• No results found

Gesinsondersteuningsdienste word beskryf aan die hand van die belangrikste redes wat aanleiding gegee het tot die totstandkoming van die diens. Die basis van gesinsondersteuningsdienste, asook die doel van hierdie dienste het logies vanuit die redes vir die ontwikkeling van die diens gegroei. Hierdie aspekte word vervolgens bespreek.

3.2.1 Redes vir ontwikkeling van gesinsondersteuningsdienste

Een van die belangrikste redes vir die ontwikkeling van gesinsondersteuningsdienste hou direk verband met die hoë voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing wat in die sewentigerjare in Amerika gelei het tot ‟n herevaluering van die benadering tot dienslewering binne die veld van kinder- en gesinsorgdienste. Die gevolgtrekking is gemaak dat dienste aan gesinne gelewer moet word voordat hulle probleme en behoeftes in ‟n krisis ontwikkel. Gevolglik is die lewering van dienste wat gesinne ondersteun en versterk beklemtoon, om sodoende hulle afhanklikheid van welsynsdienste of die kindersorgsisteem te verminder, asook die verwydering van kinders te verhoed (Chaffin et al., 2001:1274; Cole, 1995:163,164). Dienste aan gesinne was in daardie stadium gekenmerk deur ‟n sterker klem op behandeling, eerder as op voorkoming. Fokus is geplaas op dienslewering aan individuele gesinslede, eerder as op dienslewering aan die gesin as ‟n eenheid, terwyl die invloed van die gemeenskap op die gesin, ook grootliks geïgnoreer is. Interorganisatoriese kontak het byvoorbeeld glad nie bestaan nie, of was minimaal, selfs wanneer dienste deur verskillende instansies aan dieselfde gesin gelewer is (Weissbound, 1994:30).

Die bewuswording van die behoefte aan voorkomende dienste aan gesinne, of gesinsondersteuning het ook volgens skrywers (Weissbound & Kagan, 1989:24; Zigler & Black, 1989:8,9) direk verband gehou met die demografiese en politieke klimaat wat in die sewentigerjare in die VSA voorgekom het. Demografiese aspekte soos die verandering van die gesinstruktuur vanweë egskeiding en enkelouerskap, die toetrede van vroue tot die arbeidsmark, die mobiliteit van gesinne en die toenemende armoede van kinders, veral in enkelouergesinne waar vroue die hoof was, word uitgesonder as redes vir die groter behoefte aan ondersteuningsdienste aan gesinne. Hierdie veranderinge in die struktuur van gesinne het ook die samestelling van gemeenskappe beïnvloed, wat beteken het dat dienste in gemeenskappe geskep moes word om in die behoeftes van hierdie gesinne te voorsien. Die feit dat dienste aan gesinne in daardie stadium gerig was op die hantering van krisisse en probleme, eerder as om die kapasiteit van gesinne uit te bou, het die klimaat geskep vir die

ontstaan van ‟n nuwe tipe diens gebaseer op ondersteuning aan gesinne en vroeë intervensiedienste om te verhoed dat gesinne se behoeftes in krisisse ontwikkel.

In Suid-Afrika word daar in beleidsdokumente (Department of Social Development, 2006a) tot die gevolgtrekking gekom dat dienste voor 1994 geskoei was op ‟n mediese model, met die fokus op die individuele behandeling van die kliënt, wat afhanklikheid bevorder het. Die ontwikkelingsgerigte beleid tot dienslewering ná 1994, behels dat voorkomende dienste as die belangrikste aspek van maatskaplikewerk-dienslewering beskou word. Voorkomende dienste is volgens die Geïntegreerde Diensleweringsmodel vir Verbeterde Maatskaplike Dienste (2006a), die eerste of primêre vlak waarop dienste gelewer moet word. Sterk klem word geplaas op die ontwikkeling van hulpbronne in gemeenskappe om gesinne te ondersteun en hulle kapasiteit uit te bou, ten einde te voorkom dat gesinne se probleme in ‟n krisis ontwikkel (Department of Social Development, 2006a:20,29). Om ‟n ontwikkelingsgerigte beleid tot dienslewering te implementeer word welsynsorganisasies genoodsaak om sterker te fokus op die ontwikkeling van voorkomende of gesinsondersteunende dienste.

3.2.2 Basis van gesinsondersteuningsdienste

Alhoewel die sewentigerjare beskou word as die tydperk waar die idee van ondersteuningsdienste aan gesinne ontstaan het, wys skrywers (Manalo & Meezan, 2000:407, 408; Lightburn & Kemp, 1994:17,18; Weissbound, 1994:28; Weissbound & Kagan, 1989:23) daarop dat hierdie diens gebaseer is op vroeëre tipes dienste wat die basis van gesinsondersteuningsdienste vorm. Hierdie vroeëre tipes dienste is eerstens die

nedersettingsbeweging wat in die laat-1880‟s ontwikkel het as gevolg van industrialisasie,

verstedeliking en immigrasie. Die fokus van hierdie beweging was om die gesins- en gemeenskapslewe te versterk, deur dienste te lewer vanuit gemeenskapsgebaseerde huise. Pogings is aangewend om voorkomende dienste te ontwikkel ooreenkomstig die gemeenskap se behoeftes, deur kanale te skep waardeur die behoeftes van gemeenskapslede aangespreek kon word. Volgens Berry (1997:6,7) en Kaplan en Girard (1994:1,2) was die doel van hierdie programme nie net om in gesinne se behoeftes te voorsien nie, maar ook om te agiteer vir noodsaaklike maatskaplike verandering. Die beweging was daarop gerig om sosiale verandering te laat saamsmelt met diensverskaffing, deur dienste wat relevant was vir die gemeenskap daar te stel na aanleiding van die behoeftes wat deur gemeenskapslede geïdentifiseer is. Om as kampvegters op te tree vir gesinne, asook om hulle te bemagtig om vir hulleself voorspraak te maak, was intrinsieke eienskappe van die beweging. Gesinne moes bygestaan word om hulleself te help, sodat afhanklikheid beperk kon word. ‟n Verdere

eienskap was dat begrip en respek vir gemeenskappe se kultuur, oorsprong en waardes beklemtoon is.

Die tweede tipe diens wat as ‟n basis van ondersteuningsdienste beskou word, is opvoeding

oor ouerskap, wat vroeg in die twintigste eeu ontwikkel is. Organisasies het gesinne se

behoefte aan ouerskapsvaardighede aangespreek deur ouers in groepe te betrek vir opvoeding oor ouerskap. Personeel wat betrokke was by die dienste, is ook opgelei om te verseker dat toepaslike leiding aan ouers gebied word. Die uitgangspunt by ouerskapsopvoeding is dat alle volwassenes oor die potensiaal beskik om te leer en te ontwikkel, en dat ouers daarom van voldoende inligting voorsien moet word om effektiewe ouerskap te verseker. Ouerbetrokkenheid by kinders word ook verhoog wanneer ouers by ouerskapsprogramme inskakel, wat ‟n positiewe invloed op die ouer-kindverhouding het.

Laastens word die selfhelpbeweging van die sestigerjare wat gegrond was op die beginsel van onderlinge ondersteuning, raadgewing en praktiese dienste as ‟n verdere basis van gesinsondersteuning beskou. Die uitkoms van selfhelp is daarop gerig dat deelnemers aan selfhelp groepe se selfwaarde verhoog, omdat hulle tot die besef kom dat hulle nie alleen in hulle situasie is nie. Die vaardighede van deelnemers om hulle probleme en behoeftes te hanteer word ook uitgebrei, omdat hulle binne die groepe blootgestel word aan verskillende idees, waardeur hulle vermoëns verhoog word en afhanklikheid gevolglik beperk word.

3.2.3 Doel van gesinsondersteuningsdienste

Die uitgangspunte van bogenoemde dienste, naamlik gemeenskapgebaseerde dienste, opvoeding oor ouerskap en selfhelp, word gereflekteer in die omskrywing en doel van gesinsondersteuningsdienste soos in die Amerikaanse wetgewing van 1993 vervat is en wat beteken het dat staatsondersteuning vir gesinsondersteuningsdienste goedgekeur is. Hiervolgens word die doel van gesinsondersteuningsdienste omskryf as

gemeenskaps-gebaseerde voorkomende aktiwiteite wat ontwikkel word om stres by ouers te verlig,

asook ouerskapsvaardighede te verhoog om ouers in staat te stel om hulle kinders suksesvol te versorg. Hierdie dienste moet ouers verder in staat stel of bemagtig om ander bronne en

geleenthede wat in die gemeenskap bestaan, te benut. Ondersteunende netwerke moet daargestel word wat die kinderopvoedingsvermoëns van ouers sal verhoog om sodoende te kompenseer vir die sosiale uitsluiting wat gesinne mag ervaar (Chaffin et al., 2001:1274;

Manalo & Meezan, 2000:413; Kagan, 1996:157; Cole, 1995:164).

In die bogenoemde doel van gesinsondersteuningsdienste word daar sterk gefokus op die bemagtiging van ouers deur hulle vaardighede te verhoog en hulle netwerke uit te brei. Dit is

egter belangrik om in gedagte te hou dat hierdie dienste primêr gelewer word om ouers ook in staat te stel om hulle kinders effektief te versorg. In hierdie verband noem Chaffin et al. (2001:1274) dat die doel van gesinsondersteuningsdienste is om kindermishandeling en -verwaarlosing te voorkom en sodoende ook die verwydering van kinders te verhoed. Gilligan (2000:14) dui in hierdie verband aan dat gesinsondersteuningsdienste ten doel het om die

veiligheid van kinders, asook hulle ontwikkeling te bevorder. Die feit dat die kind, of

kinders uit die gesin verwyder kan word, word voorkom deur stressors in die kind en die gesin se lewe te verminder, vaardighede by gesinslede te ontwikkel, asook ouers en kinders in te skakel by ondersteuningsdienste en -bronne, om die bevoegdhede van ouers uit te bou. Gilligan (2000:13) dui daarom aan dat gesinsondersteuningsdienste ook ten doel het om

ondersteuning te mobiliseer vir die normale ontwikkeling van kinders wat hulleself in ongunstige of nadelige omstandighede bevind. Ondersteuningsdienste is gerig op die

teenwerking van die effek van armoede en skade soos kindermishandeling en -verwaarlosing op kinders, wat in agtergeblewe omstandighede woon.

Uit die bogenoemde bespreking blyk dat die doel van gesinsondersteuningsdienste ook voorsiening behoort te maak vir die feit dat die veiligheid van kinders en hulle ontwikkeling deur die diens bevorder moet word. Vir die doel van hierdie studie en spesifiek die Suid-Afrikaanse omstandighede sal gesinsondersteuningsdienste beskou word as gemeenskaps-gebaseerde voorkomende aktiwiteite wat ontwikkel word om stres by ouers te verlig, asook ouerskapsvaardighede te verhoog om ouers in staat te stel om hulle kinders suksesvol te versorg; sodoende kan kindermishandeling en -verwaarlosing voorkom word. Hierdie dienste moet ouers verder in staat stel of bemagtig om ander bronne en geleenthede wat in die gemeenskap bestaan, te benut. Ondersteunende netwerke moet daargestel word wat die kinderopvoedingsvermoëns van ouers sal verhoog en die normale ontwikkeling van kinders

wat in nadelige of ongunstige omstandighede woon sal bevorder, om sodoende te

kompenseer vir die sosiale uitsluiting wat gesinne mag ervaar.