• No results found

3.4 NAVORSINGSPROSEDURE

3.4.2 Semi-gestruktureerde onderhoude

Semi-gestruktureerde onderhoude kan beskryf word as ’n mengsel van gestruktureerde en ongestruktureerde onderhoude. Die rede is dat voorafbepaalde vrae gerig word, maar deelnemers kry ook die geleentheid om kwessies aan te raak wat nie deur die vrae aangeroer is nie (Struwig & Stead, 2001:98). Du Plooy (2001:196) beskryf semi-gestruktureerde onderhoude voorts as ’n vraag-en-antwoord-gesprek wat interaksie met die onderhoudvoerder en die deelnemer aanmoedig (Baxter & Babbie, 2004:330; Moser & Korstjens, 2018:13-14).

Semi-gestruktureerde onderhoude word daarby gekenmerk deur vryheid en buigbaarheid aan die onderhoudvoerder se kant (Du Plooy, 2001:117). Laasgenoemde is vry om opvolgvrae tussen die voorafopgestelde vrae van die onderhoudskedule in te bring. Só word deelnemers die geleentheid gegun om hulle antwoorde en ervarings in diepte te verduidelik (Baxter & Babbie, 2004:326; De Vos et al., 2002:302; Du Plooy, 2009:198; Wimmer & Dominick, 1991:146). Hierdie metode van onderhoudvoering bied deelnemers ook kans om kwessies te opper waaraan die navorser moontlik nie gedink het nie (De Vos et al., 2002:302; Du Plooy, 2001:198; Struwig & Stead, 2001:86). Weens die uitgebreide geleenthede om inligting in te samel, word hierdie vorm van onderhoude as geskikte metode beskou – deurdat dit dieperliggende redes agter ’n bepaalde verskynsel uitlig (Du Plooy, 2001:179; Moser & Korstjens, 2018:13-14; Wimmer & Dominick, 1991:145). Op die koop toe is onderhoudvoering ook ʼn relatief goedkoop metode om kwalitatiewe inligting in te samel wat ryk aan besonderhede is en belangrike resultate oplewer (Hocking et al., 2003:209; Struwig & Stead, 2001:100).

In die huidige studie is semi-gestruktureerde onderhoude spesifiek gevoer met interne kommunikasiepraktisyns by die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika, asook konsultante in

interne kommunikasie. Soos reeds gemeld, was die doel om inligting in te samel oor hulle persepsies van interne kommunikasiebestuur binne die Suid-Afrikaanse omgewing vol uitdagings. In hierdie verband bevestig Du Plooy (2001:281) dat onderhoude ʼn geskikte tegniek is wanneer data oor bestuursaspekte ingewin moet word.

Die semi-gestruktureerde onderhoude met die interne kommunikasiepraktisyns by die Top-500 maatskappye het die data genereer om spesifieke navorsingsvraag 2 (sien afdeling 1.3.1.2 en Tabel 3.2) te beantwoord:

Hoe bestuur die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika interne kommunikasie om gesonde verhoudings tussen die organisasie en interne belangegroepe te kweek en bevorder, met spesifieke verwysing na die algemene navorsingsvraag se drie kernaspekte?

Die semi-gestruktureerde onderhoude met die konsultante in interne kommunikasiebestuur het genoegsame data opgelewer om spesifieke navorsingsvraag 3 (sien afdeling 1.3.1.3 en Tabel 3.2) te beantwoord:

Wat is die persepsie van die konsultante in die veld van interne kommunikasiebestuur in Suid-Afrika oor die gebruik van interne kommunikasie om blywende verhoudings tussen interne belangegroepe en organisasies op te bou, met verwysing na die algemene navorsingsvraag se drie kernaspekte?

Die data wat deur die bogenoemde navorsingsvraag 2 en navorsingsvraag 3 se onderhoude ingesamel is, is gebruik om saam met die konteks in hoofstuk 1 en bevindings van die literatuurstudie in hoofstuk 2, navorsingsvraag 4 (sien afdeling 1.3.1.4 en Tabel 3.2) te beantwoord:

Wat is die huidige stand van interne kommunikasie in Suid-Afrika, ook met verwysing na die drie kernaspekte in die algemene navorsingsvraag genoem?

Deur die vier spesifieke navorsingsvrae te beantwoord, word gepoog om in die finale hoofstuk van die studie uiteindelik die algemene navorsingsvraag (sien afdeling 1.3) te antwoord.

Die semi-gestruktureerde onderhoude met interne kommunikasiepraktisyns by die Top-500 maatskappye, asook die konsultante van die interne kommunikasiebedryf is gedurende die tydperk van Oktober 2017 – Oktober 2018 uitgevoer. Die semi-gestruktureerde onderhoude met die kommunikasiepraktisyns van die Top-500 maatskappye word eers in nader besonderhede bespreek; daarna kom die semi-gestruktureerde onderhoude met die konsultante in die bedryf onder die loep.

3.4.2.1 Semi-gestruktureerde onderhoude met interne kommunikasiepraktisyns by die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika

Die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika is gekies as maatstaf oor hoe om interne kommunikasiebestuur binne Suid-Afrikaanse ondernemings te benader. Die redes is dat organisasies afhanklik is van hulle interne belangegroepe vir oorlewing. Die genoemde organisasies het hulleself egter reeds as suksesvol en voorlopers in die ekonomie bewys. Daar is ook aanvaar dat organisasies wat as Top-500 bes bestuurde maatskappye in Suid-Afrika beskou word, waardevolle insette sou kon lewer oor huidige tendense in hulle interne kommunikasiepraktyke wat verhoudings met interne belangegroepe bestuur.

Die top vyf maatskappye uit elk van die 100 bedryfsektore vorm die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika. Vir ʼn organisasie om vir insluiting op die lys in aanmerking te kom, moet die organisasie op drie sleutelgebiede uitblink, naamlik finansiële prestasie, bemagtiging, sowel as beleid en akkreditasie. Die maatskappye moet nie slegs uitstaande resultate in daardie spesifieke sektor toon nie. Hulle moet ook ʼn sterk beleid opgestel hê vir maatskaplike aangeleenthede, bemagtiging en ontwikkeling soos nodig is vir die unieke Suid-Afrikaanse omgewing (sien afdeling 1.1.2) (Top 500, 2019; Wakelin, 2018). Die fokus op die genoemde kwessies beklemtoon ook hoe belangrik hierdie organisasies interne belangegroepe beskou. Daar word ook betoog dat top maatskappye meer produktief as ander organisasies is. Die Top-500 maatskappye gebruik hierdie aanname as ʼn maatstaf, aangesien omset per werknemer as prestasie-aanwyser gebruik word. Volgens die teorie (sien afdeling 1.4.1.2) sal werknemers meer produktief wees as interne kommunikasiepraktyke doeltreffend beoefen word om gesonde verhoudings tussen die organisasie en werknemers te kweek. Dit maak dus sin om die lys van Top-500 maatskappye te gebruik as deel van die populasie vir hierdie spesifieke studie.

Die navorser het semi-gestruktureerde onderhoude gevoer met senior-kommunikasiepraktisyns wat aan die hoof staan van interne kommunikasiebestuur by die Top-500 maatskappye. Elkeen van hierdie praktisyns het ʼn belangrike aandeel aan die kommunikasievloei vanaf die topbestuur na werknemers. Die rede is dat hulle sleutelrolspelers is binne die kommunikasiedepartemente van die geselekteerde Top-500 maatskappye in Suid-Afrika is.

ʼn Doelgerigte steekproef is getrek aangesien die organisasies spesifiek vir die semi- gestruktureerde onderhoude uitgekies is (Du Plooy, 2009:123). Die rede is dat die navorser hierdie organisasies as voorlopers in die interne kommunikasieveld beskou, soos hier bo gemotiveer en ook weens die toekennings wat hierdie maatskappye ontvang het (sien Tabel 3.3). ʼn Doelgerigte steekproef kan geneem word as die navorser spesifieke kennis van die populasie het (Du Plooy, 2009:208).

Die navorser het persoonlike e-posse aan die moontlike deelnemers gestuur, saam met ʼn brief in die e-pos aangeheg, waarin die omvang van die studie verduidelik is. ʼn Voorbeeld van die brief word as Aanhangsel A aangeheg. In die e-pos is die geteikende deelnemers gevra of hulle gewillig sou wees om aan die studie deel te neem. Opvolg- e-posse is gestuur aan diegene wat aangedui het dat hulle wel bereid is om deel te neem. Daardeur is ʼn datum en tyd vasgemaak vir die onderhoude wat elektronies as afsprake geskeduleer is. Heelwat organisasies wat gekontak is, het nie op die e-pos gereageer nie; of het aangedui dat hulle nie aan die studie wil deelneem nie. Die rede hiervoor kan moontlik wees dat organisasies nie graag inligting oor hulle interne praktyke wil bekend maak nie. Die navorser het wel die e-pos vir ʼn tweede keer uitgestuur aan organisasies wat nie gereageer het nie – meestal sonder sukses. Daarna is hierdie kommunikasiepraktisyns aangemoedig om ander deelnemers binne die populasie voor te stel as deel van sneeubalsteekproefneming (Du Plooy, 2009:124). Die praktisyns het aangedui watter organisasie hulle as leiers in interne kommunikasie beskou; daardie interne kommunikasiepraktisyns is volgende gekontak.

Tabel 3.3 hier onder verskaf meer besonderhede oor die prestasies van organisasies met wie kontak gemaak is en die onderhoude wat gerealiseer het.

Tabel 3.3: Top-500 maatskappye wat vir onderhoude gekontak is

Organisasies wat gekies is vanuit die Top-500 maatskappye in Suid- Afrika se lys

Aantal gekontak

Aantal gerealiseer

Aantal organisasies deur die navorser geïdentifiseer en gekontak op grond van ʼn doelgerigte steekproef

37 Aantal organisasies met sertifisering deur die Top Employers Institute (verskeie kategorieë)

8 2

Aantal organisasies met Top 500 Best Managed Company Award (verskeie kategorieë)

20 3

Aantal organisasies wat deur die Top-500 Maatskappye beskou word as ʼn uitblinker in die organisasie se spesifieke sektor

9 1

Aantal organisasies op die Fortune 100 Best Companies to Work For lys

1 0

Aantal organisasies met Top 500 Workplace Wellness Award 1 1 Aantal organisasies deur die sneeubalmetode gekontak 16 4

Totale aantal organisasies op die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika lys waarmee onderhoude gevoer is

Die organisasies wat gevolglik deel van die studie uitmaak, verteenwoordig verskeie besigheidsektore, naamlik:  Onderwys en opleiding  Gesondheid en skoonheid  Hotelle en vakansie-oorde  Suiwelproduksie  Mynbou  Voedselverwerking  Belegging- en batebestuur  Landbou  Gediversifiseerde kleinhandelaars

Hierna volg ʼn kort oorsig oor die organisasies se profiele en bedrywighede, soos op die Top-500 maatskappye se webtuiste (Top 500, 2019) en tydskrifpublikasies (Wakelin, 2018) uiteengesit is, asook op die onderskeie organisasies se eie webtuistes.

3.4.2.1.1 Onderwys en opleiding

ʼn Maatskappy is ingesluit wat op die JSE-aandelebeurs (Johannesburg Stock Exchange) gelys is en funksioneer binne die onderwyssektor in Suid-Afrika en die res van Afrika. Die maatskappy is een van Afrika se grootste privaatonderwysverskaffers en is die moedermaatskappy waarvan verskeie tersiêre kolleges en skole die onderwyshandelsmerk dra.

Die maatskappy word beskou as ʼn leier in gehalte-onderwys, opleiding en vaardigheidsontwikkeling. Voorts het die organisasie het erkenning vir hierdie diens ontvang deur op die wennerslyste van Financial Mail se Top Companies en Sunday Times / Business Times se Top 100 companies te verskyn. Die organisasie het ook ʼn uitnemendheidsprys vir Deloitte se Best Company to Work For-kompetisie ontvang.

Die maatskappy noem in hulle webprofiel dat hulle fokus op regverdige indiensneming, mededingende vergoeding, toepaslike werkuitdagings, erkenning en leergeleenthede om ʼn goeie werkplek te voorsien. Hulle doelwit is om die gesogte werkgewer in die onderwyssektor te wees.

3.4.2.1.2 Gesondheid en skoonheid

Hierdie maatskappy het meer as 21 handelsmerke en meer as 250 produkte, insluitend daaglikse behandelings en velsorgmiddels vir anti-veroudering, 'n omvattende gesondheids- en leefstylreeks asook skoonheidsmiddels en geurmiddels.

Die onderneming is in 1971 gestig en die sakegeleentheid van direkte verkope is daarop gemik om jaarliks minstens 4 000 nuwe werkgeleenthede te skep. Daar is ook 235 handelsmerke in 25 lande geregistreer vir die 250 produkte in hulle reeks.

Die maatskappy het verskeie plaaslike en internasionale toekennings gewen wat bewys is van deeglike organisasiebestuur.

3.4.2.1.3 Hotelle en vakansie-oorde

Die handelsmerk bestaan reeds verskeie jare, en vorm ʼn unieke entiteit deurdat dit 'n self- befondsde, nie-winsgewende organisasie is. Hulle diens is daarop gerig om ʼn spesifieke Suid- Afrikaanse kultuur inklusief, tot voordeel van alle Suid-Afrikaners, te laat groei.

Die organisasie bestaan uit twee komponente, naamlik een wat op kuns, taal, opvoeding en maatskaplike welsynsprogramme fokus en die ander wat talle Suid-Afrikaanse vakansieoorde besit en bestuur. In die verlede was hierdie oorde slegs beperk tot daardie spesifieke Suid- Afrikaanse kultuur. Een van die oorde is onlangs aangewys as die nasionale Lilizela-wenner vir die beste vierster-woonwapark in die selfsorgindustrie. Van die organisasie se ander oorde is aangewys as provinsiale Lilizela-wenners in agt kategorieë. Die oorde het ook ʼn tweede plek in die African Responsible Tourism Awards verower.

3.4.2.1.4 Suiwelproduksie

Die gekose organisasie het aan die einde van die 19de eeu tot stand gekom. ʼn Groep melkboere het hulle georganiseer deur ʼn suiwelkoöperasie te stig. Tans is hierdie onderneming toonaangewend binne die Suid-Afrikaanse omgewing en het ʼn uitgebreide verspreidingsnetwerk.

Die maatskappy se aandeelhouers het in 2010 die stap gedoen om op die JSE genoteer te word. Sedertdien is die maatskappy twee keer as die mees gerespekteerde maatskappy deur die Suid- Afrikaanse RepTrak®-studie aangewys.

3.4.2.1.5 Mynbou

Die mynmaatskappy is ʼn vervaardiger van platinumgroepmetale wat in die Bosveldkompleks van Suid-Afrika bedryf word. Die maatskappy is op die Londense Aandelebeurs (Londen Stock Exchange) genoteer, hoewel die bedryfshoofkantoor in Johannesburg, Suid-Afrika geleë is. Hulle het onlangs die gesogte Best Safety Improvement Mining Company toekenning ontvang tydens die South African National MineSafe awards.

Hoewel hierdie platinumvervaardiger toekennings vir goeie bestuur ontvang het, moes die organisasie ook reeds deur verskeie krisisse navigeer.

3.4.2.1.6 Voedselverwerking

Hierdie maatskappy is ʼn transnasionale voedsel-en-drank-maatskappy. Dit is die grootste voedselmaatskappy ter wêreld, gemeet aan inkomste en ander statistieke, sedert 2014. Hulle was nommer 64 op die Fortune Global 500 in 2017 en nommer 33 op die 2016-uitgawe van die Forbes Global 2000-lys van grootste openbare maatskappye. Hulle het onlangs die BestMed Workplace Wellness Award gewen, wat daarop dui dat interne belangegroepbestuur vir hulle belangrik is.

Die onderneming het 447 fabrieke, werk in 189 lande, het ongeveer 339 000 mense wat wêreldwyd vir die maatskappy werk en 29 van die handelsmerke lewer jaarlikse verkope op van meer as $1,1 miljard.

3.4.2.1.7 Belegging- en batebestuur

Hierdie onderneming is ʼn pan-Afrika-beleggings-, spaar-, versekerings- en bankgroep. Die groep is in 1845 gestig as Suid-Afrika se eerste lewensversekeringsmaatskappy wat in onseker tye finansiële sekerheid wil bied. Vandag het hulle meer as 12 miljoen kliënte en ongeveer R1,2 triljoen fondse onder beheer. Die maatskappy is genoteer op die JSE, sowel as op die aandelemarkte van Zimbabwe, Malawi, Namibië en Londen. Hulle het in 2018 die Topco Company of the Year-toekenning ontvang.

Wêreldwyd het hierdie onderneming meer as 28 000 mense in diens en werk in 17 lande oor drie streke: Afrika (Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Kenia, Malawi, Tanzanië, Nigerië, Ghana, Uganda, Rwanda, Suid-Soedan en Eswatini), Asië (Sjina) en Latyns-Amerika (Colombië, Mexiko en Uruguay).

3.4.2.1.8 Landbou

Hierdie onderneming is een van die toonaangewende landboumaatskappye in Suid-Afrika met ʼn geskiedenis wat oor ʼn tydperk van 109 jaar strek. Die groep maatskappye rus op drie pilare – Insetverskaffing, Finansiële en Tegniese Dienste en Marktoegang.

Hulle bedien die landbou- en voedselsektor met ʼn fokus op ses pilare – landboudienste, hulpbronne, beleggings, logistieke dienste, finansiële dienste en korporatiewe

ondersteuningsdienste. Voorts het hulle landwyd bedryfspunte en het ’n werkmag van 3 157 personeellede.

3.4.2.1.9 Onderwys en opleiding

Die universiteit is ʼn multi-kampus, openbare navorsingsuniversiteit in Suid-Afrika, met wortels in die mynbedryf, wat reeds sedert 1896 bestaan.

Die universiteit het nagenoeg 38 000 geregistreerde studente, waarvan ongeveer 20% op die kampus woon versprei oor die universiteit se 22 koshuise. Daarby is 65% van die universiteit se totale inskrywings vir voorgraadse studie, terwyl die oorblywende 35% nagraads studeer.

Die Academic Ranking of World Universities (ARWU) plaas die universiteit, met ʼn algehele telling, in die hoogste posisie van universiteite in Afrika. Voorts word dit as die top-universiteit in Suid- Afrika beskou deur die Center for World University Rankings (CWUR) en beklee hierdie posisie sedert 2014.

3.4.2.1.10 Gediversifiseerde kleinhandelaars

Die gekose maatskappy is ʼn multinasionale onderneming binne Suid-Afrika wat verskeie kleinhandelkettings besit. Hulle bedryf 218 vollynwinkels en 430 alleenstaande voedselwinkels in Suid-Afrika, met 64 winkels dwarsoor die res van Afrika. Dit is noemenswaardig dat die maatskappy een van die eerste plaaslike kleinhandelaars was wat werknemervoordele ingestel het soos ʼn pensioenfonds, mediese fonds en kraamverlof.

Die maatskappy het tydens 2018 - 2019 talle toekennings ontvang, onder meer: Een van die top twee Afrika maatskappye in die GlobeScan-SustainAbility Survey; finalis by die 16de Annual National Business Awards for the National Business of the Year Award; wen die Institute of People Management (IPM) Team of the Year Award; wen ʼn Legends of Empowerment Award by die 2019 Top Empowerment Awards; wen die Best Use of Social Media by die Content Council’s Pearl Impact Award, en in die 15de Sunday Times Generation Next Awards wen die maatskappy die kategorie van Coolest Grocery Store.

Uit die bogenoemde profiele is duidelik dat die organisasies wat aan die studie deelgeneem het leiers in hulle onderskeie sektore en bedrywe is. Dit is uitgebreide organisasies wat duisende mense in diens neem en word as Suid-Afrika se beste maatskappye geklassifiseer. Die organisasies is voorlopers op finansiële gebied, bemagtiging en akkreditasie. Gevolglik kom hulle voor op die lys Top-500 maatskappye in Suid-Afrika, as gevolg van uitstaande praktykstandaarde.

Vir die doel van die studie het die navorser slegs onderhoude met die kommunikasiepraktisyns van die bogenoemde tien organisasies gevoer. Dit is voldoende, aangesien kwalitatiewe navorsers gewoonlik slegs ʼn relatiewe klein aantal individue of situasies bestudeer en sodoende die individualiteit of uniekheid van elke analise daaroor behou. Die fokus was dus op die gehalte en diepte van die data, eerder as die hoeveelheid onderhoude. Sodoende kan kwalitatiewe navorsers verstaan hoe geleenthede, aksies en menings gevorm word deur die unieke omstandighede waarbinne dit geskied (Maxwell, 1996:17-18). Die onderhoude met die praktisyns is telefonies gevoer en het almal ongeveer 60 – 90 minute geduur.

In kwalitatiewe navorsing is herhaling van inligting die riglyn vir die aantal onderhoude wat gevoer word (Mason, 2010). Green en Thorogood (2009:120), asook Moser en Korstjens (2018:11) noem dat die meeste kwalitatiewe navorsers ervaar hulle moet onderhoude voer totdat die inligting begin herhaal en geen nuwe inligting na vore kom nie. Dus word versadiging of “saturasie” bereik. Gevolglik het die navorser in die huidige studie by die tiende onderhoud tot die insig gekom dat die inligting herhaal en dataversadiging bereik is. Moser en Korstjens (2018:11) beraam dat ʼn fenomenologiese studie minder as tien onderhoude benodig, wat ook die geval in hierdie studie was.

Volgens Du Plooy (2001:177) bevat die onderhoudskedule vir semi-gestruktureerde onderhoude gestandaardiseerde vrae en/of ʼn lys temas. Die navorser het vooraf ʼn lys vrae opgestel (ʼn onderhoudskedule), wat gegrond is op die teoretiese agtergrond en konstrukte wat in hoofstuk 2 vasgestel is (sien Tabel 3.4). Die onderhoudskedule is opgestel om die interne kommunikasiepraktisyns by die genoemde Top-500 Suid-Afrikaanse maatskappye se persepsies te bepaal oor interne kommunikasietendense by hulle onderskeie organisasies asook hulle siening oor interne kommunikasiebestuur en verhoudingsbestuur. Die doel was om daardeur spesifieke navorsingsvraag 2 te beantwoord.

Tabel 3.4: Temas uit die literatuur en vrae uit die onderhoudskedule – Top-500 maatskappye

Nr Vraag Tema soos in die

literatuur geïdentifiseer

 Goeie dag [Naam]. Dankie vir jou tyd en bereidwilligheid om aan hierdie studie deel te neem.

 Die onderwerp van hierdie studie is om die nuutste interne kommunikasietendense by die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika te bepaal, sodat strategieë aan ander organisasies voorgestel kan word in terme van: (i) wie as interne belangegroepe uitgewys kan word; (ii) die gekose kanale vir interne kommunikasie en hoe dit benut word; en (iii) hoe interne kommunikasie bestuur word.

 Daar is geen regte of verkeerde antwoord nie. Ek stel belang in jou persepsie en siening.

 Hierdie onderhoud is vertroulik en jou identiteit sal anoniem gehou word.

Tabel 3.4: vervolg

Nr Vraag Tema soos in die

literatuur geïdentifiseer

1.  Wat dink jy is die nuutste neigings in interne kommunikasie in Suid-Afrika?

o Dink jy dat dit wêreldwyd dieselfde is, of verskil ons (Suid- Afrikaanse organisasies)? Hoekom?

o Tot watter mate dink jy dat Suid-Afrikaanse organisasies goed is met interne kommunikasie? Hoekom?

 Hoe word interne kommunikasie tans in jou organisasie bestuur?

o Moet dit anders bestuur word? Hoe?

o Hoe dink jy word dit in Suid-Afrika in die algemeen bestuur?

Algemene openingsvrae om die interne

kommunikasietendense in Suid-Afrikaanse

organisasies vas te stel.

Uitnemendheid: Kommunikasiebestuur

2.  Hoe maak jy in jou organisasie ʼn onderskeid tussen interne en eksterne belangegroepe? Hoekom maak jy die onderskeid of hoekom nie?

 Beskryf asseblief wat jy as ʼn interne belangegroep beskou.

 In terme van organisatoriese strategiese doelstellings, wat is die belang van interne belangegroepe?

Identifisering van interne belangegroepe

3.  Tot watter mate dink jy dat formele kommunikasie-opleiding ʼn invloed het op hoe interne kommunikasie in jou organisasie bestuur word? Verduidelik asseblief.

o Wat is jou posisie in die organisasie en die funksie van jou departement in die organisasie?

o Het jy en ander werknemers in die kommunikasie-afdeling ʼn formele kommunikasiekwalifikasie? Brei asseblief uit.

Strategiese

kommunikasiebestuur: Opgeleide en ervare kommunikasiepraktisyn

4.  Verduidelik jou organisasie se struktuur en die plek van die kommunikasiedepartement in hierdie struktuur.

o Hoeveel lede is deel van die interne kommunikasiespan?

 Tot watter mate kan die kommunikasie-afdeling strategiese bydraes lewer wat oorweeg word by besluitneming deur die