• No results found

2.4 METATEORIE WAT AANGEWEND IS: TWEERIGTING-

2.4.3 Vier modelle vir skakelwerk

Vanuit die uitnemendheidsteorie is in 1984 vier modelle vir skakelwerk saamgestel wat ook vir die konteks van interne kommunikasie geld (Grunig & Hunt, 1984:27; Grunig & White, 1992:39). Later is die modelle in 1989 herformuleer om wêreldbeskouings te vorm wat ook as metateorieë diens doen, soos reeds betoog is (sien afdeling 2.2 en 2.4).

Die persagentskap- en openbare-inligtingsmodel word deur ʼn eenrigting wêreldbeskouing gekenmerk; die tweerigting-asimmetriese model deur die asimmetriese wêreldbeskouing; met die tweerigting-simmetriese model wat die simmetriese beskouing verteenwoordig (Grunig & White 1992:39). In ʼn mate verduidelik hierdie modelle ook die groei in die skakelwerkveld. Hierdie modelle word kortliks hier onder verduidelik, gevolg deur ʼn meer omvattende bespreking oor die tweerigting-simmetriese kommunikasiemodel. Die model druk ʼn praktiese toepassing van skakelwerk in organisasies uit, waarvolgens tweerigting-simmetriese kommunikasie as metateorie die breër siening van die navorser na vore bring.

Persagentskapmodel

Die persagentskapmodel dui op ’n eenrigtingvloei van inligting wat nie noodwendig die waarheid bevat nie (Grunig & Grunig, 1992:287-288). Die hoofdoel is om reklame vir die organisasie te maak en nuwe produkte of idees te bemark. Gevolglik gebruik die organisasie propaganda om die ontvanger te oorreed. Sulke kommunikasie kan misleidend wees. Vir hierdie vorm van

kommunikasie word min of geen navorsing ingespan nie, aangesien die terugvoer of persepsies van die ander party nie as belangrik beskou word nie (Dozier et al., 1995:41, 209; Fill, 1999:398; Grunig & Grunig, 1992:287-289; Grunig & White, 1992:18, 39; Grunig et al., 2002:308).

Openbare-inligtingsmodel

Die doel van die openbare-inligtingmodel is om die belangegroepe deurlopend oor die organisasie se aktiwiteite ingelig te hou. Gevolglik word die belangegroepe nie oorreed nie; eerder ingelig (Grunig & White, 1992:18). Die vloei van inligting is steeds in een rigting en voorsien die waarheid (Fill, 1999:398) soos die organisasie dit opneem. Die kommunikasiedepartement gebruik interne joernaliste om positiewe verslae oor die organisasie en dié se aktiwiteite te versprei (Dozier et al., 1995:41; Grunig & Grunig, 1992:288; Grunig et al., 2002:308; Ledingham & Bruning, 2000:xi-xii).

Tweerigting-asimmetriese model

In die tweerigting-asimmetriese model is tweerigting kommunikasie beslis aanwesig, maar die manier waarop die kommunikasie deurgegee word, is ongebalanseerd. Die mag setel steeds in die organisasie, aangesien eersgenoemde meer gesag, mag en krag as die belangegroepe besit (Fill, 1999:398). Die hoofdoel van hierdie model is om die belangegroepe se persepsies en gedrag te beïnvloed deur hulle te oorreed om die organisasie se siening oor verskeie sake te aanvaar (Grunig & Grunig, 1992:288).

Tweerigting-simmetriese model

Die tweerigting-simmetriese model pas die breër aannames van die tweerigting-simmetriese metateorie toe. Die tweerigting-simmetriese model se doel is om wedersydse begrip tussen die belangegroepe en die organisasie te vestig deurdat beide partye aan die kommunikasieproses deelneem (Grunig, 2017:28; Wilcox et al., 1998:50). Hierdie model span navorsing en dialoog in om die verhouding met die belangegroepe te bou (Grunig & White, 1992:18; Kang & Sung, 2017:82). Gevolglik benut die organisasie kommunikasie strategies as oorreding om houdings en persepsies te verander. Tydens hierdie proses word inligting nie net oorgedra nie, maar ook ontvang met die doel om beter wedersydse begrip te kweek (Dhanesh, 2017:925; Grunig, 2017:28; Grunig & Grunig, 1992:288).

In die lig van die uiteensetting hier bo, is die vloei van inligting tweerigting simmetries. Dit beteken dat die kommunikasie van topbestuur af na die werknemers en terug vloei. Die hoeveelheid kommunikasie wat van die een party na die ander vloei, moet ook gelyk wees om as simmetrie getipeer te word. Met ander woorde, elkeen in die organisasie kan bydra en ’n mening lug – in dieselfde mate as wat die bestuur mag. Sodoende groei die organisasie deur insette van die

onderskeie kante (Fill, 1999:399; Grunig, 1992:248; Grunig et al., 2006:53; Grunig & White, 1992:43). Veral binne die konteks van nuwe ontwikkelings in elektroniese media (sien afdeling 1.1.2.3), is direkte terugvoerkanale meer beskikbaar vir belangegroepe om hulle menings te opper.

Uit die navorsing oor die modelle hier bo is dit dus duidelik dat organisasies hulle kommunikasie volgens die tweerigting-simmetriese model behoort te ontwerp om die beste resultate te behaal (Grunig et al., 2002:15; Kang & Sung, 2017:82). Navorsers beskou hierdie model as die mees doeltreffende vir interne kommunikasie (Grunig & White, 1992:38). Grunig en Grunig (1992:315) bevestig hierdie siening deur navorsing wat aandui dat die genoemde model meer doeltreffend werk as die ander modelle, naamlik persagentskap-, openbare-inligting- en tweerigting asimmetries. Die rede is duidelik: Aangesien die tweerigting-simmetriese model aan die ooreenstemmende metateoretiese verwagtings voldoen, bou dit langtermynverhoudings met belangegroepe. Hierdie soort verhoudings help die belangegroepe om konflik beter te hanteer en bied wedersydse ruimte met die organisasie om onderskeie sienings te lug (Grunig, 2017:28). Die gebruik van tweerigting-simmetriese kommunikasie verbeter en versterk die bou en behou van wedersyds voordelige langtermynverhoudings aangesien dit tussen die organisasie en belangegroepe dialoog skep en wedersydse begrip daarstel (Grunig, 1992:552).

Sodanige langtermynverhoudings vereis ook dat beide partye voortdurend aanpas en verander as gevolg van die wedersydse kommunikasie en beïnvloeding (Dhanesh, 2017:925; Scholes & Clutterbuck, 1998:228). In die lig hiervan moet organisasies hulle strategie, doelwitte en uitkomste aanpas, byvoorbeeld as antwoord op die terugvoer wat hulle van sleutelbelangegroepe ontvang het (Dhanesh, 2017:925; Scholes & Clutterbuck, 1998:228). Sosik et al. (2002:212) beklemtoon die noodsaak dat belangegroepe en organisasies wedersyds aanpas. Sodoende word die tweerigting-simmetriese model verwesenlik, wat ook gebaseer is op die aannames van die ooreenstemmende metateorie (sien afdeling 2.2 en 2.4). Die genoemde navorsers merk voorts op dat organisasies wat intern by die verskeidenheid werknemers en omstandighede kan aanpas, byvoorbeeld ook beter sal bestuur en meer suksesvolle leierskap oplewer om sodoende die werknemers se medewerking en vertroue te wen.

Huang (2004:333) wys voorts daarop dat tweerigting-simmetriese kommunikasie ook ʼn sterker etiese inslag het, soos in die metateoretiese aannames uitgewys is (sien afdeling 2.2 en 2.4). Die rede is dat die tweerigtingbenadering van nature eties gerig is en gevolglik tot doeltreffender kommunikasie met belangegroepe lei. Die verwysing na partye wat aanpas, skakel weer in by die sisteembenadering (sien afdeling 2.3.1) op grond van ’n verhouding van wedersydse beïnvloeding en interafhanklikheid (Perlman & Vangelisti, 2006:3). In soortgelyke sin moet die

verhouding van die organisasie met die belangegroepe gekenmerk wees deur interaksie waardeur die partye wedersyds interafhanklik optree (Broom et al., 2000:18; Ledingham & Bruning, 1998:62). Verhoudings deur tweerigting-simmetriese kommunikasie gekenmerk, skakel in by ’n sisteem van interafhanklikheid waarvolgens verandering by een sisteem ook by die ander een na vore kom (Berscheid & Reis, 1998:195).

Dis kommerwekkend dat bevindings van talle studies oor die afgelope jare in Suid-Afrika dui op asimmetrie in besture en werknemers se persepsies oor interne kommunikasie binne hulle onderskeie organisasies (bv. Ince-Garcia, 2016:74-76; Landsberg, 2014:176; Montsho, 2013:113; Soha, 2010:93-95; Sutton, 2014:182-184). Die bestuur is dikwels onder die indruk dat die werknemers wel tevrede is met die kommunikasie wat hulle ontvang, waar werknemers juis van die teenoorgestelde getuig. Soos in die literatuur aangedui, soek werknemers by Suid- Afrikaanse organisasies blykbaar meer tweerigting-simmetriese kommunikasie en terugvoer vanaf topbestuur. Munslow (2016) beskou “luister” as die “verlore skakel in korporatiewe kommunikasie”. Macnamara (2018:1) bevestig dat daar min aandag aan luister gegee word, dat organisasies dikwels sporadies luister of soms glad nie luister nie. Die gevolg is dat organisasies meestal monoloë uitbring of dan “monoloë wat as dialoog vermom is”. Met ander woorde, besture bedryf merendeels eenrigting of asimmetriese kommunikasie.

Dikwels beskou die bestuur HUB road shows of ontbytgeleenthede met die besturende direkteur as genoegsame geleenthede vir topbestuur en werknemers om kwessies te kan uitpluis. Sulke gebeurtenisse is dikwels bloot ’n platform vir eenrigtingkommunikasie waar die bestuur inligting en strategiehersienings deurgee; daarby vind dié kontak slegs een of twee keer per jaar plaas, wat nie genoegsaam vir sinvolle kommunikasie is nie (Munslow, 2016; Sutton, 2014:183).

Grunig en White (1992:45-46) benadruk egter dat tweerigting-simmetriese kommunikasie se praktiese toepassing onrealisties blyk en as normatief beskou word, aangesien dit die maatreëls voorskryf wat die organisasie behoort na te volg. Gevolglik pas besture tweerigting-simmetriese kommunikasie in die praktyk toe deur die gemengdemotiewe-model in te span (Grunig & White, 1992:48). Vir Plowman (2005:131-138) kan die gemengdemotiewe-model die besinning oor die werklike konteks van kommunikasiepraktisyns meer akkuraat uitdruk. Hierdie model veronderstel dat organisasies by hulle omgewing aanpas of hulle doelwitte daarmee laat ooreenstem, soos die sisteembenadering ook voorstel (Moss & Warnaby, 2000:67). Eenvoudiger gestel, soos ook aangedui in die tweerigting-simmetriese aannames: Daar moet konsensus bereik word tussen die sienings en menings van die organisasie en die belangegroepe (Westminster, 2013). Indien organisasies op die doeltreffendste manier met hulle belangegroepe wil kommunikeer, moet

laasgenoemde se aard en houdings ook in ag geneem word (Westminster, 2013). Die gemengdemotiewe-model word in Figuur 2.1 hier onder uitgebeeld.

Figuur 2.1: Gemengdemotiewe-model (Aangepas uit Dozier et al., 1995:48; Grunig et al.,

2002:357)

Uit Figuur 2.1 hier bo kan bepaalde afleidings gemaak word oor die gemengdemotiewe-model en die tweerigting-simmetriese metateorie-aannames wat toegepas word:

 Geen party moet die kommunikasie oorheers of op die ander een afdwing nie. Die gemengdemotiewe-model beskryf ’n wen-wen-situasie waarin die organisasie en belangegroepe mekaar wedersyds kan beïnvloed om ’n ooreenkoms te bereik (Grunig et al., 2002:11). Sodoende word gewys hoe die aanname van oop onderhandelings met belangegroepe pratkties toegepas kan word (sien afdeling 2.4). Sodanige organisasies is gereed om oop onderhandelings met belangegroepe aan te gaan en laasgenoemde se belange te respekteer deur aan hulle vryheid te bied. Hierteenoor dui pyltjie 1 en 2 aan waar die mag by een groep sentreer, in teenstelling met die tweerigting-simmetriese aannames (Dozier et al., 1995:48-49; Grunig, L.A. et al., 2002:355-358).

 Oorreding en beïnvloeding kan binne die wen-wen-sone toegepas word. Deur sodanige kommunikasie word sinergie weereens bevestig, soos in die sisteemteorie uitgewys (sien afdeling 2.3.1.3) (Grunig et al., 2002:356). Gevolglik word die kommunikasieproses in geheel volgens ’n tweerigting-simmetriese benadering bedryf, al is daar vir ’n tydperk sprake van oorreding (asimmetrie).

Indien die organisasie, volgens die gemengdemotiewe-model, tweerigting simmetries wil kommunikeer, moet dit die volgende prosedure volg (Fill, 1999:399; Grunig & White, 1992:43), om sodoende die aannames van die metateorie prakties uit te voer (sien afdeling 2.4):

 Erken die interafhanklikheid tussen die onderskeie belangegroepe.

 Besef dat die organisasie ’n oop sisteem is, met ander woorde, oop vir invloede (insluitend dié van interne belangegroepe op die organisasie).

 Handhaaf bewegende ekwilibrium, oftewel voortdurende beweging en herstel van balans tussen die organisasie en die samelewing. Hierdie prosedure skakel met die sisteembenadering en reflektiewe paradigma se sienings en bevestig só dat die tweerigting-simmetriese model binne die raamwerk geld.

Die teorieë vir die studie word bespreek vanuit die tweerigting-simmetriese metateorie, wat as ordeningsriglyn geld.