• No results found

Volgens die literatuur vind kommunikasiepraktyke gewoonlik op drie vlakke plaas (sien afdeling 2.5.3.1). Die meeste neigings wat deelnemers in die interne kommunikasieveld aangedui het, geld op taktiese vlak. Slegs een deelnemer het kommentaar gelewer oor interne

kommunikasietendense op strategiese vlak, in plaas van slegs takties. Hy het verduidelik dat die dissipline van interne kommunikasie besig is om te ontwikkel en groei: “Ons begin wegbeweeg van die tyd toe die interne kommunikasiedepartement slegs inligtingverspreiders was, na ʼn tyd waar ons ʼn strategiese vennoot in die organisasie word.” Die interne kommunikasiedepartement se hoofdoel is nie meer om slegs “aankondigers van inligting” te wees om werknemers ingelig te hou nie, “hoewel dit steeds deel is van ons werk”.

Byna al die ander deelnemers het heel eerste aan meer taktiese uitvoering van kommunikasie gedink, in plaas van neigings in interne kommunikasie. Daar kan egter betoog word dat die uitvoering van hierdie taktiese interne kommunikasietendense wel van industrie tot industrie verskil. Die rede is dat sommige maatskappye veel meer van laervlak-werknemers gebruik maak wat nie noodwendig toegang het om interne boodskappe deur hierdie platforms te ontvang nie. Hierdie response kan dus die praktiese uitvoering van interne kommunikasie moontlik meer beklemtoon as die strategiese fokus daarop. Hierdie bevinding moet egter in voortgaande studies verder ontleed word.

Voorts het die meeste deelnemers dadelik aangedui dat elektroniese en digitale media ʼn interne kommunikasietendens is wat al gewilder raak en waarsonder hulle nie in die maatskappy kan funksioneer nie. Van die opmerking was soos volg:

 “Daar is ʼn toename in die gebruik van nuwe tegnologie en toeps in die werksplek is om met mense te kommunikeer.”

 “Toeps en mobiele toestelle is verseker die rigting waarnatoe organisasies beweeg.”

 “Digitale en sosiale media is besig om uit te brei. Besighede moet hierdie nuwe maniere gebruik om met personeel te kommunikeer, soos byvoorbeeld Trello wat ons nou implementeer vir personeelkommunikasie.”

 “Meer webgebaseerde en digitale platforms in plaas van papiergebaseerde platforms word toenemend gebruik.”

 “Die belangrikheid van meer visuele en oudiovisuele elemente wat tans geïmplementeer word, spesifiek video-knipsels en infografika, is ’n neiging.”

Die bogenoemde aannames beklemtoon dat dit belangriker is om gesprek te voer, eerder as om slegs kommunikasie te stuur. Elektroniese en digitale media, veral sosiale media, het die potensiaal om dialoog te bewerkstellig. Hierdie media kan dus help om interne kommunikasie nader aan die tweerigting-simmetriese ideaal te bring (sien afdeling 1.1.2.3 en 2.4.3). Die opmerkings verteenwoordig ook die nuwe generasie wat duidelik meer elektroniese en digitale platforms verkies, soos die neiging vroeër uitgewys is (sien afdeling 1.1.2.3 en 1.1.2.4).

Die bogenoemde tendense in interne kommunikasiebestuur is egter nie in alle organisasies en op alle vlakke van toepassing nie. Die deelnemers by maatskappye waar laervlak-werknemers die meerderheid van die personeelkorps uitmaak (bv. werkers in die fabriek, mynwerkers en werkers in ’n winkel), redeneer dat die aard van die organisasie “regtig bepaal watter media gebruik word, aangesien dit afhang of die werknemers toegang het tot nuwe tegnologiese platforms”. ʼn Deelnemer het ook genoem dat dit “afhang van twee goed: die vlak van jou werknemers en die tegnologiese toerusting en bates wat die organisasie tot sy beskikking het”. ʼn Ander deelnemer sluit hierby aan deur te verduidelik dat “nie alle werknemers toegang het tot e-posse en elektroniese kommunikasie nie. Die enigste manier hoe jy met die laervlak- werknemers kan kommunikeer is deur kennisgewingborde.” Die genoemde kennisgewingborde is egter in meeste organisasies elektronies. Dié aannames skakel met die feit dat geletterdheidsvlakke in die Suid-Afrikaanse omgewing laag is en dat die gaping tussen geletterd en ongeletterd wyd strek (sien afdeling 1.1.2).

Dit is insiggewend dat sommige van die organisasies nuwe media as uitdaging beskou en ander maatskappye dit weer positief ervaar deurdat hierdie media sterker betrokkenheid bring. Twee deelnemers het die tweerigting-simmetriese moontlikhede van digitale kanale uitgelig en verduidelik hoe dit interne belangegroepe meer betrokke kan maak (engagement). Hulle redeneer dat daar nie slegs inligting deur massauitsendings aan interne belangegroepe gestuur word nie, maar dat werknemers deur toeps soos WhatsApp for Business en die intranet betrokke kan raak en oor aangeleenthede kan terugkommunikeer. ʼn Ander deelnemer het ook genoem dat “sosiale media vir besighede besig is om groei” en dat dit positief is, aangesien dié platforms “nie oop is nie”, maar eerder die gebruikers wat die platform gebruik, kan beperk deur “jou gebruikers te identifiseer” – hoewel tweerigting kommunikasie binne die gekontroleerde omgewing kan plaasvind. In hierdie verband kan betoog word dat hoewel dié interne kommunikasiekanale engagement meer moontlik maak, dit die werknemers wat deelneem ook kan uitwys. Dus is daar meer interaksiemoontlikhede, maar nie anonimiteit nie. Aangesien werknemers geïdentifiseer kan word, wil hulle moontlik juis nie op hierdie platforms deelneem nie.

Twee ander deelnemers het weer gemeen dat die nuwe media en kanale geneig is om interne kommunikasie te bemoeilik. Dit is weens die massa inligting wat personeel daagliks deur hierdie platforms ontvang en moet hanteer. ʼn Deelnemer het uitgebrei dat dit moeiliker raak om met interne belangegroepe te kommunikeer wanneer al die verskillende aanlynmedia in ag geneem word, aangesien “ons kommunikasie moet kompeteer met die inligting wat hulle op hul persoonlike sosialemedia-rekeninge ontvang”. ʼn Ander deelnemer het saamgestem en uitgebrei dat die gebruik van meer digitale en elektroniese kanale, veral e-posse, die oorsaak vir interne kommunikasieprobleme is. Die rede vir sulke probleme is dat werknemers (d.i. ook die interne

belangegroep van ʼn organisasie) ʼn oorvloed kommunikasiestukke deur hierdie platforms ontvang en dit “moeiliker raak om daardeur te filter”. Sodoende raak belangrike boodskappe dus verlore. Hierdie kommentaar sluit aan by die betoog vroeër (sien afdeling 1.1.2.3) oor die gevaar van inligtingoorlading. Die volgende deelnemerkommentaar uit die onderhoude voorsien nog voorbeelde om hierdie probleem te beklemtoon:

 “Ek dink werknemers word oorval met ongelooflik baie inligting en dit is ʼn stryd om deur alles te werk.”

 “Dit behoort deesdae makliker te wees om te kommunikeer as wat dit ooit van te vore was. Wat ek egter sien, is dat ons in vandag se dae gebombardeer word met verskillende tipes kommunikasiestukke. Dit word al hoe moeiliker om te bepaal en te onderskei watter kommunikasiestukke prioriteit behoort te wees, en wat nie.”

 “Ons voel onder druk, omdat ons meer en meer kommunikasie ontvang wat op ons gerig is en ons het minder en minder tyd om daardeur te werk. In die verlede het ons miskien 30 tot 35 kommunikasiestukke in ʼn dag ontvang – nou is dit 3 000. Dit maak kommunikasie, insluitende interne kommunikasie, baie meer oneffektief en ondoeltreffend.”

Een van die deelnemers noem hierdie tendens “death by e-mail”.

Van die deelnemers het ook opgemerk dat: “Suid-Afrikaanse organisasies oor die algemeen nie goed is met interne kommunikasie nie.” ʼn Deelnemer het dié stelling bevestig deur te noem dat die moontlikhede 50/50 is: “Sommige organisasies is wel goed, maar die meeste is baie sleg met interne kommunikasie, en sommiges het ruimte vir verbetering.” ʼn Ander deelnemer het benadruk dat “daar baie ander korporatiewe maatskappye is waar interne kommunikasie glad nie bestaan nie en slegs die heel basiese kommunikasie intern plaasvind”. Een van die deelnemers met uitgebreide internasionale ervaring in interne kommunikasie het uit hierdie ervaring gedeel dat interne kommunikasie wêreldwyd nie doeltreffend geskied nie: “Ek het in Suid-Afrika en op elke kontinent in die wêreld gewerk, insluitend die Verenigde State, Europa en Asië. Ek glo dat interne kommunikasie wêreldwyd ʼn probleem is.” Sy rede hiervoor is digitale media – soos vroeër betoog – dat sosiale media tot inligtingoorlading kan lei. Voorts veroorsaak elektroniese media soos e-posse dat belangrike inligting verlore raak omdat mense nie al hulle e-posse lees nie. Hy benadruk die argument: “En ek dink dit [probleme wat digitale media veroorsaak] word erger, as gevolg van die aankoms van digitale kommunikasie.”

Die meeste deelnemers het gemeen dat die bogenoemde bespreking nie slegs tendense in Suid- Afrika is nie, maar “beslis wêreldwye tendense” is, veral sekere aspekte soos die “visuele fokus van interne kommunikasie”. Dit is egter merkwaardig dat die organisasies twee afsonderlike persepsies het oor of Suid-Afrika op gelyke voet staan met die res van die wêreld se interne

kommunikasietendense, en of Suid-Afrikaanse praktyke teenoor internasionale standaarde afsteek. ʼn Paar deelnemers het geglo dat “ons heeltemal aan die snykant” van interne kommunikasie is. Ander het weer betoog dat Suid-Afrika een van die leiers in die wêreld is betreffende “kommunikasie met diverse interne en eksterne teikengehore”. Die rede hiervoor is dat “ons multi-gehore baie beter verstaan, omdat ons begrip het vir diversiteit. Daarom kommunikeer ons beter as die res van die wêreld met uiteenlopende gehore”. Hierdie respons sluit aan by afdeling 1.1.2.4 waar die unieke en diverse Suid-Afrikaanse konteks verduidelik is. Daar kan dus afgelei word dat Suid-Afrikaanse maatskappye juis voldoende met interne belangegroepe kommunikeer, omdat maatskappye in die omgewing verstaan hoe belangrik kommunikasie met ʼn diverse interne gehoor werklik is en om dit daagliks te moet doen.

Op die oog af teenstrydig met die vorige argument, is ander deelnemers weer daarvan oortuig dat Suid-Afrika “definitief agter is” wat interne kommunikasietendense betref. Een van die redes hiervoor is dat “ons altyd fokus op eksterne belangegroepe in plaas van ons werknemers wat eintlik ons belangrikste bron is”. ʼn Ander deelnemer het gemeen dat Suid-Afrika “langer vat om nuwe platforms aan te neem en te gebruik, maar ons vang gewoonlik op met die res van die wêreld”. Twee deelnemers het weer geglo dat digitale kommunikasie internasionaal, veral in Amerika en Europa, “baie meer toegeneem het as in ons land”. Hulle het daarop gewys dat ander lande vinniger Wi-Fi- en internetspoed het en dat interne belangegroepe in die korporatiewe omgewings soms “nog sukkel met bandspoed”. Daarom het hulle gemeen dat “ons ver agter die res van die wêreld is wat tegnologie betref” en dat dit die gehalte van interne kommunikasie beïnvloed.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat daar wel uitstaande aspekte van interne kommunikasie in Suid-Afrika bestaan, soos dat sommige maatskappye juis doeltreffend intern kommunikeer weens die diverse en unieke omgewing waarbinne hulle funksioneer. Daarteenoor het sommige deelnemers gevoel dat Suid-Afrikaanse organisasies nie vaardig met interne kommunikasie is nie en vele uitdagings te bowe moet kom. Van die uitdagings het met digitale toerusting te doen en ook die stadige pas waarteen tegnologie in Suid-Afrika aanvaar en ingestel word. Hier geld die gaping tussen geletterdheid en ongeletterdheid, asook die feit dat sommige laervlak- werknemers nie toegang tot tegnologie het nie en gevolglik nie alle kommunikasie ontvang nie. Hierdie leemte sluit aan by die tendense wat in afdeling 1.1.2.3 uitgewys is.

Daarteenoor sien sommige organisasies die waarde in van die tweerigting-simmetriese aard van hierdie platforms. Ander voel weer dat hulle “gebombardeer” word met inligting en daarom gaan heelwat inligting verlore (inligtingoorlading).

Verskeie neigings kan as landwye en internasionale tendense in interne kommunikasie beskou word. Onder hierdie neigings geld ʼn sterker fokus op tegniese teenoor strategiese interne kommunikasiebestuur, inligtingoorlading asook nuwe digitale media en tegnologie wat toeneem, soos hier bo bespreek. Hierdie algemene oorkoepelende raamwerke moet egter per land en selfs volgens die betrokke industrie se verwagtings aangepas word. Die uitdaging is egter om die probleme wat met hierdie neigings in die unieke Suid-Afrikaanse omgewing en in verskillende besigheidsektore gepaardgaan, suksesvol te bestuur. Dit is ook waarskynlik waar die onderskeid tussen doeltreffende en ondoeltreffende interne kommunikasiebestuur binne Suid-Afrikaanse organisasies getref kan word. Dit dui op organisasies wat hierdie neigings deskundig bestuur teenoor daardie wat die uitdagings as problematies beskou en dus ondoeltreffend bestuur.