• No results found

Vroeër is aangedui (afdeling 1.1.2.5) dat interne aktivisme ʼn tema is wat sterk binne die korporatiewe omgewing in Suid-Afrika na vore getree het. Dit is grotendeels uitgewys as ʼn uitdaging wat van spesifieke kontekste afhang en toeneem. Daarom is die deelnemers spesifiek hieroor uitgevra. Hulle was egter verdeeld oor die vlak van interne aktivisme wat organisasies in Suid-Afrika ervaar. Sommige deelnemers het genoem dat hulle organisasie glad nie interne aktivisme beleef nie. Ander erken weer dat “daar ʼn vlak van aktivisme” in alle Suid-Afrikaanse organisasies is. ʼn Deelnemer het opgemerk: “In die algemeen in Suid-Afrika, sal jy ʼn mate van aktivisme hê wat jy sal moet bestuur. Dit is die aard van die samelewing en die aard van Suid- Afrikaners en die organisasies is ʼn mikrokosmos van die samelewing.” Daar is ook genoem dat “dit miskien deel van ʼn korporatiewe kultuur kan wees” en dat “werknemers hulle opinie sal lug”. As voorbeeld het ʼn deelnemer genoem dat hulle “... meer sensitief is in ons kommunikasie met werknemers, juis om iets soos aktivisme te probeer vermy ... Ons is byvoorbeeld sensitief wanneer ons prentjies en taal gebruik in ons kommunikasie, sodat niemand aanstoot neem nie.”

Tog blyk dit dat interne aktivisme van industrie of konteks afhang. Dit is insiggewend dat sommige deelnemers spesifiek na die mynwese verwys het wanneer hulle aan interne aktivistiese optrede gedink het. Daarby kom dit voor of aktivisme ook verband hou met arbeiders op laer vlak. ʼn

Deelnemer het byvoorbeeld betoog dat die geleerdheid van hulle personeel die rede is waarom hulle nie aktivisme beleef nie. Daarteenoor is omgewings waar ongeskooldheid voorkom, soos die mynwese, oop vir aktivistiese optrede, soos hierdie respons bevestig: “By ons is die meerderheid werknemers professioneel en het diplomas en grade opwaarts,” wat beteken dat dit ʼn hoogs opgeleide gemeenskap is. “Ons het nie baie ongeskoolde werknemers nie ... Maar ek kan sien dat aktivisme in die ongeskoolde omgewing [blue collor environment] soos by die myne, ʼn realiteit sal wees.”

Daarteenoor het die deelnemer wat die mynwesesektor verteenwoordig, self genoem dat hulle “glad nie aktivisme onder werknemers ervaar nie”. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat organisasies in die mynwese, met die fokus op voorvalle soos die Marikana-bloedbad in 2012, dit nie as aktivisme beskou nie. Nogtans was die oorsaak juis interne ongelukkigheid wat tot die stakings gelei het. Ander deelnemers het egter die Marikana-voorval wel as aktivisme getipeer.

Later in die onderhoud met die deelnemer van mynwese egter in ʼn mate toegegee dat interne aktivisme wel ʼn tendens is. Sy het egter die saak verdedig deur daarop te wys dat “dit ʼn probleem regoor die wêreld is” en nie slegs binne die Suid-Afrikaanse mynwese-sektor nie. Sy het haar standpunt soos volg verduidelik: “Dit gaan oor die maatskappy se optrede. Dit gaan oor leierskap wat wys dat dit sy werknemers waardeer. Dit gaan oor goeie betaling. Dit gaan oor voordele. Ek dink nie dit is anders oor die hele wêreld nie. Ek dink interne aktivisme is afkomstig van enigeen van hierdie gebiede af, afhangende van waar in die voedselketting jy sit. So, as jy in ʼn lae betalende werk is, sal jou aktivisme oor die algemeen rondom salarisverwante kwessies gaan. Maar, bygesê, salarisverwante kwessies affekteer almal, of jy nou onder of bo in die rangketting is.” Uit die bogenoemde response kan die gevolgtrekking gemaak word dat die oorsaak van interne aktivisme meestal setel in ongelukkigheid oor salarisse, byvoordele of ʼn gevoel van gebrek aan waardering. Hierdie fokus skakel ook met die vorige argument dat aktivisme met laervlak-arbeiders verband hou.

Hoewel aktivisme meestal in die mynwesesektor na vore kom, het deelnemers aangedui dat die hoëronderwyssektor ook interne aktivistiese optrede beleef. Een van die deelnemers in dié sektor het die #FeesMustFall-proteste se invloed verduidelik: “Ons het op hierdie stadium ʼn verdeelde akademiese gemeenskap, want daar is diegene wat vir die #FeesMustFall veldtogte is en dié wat daarteen is. Die verdeeldheid is vanaf Skoolvlak regdeur tot by Senaatsvlak.” Sy het ook verduidelik dat daar akademici is wat “nog altyd konfrontasie probeer uitlok”. Hierdie akademici is blykbaar almal deel van een spesifieke Skool: “Die Skool ... en die uitvoerende bestuur was nog altyd in opposisie. Dit is só sedert ek hier begin het 16 jaar gelede. Hulle is oor die algemeen in konfrontasiemodus met die uitvoerende bestuur.”

Voorts blyk dit dat ʼn ander deelnemer bewus is van die onrus (protes en stakings) in die hoëronderwyssektor binne Suid-Afrika en die organisasie het empatie vir die situasie: “Die protes en stakings wat tans weer opduik in die studente-arena by sommige van die openbare universiteite is iets waarvan ons beslis bewus is. Dus, uit ʼn bemarkings- en verkoopsperspektief bied dit vir ons geleenthede, want ons is ʼn privaatonderrigverskaffer, maar aan die ander kant, vanuit ʼn akademiese oogpunt, is ons baie bewus van die probleme waarmee studente gekonfronteer word. En hoewel ons as ʼn private hoëronderwysverskaffer nie subsidies van die regering ontvang nie, verstaan ons die probleme wat die openbare universiteite nou in die gesig staar. Ek weet nie of jy dit aktivisme kan noem nie. Dit is meer ʼn gevoel van empatie en begrip.” Uit die bostaande stelling kan afgelei word dat die deelnemer nie noodwendig proteste deur eksterne belangegroepe as aktivisme beskou nie. Daarby dui sommige deelnemers nie aan dat hulle interne aktivisme ondervind wat bestuur moet word nie. Hulle erken egter dat aktivisme binne organisasies ʼn werklikheid in Suid-Afrika is. Dit kan ʼn nuwe tendens wees wat organisasies strategies sal moet hanteer.

Behalwe vir die #FeesMustFall-veldtogte wat verdeeldheid en aktivisme aangehits het, beleef die hoëronderwyssektor dieselfde soort ongelukkigheid as ander sektore. Een deelnemer verduidelik: “Daar is kwessies tussen vakbonde en seniorbestuur. Daar is wrywing met veral twee vakbonde, want ons is besig met salarisonderhandelinge vir die volgende jaar.” Die deelnemers het genoem dat hierdie soort wrywing moontlik tot interne aktivisme kan lei as dit nie strategies bestuur word nie. Dit blyk dat interne aktivisme besig is om toenemend in ander industrieë voor te kom. Hier geld byvoorbeeld die hoëronderwyssektor, waar aktivisme oorspronklik dalk nie noodwendig so duidelik was nie.

Daarteenoor het sommige deelnemers betoog dat hulle glad nie interne (of eksterne) aktivisme beleef nie: “Ons werknemers het nog nooit op ʼn aktivistiese manier opgetree nie en ons het nog nooit nodig gehad om iets soos aktivisme te hanteer nie.” Van hierdie deelnemers het daarop gewys dat aktivisme “nie deel is van die manier waarop ons werk nie”, aangesien hulle dialoog gebruik om probleme uit te sorteer voordat die kwessies groei tot “iets wat onbeheerbaar” is. In die volgende stelling word verduidelik hoe sommige deelnemers tweerigting kommunikasie gebruik. Dis om interne belangegroepe aan te moedig dat hulle saamwerk aan die organisasie se doelwitte en om aktivisme uit te skakel. Een deelnemer het dit soos volg verduidelik: “As dinge glad verloop, is jy gewoonlik onder die indruk dat kommunikasie redelik goed gegaan het. Waar daar baie hoofpyne en negatiewe uitkomste is, is dit dikwels as gevolg van onvolmaakte kommunikasie. Ons [seniorbestuur] kry dan daardie mense bymekaar, gee hulle ʼn stem en probeer om agter die kap van die byl te kom wat dit is wat die persone nie kry nie en wat dit is

wat hulle nodig het om dit te bereik.” Hieruit blyk die deelnemers se betoog dat interne aktivisme bestuur kan word deur tweerigting kommunikasie, waar werknemers ʼn platform het om hulle besware te kan lug. Dit word egter bevraagteken of só ʼn geleentheid as sodanig aktivistiese optrede sal bekamp, indien senior-bestuur nie daadwerklik op die besware reageer en dit hanteer nie.