daar gewoonlik ‟n hoë voorkoms van misdaad en werkloosheid is, ‟n afhanklikheid van bestaansbeveiliging, asook ‟n lae voorkoms van ekonomiese inisiatiewe. Gemeenskaps- betrokkenheid is swak en die bure van hoërisiko-gesinne word vanselfsprekend ook geraak deur hierdie omstandighede. Programme waar probeer word om die uitgebreide gesin te betrek as sosiale ondersteuningsbronne, moet in gedagte hou dat hierdie familielede waar-skynlik ook dieselfde sosio-ekonomiese stres ervaar en self oor beperkte bronne beskik om die gesin te ondersteun. Ander potensiële bronne van ondersteuning in die gemeenskap word dikwels ook beïnvloed deur die sosio-ekonomiese eienskappe wat kenmerkend van kinder-mishandeling en -verwaarlosing is, soos byvoorbeeld werksverhoudings wat gekenmerk word deur gesinslede wat wisselvallig werk, of glad nie werk nie. Skole in lae-inkomste gemeen-skappe is dikwels ook nie ‟n ondersteuningsbron vir ouers en kinders nie, omdat die skool self oor beperkte bronne beskik in terme van finansies, en personeel (Thompson, 1995:88).

Die bogenoemde beskrywing van Thompson (1995) van die probleme wat ondervind word om informele gemeenskapsgebaseerde ondersteuningsprogramme vir hoërisiko-gesinne te ontwikkel, is sterk van toepassing op die situasie te lande, aangesien die Suid-Afrikaanse samelewing gekenmerk word deur die risiko-faktore wat dui op ‟n verhoogde voorkoms van

kindermishandeling en -verwaarlosing. September (2006:70) dui in hierdie verband aan dat die gemeenskappe in Suid-Afrika wat die meeste baat kan vind by hierdie tipe programme, ook die gemeenskappe is wat oor ‟n lae kapasiteit en beperkte bronne beskik.

Die benutting van vrywilligers word sterk beklemtoon in die ontwikkelingsperspektief (Midgley, 1998:97; Midgley, 1993:272; Midgley, 1990:289), asook by die voorkoming van kindermishandeling en -verwaarlosing op gemeenskapsvlak (September, 2006:70; September & Blankenberg, 2004:56). Volgens Thompson (1995:164) is daar voordele aan die ontwikkeling van informele ondersteunende verhoudings vir hoërisiko-gesinne, aangesien ‟n meer positiewe omgewing geskep word om kindermishandeling en -verwaarlosing te voorkom, omdat die gesin baat vind by ondersteunende verhoudings in hulle omgewing. Hierdie vorm van ondersteuning word ook makliker deur gesinne benut, omdat hulle nie afhanklik is van ander hulpbronne soos vervoer en telefone nie.

Die benutting van vrywilligers word ook in die Nasionale Beleidsraamwerk en Strategiese Plan vir die Voorkoming van Kindermishandeling, Verwaarlosing en Uitbuiting (Department of Social Development, 2005:82) beklemtoon, aangesien die gemeenskap as mede- verantwoordelik beskou word vir die welsyn van kinders. Daarom moet maatskaplike werkers by regerings- en nie-regeringsorganisasies gemeenskappe ondersteun en bemagtig om situasies te identifiseer waar kinders te na gekom word, deur gemeenskapslede op te lei oor hoe om kindermishandeling, -verwaarlosing en uitbuiting te identifiseer, asook oor wat om te doen wanneer dit teëgekom word. Leke in gemeenskappe wat geïnteresseerd is in kinderbeskerming, moet ook opleiding ontvang. September (2005:29) is in hierdie verband van mening dat gemeenskapsgebaseerde kinderbeskerming berus op die aanname dat bewusmaking ‟n oop gesprek omtrent kindermishandeling en eksploitering fasiliteer, wat isolasie verminder omdat dit die stilte wat rondom die onderwerp gehandhaaf word, verbreek. Om effektiewe gesinsondersteuningsprogramme te ontwikkel, is dit nodig dat maatskaplike werkers bewus is van wat die aard en inhoud van hierdie programme behoort te wees.