• No results found

2.5 EIENSKAPPE VAN HOËRISIKO-GEMEENSKAPPE, GESINNE EN

2.5.3 Eienskappe van hoërisiko-individue

Bronfenbrenner (1977:514) beskou die individuele vlak van menslike ekologie as die interaksies van ‟n persoon in sy onmiddellike omgewing waar ‟n spesifieke rol vertolk moet word, soos byvoorbeeld in die huis. Navorsers fokus op die verskillende risiko-faktore wat by die ouer of ouers aanwesig kan wees, soos byvoorbeeld die persoonlikheid van die ouer (Brown et al., 1998:1069), die gesondheid van die ouer (Ghate & Hazel, 2002:45), asook moontlike persoonlikheidstrekke by die moeder wat funksionering bemoeilik, sowel as middelmisbruik en depressie (Kotch et al., 1999:313). Vir die doeleindes van hierdie studie sal die persoonlikheidsafwykings of dieperliggende psigologiese probleme wat by die ouer voorkom, en wat kan bydra tot die feit dat ouers nie oor die kapasiteit beskik om hulle kinders te versorg, nie ontleed en bespreek word nie, maar sal die rol wat die ouer moet vertolk in die opvoeding en die versorging van die kind onder die loep geneem word.

Kruger (1996:29,30) se navorsing in Suid-Afrika, het aangedui dat die hoofprobleemareas wat deur maatskaplike werkers as die oorsaak vir die verwydering van kinders uitgelig is, by die ouers teenwoordig was. Onvermoë tot ouerskap, of gebrekkige ouerskapsvaardighede (84%) is as die belangrikste rede vir die verwydering van kinders aangedui, met middelmisbruik (64%) deur die ouers as die tweede belangrikste rede en persoonlikheidsprobleme (61%) as die laagste voorkoms.

2.5.3.1 Gebrekkige ouerskapsvaardighede

Alhoewel gebrekkige ouerskapsvaardighede deur skrywers (Cash & Berry, 2003:4; Burke et

gemeenskappe woon, word dit nie in die literatuur spesifiek as ‟n risiko-faktor vir kindermishandeling en -verwaarlosing bespreek nie. Die identifisering van risiko-faktore het egter juis ten doel om die aspekte te identifiseer wat ouers verhinder om hulle rol en taak ten opsigte van die versorging van die kinders effektief uit te voer. Volgens Coulton et al. (1999:1034) se studie is ouerskap moeiliker in lae-inkomste gemeenskappe, omdat daar nie voldoende ondersteuningstelsels is om ouers in die uitvoering van hulle rol by te staan nie, wat gevolglik kinders se risiko vir mishandeling en verwaarlosing verhoog. Ouers het ook ‟n onwilligheid openbaar om beheer oor hulle kinders uit te oefen. Jack (2000:708) noem dat navorsing (Baldwin et al., 1990) bewys het, dat dit juis nodig is vir ouers in hoërisiko-omgewings om streng beperkings op hulle kinders se vryheid te plaas om hulle te beveilig, asook te beskerm teen die negatiewe invloede van die omgewing.

Garbarino en Sherman (1977) se navorsing word in hierdie verband as belangrik beskou (Jack, 2000; Coulton et al., 1999). Garbarino en Sherman (1977:192) het bevind dat ouers in hoërisiko-gemeenskappe minder verantwoordelikheid vir hulle kinders neem. Hulle maak ook minder gebruik van die bestaande sosiale netwerke, soos van bure in die onmiddellike omgewing. Hierteenoor het ouers in die lae-risiko gemeenskap sterker verantwoordelikheid vir die versorging van hulle kinders geneem en veral die informele sosiale netwerk wat bestaan het, effektief benut.

Burke et al. (1998:397-399) meen dat veral verwaarlosing verband hou met die vaardighede waaroor ouers beskik om in interaksie te tree met hulle kinders, asook met die bronne tot hulle beskikking. As ouers suksesvolle interaksie met hulle kinders wil hê, moet hulle eerstens oor basiese kennis van die normale ontwikkeling van kinders ten opsigte van die onderskeie lewensfases beskik. Indien hierdie vaardigheid ontbreek, sal ouers probleme ondervind om in hulle kinders se behoeftes te voorsien. Tweedens benodig ouers basiese kommunikasie- vaardighede ten opsigte van die onderskeie lewensfases om effektief met hulle kinders te kan kommunikeer. Basiese kennis van die hantering van gedrag is ook nodig vir die hantering van stresvolle interaksies met hulle kinders.

Ouers moet ook basiese vaardighede in die versorging van kinders hê ten opsigte van byvoorbeeld higiëne, voedselvoorbereiding en kognitiewe stimulasie. In die navorsing wat Kruger (1996:35) onderneem het, is gedragsprobleme, ongedissiplineerdheid en stokkiesdraai by die kinders as die belangrikste redes vir verwydering aangedui. Indien Burke et al. (1998) se uitgangspunt op hierdie situasie toegepas word, kan afgelei word dat ouers nie oor die

nodige ouerskapsvaardighede beskik het om hulle kinders te dissiplineer, of stresvolle gedragsinteraksies te hanteer nie.

‟n Verdere aspek wat deur Burke (1998) toegelig word, is die vermoë van die ouers om funksionele en ondersteunende interpersoonlike verhoudings in stand te hou. Hier word veral verwys na die vaardighede om sosiaal interaktief te kan wees met eweknieë, asook toepaslike kommunikasievaardighede te benut in ‟n verhouding met ‟n saamleefmaat en die uitgebreide familiestelsel. Indien ouers oor hierdie vaardighede beskik, sal hulle hierdie verhoudings as sosiale ondersteuning kan benut, wat as ‟n positiewe faktor beskou word in die teenwerking van sosiale isolasie. Alhoewel Kruger (1996:31) se navorsing nie die vaardighede van ouers op sosiale vlak ondersoek het nie, het maatskaplike werkers wel aangedui dat huweliksprobleme die derde belangrikste rede was waarom kinders verwyder is, wat wel ‟n aanduiding is dat ouers nie sosiale ondersteuning van mekaar in die huwelik gekry het nie. Gebrekkige ouerskapsvaardighede as ‟n risiko-faktor vir kindermishandeling en -verwaarlosing kan uit bogenoemde bespreking beskou word as die kennis van die ouer oor die versorging van kinders in die onderskeie lewensfases, asook begrip van die verantwoordelikheid wat teenoor die kinders geopenbaar moet word. Ouers moet ook oor die vaardigheid beskik om sosiale netwerke te benut wat intern en ekstern tot die gesin is. Ouerskapsvaardighede, of die gebrek daaraan kan dus beskou word as ‟n vaardigheid wat op individuele vlak by die ekosisteem kan ontbreek, vanweë ‟n lae opvoedkundige vlak by die ouers, asook gebrekkige bronne in gemeenskappe om in hierdie behoefte te voldoen. Gebrekkige ouerskapsvaardighede kan dus na aanleiding van die bogenoemde bespreking as ‟n risiko-faktor vir kindermishandeling en -verwaarlosing in Suid-Afrika beskou word.

2.5.3.2 Middelmisbruik

Middelmisbruik word volgens Chaffin, Kelleher en Hollenberg (1996:200) beskou as die algemeenste vorm van ‟n psigiatriese afwyking, wat by ouers op individuele vlak voorkom, en wat sterk korrelleer met die voorkoms van kindermishandeling en -verwaarlosing. Statistiek in Amerika dui daarop dat middelmisbruik by die ouer teenwoordig is by 40-80% van die bevestigde gevalle van verwaarlosing (Maluccio et al., 2002:54), terwyl navorsing (Dong, Anda, Felitti, Dube, Williamson, Thompson, Loo & Giles, 2004:778; Brown et al., 1998:1068) middelmisbruik by die moeder as ‟n belangrike risiko-faktor vir mishandeling en verwaarlosing beskou. Connell et al. (2007:384) se studie het bevind dat ‟n geskiedenis van

middelmisbruik by ouers ook tot ‟n verhoogde voorkoms van herverwysing na kinderbeskermingsdienste aanleiding gee.

Die hoë voorkoms van middelmisbruik by ouers in Suid-Afrika word bevestig in beleidsdokumente (Department of Social Development, 2004a:25), waar die feit dat middelmisbruik maatskaplike probleme vir gesinne tot gevolg het, asook die gesin se sosiale netwerke beïnvloed, beklemtoon word. Middelmisbruik is in 64% van die gevalle in die studie wat Kruger (1996:31) onderneem het deur maatskaplike werkers aangedui as die rede waarom kinders vanuit hulle ouerhuis verwyder is. Stres as gevolg van faktore soos lae inkomste, werkloosheid en enkelouerskap word deur Smokowski en Wodarski (1996:509) as bydraende faktore tot middelmisbruik, asook depressie by ouers geïdentifiseer. Hierdie faktore is soos reeds vroeër in hierdie hoofstuk genoem, ook van toepassing op Suid-Afrikaanse gesinne.

Tracy (1994:535) fokus op die negatiewe gevolge wat middelmisbruik vir kinders in ‟n huisgesin het, aangesien hierdie kinders dikwels in gevaarlike gemeenskappe woon, waar huishoudelike geweld kan voorkom. Vanweë die ouers se middelmisbruik is hulle ouerskapsvaardighede swak, wat tot gevolg het dat die ouer ‟n swak voorbeeld is as rolmodel. Skrywers (Maluccio et al., 2002:55; Dore, Doris & Wright, 1995:540) beklemtoon dat dit dikwels moeilik is vir ouers wat middels misbruik om te probeer sober bly, terwyl hulle terselfdertyd moet werk aan hulle ouerskapsvaardighede om die verwydering van kinders te voorkom. Hierdie ouers het dikwels ook vanweë hulle middelmisbruik, min sosiale ondersteuningsisteme in die gemeenskap, wat ‟n verdere risiko-faktor vir kindermishandeling en -verwaarlosing is.

2.5.3.3 Persoonlikheidsfaktore by moeders en kinders

Sekere faktore wat betrekking het op die persoonlikheid van die moeder word geassosieer met ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing. Alhoewel Kruger (1996) se studie wat in die Wes-Kaap onderneem is, aangedui het dat persoonlikheidsprobleme by die ouers voorgekom het, wat verwydering genoodsaak het, is die aard van die persoonlikheidsprobleme nie aangedui nie. In hierdie afdeling sal persoonlikheidsfaktore toegelig word. Persoonlikheidsfaktore by die moeder wat geassosieer word met ‟n verhoogde risiko vir kindermishandeling en -verwaarlosing hou volgens Brown et al. (1998:1068,1069) verband met aspekte soos ‟n swak verhouding met die biologiese ouers, asook ‟n lae selfbeeld. Verdere faktore eie aan die moeder se persoonlikheid, was min betrokkenheid by die kind of

die kinders, terwyl daar ook ‟n gebrek aan warmte teenoor die kinders voorgekom het. Ten opsigte van die verhouding met die kind, is bevind dat ‟n ander risiko-faktor vyandigheid van die moeder teenoor die kind was. Vyandigheid is geoperasionaliseer as gevoelens van ontevredenheid by die moeder oor die kind, soos byvoorbeeld oor die kind se voorkoms, asook hoe die kind optree.

Depressie by moeders is in die navorsing wat Kotch et al. (1999:313) onderneem het as ‟n risiko geïdentifiseer vir kindermishandeling en -verwaarlosing in die eerste vier lewensjare van ‟n kind, maar daar is ook bevind dat die gebrek aan ondersteuningsisteme ‟n hoër risiko-faktor is as depressie. Chaffin et al. (1996:200) het bevind dat die voorkoms van depressie by moeders ‟n hoër risiko vir fisieke mishandeling van kinders aandui, as verwaarlosing.

Sekere eienskappe wat by die kind, of die kinders voorkom, is deur Brown et al. (1998:1068) as risiko-faktore vir kindermishandeling en -verwaarlosing geïdentifiseer. Hierdie faktore is wanneer die kind gestremd is of ‟n siektetoestand of lae verbale intelligensie het, asook wanneer die kind ‟n moeilike geaardheid het. Wanneer die kind tydens die vroeë kinderjare angstig en teruggetrokke was, of ‟n lae geboortegewig gehad het en die moeder komplikasies tydens geboorte ervaar het, is die risiko ook hoër vir kindermishandeling en -verwaarlosing. In Connell et al. (2007:582) se navorsing het die voorkoms van gestremdheid by die kind op ‟n verhoogde risiko gedui vir herverwysing na maatskaplikewerk-dienste.