• No results found

2.5 EIENSKAPPE VAN HOËRISIKO-GEMEENSKAPPE, GESINNE EN

2.5.1 Eienskappe van hoërisiko-gemeenskappe

2.5.1.2 Gebrekkige hulpbronne en dienste

Bronfenbrenner (1977:515) dui aan dat die beskikbare hulpbronne en dienste in ‟n omgewing ‟n invloed op die individu kan uitoefen. Gebrekkige hulpbronne en dienste, of swak formele ondersteuningsisteme word geassosieer met hoërisiko-gemeenskappe (Coulton

et al., 1999:1034; Garbarino & Kostelny, 1992:461). In hierdie afdeling sal daar hoofsaaklik

gekonsentreer word op basiese dienste en bronne wat menslike armoede bepaal, soos uiteengesit in die Verenigde Nasies se Armoedeverslag (2000:20). Hiervolgens kan menslike

armoede op ‟n indirekte manier gemeet word deur onder andere die toegang van gemeenskapslede tot dienste en infrastruktuur, soos elektrisiteit, sanitasie en drinkwater, te bepaal. Die gesondheid van ‟n bevolking word as ‟n verdere aanwyser van menslike armoede beskou. Alhoewel die gebrek aan behuising volgens die bogenoemde verslag as die gevolg van lae inkomste beskou word en as relatiewe armoede geklassifiseer word, sal behuising in hierdie afdeling bespreek word, omdat dit verband hou met basiese dienste.

(a) Lae-koste behuising

‟n Kenmerk van gemeenskappe waar armoede voorkom, is lae-koste behuising. Navorsing (Ghate & Hazel, 2003:71) oor ouerskapsprobleme in arm gemeenskappe, dui nie behuising as sulks as ‟n risiko-faktor aan nie, maar beklemtoon die feit dat gesinne wat in gemeenskappe lewe waar daar armoede is, ook in lae-koste behuising woonagtig is. Volgens Maluccio et al. (2002:37) bepaal beskikbare finansies, met ander woorde gesinsinkomste die kwaliteit van behuising wat bekostig kan word. Die kwaliteit van die behuising hou weer verband met die area waarin die behuising geleë is, die gemeenskap waarin die gesin kan woon, sowel as die grootte van die huis. Gesinne kan in armer gemeenskappe gedwing word om huisvesting met ander gesinne te deel, wat aanleiding gee tot oorbewoning.

Volgens die Verenigde Nasies se Armoedeverslag (United Nations Development Programme: Poverty Report, 2000:130) het ‟n groot deel van die bevolking in Suid-Afrika nie toegang tot behuising nie. Volgens Statistiek Suid-Afrika (2001) leef 15% van die swart bevolking in informele behuising (Amoateng, Heaton & Kalule-Sabiti, 2007:53). Vanweë hierdie groot tekort aan behuising, word arm gesinne in Suid-Afrika soos die voorafgaande literatuur aandui gedwing om saam met ander gesinne, in ‟n uitgebreide familiesisteem, of in informele skuilings te woon, wat tot oorbewoning lei. Hierdie siening word bevestig in die ontleding van Suid-Afrikaanse statistiek (Amoateng et al., 2007:50) wat bevind het dat die uitgebreide familiesisteem veral voorkom onder die Swart en Bruin bevolkingsgroepe wat oor ‟n lae opvoedkundige vlak beskik en in armoede lewe. Armoede dwing mense om saam te woon omdat bronne sodoende gedeel kan word.

In ‟n poging om die groot behuisingsprobleem aan te spreek het die regering in die afgelope tien jaar 1,6 miljoen huise beskikbaar gestel, terwyl projekte ook begin is om finansiering vir eiendom vir lae inkomste groepe meer toeganklik te maak. Probleme word hiermee ondervind omdat navorsing aangedui het dat 45% van die gesinne met ‟n inkomste van R1 500 per maand, en wat kwalifiseer vir ‟n lening, in die afgelope 12 maande honger gelei het. Die addisionele uitgawes wat ‟n huis sal meebring, soos byvoorbeeld munisipale belasting en

dienste, sal gevolglik nie deur die gesin bekostig kan word nie (Die Sake Burger, 8 Augustus 2005:16).

Ten opsigte van munisipale dienste het ongeveer 60% van die Suid-Afrikaanse bevolking wat in lae inkomste gemeenskappe woon, nie elektrisiteit in hulle huis of skuiling nie, terwyl ongeveer 50% nie toegang tot lopende water het nie, wat beteken dat daar ook nie sanitasiefasiliteite beskikbaar is nie. Hierdie omstandighede lei direk tot swak gesondheid en siektes soos tuberkulose, wat oorheersend by die armer gedeelte van die bevolking voorkom (The State of South Africa‟s Population Report, 2000:30). Alhoewel toegang tot lopende water in die post-apartheid era toegeneem het, het dit hoofsaaklik deur die minder wenslike manier van gemeenskaplike krane geskied. Verder het die toegang tot toiletfasiliteite nie in die post-apartheid-era verbeter ten opsigte van die beskikbaarheid, of die kwaliteit daarvan nie (Casale & Desmond, 2007:86). Laasgenoemde skrywers kom tot die gevolgtrekking dat ‟n groot aantal huishoudings in Suid-Afrika in die post-apartheid-era steeds geen toegang het tot formele behuising, elektrisiteit of goeie kwaliteit water- en sanitasiegeriewe nie. Barnes et al. (2007:12,23) het bevind dat 77% van die kinders in Suid-Afrika in omstandighede lewe wat as omgewingsverwaarlosing beskou kan word. Omgewingsverwaarlosing verwys na omstandighede waar water nie beskikbaar is binne 200 meter vanaf die skuiling nie, daar nie sanitasiegeriewe, elektrisiteit beskikbaar of toegang tot ‟n telefoon is nie, en waar oorbewoning in ‟n informele skuiling plaasvind. By hierdie 77% kinders was een of meer van bogenoemde aspekte teenwoordig.

(b) Swak gesondheid

Volgens Maluccio et al. (2002:49,50) word die gesondheid van kinders en hulle ouers bepaal deur ‟n verskeidenheid van interafhanklike faktore, soos die handhawing van ‟n gesonde lewenstyl, toepaslike voeding, asook die skep van ‟n veilige omgewing. Ouers moet inligting oor goeie gesondheid kan begryp, en toegang hê tot toepaslike gesondheidsorgfasiliteite. Kinders wat in lae-inkomste gemeenskappe woon, het ‟n groter risiko om siek te raak en ernstige beserings op te doen as kinders wat in meer welgestelde gemeenskappe woon. Die voorkoms van armoede verhoog met ander woorde die moontlikheid dat die basiese vereistes vir goeie gesondheid nie bestaan nie.

Verskillende redes word aangevoer vir die feit dat kinders wat in armer gemeenskappe woon se gesondheid swakker is. Een van hierdie redes is die feit dat babas dikwels nie alle immuniserings ontvang nie. Faktore wat ook die toegang van lae-inkomste gesinne tot

mediese dienste beperk, is byvoorbeeld gebrek aan geriewe om ‟n telefoniese afspraak te maak, die gebrek aan vervoer om die kind vir mediese hulp te neem, asook die gebrek aan versorging van ander kinders in die gesin indien een kind vir ‟n mediese ondersoek geneem word. Die gebrek aan kennis van gesondheidsorg by die ouer en die beskikbare hulpbronne in ‟n gemeenskap, word as verdere faktore geïdentifiseer wat kinders se gesondheid kan beïnvloed. Laastens kan ander gesinskrisisse ook veroorsaak dat die moeder nie aandag kan gee aan siek kinders nie.

Bogenoemde oorsake van swakker gesondheid by kinders wat in lae-inkomste gemeenskappe woon, is ook van toepassing op Suid-Afrika. ‟n Gebrek aan hulpbronne het ‟n invloed op die gesondheid van kinders. Swak behuising, gebrekkige toegang tot water, onvoldoende, of die gebrek aan sanitêre en afvalverwyderingsdienste word as direkte oorsake van voorkombare siektes soos tuberkulose en ander respiratoriese siektes beskou. Siektes wat omgewingsverwant is, soos diarree by babas en kinders, word ook toegeskryf aan onvoldoende dienste en fasiliteite. In landelike areas is daar byvoorbeeld ‟n hoë voorkoms van wanvoeding by babas, kinders en moeders wat borsvoed, vanweë ‟n gebrek aan inkomste om voedsame kos te koop. Hierdie situasie dra by tot die steeds hoër kinder- en moedersterftesyfers by arm Suid-Afrikaners (The State of South Africa‟s Population Report, 2000:77,30,31).