• No results found

5.4 MOONTLIKE GESINSONDERSTEUNINGSDIENSTE VIR HOËRISIKO-

5.4.3 Programme vir jeugdiges

In Pithouse et al. (1998:41) se navorsing in die Verenigde Koninkryk, het ouers aangedui dat daar by buurt- en gemeenskapsontwikkelingsgerigte sentrums ‟n gebrek aan dienste vir ouer kinders en adolessente was. Takanishi (1996:264) gebruik die Carnegie Council (1994) se uitgangspunte oor hoe organisasies in die VSA deur die aanbieding van naskoolse programme ‟n bydrae tot jeugontwikkeling kan lewer. Hiervolgens moet jeugprogramme die geleentheid aan adolessente bied om te sosialiseer met hulle eweknieë en volwassenes deur

gestruktureerde en groepaktiwiteite, waar gefokus word op die ontwikkeling van interpersoonlike vaardighede. Geleenthede moet ook geskep word waar vaardighede

ontwikkel word, deur op lewensvaardighede soos besluitneming, probleemoplossing en

kommunikasie te fokus. ‟n Verdere belangrike aspek wat ingebou moet word is dat programme geleenthede moet bied waar jeugdiges ‟n bydrae tot die gemeenskap kan maak deur hulle te betrek by gemeenskapsdiensprogramme, asook by die ontwikkeling en implementering van oplossings vir die probleme wat in die gemeenskap voorkom. Geleenthede moet geskep word vir jeugdiges om bekwaam te voel deur in programme voorsiening te maak vir die implementering van die vaardighede wat hulle aangeleer het.

5.4.3.1 Lewensvaardigheidsprogramme vir jeugdiges

Nel en Roestenburg (2004:120) se studie wat in Soweto onderneem is, het aangedui dat ouers ‟n behoefte het aan opvoeding oor lewensvaardighede vir hulle kinders, in terme van weerbaarheid, probleemoplossing en konflikhantering. Van den Berg en Weyers (2004:357) se navorsing in die Noordwes-Provinsie het bevind dat die grootste aantal gemeenskapswerkdienste aan kinders in die ouderdomsgroep tussen 6 en 16 jaar gelewer is. Die doel van hierdie programme was hoofsaaklik gerig op die verhoging van lewensvaardighede, wat openbare opvoeding ingesluit het, terwyl een projek gerig was op misdaadvoorkoming en ‟n ander projek op die ontwikkeling van entrepreneursvaardighede. Die aard van die lewensvaardighede wat aangeleer is, word nie in die studie aangedui nie, asook nie of dienste gerig was op kinders van gesinne waar gesinsinstandhoudingsdienste gelewer word nie. Vir die doeleindes van hierdie studie word daar kortliks aandag gegee aan lewensvaardigheidsprogramme waar die inhoud ook fokus op huishoudelike geweld.

5.4.3.2 Programme vir jeugdiges betrokke by huishoudelike geweld

Kinders en jeugdiges wat in huishoudings woon waar huishoudelike geweld voorkom, word as ‟n verwaarloosde groep in terme van programme beskou. Hierdie kinders het ‟n verhoogde risiko om betrokke te raak in verhoudings met hulle eweknieë, asook as volwassenes waar geweld weer voorkom (Suderman & Jaffe, 1997:55,64), aangesien hulle lewensmaats soek wat dieselfde kontrolerende, ondergeskikte, of mishandelende gedrag openbaar, as waaraan hulle gewoond geraak het in hulle huishoudings (Wolfe, Wekerle, Reitzel-Jaffe, Grasley, Pittman & MacEachran, 1997:103,107). ‟n Hoër risiko vir gedrags- en emosionele probleme, asook swakker vordering op skool is kenmerkend van kinders in huishoudings waar verhoudingsgeweld voorkom. Hierdie kinders het dikwels nie ‟n veilige plek waarheen hulle kan vlug wanneer die geweld voorkom nie en is dikwels ook onder sosiale en gesinsdruk om

nie die voorkoms van geweld bekend te maak nie (Suderman & Jaffe, 1997:55,64; Wolfe et

al., 1997:103).

Hierdie aspekte is van belang by hierdie bespreking, aangesien Suid-Afrika een van die lande met die hoogste voorkoms van huishoudelike geweld in die wêreld is en een uit agt vroue volgens 1998-statistiek deur haar lewensmaat aangerand word (State of South African Population Report, 2002:56). Navorsing (Hazen et al., 2004:314; Rumm et al., 2000:1380; Tajima, 2000:1396; Brown et al., 1998:1075) dui aan dat daar ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing bestaan indien huishoudelike geweld voorkom. Wolfe

et al. (1997:115-123) beveel aan dat jeugdiges tussen die ouderdom van 14 en 16 jaar

opgevoed word oor huishoudelike of interpersoonlike geweld en mishandeling en hulle vaardighede ontwikkel word met betrekking tot kommunikasie in gesonde verhoudings. Hulle moet ook betrokke raak by maatskaplike aksie in terme van verhoudingsgeweld. Die program wat hierdie skrywers ontwikkel het was spesifiek gerig op kinders wat betrokke is of was by kinderbeskermingsdienste, omdat hierdie kinders se ondervinding van verhoudingsgeweld in hulle huishoudings, hulle in ‟n hoër-risikogroep plaas vir voortgesette geweld in verhoudings. Die program word in groepsverband aangebied, waar 10 tot 12 jeugdiges vir ‟n tydperk van 18 weke vir 2 ure ‟n week betrek word. Die inhoud van die program fokus vir die eerste drie byeenkomste op die bou van groepskohesie, asook op die identifisering van magswanbalanse in die samelewing en die wyses waarop hierdie wanbalanse in verhoudings na vore kom. Regte van individue word ook bestudeer en hoe om gevoelens op ‟n positiewe en bevestigende wyse ten opsigte van regte bekend te maak.

In die volgende drie byeenkomste word gefokus op die dinamiek van mag in verhoudings, asook hoe om die siklus van geweld in verhoudings te verbreek. Gassprekers soos ‟n vorige mishandelaar en slagoffer van geweld word benut om hulle ervarings met die groep te deel. Positiewe kommunikasievaardighede, waar veral gefokus word op die verbalisering van assertiewe boodskappe word aangeleer, tesame met ‟n strategie om persoonlike probleme te hanteer. Geleentheid word aan groeplede gegee om hierdie vaardighede op onlangse konflik wat ervaar is, van toepassing te maak. Spesifieke kommunikasievaardighede word aangeleer met betrekking tot hoe seuns moet verseker dat meisies wel toestemming vir seksuele omgang gegee het, terwyl die belangrikheid om duidelik en assertief te kommunikeer om hulle veiligheid te verseker, by meisies beskou word.

In die volgende vyf sessies word gefokus op die invloed wat die omgewing of die samelewing op geweld in verhoudings het, deur die rol van geslagsosialisering, portuurgroepdruk en die

invloed van die media te beskou. Hierdie gedeelte van die program bied aan jeugdiges die geleentheid om die wyse waarop die samelewing geweld in verhoudings aanmoedig, te identifiseer.

Die laaste ses byeenkomste fokus op hoe gemeenskapsbronne geïdentifiseer en benut kan word om bystand te verleen wanneer persone in ‟n verhouding is waar geweld voorkom. Bronne in die gemeenskap word deur die groeplede geïdentifiseer en besoek, sodat hulle kennis oor die dienste wat die bron lewer, verhoog kan word. Gevallestudies wat op video opgeneem is, word in die groep bespreek en opgelos. Jeugdiges word in kleiner groepe verdeel en moet self bronne in die gemeenskap identifiseer wat hulp kan bied in terme van verhoudingsgeweld, deur die geïdentifiseerde bron te besoek. Groeplede moet terugvoer aan die groot groep gee oor die dienste wat deur die bron gelewer word. ‟n Aktiwiteit moet ook beplan word om die gemeenskap se bewussyn van verhoudingsgeweld te verhoog, asook fondse in te samel vir ‟n spesifieke organisasie. Deur by gemeenskapsbewusmaking betrokke te raak word die gevoel van groeplede ontwikkel dat hulle bemagtig is om verhoudingsgeweld in hulle eie lewens te hanteer, asook ‟n bydrae te maak om die siklus van geweld in die samelewing te beïnvloed. Hierdie program is ook geïmplementeer in ‟n hoërskool met kinders wat toevallig geïdentifiseer is en daar is gevind dat adolessente beduidende positiewe uitkomste in terme van hulle verhoudings, asook hulle kennis oor verhoudings kon identifiseer.

Suderman en Jaffe (1997:760) is van mening dat grootskaalse programme oor huishoudelike geweld in skole geïmplementeer moet word om die samelewing se houding teenoor hierdie vorm van geweld te verander. Indien jeugdiges se houdings teenoor enige vorm van huishoudelike geweld beïnvloed kan word, kan geweld op die lang termyn verlaag word. Die belangrikheid van programme in skole word bevestig in die resente kwalitatiewe navorsing wat Buckley, Holt en Whelan (2007:304) in Ierland onderneem het. Jeugdiges tussen die ouderdom van 14 en 17 het aangedui dat programme in skole aangebied moet word om aan onderwysers en leerlinge inligting te verskaf oor huishoudelike geweld, asook om byvoorbeeld ‟n plek beskikbaar te stel waar kinders huiswerk kon doen. Hierdie jeugdiges het gevoel dat indien personeel by skole kon aandui dat hulle oor kennis van huishoudelike geweld beskik, dit hulle minder geïsoleerd en anders sou laat voel het.

Veral hoërskole moet volgens Suderman en Jaffe (1997:55,64) geteiken word, aangesien kinders in hierdie lewensfase betrokke raak in verhoudings met die teenoorgestelde geslag, terwyl hulle ook as deel van die adolessente lewensfase besig is om ‟n identiteit afsonderlik

van hulle ouers te ontwikkel. Hierdie tydperk kan volgens skrywers (Suderman & Jaffe, 1997:55,64; Wolfe et al., 1997:103) benut word om hulle kennis van, en houding teenoor verhoudingsgeweld te verhoog, wat die verloop van hulle toekomstige verhoudings kan verander.

In Suid-Afrika is daar ‟n hoë voorkoms van huishoudelike geweld en is dit noodsaaklik om aan hierdie aspek in jeugprogramme aandag te gee om die voortgesette siklus van geweld in verhoudings te verbreek. Alhoewel hierdie tipe program nie beskou word as die enigste program vir adolessente nie en algemene lewensvaardigheidsprogramme nie as minder belangrik beskou word nie, is dit belangrik dat huishoudelike of interpersoonlike geweld in programme met jeugdiges en spesifiek die met ouers wat by kinderbeskermings- of gesinsinstandhoudingsdienste betrokke is, of was, aandag geniet. Deur die aanbied van programme waar spesifiek huishoudelike geweld aandag geniet, kan die siklus van geweld wat van generasie tot generasie oorgedra word, teengewerk word. Hierdie aspek is onder andere ook van belang wanneer programme vir mans aangebied word.