• No results found

4.4 INTERNE KOMMUNIKASIE TUSSEN DIE ORGANISASIE EN

4.4.8 Kommunikasiesatisfaksie

Volgens die literatuur (sien afdeling 2.5.2.8) lei kommunikasiesatisfaksie onder werknemers tot gelukkige werkers. ʼn Belangrike element van ʼn kommunikasiestrategie sal wees om persepsies van interne belangegroepe te meet sodat vasgestel kan word of hulle kommunikasiebevrediging ervaar. Dit is egter debatteerbaar of die organisasies se kommunikasie die interne belangegroepe kan bevredig as die bogenoemde kommunikasiekonstrukte nie deeglik en doeltreffend uitgevoer word nie. Die meeste konstrukte se sukses hang af van tweerigting-simmetriese kommunikasie en die literatuur dui daarop dat ʼn doeltreffende simmetriese interne kommunikasiestelsel tot kommunikasiebevrediging onder werknemers lei (sien afdeling 2.5.2.8). Daar word dus weereens beklemtoon hoe wesenlik tweerigting-simmetriese kommunikasie in hierdie proses is.

Uit die gesprekke met onderhouddeelnemers van die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika wil dit voorkom of die meeste organisasies glo dat hulle werknemers tevrede is met die interne kommunikasie wat plaasvind. Hulle wys daarop dat hulle verskillende metodes gebruik om vas te stel hoe die werknemers oor die kommunikasieprosesse en -sisteme voel. Uit die resultate blyk dit vir die bestuur dat ʼn positiewe en tevrede persepsie binne hulle organisasie heers.

Een van die metodes is om jaarliks (of soms meer) ʼn kommunikasie-oudit in die maatskappye te doen. ʼn Deelnemer beskryf die oudit soos volg: “Ons doen elke jaar ʼn oudit. Dit is ʼn groot oudit – nie sommer net ʼn opname nie.” Hy verduidelik dat die kanale se doeltreffendheid gemeet word volgens veranderlikes van inhoud, formaat en reaksie. Voorts word betrokkenheid, veldtogte en inisiatiewe gemeet, want: “Ons wil graag sien wat die verband is tussen dit wat ons as interne kommunikasiedepartement doen om ʼn innemende, betrokke, hoë-presterende organisasie in staat te stel.”

ʼn Verdere metode om kommunikasiebevrediging te meet is deur te let op die reaksie wanneer bestuur interne veldtogte geloods het. Die kommunikasiepraktisyns let op die aantal mense wat aan ʼn veldtog deelneem, of daarop reageer en of daar gedragsverandering plaasvind. Die praktisyns meet ook of personeel meer bewus van sake is nadat dit gekommunikeer is. Hierdie evaluerings kan in ʼn mate wel aandui of die kommunikasiedepartement se insette suksesvol was, of nie. Die navorser betoog egter dat hierdie soort evaluerings nie noodwendig akkuraat genoeg aandui of werknemers tevredenheid en werkbevrediging ervaar nie.

Daar is sekere tekortkomings met die metodes wat ingespan word. Die deelnemers gebruik hoofsaaklik opnames of oudits deur vraelyste om kommunikasiebevrediging te meet. Die probleem met opnames om bevrediging vas te stel is dat dit nie noodwendig ware tweerigting- simmetriese gesprekke veronderstel nie. Gevolglik behoort kommunikasiebevrediging nie die hoofmeetinstrument in ondernemings te wees nie. Een deelnemer het hierdie tekortkoming spesifiek uitgewys: “Natuurlik moet ons nog ʼn lang pad stap om te verseker dat die interne persepsies nie een van eenrigting kommunikasie is nie, maar van ware tweerigting ...” Deelnemers het ook voorgestel dat platforms vir personeel geskep word waar hulle kans het om terugvoer te gee en met die organisasie te praat: “Ons moet nog werk aan ʼn manier om direkte terugvoer te kry.”

Een deelnemer het wel ʼn bykomende metode genoem om kommunikasiebevrediging te meet. Die praktisyns moet luister na die grapevine, aangesien dit ʼn ware weerspieëling is van die persepsies wat in die maatskappy heers: “Ons meet ook die praatjies in die gange deur deel te wees van die geselsies. As jy wil praat, luister ons, want ons is deel van die grapevine. Daardeur sien ons wat die gevoel is oor dit wat gekommunikeer word en ook op dit wat nie gekommunikeer word nie.”

ʼn Verdere aspek moet in gedagte gehou word. Nie alle bestuurders kommunikeer ewe doeltreffend en natuurlik nie. Hierdie tekorte kan ook die kommunikasiebevrediging beïnvloed wat werknemers ervaar. Deelnemers het opgemerk dat “kommunikasiestyle” wissel en dat “party

beter kommunikeer as ander” (sien afdeling 4.4.3 en 4.4.4.). Die afleiding kan gemaak word dat alle bestuurslede en interne belangegroepe nie ewe suksesvol met hulle kommunikasie is nie. Hierdie toedrag van sake kan die werknemers se tevredenheid met interne kommunikasie negatief beïnvloed.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat maatskappye meestal opnames doen om die kommunikasiebevrediging in die organisasies te toets. Voorts glo organisasies dat werknemers se deelname aan of reaksie op veldtogte juis op hierdie bevrediging dui. Dit is ʼn positiewe verskynsel dat die maatskappye wel navorsingsmetodes inspan om die interne belangegroepe se kommunikasiebevrediging te meet, aangesien die literatuur juis benadruk hoe belangrik hierdie metode is (sien afdeling 2.5.2.8). Die literatuur wys egter daarop dat tweerigting-simmetriese terugvoer die werknemers se persepsies akkurater sal weergee (sien afdeling 2.4.3). Daar is dus tekortkomings in die navorsingsmetodes wat organisasies gebruik, wat een deelnemer ook erken het. Die vraag kan ook gestel word of die maatskappye spesifieke veranderings maak op grond van die data wat hulle deur die oudits insamel.

ʼn Deelnemer was egter oortuig daarvan dat die grapevine (gangpraatjies) die ware toedrag van sake in die maatskappy duideliker weerspieël. Die uitdaging wat hierdie metode inhou, is dat dit nie noodwendig al die werknemers in ʼn organisasie se persepsie weerspieël nie. Dit kan wees dat sekere werknemers besluit om nie aan grapevine-gesprekke deel te neem nie, of dat ander moontlik nie ingesluit word nie. ʼn Verdere tekortkoming met die grapevine is dat sommige werknemers op grondvlak dalk nie hulle ware mening sal deel wanneer iemand op bestuursvlak aan die gesprek deelneem nie. Die grapevine neig wel meer na ʼn tweerigtinggesprek as die ander metodes wat hier bo genoem is. Tog dui die uitdagings wat hierdie metode inhou, daarop dat dit nie kommunikasiebevrediging in ʼn onderneming werklik weerspieël nie. Voorts beïnvloed die bestuur se kommunikasiestyle ook sodanige bevrediging binne hulle ondernemings.