• No results found

Eerstens word die filosofiese basis van die navorsing, wat die kwalitatiewe benadering onderlê, kortliks bespreek. Daarna volg meer ingliting oor die navorsingsmetodes.

1.5.1 Navorsingsfilosofie: Fenomenologie

Die fenomenologiese uitgangspunt bied ʼn gepaste kwalitatiewe benadering wanneer die navorser ʼn gebeurtenis, aktiwiteit of verskynsel wil beskryf om sodoende ʼn volledige, akkurate en duidelike begrip van daardie bepaalde ervaring te vorm (Burns & Bossaller, 2012:601; Sauro, 2015). Deelnemers aan die studie se individuele beskrywings word gebruik om universele konsepte oor ʼn bepaalde gedeelde ervaring uit te wys (Bernet et al., 1993). Daarvoor word metodes gebruik om die genoemde konsepte en motiverings duidelik te maak (Burns & Bossaller, 2012:601; Moser & Korstjens, 2018:11).

Die fenomenologiese navorsingsfilosofie maak sin vir die huidige studie, aangesien die studie se doel is om kommunikasiepraktisyns en konsultante in die veld van interne kommunikasiebestuur se ervaring en persepsies beter te verstaan. (Die fenomenologiese benadering word in meer besonderhede in afdeling 3.2 bespreek.)

1.5.2 Navorsingsbenadering: Kwalitatief

Navorsing kan óf ʼn kwalitatiewe óf kwantitatiewe benadering volg (Blaikie, 2000:231). Kwantitatiewe navorsing fokus op die normatiewe aspekte en poog om die sosiale werklikheid so neutraal moontlik (deur berekenings en statistiese resultate) te beskryf (Bernard, 2000:418). Hierteenoor is die kwalitatiewe benadering sterker konteksgebonde en poog om mense se ervarings binne hulle sosiale omgewing te begryp (Marshall, 2005:132; Moser & Korstjens, 2017:271).

Die kwalitatiewe benadering help voorts om die kompleksiteit van die huidige stand van interne kommunikasiebestuur in Suid-Afrika te verstaan. Die benadering is geskik om indiepte-insig te verkry in die verskeidenheid perspektiewe van die deelnemers aan die navorsing (Babbie &

Mouton, 2001:53; Du Plooy, 2009:35; Matveev, 2002). Hierdie benadering help die navorser ook om begrip te toon vir ingewikkelde situasies of verskynsels wat ondersoek word (Du Plooy, 2009:38).

Die huidige studie beskryf en volg ʼn kwalitatiewe navorsingsbenadering. Deur die kwalitatiewe benadering te gebruik, kon meer in-diepte inligting oor kommunikasiebestuur en -prosesse binne ʼn spesifieke navorsingsomgewing bekom word om sodoende die navorsingvraag te beantwoord. Daar is gepoog om insig te verkry in interne kommunikasiepraktisyns en konsultante se ervarings van interne kommunikasiebestuur, asook dieper begrip vir redes en motiverings wat die deelnemers vir hulle persepsies verskaf. Die kwalitatiewe benadering tot navorsing is voorts geskik vir die huidige studie omdat dit ʼn verskeidenheid menings van deelnemers kan hanteer. Die onderskeie deelnemers kon elkeen hulle eie perspektief deel, wat bydra tot die ingesamelde inligting se rykheid en diepgang.

1.5.3 Navorsingsmetodes

Die navorsingsmetodes vir die huidige studie was ʼn literatuurstudie, gevolg deur semi- gestruktureerde onderhoude om data in te samel, waaruit relevante slotsomme getrek is.

1.5.3.1 Literatuurstudie

Verskeie databasisse is in die ondersoek geraadpleeg om te verseker dat genoegsame inligting vir die huidige studie beskikbaar was en geen ander studie reeds oor hierdie onderwerp onderneem is nie. Die volgende databasisse is hier ter sprake: NRF; NEXUS; Ferdinand Postma Biblioteek Katalogus; EBSCOHost; Google Scholar; Emerald Online; ScienceDirect; Sabinet Online; SA ePublications. Tot op hede kon geen verwysing gevind word van moontlike navorsing oor die dieselfde onderwerp as die huidige studie sʼn nie.

Nogtans is daar wel aanduiding van talle studies oor interne kommunikasie en uitnemende skakelwerk (o.a. Bamporiki, 2011; Bird, 2004; Campbell, 2018; Delport, 2008; Esterhuyse, 2001; Greeff, 2010; Hindström, 2018; Jensen, 2012; Landman, 2005; Makgowe, 2013; Matshoba, 2012; Mbhele, 2016; Meyer, 2006; Opperman, 2007; Rademeyer, 1994; Shelton, 2006; Steyn, 2000b; Van Rooyen, 2007; Walt, 2007; Wood, 2004; Yuan, 2018). Verskeie studies het ook die belangrikheid van tweerigting-simmetriese kommunikasie, uitnemendheidsteorie, belange- groepverhoudingsbestuurteorie en strategiese kommunikasiebestuur in die Suid-Afrikaanse omgewing uitgelig (o.a. Foundanellas, 2005; Landsberg, 2014; Le Roux, 2011; Mmope, 2010; Reyneke, 2013; Slabbert, 2012; Suthers, 2017; Sutton, 2014; Wiggill, 2010).

Daarby het sommige navorsers gefokus op nuwe tegnologieë en netwerke soos sosiale media binne die konteks van korporatiewe kommunikasie in Suid-Afrika (o.a. Dieperink, 2015; Erasmus, 2012; Mohanlal, 2013; Riihimäki, 2017; Steel, 2015).

Verdere internasionale studies oor tendense en nuwe ontwikkelings in korporatiewe kommunikasiebestuur en skakelwerk is ook uitgevoer (o.a. Elving, 2010; Goodman, 2001; Raupp & Van Ruler, 2006; Školudová, 2016; Tourish & Hargie, 1998). Hierdie studies fokus sterk op ʼn Westerse perspektief en sommige blyk reeds verouderd te raak.

Uit die literatuurondersoek was daar dus duidelik genoeg beskikbare literatuur om die huidige studie te kon aanpak. Daar is ook vasgestel dat hierdie studie van die voriges verskil, deur eerstens te fokus op die stand van interne kommunikasie binne Suid-Afrika gegewe die uitdagings binne die huidige konteks, en tweedens die kennis verder te integreer om ʼn raamwerk voor te stel.

1.5.3.2 Semi-gestruktureerde onderhoude

Die navorser het eerstens semi-gestruktureerde onderhoude gevoer met die interne kommunikasiepraktisyns by uitgesoekte organisasies uit die lys van Top-500 maatskappye in Suid-Afrika (Top 500, 2019). Daarna is semi-gestruktureerde onderhoude ook gevoer met uitstaande konsultante (sien afdeling 3.4.2.2 vir ʼn beskrywing) in die veld van interne kommunikasiebestuur in Suid-Afrika. Die geteikende organisasies en individue is uitgesoek as leiers in die veld van interne kommunikasie (sien afdeling 3.4.2.1 en 3.4.2.2). Hierdie benadering staan ook bekend as doelbewuste steekproefneming waar die groep aan die navorser bekend is (Du Plooy, 2009:123; Moser & Korstjens, 2018:10). Hierdie steekproefmetode en gekose deelnemers is dus geskik vir die huidige studie, aangesien inligtingryke persone doelbewus gekies is om insigte en ʼn diepgaande begrip te deel (Patton, 2015:264).

Die praktisyns, bestuurders en individue is ook aangemoedig om verdere deelnemers voor te stel, hetsy ander interne kommunikasiepraktisyns by maatskappye op die Top-500-lys, of ander konsultante wat aan die voorpunt van interne kommunikasiebestuur staan – as deel van ʼn sneeubalsteekproef (Du Plooy, 2009:124; Moser & Korstjens, 2018:10). Die proses tot versadiging het tien onderhoude met interne kommunikasiepraktisyns by die Top-500 maatskappye en agt onderhoude met konsultante in interne kommunikasie opgelewer (sien afdeling 3.4.2.1 en 3.4.2.2).

Die genoemde semi-gestruktureerde onderhoude is gevoer deur voorafvasgestelde vrae te rig, hoewel ruimte gelaat is vir opvolgvrae en vir deelnemers om temas by die onderhoude te voeg

wat nie noodwendig deur die hoofvrae geopper is nie (Greeff, 2005:296; Du Plooy, 2009:1988; Struwig & Stead, 2001:98). Die doel was om ʼn dieper beeld te vorm van interne kommunikasiepraktisyns en konsultante se persepsies oor tendense van interne kommunikasie, die bestuur daarvan en hoe dit toegepas word om gesonde verhoudings met werknemers as interne belangegroep op te bou.

Die navorser het die semi-gestruktureerde onderhoude se transkripsies vir die huidige navorsing ontleed deur ʼn kwalitatiewe inhoudsanalise te doen (Weber, 1990:21). Temas is in die onderhoudtranskripsies geïdentifiseer soos in die literatuur aangedui. Die navorser het egter ook bykomende temas uitgewys wat nie in die literatuur genoem is nie.

Al die navorsingselemente wat in hierdie afdeling aangeraak is, word in meer diepte bespreek in hoofstuk 3 en die bevindings in hoofstuk 4 en 5.