• No results found

2.5 EIENSKAPPE VAN HOËRISIKO-GEMEENSKAPPE, GESINNE EN

2.5.1 Eienskappe van hoërisiko-gemeenskappe

2.5.1.3 Maatskaplike kohesie

Maatskaplike kohesie verwys na die groter gemeenskapsomgewing en die invloed daarvan op gemeenskapslede. Dit bestaan uit ‟n wye reeks van interaksies (formeel en informeel) op gemeenskapsvlak tussen die lede van ‟n bevolking. Maatskaplike kohesie is ‟n manier om die samevatting van al die persoonlike netwerke van ‟n spesifieke gemeenskap, soos die daaglikse interaksies en omgang tussen vriende, familie en bure, kollegas, kerklede, politieke en sosiale groepe te beskryf. Hierdie kontakte word ontwikkel en in stand gehou deur die voortdurende interaksies tussen relatief gelyke lede van ‟n gemeenskap waardeur ‟n gevoel van onderlinge respek en vertroue gekweek word en wat die gevoel by gemeenskapslede oor hulle gemeenskap, bepaal.

Die maatskaplike kohesie van ‟n samelewing of ‟n gemeenskap kan ernstig ondermyn word as ongelykhede en sosiale uitsluiting voorkom, omdat dit die openlike en wedersydse interaksies tussen gemeenskapslede beperk (Jack, 2000:709). Sosiale uitsluiting kom voor wanneer gemeenskappe of individue ‟n kombinasie van interafhanklike probleme ondervind. Hierdie probleme of behoeftes is werkloosheid, gebrekkige vaardighede, lae inkomste, swak

behuising, swak gesondheid, geweld en gesinsdisintegrasie (Graig, 2002:672). Werkloosheid, lae inkomste en gebrekkige vaardighede, sowel as swak behuising en gesondheid is reeds as kenmerke van hoërisiko-gemeenskappe in Suid-Afrika aangedui. Die voorkoms van geweld word vervolgens bespreek.

(a) Hoë voorkoms van geweld

‟n Hoë voorkoms van geweld word deur Ghate en Hazel (2002:93) beskou as ‟n faktor wat negatief inwerk op maatskaplike kohesie. Daar kan vanuit ‟n ekologiese perspektief ‟n onderskeid getref word tussen gemeenskapsgeweld en gesinsgeweld. Maluccio et al. (2002:40,41,46) noem dat kinders en gesinne wat in baie arm gemeenskappe woon, kronies blootgestel word aan gemeenskapsgeweld. Die risiko vir hierdie kinders om blootgestel te word aan geweld is twee maal hoër as vir kinders wat in welgestelde areas woon. In lae-inkomste gemeenskappe word geweld soos gewelddadige misdade, asook dwelmhandel en jeugmisdaad volgens Coulton et al. (1999:1020), geassosieer met die voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing.

In Suid-Afrika kom geweld meer dikwels in lae-inkomste gemeenskappe as in hoër-inkomste gemeenskappe voor. In lae-inkomste gemeenskappe is ‟n groot aantal jeugdiges betrokke by misdade wat bendeverwant is, aangesien die gemiddelde ouderdom van persone wat betrokke is by misdaad verlaag het vanaf 22 jaar, na 17 jaar. Die voorkoms van huishoudelike geweld, seksuele molestering en verkragting het ook toegeneem. Verder het die apartheidsoorlog veroorsaak dat gemeenskappe op groot skaal blootgestel is aan geweld (Government of the Republic of South Africa, Office of the Presidency: Youth Policy, 2000:15). Noyoo (2004:363) noem in hierdie verband dat misdaad in Suid-Afrika die sosiale struktuur van die samelewing bedreig en ook die sekuriteit, mobiliteit en psigologiese gesondheid van die landsburgers ernstig aantas. Dit veroorsaak dat mense voortdurend in ‟n staat van beleëring verkeer.

(b) Mobiliteit van gemeenskapslede

Hoë mobiliteit of die aantal jare wat gemeenskapslede in ‟n spesifieke gemeenskap woon, word in verband gebring met gebrekkige maatskaplike kohesie, omdat dit veral die mate waartoe gemeenskapslede mekaar kan leer ken en ‟n gemeenskapsgevoel kan ontwikkel, beïnvloed (Ghate & Hazel, 2002:93; Garbarino & Kostelny, 1992:458). Mobiliteit kan ook beteken dat gemeenskappe vinnig groei, veral as dit te doen het met die migrasie van gemeenskapslede vanaf plattelandse na stedelike areas as gevolg van werksgeleenthede, soos

wat in Suid-Afrika die geval is. Vinnig groeiende gemeenskappe het in die navorsing wat deur Ernst (2000:565) onderneem is, ‟n hoër voorkoms van fisieke-, en seksuele mishandeling, sowel as verwaarlosing getoon.

In Suid-Afrika kom mobiliteit van gemeenskapslede voor vanweë die migrasie werkstelsel, wat behels dat mense na, asook tussen areas beweeg waar werksgeleenthede is. Ongeveer 20% van die inkomste van arm huishoudings kom van gesinslede wat weg van die huis werk. Die gebrek aan werksgeleenthede het verder tot gevolg dat arm huishoudings se gesinslede versprei is oor verskeie areas om ‟n inkomste te bekom (The State of South Africa‟s Population Report, 2000:10). Die migrasie werkstelsel word beskou as een van die grootste oorsake van die fragmentering van gesinne, omdat gesinslede vir lang periodes van mekaar geskei is (Department of Social Development, 2004a:13). In navorsing (Madu & Peltzer, 2000:264) wat in die Noordelike Provinsie in Suid-Afrika oor die risiko-faktore vir die voorkoms van seksuele mishandeling onderneem is, is die migrasie werkstelsel uitgelig as een van die redes vir die hoë voorkoms daarvan. Wanneer hierdie ouers weg van die huis is, word kinders by familielede en ander oppassers gelaat, wat die kinders blootstel aan alle vorms van mishandeling, maar ook spesifiek seksuele mishandeling.

(c) Gebrekkige formele en informele bronne

Maatskaplike kohesie in ‟n gemeenskap word ook beïnvloed deur die formele en informele ondersteuningsbronne wat in ‟n gemeenskap bestaan (Jack, 2000:713; Coulton et al., 1999:1034). Volgens Garbarino en Kostelny (1992:461) se navorsing het lae-inkomste gemeenskappe waar daar meer formele en informele ondersteuningsisteme was, ‟n laer risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing getoon as gemeenskappe waar minder sodanige sisteme was. Die algemene gemeenskapsgevoel was ook meer positief en gemeenskapslede was meer bewus van die bronne wat in hulle gemeenskap bestaan, as in die gemeenskap met minder ondersteuningsisteme. Jack (2000:712) bespreek ‟n projek wat in die Verenigde Koninkryk onderneem is om die areas met ‟n hoë voorkoms van misdaad en geweld meer veilig te maak, deur beter polisiëring en voorkomende misdaadstrategieë. Die gemeenskapsgevoel van inwoners het meer positief geraak namate probleme soos dwelmhandel, inbrake en ander misdaad verminder is.

In sowel die Witskrif vir Welsyn (Ministry for Welfare and Population Development, 1997) as die Finale Konsep Nasionale Beleid vir Gesinne (Department of Social Development, 2004a:12) word die situasie van gesinne in Suid-Afrika ontleed. Die gevolgtrekking is gemaak dat die behoeftes en probleme van Suid-Afrikaanse gesinne verskil hoofsaaklik

vanweë die oneweredige verspreiding van hulpbronne tussen verskillende gemeenskappe. Lae-inkomste gemeenskappe beskik nie oor voldoende bronne om in die behoeftes van gesinne te voorsien nie. Onvoldoende bronne veroorsaak dat gesinne min ondersteuningsisteme het, soos byvoorbeeld voorskoolse en naskoolse versorgingsfasiliteite, klinieke en skole. Hierdie beskrywing van die omstandighede van gesinne in Suid-Afrika stem ooreen met internasionale skrywers (Cash & Berry, 2003:4; Cash, 2001:44; Pecora et al., 1995:xxi,xxii) se siening dat hoërisiko-gesinne wat kliënte is van welsynsinstansies, in gemeenskappe leef waar bronne te beperk is om die gesonde ontwikkeling van gesinslede te bevorder. Die gebrek aan bronne en dienste in ‟n gemeenskap het egter ‟n beduidende invloed op die gemeenskapsgevoel of die maatskaplike kohesie wat in ‟n gemeenskap bestaan.

Hierdie maatskaplike kohesie word beïnvloed deur ‟n verskeidenheid faktore. Wanneer die maatskaplike kohesie in ‟n gemeenskap laag is, as gevolg van hoë mobiliteit van gemeenskapslede, gebrekkige sosiale en formele ondersteuningsbronne en die voorkoms van geweld, is die gemeenskapsgevoel van inwoners oor die gemeenskap negatief en word die risiko van kindermishandeling en -verwaarlosing verhoog. In Suid-Afrika veroorsaak die aanwesigheid van al hierdie faktore gebrekkige maatskaplike kohesie in lae-inkomste gemeenskappe, wat waarskynlik gepaard gaan met negatiewe gevoelens by inwoners oor die gemeenskap waarin hulle woon, en dui ook op ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing.