• No results found

Die aannames en beginsels van gesinsondersteuningsdienste is in die vorige hoofstuk uitgespel. Dit is nodig om aan te toon wat die aard, inhoud, asook die tipe programme of projekte is, wat kenmerkend is van gesinsondersteuningsdienste aan hoërisiko-gesinne. Ooreenkomstig die doel van gesinsondersteuningsdienste moet gemeenskapsgebaseerde voorkomende aktiwiteite ontwikkel word om ouers se stres te verlig, terwyl hulle ouerskapsvaardighede verhoog moet word om hulle in staat te stel om hulle kinders suksesvol

te versorg en kindermishandeling en -verwaarlosing te voorkom. Gesinsondersteuningsdienste moet ouers in staat stel of bemagtig om ander bronne en geleenthede wat in die gemeenskap bestaan, te benut. Ondersteunende netwerke moet daargestel word wat die ouerskapsvaardighede van ouers verhoog om te kompenseer vir die sosiale uitsluiting wat ouers mag ervaar (Chaffin et al., 2001:1274; Manalo & Meezan, 2000:413, Kagan, 1996:157; Cole, 1995:164).

Comer en Fraser (1998:136-138) het navorsing onderneem waarin die aard en inhoud van gesinsondersteuningsprogramme ontleed is. Dit word in hierdie afdeling bespreek en geëvalueer.

4.4.1 Doel van gesinsondersteuningsprogramme

Die doel van die gesinsondersteuningsprogramme was hoofsaaklik om kindermishandeling en -verwaarlosing te voorkom, ouer-kind-verhoudings te verbeter, sowel as toepaslike dienste te ontwikkel wat in die spesifieke behoeftes van gesinne voorsien. Weissbound (1987b:246) noem in hierdie verband dat die doel van ‟n ondersteuningsprogram veral bepaal word na aanleiding van wat die behoeftes van ouers binne ‟n gemeenskap is. Dit beteken dat maatskaplike werkers oor deeglike kennis moet beskik van die ekonomiese omstandighede van gesinne in die gemeenskap, die opvoedkundige kwalifikasies van inwoners, asook oor die dienste en bronne wat beskikbaar is, voordat ‟n program ontwikkel word.

4.4.2 Aard van dienste en programme

Die aard van die dienste en programme is bepaal deur die risiko-faktore wat op individuele en gemeenskapsvlak teenwoordig is en wat die funksionering van gesinne nadelig beïnvloed. Hierdie risiko-faktore is in hoofsaaklik vyf areas ingedeel, naamlik lae opvoedkundige vlak van ouers en lae sosio-ekonomiese status, lidmaatskap van ‟n agtergestelde of hoërisiko- groep, vertraagde kinderontwikkeling, asook ander kind-verbandhoudende faktore wat op ‟n hoë risiko vir negatiewe gesondheidsuitkomste vir kinders dui. Na aanleiding van die geïdentifiseerde risiko-faktore was die verbruikers van dienste in hierdie programme, soos gewoonlik die geval by gesinsondersteuningsprogramme is, lae-inkomste gesinne wat in armoede lewe, en oor ‟n lae opvoedkundige vlak beskik. Die meeste van die verbruikers in hierdie navorsingstudie het byvoorbeeld nie oor hoërskoolopleiding beskik nie (Comer & Fraser, 1998:138). Die verbruikers van dienste in die VSA stem dus ooreen met die verbruikers in Suid-Afrika, aangesien dit gesinne is met ‟n lae inkomste, wat in armoede lewe en oor lae opvoedkundige kwalifikasies beskik.

Manalo en Meezan (2000:415,416) is van mening dat die fokus by die ontwikkeling van gesinsondersteuningsdienste gerig moet wees op die ontvanger van dienste, naamlik die gesin. Hulle beklemtoon die feit dat die meeste gesinsondersteuningsprogramme spesifieke dienste aan spesifieke lede van dieselfde gesin lewer, om sodoende die gesin bloot te stel aan ‟n wye verskeidenheid van dienste. Om die uitkomste van dienste te evalueer, is dit daarom belangrik dat die onderskeie gesinslede wat dienste ontvang het as die vertrekpunt benut word, om te bepaal watter programme aan die gesin as ‟n eenheid gelewer is. Dienste kan dus geklassifiseer word ooreenkomstig die lewensfases, naamlik baba- en kleuterprogramme, kinders, jeugdiges en adolessente, volwassenes, gesinne, ouer-kinddienste, organisatoriese dienste en gemeenskapsgebaseerde dienste.

4.4.3 Praktykperspektiewe, teorieë en intervensiestrategieë

Ten opsigte van praktykperspektiewe en teorieë is die ekologiese perspektief as vertrekpunt benut, terwyl die meeste programme teorieë wat verwant is aan die ekologiese perspektief, soos die sisteem-, sosiale leerteorie en kinderontwikkelingsteorie, in programme geïntegreer is. ‟n Gesinsgesentreerde benadering tot dienslewering is gevolg (Comer & Fraser, 1998:136), wat beteken dat die gesin as die eenheid van intervensie beskou word (Dunst, Trivette & Deal, 1988:5).

Intervensiestrategieë wat benut is, het ooreengestem met die praktykperspektiewe en teorieë

wat geïdentifiseer is en word ingedeel in intervensies wat hoofsaaklik gerig is op opvoedkundige-, mediese-, gesondheids-, en sosiale aspekte. Die intervensies wat die kern gevorm het van die programme en wat ook beskou word as die kern van gesins- ondersteuningsprogramme, was tuisbesoekprogramme, ouerskapsopvoeding, assessering van kinderontwikkeling (medies, sosiaal, gesondheid) en sosiale, emosionele en opvoedkundige ondersteuning vir kinders (Comer & Fraser, 1998:137). Skrywers (Chaffin et al., 2001:1275; Leventhal, 1996:647,648; Weissbound & Kagan, 1989:21) dui aan dat gesinsondersteunings- programme gewoonlik een of meer van die volgende aktiwiteite behels, naamlik ouerleidings- of ondersteuningsgroepe, asook aktiwiteite wat fokus op die ontwikkeling van die kind, waaraan ouers en kinders gesamentlik deelneem om gesonde gesinsverhoudings te bewerkstellig. Kinderversorgingsdienste, wat aan ouers die geleentheid bied om ander ondersteuningsprogramme by te woon sonder die inmenging van kinders, word ook as ‟n belangrike program beskou.

Verdere voorbeelde van gesinsondersteuningsprogramme is oop-toegang sentrums wat aan gesinne die geleentheid bied om te sosialiseer met ander gesinne, asook met die personeel wat

betrokke is by die program, inligtingsdienste aanbied, sowel as verwysings doen na ander dienste in die gemeenskap. Laastens word tuisbesoekprogramme, wat gewoonlik ontwikkel word vir gesinne wat moeilik bereik word, as ‟n vorm van gesinsondersteuning geïdentifiseer. Ten opsigte van die duur van dienslewering, het Comer en Fraser (1998:139) se studie aangedui dat dit varieer vanaf agt maande tot drie jaar. Alhoewel die duur van dienste verskil het, was die aard van dienslewering gerig op ‟n dienspatroon waar ouers en kinders aan ‟n verskeidenheid dienste deelgeneem het, en waar daar op opvoedkundige en gesondheidsaspekte gefokus is. Dienste waarby voorskoolse kinders betrokke was, is dikwels oor langer tydperke gelewer.

Bogenoemde toon dat maatskaplike werkers by die ontwikkeling en implementering van gesinsondersteuningsprogramme hoofsaaklik die gemeenskapswerk- en groepwerkmetode gebruik in samewerking met insette van ander dissiplines, soos byvoorbeeld gesondheid. In hierdie bespreking word daar nie gefokus op die teoretiese uitgangspunte en implementering van hierdie metodes in maatskaplike werk nie, en word aanvaar dat maatskaplike werkers in Suid-Afrika onderleg is in die benutting van hierdie metodes, aangesien dit deel vorm van die voorgraadse kurrikulum in Maatskaplike Werk.

4.4.4 Plek waar programme aangebied word

Om die intervensiestrategieë wat in gesinsondersteuningsprogramme gebruik word te klassifiseer, kan daar volgens Allen et al. (1992) gefokus word op die plek waar die program aangebied word. Gesinsondersteuningsprogramme word volgens Allen et al. (1992) gewoonlik op twee plekke, soos gesinsentrums aangebied, wat as ‟n informele bymekaarkomplek dien vir gereelde geskeduleerde groepe en aktiwiteite, of deur middel van

tuisbesoekprogramme wat fokus op voor- en nageboorte opvoeding en ondersteuning, die

voorkoming van kindermishandeling en -verwaarlosing en die bevordering van gesonde kinderontwikkeling (Manalo & Meezan, 2000:415,416).

Die plek waar dienste gelewer is, volgens die navorsing van Comer en Fraser (1998:137), hou verband met die doel of die uitkoms van die program. Programme wat gerig was op ‟n wyer doel, soos byvoorbeeld die versterking van gesinne, het hoofsaaklik gemeenskaps- organiseringsinisiatiewe gebruik en het gesinsentrums benut, of gevestig. Programme wat meer spesifieke doelstellings gehad het, soos byvoorbeeld om die kinderontwikkeling van babas van tienermoeders te monitor om kindermishandeling en -verwaarlosing te voorkom, het meer individuele verbruikersgerigte inisiatiewe benut, soos tuisbesoekprogramme, individuele opvoeding en raadgewing.

4.4.5 Personeel betrokke by programme

Die tipe personeel wat betrek word by programimplementering word bepaal na aanleiding van die eienskappe van die gemeenskap wat bedien word (Weissbound, 1987b:256). Dienslewering word dikwels gekenmerk deur die betrokkenheid van ander personeel as maatskaplike werkers, soos leke of nie-deskundige persone (Armstrong & Hill, 2001:351; Weissbound, 1987b:256). Gesinne wat byvoorbeeld hulp met spesifieke probleme benodig is geneig om nie groepe by te woon wat deur vrywilligers en leke hanteer word nie, terwyl hoërisiko-gesinne onwillig is, of nie in staat is om professionele hulp te benut, sonder skakeling met ‟n informele werker of gemeenskapslid, wat deel van ‟n tuisbesoekprogram is nie. Ouers wat byvoorbeeld primêr hulle netwerke wil uitbrei sal byvoorbeeld teensinnig wees om in te skakel by ‟n groep wat sterk gerig is op professionele hulp (Weissbound, 1987b:256). Al die programme in Comer en Fraser (1998) se navorsing het van multi- dissiplinêre spanne gebruik gemaak om dienste te lewer, aangesien multi-dissiplinêre samewerking as die oplossing vir maatskaplike probleme beskou word. Die kernpersoneel betrokke by die programme was mediese personeel soos verpleegsters, pediaters en dokters, en menslike hulpbronpersoneel, wat hoofsaaklik uit maatskaplike werkers en kinderversorgingspersoneel bestaan het. Ander personeel het bestaan uit vrywilligers en

natuurlike helpers, asook gesondheidsuitreikwerkers (Comer & Fraser, 1998:135).

Alhoewel die programme gekenmerk word deur die betrokkenheid van personeel uit ander dissiplines is dit belangrik om in gedagte te hou dat hierdie personeel nie noodwendig deur maatskaplike werkers by projekte betrek is nie. Aangesien daar in ontwikkelde lande groter intersektorale samewerking op regeringsvlak is, is sommige programme byvoorbeeld spesifiek die verantwoordelikheid van die Departement van Onderwys of Gesondheid. Hierdie bronne of programme bestaan alreeds in gemeenskappe wat ouers en maatskaplike werkers kan benut as deel van ondersteuningsdienste. Vir die doel van hierdie hoofstuk word spesifiek gekonsentreer op die gesinsondersteuningsdienste wat deur maatskaplike werkers in Suid-Afrika ooreenkomstig ontwikkelingsbeleid ontwikkel is, asook ontwikkel kan word om kindermishandeling en -verwaarlosing en die gepaardgaande verwydering van kinders uit hoërisiko-gesinne te voorkom.

4.5 SEMI-FORMELE GESINSONDERSTEUNING: