• No results found

Die vestiging van die Christelike geloof suid en oos van Palestina

Die vestiging van die Evangelie onder die Arabiere

2.3 Die vestiging van die Christelike geloof suid en oos van Palestina

In die vorige paragraaf is ’n paar opmerkings gemaak oor die vestiging van die Christelike geloof en kerk in die omstreke van Palestina. By Petra is opgrawings gedoen by die plaaslike tempel waar aanbiddingsliedere gevind is in Arabies. Hulle is gewy aan die Maagd, met die Arabiese naam: Khaabos. Petra het ‘n biskop gehad, Austerius, wat teenwoordig was by die Konsilie van Sardika (342) en wat behoort het aan die party van Arius. Hy is na Libië verban.11 Die katedraal in Bostra is in 488 voltooi. Die deur van hierdie gebou volgens ‘n inskripsie is in 407 ingewy.12 Hierdie gegewens is aanduiding van die vestiging van die Christelike geloof in die gebied rondom Palestina, met name onder die Arabiere. Die mees opvallende van die wyse waarop die Christelike geloof hier gevestig het, is die invloed van monnike, en kloosters. Hierop moet vervolgens gelet word.

Gedurende die vierde eeu is die Christelike geloof amptelik deur die Romeinse Ryk erken en het die Christelike godsdiens die status van ’n staatsgodsdiens gekry.13 Daarmee is die Christelike kerk gepopulariseer. Die oorgrote meerderheid van die burgers van die Romeinse Ryk was Christene wat gedoop is, en wat dus aan die kerk behoort het. Vir baie het die kerk en die Christelike geloof hiermee met sy wese ingeboet. Daarom het daar ’n reaksie ontstaan, wat uitgeloop het op ’n beweging teen die algemeenheid, teen die prag en praal van die amptelike staatskerk. Rondom individue is gemeenskappe gevorm. ’n Beweging is gebore, wat vergestalting gevind het in die vorm van ’n asketiese leefwyse, of in die kloosters. Dit sou een van die mees invloedryke bewegings in die kerk se geskiedenis word. Die beweging het in Egipte opgang gemaak en oorgewaai na die Sinai-woestyn, Palestina en Sirië.

11 Latourette, a.w, 80. 12 Latourette, a.w, 75-77. 13 Trimingham, a.w., 95, 101.

37 Van die woestyn in die suide van Palestina het monnike ’n groot invloed uitgeoefen op die Arabiese nomades.14 Die monnike het stadig maar seker ‘n soort status in die samelewing bekom deurdat mense na hulle gekom het vir raad, voorbidding vir siektes en die uitdrywing van bose geeste. In sommige gevalle het die optrede van monikke die kerk bevoordeel. Mense het hulle tot die Christelike geloof bekeer. Een voorbeeld om die punt te illustreer: Gedurende die regering van Valensus (362–378) is vir ‘n Arabiese Sjeik, Zokomos, ‘n seun gebore. Dit was die antwoord op die gebed van ’n monnik vir die Sjeik. As dank het hy en sy hele stam Christene geword. Teen die einde van die 4de eeue was die monastiese lewenswyse wyd verspreid.15 In 375 is die monnik Moses ingewy as biskop van die nomadiese Arabiere van koningin Mawiyya in Phoenisia en Sirië – ’n verdere aanduiding van hoe belangrik die monnik-lewenswyse in Arabië geword het. Teen die einde van die sesde eeu was kloosters en monikke gemeenskappe wyd verspreid in die gebiede van Egipte, Mesopotamië, Palestina en Sirië.16 Dit was sigbaar en algemeen bekend. In ’n oorsig oor die vestiging van die Christelike geloof in die Arabiese gebiede rondom Palestina, kan hierdie ontwikkeling dus nie oorgeslaan word nie. Dit het aan hierdie kerke ’n bepaalde teologiese karakter gegee. In die volgende paragrawe word die mees invloedryke monnike en hulle invloed op die Arabiese Christene kortliks behandel.

2.3.1 Hilarios (291–371)

Hilarios is gebore in Tabata, suid van Gaza uit nie-Christelike ouers. As jong student in Alexandrië het hy hom bekeer van die heidendom en ’n konsekwente Christelike lewe aanvaar. Hy is diepgaande deur Antonius, die beroemde hermiet beïnvloed. Met sy terugkeer na sy geboorteland, het hy hierdie lewenswyse aanvaar en het in die woestyn onttrek, na ’n afgeleë plek suidwes van die hawedorp Majoma. Sy ekstreme lewenswyse het gou aan hom bekendheid besorg. Hilarios was populêr onder die Arabiere as gevolg van talle genesings wat deur hom

14 Latourette, a.w, 104, 105. 15 Latourette, a.w, 128, 141. 16 Latourette, a.w., 220-223, 227, 228.

38 bemiddel is. Hy het baie Arabiere verlos van demoniese besetting. Hilarios self het die kultus om heilige plekke te besoek, verwerp. Hy het gesê: “God woon nie op ‘n spesifieke plek nie.”17 Om sy hut het ’n klooster ontstaan. Sy volgelinge het gekom uit die Aramees- en Arabies- sprekende monikke in die wydverspreide Negev en die grense van die Romeinse Arabië. Vanweë die gedrang en veral die teenwoordigheid van vroue, het hy na Ciprus uitgewyk waar hy in 371 gesterf het.

Talle Christene in die omstreke was gefasineer deur monnikke en die uitdagings van asketisme wat hulle beoefen het. Daar is aan ’n beweging gevolg gegee. ‘n Groot aantal kloosters, na aanleiding van die voorbeeld wat Hilarios gestel het, het opgespring. By Jabal Sirbal in die Suidwestelike hoek van die Sinaiwoestyn, byvoorbeeld. Ander volgelinge van Hilarios het hulle gevestig in die omgewing van Madyan, die gebied tussen Akaba ( Jordanië) en die Hijaz (Noord- Jemen). Op die keper beskou dui hierdie ontwikkeling op ’n element van radikaliteit in die Christelike godsdiens wat in Arabië gevestig het. Die gelowige daad is tot die uiterste toe deurgevoer. Sou dit ’n oriënteringspunt verskaf vir die opkoms van Islam 300 jaar later?18

2.3.2 Euthimius (377-473)

Euthimius is in Melitene gebore waar hy as ’n priester in die kerk georden is. Op 30-jarige ouderdom onderneem hy ’n pelgrimstog na Jerusalem. Oos van die stad het hy naby die klooster van ’n groep monikke gewoon. In 411 het hy en Teotistus hulle dieper die woestyn in onttrek. Tussen Jerusalem en die Dooie See het hulle in ’n grot gevestig. Dit het egter nie lank geneem voordat die nuus versprei het van ‘n heilige man wat in die grot woon nie. Monnike het hulself gevestig naby Euthimius se grot. ’n Klooster en kerk is gebou, waarvoor Teotistus verantwoordelikheid geneem het.

‘n Arabiese sjeik het opgedaag en sy seun Terebon gebring wat heeltemal verlam was aan sy regterkant. Hy het vertel dat die Persiese Magi nie sy seun kon genees nie. Sy seun het tot Christus geroep en daarna het hy in ‘n visioen die beeld van die monnik Euthimius gesien.

17

Trimingham, a.w., 106. Mitri, Tarek. 2000. Who are the Christians of the Arab world?

International Review of Mission, 89 (352), 14.

18

39 Euthimius het hierop vir die seun gebid en hy is genees. Euthimius het aan almal wat saamgekom het, die basiese elemente van die Christelike geloof verduidelik en almal is deur hom gedoop. Die sjeik het die doopnaam Petrus, Butros in Arabies, gekry. Euthimius het die biskop van Jerusalem oortuig om Butros as biskop in te wy omdat ‘n groep Arabiere hulle in die woestyn rondom hom begin vestig het. Hy is inderdaad ingewy as biskop in 427. Butros was deel van die kommissie wat aangewys is om Nestorius te ondervra. Hy het die Konsilie ondersteun wat Nestorius verban het. Butros het gesterf in 449.19

Eutimius het bekendheid verwerf ver buite die grense van Palestina. Groot menigtes het hom opgesoek, terwyl die kloostergemeenskap op hom gedy het. Dit is nie nodig om verder op sy lewe in te gaan nie. Die punt wat gemaak word is dat die kloostergemeenskappe, en die manier waarop hulle die Christelike geloof vertolk het, ’n invloed op die inwoners van Arabië uitgeoefen het. Dit het gegaan om ’n kontemplatiewe misterie van gemeenskap met God wat buite die ervaring van mense gelê het.

Natuurlik was hierdie radikale Christelike benadering ontvanklik vir ‘n soort wettisisme en die geloof dat verlossing deur werke verkry kan word. Die dieperliggende filosofie van dualisme was prominent in hierdie beweging. Maar, dit was die radikaliteit daarvan wat ’n benadering en gees gepropageer (en beman) het wat nie onderskat moet word nie. Kontemplasie het ’n aksie veronderstel. ’n Intellektuele ondervraging en onderkenning het in die slag gebly. Die mistieke krag van die monnike en kluisenaars se mag oor die bonatuurlike wêreld, veral die mag wat uitgeoefen is oor demone in die naam van Jesus, het assosiasies geskep wat diep inslag gevind het. Sou hierdie vorm van die Christelike geloof ’n vrugbare teelaarde vir Islam voorberei?