• No results found

5.4 MOONTLIKE GESINSONDERSTEUNINGSDIENSTE VIR HOËRISIKO-

5.4.1 Oueropvoedingsprogramme

5.4.1.2 Beplanning van program

Vir oueropvoeding om effektief te wees, moet daar volgens Daro (2002:139) sekere strategieë gevolg word by die beplanning van die program om ‟n hoë kwaliteit diens te verseker. In die eerste plek moet oueropvoedingsdienste gebaseer wees op navorsing, of op ‟n behoeftebepaling sodat programme ontwikkel word vir die spesifieke groep ouers wat betrek word. Indien ‟n program gedupliseer word, moet ‟n spesifieke beplanningsfase ingebou word, waar alle rolspelers, wat gemeenskapslede insluit, betrek word om ‟n program te implementeer in ooreenstemming met die realiteite van die gemeenskap. Indien welsynsorganisasies suksesvolle oueropvoedingsprogramme wil aanbied, is dit volgens Keller

en McDade (2000:307) belangrik dat die teikengroep inspraak in programbeplanning het, asook dat die program kultureel sensitief is.

Daro (2002) dui aan dat die wyse waarop ouers hulle kinders opvoed, afhanklik is van hoe hulleself opgevoed is, hulle kennis van kinderontwikkeling, sowel as hulle kapasiteit om hulle behoeftes ondergeskik te stel aan dié van ander. Om ‟n effektiewe program te beplan, is dit volgens Daro (2002) noodsaaklik dat die potensiële ouers, of die teikengroep in drie kategorieë ingedeel word.

 In die eerste kategorie is ouers wat hulle beperkings ten opsigte van ouerskaps- vaardighede, hulle gebrek aan kennis van kinderontwikkeling, asook die benutting van formele en informele bronne, besef. Hierdie ouers is dikwels in staat om op hulle eie hulp te bekom om hulle tekortkominge as ouers uit die weg te ruim.

 Die tweede kategorie fokus op afhanklike gesinne, wat moontlik nie besef dat hulle hulp benodig nie, dalk nie bewus is waar hulp bekom kan word nie, of hoe om toegang tot die beskikbare hulp te verkry nie. Hierdie ouers is gewoonlik ook nie in staat om hulle bestaande ouerskapsvaardighede maklik aan te pas volgens die teoretiese inligting wat hulle bekom nie. Om hierdie rede het hierdie gesinne meer direkte hulp nodig om hulle behoeftes te assesseer, asook in die identifisering en benutting van ouer-ondersteuningsdienste.

 In die derde kategorie word gesinne waar ouers nie oor die sosiale, emosionele en kognitiewe vaardighede beskik om gesonde kinderontwikkeling te verseker nie, geïdentifiseer. Hierdie ouers openbaar ernstige probleme om effektief te funksioneer, soos wanorganisasie, middelmisbruik en aggressiewe gedrag. Indien die kinders nie uit hierdie gesinne verwyder word nie, is hulle veiligheid gewoonlik afhanklik van ondersteunende en terapeutiese dienste waarby hulle ouers oor ‟n uitgebreide tydperk betrek word (Daro, 2002:139).

Hierdie uiteensetting van die verskillende teikengroepe dui aan dat ‟n verskeidenheid strategieë benodig word om ‟n effektiewe oueropvoedingsprogram te beplan en te implementeer, aangesien ‟n program waar slegs bewusmaking gedoen word aan sekere ouers voldoende ondersteuning kan bied, terwyl ander ouers direkte goedgefokusde ondersteuning, wat herhaal moet word, benodig (Daro, 2002:131; Sanders & Cann, 2002:148-149). Wanneer welsynsorganisasies in Suid-Afrika oueropvoedingsprogramme aanbied sal hulle moet besluit of hulle die program as ‟n oop-toegang program vir alle gemeenskapslede aanbied, of as ‟n program wat slegs gerig is op die hoërisiko-gesinne wat in hulle gevallelading is, aangesien

dit duidelik is dat die teikengroep ook die inhoud van die program sal beïnvloed. Verder bestaan die moontlikheid dat ‟n groot getal ouers in die tweede en derde kategorie van die bogenoemde teikengroepe val, wat beteken dat deurlopende langer-termyn oueropvoedingsgroepe aangebied behoort te word.

‟n Verdere aspek wat by die beplanning van die program in gedagte gehou moet word, is die wyse waarop ouers gemotiveer gaan word om die byeenkomste by te woon. Die bywoning van oueropvoedingsgroepe hou volgens Keller en McDade (1997) se studie in die VSA verband met geslag en opvoeding. Ouers wat hulle hoërskoolopleiding voltooi het was meer geneig om ‟n ouerleidingsgroep by te woon, terwyl moeders ongeag opvoedkundige vlak meer geredelik ‟n ouerleidingsgroep sou bywoon, as mans (Keller & McDade, 1997:74). Die uitvalsyfer was egter die hoogste by jong moeders met ‟n lae opvoedkundige vlak (Nicholson, Brenner & Fox, 1999:252). Aspekte wat die bywoning van hierdie groepe by lae-inkomste ouers bemoeilik het, was vervoer, asook die versorging van kinders (Keller & McDade, 2000:307).

Uit navorsing in Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en die VSA (Bell, 2005; Sanders & Cann, 2002; Nicholson et al., 1999) oor oueropvoedingsprogramme wat suksesvol verloop het, blyk dit dat verskeie aansporings aan ouers gebied is om hulle te motiveer tot bywoning. Indien welsynsorganisasies suksesvolle oueropvoedingsprogramme wil aanbied, is dit belangrik om ouers op een of ander manier te vergoed vir bywoning (Sanders & Cann, 2002:148; Keller & McDade, 2000:307; Nicholson et al., 1999:252). Om lae-inkomste ouers te motiveer om die weeklikse oueropvoedingsbyeenkomste by te woon is daar byvoorbeeld voorsiening gemaak vir vervoer, sowel as bykomende konkrete aansporings, soos die weeklikse trekking van pryse waar ouers speelgoed vir kinders, doeke en ander kinderversorgingsbenodigdhede kon wen (Nicholson et al., 1999:252). Die beskikbaarheid van kinderversorgingsdienste, die verskaffing van verversings, of dat ouers saam geëet het voor die byeenkoms, is ook as bepalende faktore vir die sukses van hierdie spesifieke oueropvoedingprogramme uitgelig (Bell, 2005:67; Nicholson et al., 1999:252). In die navorsing wat Bell (2005:67) onderneem het, is die feit dat die diens in die gemeenskap aangebied is, ook as bydraend tot die goeie bywoning van die diens beskou.

Uit die voorafgaande bespreking is dit duidelik dat wanneer welsynsorganisasies in

Suid-Afrika oueropvoedingsprogramme aanbied daar na aanleiding van die behoeftes van die

ouers bepaal behoort te word of die groep ‟n oop-toegang groep, geslote groep, of gemengde groep ouers sal betrek. Dit is belangrik dat belonings vir bywoning ingebou word, soos wat

skrywers (Bell, 2005; Sanders & Cann, 2002:148; Keller & McDade, 2000:307; Nicholson et

al., 1999:252) voorstel, maar hierdie belonings moet klop met dit wat gemeenskapslede as

belonings sou beskou. Hierdie aspek moet uitgeklaar word met gemeenskapslede voor die aanvang van die groep.

Voorsiening behoort, waar moontlik, gemaak te word vir vervoer, asook vir die versorging van kinders terwyl ouers hierdie program bywoon, veral as die program gerig is op ouers met voorskoolse kinders, indien ouers nie alternatiewe versorging vir skoolgaande kinders kan reël nie, asook wanneer die program na ure aangebied word. Die beskikbaarheid van kinderversorging is ‟n basiese ondersteuningsdiens wat gelewer moet word, voordat daar van ouers verwag kan word om ‟n oueropvoedingsprogram by te woon. Wanneer ouers wat alreeds gevallewerkdienste ontvang, of wat ingeskakel is by ‟n tuisbesoekprogram betrek word, kan maatskaplike werkers hulle gevallelading benut om aanvanklik te bepaal wat die inhoud van die program moet wees. Indien dit ‟n oop-toegang groep is moet ‟n volledige behoeftebepaling gedoen word, maar moet die inhoud van die program voorsiening maak dat gesinne wat alreeds op die gevallelading is, ingeskakel word by die program.