• No results found

5.3 TIPES GESINSENTRUMS

5.3.3 Gemeenskapsontwikkelingsgerigte benadering of sentrum

Soos die buurtgerigte sentrum, word ‟n oop-deur beleid gevolg en sterk deelname vanuit die gemeenskap en identifikasie met die gemeenskap word beklemtoon. Verdere eienskappe van die gemeenskapsontwikkelingsgerigte sentrum ten opsigte van dienslewering is die feit dat die maatskaplike werkers nie betrokke is by gevallewerkdienste nie (Holman, 1988:165), maar sterk fokus op die implementering van die groep- en gemeenskapswerkmetodes (Smith, 1996:48). Personeel is sterk daarop ingestel om hulle te distansieer van tradisionele maatskaplike werk en was teësinnig om verwysings wat kinderbeskermingsdienste behels, te aanvaar, aangesien hulle dit nie as hul rol en taak beskou om individuele berading met gesinslede te doen nie (Holman, 1988:165). Gevallewerkdienste word dus nie gelewer nie, terwyl dit by die buurtgerigte benadering wel gedoen word.

Lokale beheer is die uitgangspunt in terme van die bestuur van die sentrum en die doel is

1988:165). ‟n Wye verskeidenheid aktiwiteite word by die sentrum aangebied, en gemeenskapslede word aangemoedig om hulle eie klubs, en ander aktiwiteite, soos byvoorbeeld speelgroepe te ontwikkel, sodat kollektiewe aksies tot die verbetering van die lewenskwaliteit in die gemeenskap en gesinne se lewens lei (Holman, 1988:165). Dit behels dat maatskaplike werkers se rol hoofsaaklik die van instaatsteller, en tussenganger is (Smith 1996:176). In die navorsing wat Pithouse et al. (1998:36) na die werkswyse van buurtgerigte en gemeenskapsontwikkelingsgerigte sentrums onderneem het, is bevind dat maatskaplike werkers die verhouding met ouers beskou het as ‟n vennootskap en as gelyk in die deel van die probleme wat gesinne in die gemeenskap en hulle huishoudings, beleef het. Ouers word as die eienaars van die diens beskou en is aangemoedig om aan te dui wat hulle behoeftes was sodat hulle beheer kon neem oor die groepe en aktiwiteite wat aangebied word. Die rol van die personeel was ondersteunend van aard, deur hulp te bied wanneer nodig.

Volgens Holman (1988:166) was die vordering om by lokale beheer as doel uit te kom, stadig en in baie min van die sentrums het gemeenskapslede ‟n groot rol gespeel in die bestuur van die sentrum. In Smith (1966:164) se navorsing is bevind dat alhoewel vrywillige deelname in terme van hulp by al drie die bogenoemde tipe sentrums hoog was, was hulp in terme van die bestuur van die sentrums, min. Personeel in Holman (1988:166) se navorsing het gevoel dat die vaardigheid van voltydse personeellede altyd nodig sal wees om gemeenskapslede te ondersteun. Vrywilligers het dit ook soms moeilik gevind om die eise wat die diens stel te hanteer en het oorweldig gevoel deur die verantwoordelikheid. Bekommernis is ook uitgespreek dat inwoners wat mag in die gemeenskap het sekere aktiwiteite oorneem, wat tot gevolg kan hê dat die meer agtergestelde inwoners van die gemeenskap uitgesluit word. ‟n Belangrike verskil tussen die buurtgerigte en die gemeenskapsontwikkelingsgerigte benadering is dat gevallewerkdienste nie gelewer word by die gemeenskaps- ontwikkelingsgerigte benadering nie en selfhelp deur verbruikers sterk aangemoedig word. Die sterk klem op gemeenskapsontwikkeling is in ooreenstemming met die uitgangspunte in Suid-Afrikaanse beleidsdokumente (White Paper for Social Welfare, 1997:66; Department of Social Development, 2006a:23), alhoewel ‟n belangrike verskil die feit is dat daar gewoonlik van maatskaplike werkers by gesinsorgorganisasies in Suid-Afrika verwag word om gevallewerkdienste ook te lewer.

5.3.3.1 Navorsing oor buurtgerigte/gemeenskapsontwikkelingsentrums

Sowel die buurtgerigte- as gemeenskapsontwikkelingsentrums word deur Pithouse et al. (1998:32,33,42-44) as oop-toegang sentrums beskou, waar die doel van die sentrums gerig is op die verhoging van die lewenskwaliteit van gemeenskapslede deur ‟n wye verskeidenheid

dienste te lewer, om die verwydering van kinders te voorkom. Oop toegang beteken verder dat gesinne gehelp word volgens die beginsel van die wat eerste kom, eerste gehelp word, maar waglyste kan bestaan vir toegang tot sekere dienste, soos byvoorbeeld dagsorgfasiliteite. Skrywers (Pithouse & Holland, 1999:173; Pithouse et al., 1998:32,33,42-44) het in die navorsing wat hulle in die Verenigde Koninkryk onderneem het, bevind dat die impak van hierdie sentrums hoofsaaklik sosiaal van aard was, aangesien netwerke uitgebrei is, en kontak met ander ouers en gemeenskapslede bewerkstellig is. Ouers het in die studie wat Smith (1996:100,133) onderneem het aangedui dat die sosiale kontak met ander ouers die belangrikste behoefte is wat deur die bywoning van gesinsentrums of projekte bevredig is. Sosiale kontak met ander ouers het egter nie net gedui op sosialisering nie, maar ook op die feit dat hierdie kontak sosiale isolasie verminder het. Ten opsigte van watter aspekte van die dienste die meeste waarde gehad het, het ouers aangedui dat hulle meer kennis oor die gedrag van kinders bekom het, groter selfvertroue ontwikkel het en hulle kinders meer effektief hanteer het. Hierdie resultate was veral kenmerkend van buurtgerigte sentrums, eerder as kliëntgesentreerde sentrums.

Die verbruikers by oop-toegang sentrums was hoofsaaklik vroue (Pithouse & Holland, 1999:172; Pithouse et al., 1998:42; Smith, 1996:80,90), wat dienste veral sonder hulle groter kinders en adolessente bygewoon het, omdat daar nie dienste aan ouer kinders en adolessente gelewer is nie (Pithouse et al., 1998:42). Smith (1996:80,90) se studie het aangedui dat die aantal enkelouers wat dienste benut het, by kliëntgesentreerde sentrums hoër was, as by oop-toegang sentrums. Volgens Pithouse et al. (1998:42-44) laat die feit dat hoofsaaklik vroue dienste bygewoon het, die vraag ontstaan of gesinsdienste wat die hele gesin betrek, werklik gelewer word, asook in watter mate hierdie dienste kindermishandeling en -verwaarlosing voorkom. ‟n Verdere vraag wat ontstaan is of hierdie sentrums werklik ‟n unieke diens lewer, en of die behoefte aan sosiale kontak nie bevredig kan word deur ander bronne in die gemeenskap te benut, waar ouers met jong kinders mekaar kan ontmoet en tot hulp vir mekaar kan wees nie. In die lig van die feit dat breë gemeenskapsgeoriënteerde dienste gelewer word wat hoofsaaklik bepaal word na aanleiding van die behoeftes van gemeenskapslede wat die dienste bywoon, dat spesifieke hoërisiko-gesinne nie betrek word nie, asook dat terapeutiese dienste wat spesifiek gerig is op kindermishandeling en -verwaarlosing nie beklemtoon word nie, kan hierdie sentrums en dienste nie noodwendig beskou word as gesinsdienste of ‟n gesinsentrum nie. Hierdie dienste of sentrums sou moontlik eerder beskou kan word as gemeenskapsdienste, of gemeenskapsentrums, as gesinsentrums.

Indien oop-toegang sentrums of dienste nie ook gerig is op terapeutiese intervensies nie, kan daar nie aanspraak gemaak word dat dit nodig is dat maatskaplike werkers hierdie dienste lewer nie, aangesien hulle salarisse ontvang vir werk wat nie dieselfde vaardighede of verantwoordelikhede vereis, as meer terapeutiese werk nie. Alhoewel die gesinne wat die diens gebruik het, groot tevredenheid met die diens uitgespreek het, is die skrywers van mening dat verbruikerstevredenheid met ‟n diens nie noodwendig beteken dat dit toepaslik, effektief of werklik nodig is nie.

Pithouse et al. (1998:45,46,45,51) beveel aan dat organisasies in die Verenigde Koninkryk moet bepaal wat die voordele is wat verkry word vanuit oop-toegang projekte of sentrums, aangesien daar geen duidelike oorsaaklike verband tussen hierdie dienste en die vlak van skade aan kinders in die gemeenskap is nie. Hierdie voordele moet opgeweeg word teenoor die uitkomste wat die lewering van meer kinderbeskermingswerk, kliëntgesentreerde werk, of die implementering van ‟n maatskaplike ontwikkelingsgerigte projek, inhou. Hulle beveel aan dat sentrums wat slegs breë oop-toegang dienste lewer, hulle oriëntasie moet heroorweeg en eerder moet fokus op dienste wat sterker gerig is op ouer-kind dienste. Verder kan daar ook eerder gefokus word op maatskaplike ontwikkeling, waar die organisasie as werkgewer optree deur werkskeppingsaktiwiteite vir vroue te bevorder, en gemeenskapslede opgelei en bygestaan word om self ‟n versorgingsfasiliteit vir kinders in ‟n gemeenskap te besit en te bestuur. Sodoende word die kapasiteit van die gemeenskap uitgebou en sosiale uitsluting teengewerk. Hierdie argument stem wel ooreen met Suid-Afrikaanse beleidsdokumente (Department of Social Development, 2006a:29; Ministry for Welfare and Population Development, 1997:2) waarin beklemtoon word dat ‟n ontwikkelingsgerigte beleid tot dienslewering geïmplementeer behoort te word.

In die lig van die feit dat Polansky (1985:46) en Garbarino en Sherman (1977:192) se navorsing in die VSA bevind het, dat hoërisiko-gesinne waar die voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing hoog is nie netwerke in hulle gemeenskap benut nie, is oop-toegang sentrums of projekte moontlik nie geskik vir hierdie gesinne nie, maar ‟n kliëntgesentreerde sentrum wel. In terme van die Suid-Afrikaanse situasie, waar daar ‟n hoë voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing is en maatskaplike werkers vanweë hoë gevalleladings (September, 2007:43; Department of Social Development, 2006a:10,11; Lombard & Kleijn, 2006:225; Brown & Neku, 2005:308) min kontak met gesinne het, bestaan die moontlikheid dat hierdie gesinne waarskynlik nie oop-toegang sentrums of projekte uit eie inisiatief sal bywoon nie.

Aangesien kinder- en gesinsorgorganisasies se primëre taak en rol is om gesinsinstandhouding te doen en die verwydering van kinders te voorkom, kan die vraag gevra word in watter mate ondersteuningsdienste of gemeenskapsprojekte in Suid-Afrika fokus op gesinne geregistreer in gevalleladings waar die risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing hoog is, of alreeds plaasgevind het. Hierdie vraag word in die empiriese studie (hoofstuk 7) ondersoek. Indien daar wel op geregistreerde gesinne in gevalleladings gefokus word sou ouerleiding byvoorbeeld gekombineer kon word met ‟n speelgroep, om aan ouers die geleentheid te bied om ander ouers te ontmoet, terwyl hulle kinders geakkommodeer word. Vir ouers waar verwyderings dreigend is, sou hierdie dienste as deel van ‟n duidelike ooreenkoms verpligtend wees.

In werklikheid is skrywers (Ghate et al., 2000; Smith, 1999:273; Holman, 1988:166) van mening dat die tipes dienste van die verskillende sentrums oorvleuel en dat dienslewering in ‟n sentrum dikwels elemente van al die tipes sentrums bevat, alhoewel die basiese uitgangspunt van dienslewering steeds een van die benaderings voorstaan, wat in navorsing (Ghate et al., 2000:53-56; Smith, 1996:178) bevestig is. Die diensgerigte sentrum kombineer wel al die benaderings.