• No results found

Opgeleide kommunikasiedepartement en kommunikasierolle

4.5 STRATEGIESE KOMMUNIKASIEBESTUUR

4.5.1 Opgeleide kommunikasiedepartement en kommunikasierolle

Dit is belangrik om eerstens uit te wys dat verskeie deelnemers gevra het wat met “formele opleiding” bedoel word. Vir die doeleindes van die huidige studie word formele opleiding beskou as ʼn universiteitsgraad of ʼn diploma in ʼn kommunikasieverwante veld. Daar word nie noodwendig hier na werkwinkels of soortgelyke kortkursusse verwys nie.

Die deelnemers is dit eens dat formele opleiding nodig is en dat opgeleide praktisyns in die kommunikasiedepartement benodig word. ʼn Deelnemer het telkens op die noodsaak van kommunikasie-opleiding gewys en dit uitgewys as die rede waarom “ons so sterk interne kommunikasiespan het”. Een deelnemer het ook sodanige opleiding benadruk, omdat sy in die verlede “al ʼn kommunikasiespan van elf lede moes bestuur, waar nie een enkele persoon ʼn kommunikasiekwalifikasie gehad het nie” wat volgens haar “glad nie ideaal was nie”. Ander deelnemers het hierdie siening gedeel: “Dit is beter om meer formele kommunikasie opleiding en agtergrond te hê. Ek het vantevore in organisasies gewerk waar daar geen formele kommunikasie-opleiding was nie en dit het vir seker gewys in die standaard werk wat gelewer is.” Die afleiding kan gemaak word dat formele kommunikasie-opleiding as belangrik beskou word en die gehalte en sukses van die kommunikasiedepartement kan beïnvloed.

Dit blyk egter dat organisasies wel uitdagings ervaar met kommunikasiepraktisyns wat opleiding op strategiese vlak het. ʼn Deelnemer het verduidelik dat heelwat organisasies geneig is om “... mense van PA-rolle [persoonlike assistente] in kommunikasierolle te skuif ... Vanuit ʼn operasionele oogpunt is dit oraait, maar as jy enige strategiese kommunikasie wil doen, moet jy mense hê met formele kommunikasie-opleiding.” Die deelnemers het verduidelik dat opleiding nodig is vir strategiese bestuur, aangesien dit “vir seker sigbaar” is as praktisyns nie “hierdie tipe opleiding” het nie. ʼn Deelnemer het die kwessie só uitgedruk: “Al die senior mense in kommunikasie saam met wie ek al op strategiese vlak moes werk, het ʼn joernalistieke agtergrond of kommunikasiegraad – nie eers net ʼn diploma nie, maar gevorderde geleerdheid in die veld.” Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat formele kommunikasie-opleiding nodig is vir ʼn praktisyn om doeltreffend op strategiese vlak te funksioneer.

Die deelnemers was oortuig daarvan dat die huidige situasie-opleiding selfs meer belangrik raak: “Opleiding is vandag nog belangriker as ooit.” Die noodsaak van opleiding word onderstreep deur die nuwe tendense en voortdurende verandering in tegnologie, media en platforms, soos ook vroeër aangevoer is (sien afdeling 1.1.2.3). ʼn Deelnemer het verder verduidelik: “Ek dink ons

beweeg na meer digitale platforms en daarom sal ons skryfvaardighede byvoorbeeld ook moet verander ... Hoewel almal kan publiseer as gevolg van die nuwe digitale media, moet ons geleer word hoe om korter en sterker te skryf.” Daar is ook aangevoer dat deurlopende opleiding belangrik is, aangesien tegnologiese verandering verg dat kommunikasiekundiges deurgaans nuwe vaardighede aanleer en huidige vaardighede verfyn. Deurlopende opleiding is dus nodig om die verwikkelings “as kundiges te verstaan”. Uit die response blyk egter dat daar meer op tegniese vaardighede gefokus word wanneer opleiding vir tegnologiese vooruitgang aan die bod kom.

Sommige deelnemers het egter bevraagteken of kommunikasie-opleiding deurslaggewend is. Daar is betoog dat formele opleiding belangrik is, maar nie noodwendig in Kommunikasiestudies nie. Een deelnemer het hierdie siening deeglik verduidelik: “Ek dink enigiemand wat ʼn departement bestuur wat met kommunikasie te doen het, moet een of ander formele opleiding hê. Ek dink nie dat opleiding noodwendig in kommunikasie moet wees nie. Ek dink sielkunde is ʼn goeie een as jy in kommunikasie wil werk. Ek dink bemarking is ook ʼn goeie plek om vir kommunikasie te studeer. Kommunikasie gaan regtig oor hoe jy met mense omgaan. Die feit dat ons taal gebruik of woorde gebruik, is net ʼn middel tot die doel. So, ek dink ʼn begrip van mense en wat menslike gedrag motiveer, is gewoonlik wat sukses in interne kommunikasie dryf.” ʼn Ander deelnemer het ook genoem dat sy al saam met uitstekende kommunikasiepraktisyns gewerk het wat nie formele opleiding in kommunikasiestudie gehad het nie. Sy het vervolg: “Ek het ook met briljante mense gewerk sonder kommunikasie-opleiding, maar dan is hulle net natuurlik goeie kommunikeerders of goeie skrywers of het hulle ʼn goeie gevoel vir tale.” Hierdie deelnemer het wel benadruk dat dit volgens haar die uitsondering op die reël is.

Uit die bespreking hier bo blyk dit dat die deelnemers nie oortuig is kommunikasie-opleiding is so nodig om tegniese vaardighede aan te leer as wat dit vir strategiese kommunikasiebestuur geld nie – soos vroeër betoog is.

Die deelnemers het deegliker op die kwessie uitgebrei. Hulle het byvoorbeeld genoem dat alle werknemers in die organisasie opleiding in interne kommunikasie behoort te deurloop. Hulle glo dat “dit ʼn massiewe verskil” in organisasies sal maak en dat “algehele internekommunikasie- opleiding gedoen moet word”. Een deelnemer het aangevoer: Die feit dat daar nog nooit ʼn begroting vir hierdie soort opleiding beskikbaar was nie, is die enigste rede waarom dit nog nie plaasgevind het nie. Daar kan dus betoog word dat alle interne belangegroepe ʼn vorm van kommunikasie-opleiding moet deurgaan. Sodoende sal interne kommunikasie binne die organisasies deegliker kan geskied – nie net van bestuur of die kommunikasiedepartement na werknemer toe nie, maar ook op horisontale vlak tussen werknemers onderling. Dit blyk egter dat

die opleiding waarna hier verwys word, sterker gerig sal wees op die aanbied van werkwinkels of kursusse.

Uit inligting hier bo kan die gevolgtrekking gemaak word dat opleiding vir kommunikasiepraktisyns in organisasies belangrik is. Dit help hulle om tred te hou met voortgaande veranderings en nuwe neigings in die vakgebied van kommunikasiebestuur. Die afleiding kan ook gemaak word dat opgeleide praktisyns nodig is om op strategiese en bestuursvlak ʼn sinvolle bydra te kan lewer. Die rede is dat die standaard en gehalte van kommunikasie verhoog wanneer opgeleide praktisyns in die kommunikasiedepartement funksioneer. Daar moet egter onderskei word tussen formele kommunikasie-opleiding, wat blykbaar belangriker op strategiese vlak is, en deurlopende kommunikasie-opleiding. Laasgenoemde opleiding is sterker gerig op die ontwikkeling van vaardigheid vir tegniese rolle, veral in die lig van die huidige tegnologiese vooruitgang.

Dit blyk egter dat nie slegs opleiding belangrik vir kommunikasiepraktisyns is nie. Dit gaan hier ook oor die verstaan van mense. Praktisyns moet begrip toon vir die spesifieke konteks van verskillende persone of groepe binne die organisasie. Daardie sosiale vaardighede raak dus ook belangrik om interne kommunikasie in ʼn organisasie doeltreffend te bestuur. Kommunikasie- opleiding vir werknemers op die onderskeie vlakke kan die organisasie net verder bevoordeel.