• No results found

In die lig van die feit dat voorkomende dienste binne die Suid-Afrikaanse opset volgens beleid (Department of Social Development, 2006a:20,29) as die belangrikste aspek van maatskaplikewerk-dienslewering beskou word, is dit noodsaaklik dat welsynsorganisasies en maatskaplike werkers hulleself vergewis van die aannames van gesinsondersteuningsdienste. Die aannames word vervolgens uiteengesit.

3.3.1 Dienslewering vanuit ‟n ekologiese perspektief

‟n Eerste aanname is dat ‟n ekologiese perspektief (Manalo & Meezan, 2000:412; Cole,

1995:165; Weissbound, 1991:71; Weiss, 1989:32) tot dienslewering gevolg word. Hiervolgens word die individu as deel van ‟n gesin en gemeenskap beskou, wat beteken dat dienslewering gerig moet word op die kind binne die gesin en gemeenskap. Aangesien die ekologiese perspektief aanvaar dat die gemeenskap ‟n belangrike invloed op die gesin se lewe het, word gesinsondersteuningsdienste en -programme gekenmerk deur ‟n sensitiwiteit vir die kultuur van die gemeenskap waarin die dienste gelewer word. Ouerskapsdienste moet die kinderopvoedingspatrone en tradisies van die gemeenskap respekteer (Weissbound & Kagan, 1989:22), wat die opvatting dat kinders vanuit hulle omgewing gered moet word, deur hulle uit hul gesin te verwyder, slegs in uiterste omstandighede toepaslik is (Weissbound, 1991:71).

3.3.2 Ontwikkeling en welsyn van kinders in gesin gesetel

‟n Verdere aanname van gesinsondersteuningsdienste is dat die ontwikkeling en welsyn van kinders ‟n verantwoordelikheid is wat primêr in die gesin gesetel is. Die welsyn van

kinders en gesinne word as die hoeksteen van ‟n gesonde samelewing beskou, maar om hierdie verantwoordelikheid na te kom, moet alle gesinne toegang hê tot ondersteuningsprogramme en dienste (Manalo & Meezan, 2000:414; Weissbound, 1991:71,72). Om te verseker dat ouers toegang het tot bronne en dienste, moet alle segmente van die samelewing hierdie verantwoordelikheid ondersteun (Weissbound, 1991:71,72). Dit is nodig omdat baie van die probleme wat ouers ervaar die gevolg is van swak ondersteuning vanuit die samelewing (Keller & McDade, 1997:77). Alhoewel die verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van kinders primêr die verantwoordelikheid van die gesin is, is dit belangrik om in gedagte te hou dat die ontwikkeling en welsyn van kinders afhanklik is van die kapasiteit waaroor ouers beskik om hulle kinders op te voed. Hierdie kapasiteit van ouers word bepaal deur hulle eie ontwikkeling, asook die kennis en begrip van kinderontwikkeling waaroor hulle beskik (Manalo & Meezan, 2000:414).

3.3.3 Sterkte-gebaseerde dienslewering

‟n Sterkte-gebaseerde aanname tot dienslewering aan gesinne word gevolg (Green,

McAllister & Tate, 2004:326), wat behels dat daar aanvaar word dat alle gesinne en gemeenskappe oor sterktes beskik wat in dienslewering benut kan word (Sheafor et al., 2000:93). Dienslewering is gerig op die identifisering van die sterktes wat in die gesin bestaan, asook om die vaardighede van die gesin te ontwikkel, deur die gesin te ondersteun en te bemagtig om self besluite te neem (Saleeby, 2002:15,16; Sheafor et al., 2000:93). Om gesinne

en gemeenskappe se sterktes uit te bou, moet die natuurlike hulpbronne in die gesin en gemeenskap benut en ontwikkel word, omdat alle gesinne en gemeenskappe oor natuurlike bronne beskik (Saleeby, 2002:15). Verandering word bewerkstellig binne ‟n samewerkende verhouding wat tussen maatskaplike werkers, gesinne en gemeenskappe bestaan, en wat berus op die veronderstelling dat die maatskaplike werker as ‟n fasiliteerder en konsultant optree om gesinne en gemeenskappe te bemagtig, sodat hulle self beheer oor hulle lewens kan neem (Saleeby, 2002:15,16; Sheafor et al., 2000:94).

3.3.4 Ouers beskik oor die kapasiteit om te ontwikkel

‟n Aanname wat ten nouste aansluit by die sterkteperspektief is dat ouers vanuit ‟n ontwikkelingsoogpunt beskou word; daar word dus gefokus op die feit dat ouers oor die

kapasiteit beskik om in ouerskap te groei en te ontwikkel. Die opvoeding van ouers is ‟n sentrale aspek van gesinsondersteuningsdienste, omdat ouers bemagtig moet word om hulle behoeftes en probleme self te hanteer (Lightburn & Kemp, 1994:12). Ouers word sodoende instaat gestel om hulle kinders beter te ondersteun en te versorg, wat ouerskap ‟n meer lonende ervaring maak (Cole, 1995:165). Gesinsondersteuningsdienste vir die opvoeding van ouers, sluit in die fasilitering van ouers se gevoelens oor hulle rolle en take as ouers, asook die deurgee van toepaslike inligting om hulle te versterk in die rol (Weissbound & Kagan, 1989:22). Die kulturele, gemeenskapstradisies en die waardes waarbinne kinderopvoeding moet geskied, moet daarom in gedagte gehou word wanneer inligting oor hulle verantwoordelikhede aan ouers gegee word, aangesien gesinsondersteuningsprogramme ten doel het om ouers te bemagtig om hulle vaardighede in kinderopvoeding uit te bou, sodat hulle die versorging van hulle kinders kan behartig (Manalo & Meezan, 2000:414).

3.3.5 Voorkomende dienslewering

Die laaste aanname van gesinsondersteuningsdienste is dat dit primêr gerig is op die

voorkoming van ernstige probleme, soos kindermishandeling en -verwaarlosing, voordat die

gesin se probleem in ‟n krisis ontwikkel en dit noodsaaklik raak dat intensiewe krisisdienste gelewer moet word. Voorkoming beteken verder dat die fokus van dienslewering op die gesin as ‟n eenheid is en nie op individue binne die gesin nie (Manalo & Meezan, 2000:412; Cole, 1995:164; Weissbound & Kagan, 1989:23,24). Alhoewel alle gesinne ondersteuning benodig ongeag hulle ekonomiese status, blyk ondersteuning veral in die eerste jare van ‟n kind se lewe, ‟n sterk voorkomende funksie te vervul. Indien gesinsondersteuningsdienste tydens die vroeë kinderjare gelewer word, word die gesinseenheid versterk, wat die potensiaal vir

verdere disfunksie in die gesin wanneer die kinders ouer is, verminder (Weissbound, 1987a:53).

Ten einde die aannames van gesinsondersteuningsdienste effektief te implementeer is daar sekere beginsels wat gevolg moet word wanneer ‟n gesinsondersteuningsdiens ontwikkel, of ‟n bestaande ondersteuningsprogram geëvalueer word. In die volgende afdeling word hierdie beginsels geïdentifiseer, asook in verband gebring met die aannames.