• No results found

STANDARD BANK SE PERSONEELKOMPONENT

3.6 Bankpersoneel as deel van die gemeenskap

3.6.5 Sport en ontspanning

Die personeel van Standard Bank gedurende die tydperk van studie was hoofsaaklik jong mans. By sommige banktakke was die geleenthede vir sportbeoefening en ontspanning uiters beperk. By ander was daar meer geleenthede daarvoor en aanduidings is dat die jong manne ywerig van die geleenthede gebruik gemaak of hul eie geleenthede geskep het.

Sport

Die personeel van Standard Bank was vir die eerste halfeeu ná die stigting van die bank almal manlik en meestal vrygeselle (Terry 1979: 6). Jag van wild en voëls was gewilde sporte by hulle en perde is beide vir algemene vervoer en vir perdesport soos polo en jakkalsjag gebruik. Polo is in Kimberley se vroeë jare op 'n resiesbaan gespeel. Kimberley het ook 'n golfbaan gehad. Daar was feitlik geen gras nie en die setperke (greens) was blou omdat dit gemaak is van blou gruis wat uit die blou grond van die diamantpyp gekom het. Tennis was 'n baie gewilde sport, wat ook uitstekende sosiale interaksie meegebring het. JJ Swanson, 'n bankbeampte, het die tennisbyeenkomste aan die begin van die 20ste beskryf as meer 'n sosiale affêre as 'n tennisspelery. Metafisiese faktore het 'n groot rol gespeel in die sosiale lewe. Swanson dui aan dat die sosiale status van persone wat by een van die tennisklubs wou aansluit 'n ernstige saak was:

[.] twee dinge het saak gemaak - salaris of posisie in De Beers Consolidated Mines [.] Die volgorde was min of meer: Direkteure van De Beers (hul posisie op die ranglys was naas dié van die Almagtige - of dit daarbo of daaronder was, is onseker); De Beers se senior beamptes; diamantkopers; dokters, prokureurs en bankbestuurders; die res - ongeklassifiseer, maar jong mans kon hoër in die ranglys beland as hulle die guns van een van die senior dames kon wen (Terry 1979: 65-68).

Rugby is sedert die 1860's in Suid-Afrika gespeel (Greyvenstein 1978: 8) en was ook gewild in Kimberley, waar dit op 'n harde baan van klei en blougrond gespeel is. JM en AW Powell het van Kimberley gekom en in 1891 en 1893 onderskeidelik, hul internasionale rugby-toetrede gemaak as lede van die Springbokrugbyspan. JM Powell het in vier rugbytoetse en AW Powell in een toets vir die Springbokke gespeel. Ook FG Dobbin het van Kimberley gekom en het in nege toetse vir die Springbokke gespeel (Greyvenstein 1978: 268, 270). Beide Powells en ook Dobbin was lede van die sogenaamde Griekwaland-Wes-rugbyklub saam met lede van Standard Bank se personeel.

In Port Elizabeth was daar atletiekbyeenkomste waaraan van Standard Bank se personeel deelgeneem het, saam met lede van die Caledonian Society, vrywilligerregimente, voetbalklubs, geharde matrose en vissermanne. Die bank het soms 'n toutrekspan ingeskryf, wat 'n spottery oor swak armpies en sagte handjies afgegee het. Deur goeie tegniek het Standard Bank se toutrekspan egter soms as kampioen toutrekspan uit die stryd getree (Terry 1979: 22-23).

Ontspanning

Ontspanningsgeriewe op die Suid-Afrikaanse platteland was oor die algemeen beperk in die laat 19de en vroeg 20ste eeue en daar was groot verskille tussen geriewe in plekke soos byvoorbeeld Kimberley of Port Elizabeth en ander, soos byvoorbeeld Prince Albert of Richmond.

Die feit dat die meeste van die junior personeel nie eie behuising kon bekom nie en akkommodasie gedeel het, het die voordeel ingehou dat hulle nie vereensaam het nie. Baie ure is met kaartspeel verwyl en hulle het saam danse, boksgevegte en selfs soms haangevegte bygewoon, op uitstappies en pieknieks gegaan en gesels. Die saamblyery van bankbeamptes het natuurlik ook tot moleste en staaltjies aanleiding gegee. Dié wat aan sportklubs behoort het, het hul ontspanningsure daar verwyl. Musiekgroepe, soos die Wheeler-Edwardsgroep, en sirkusse het die groter sentra besoek. Daar is ook verwysing na 'n Christy- vermaaklikheidsgroep wat op Fort Beaufort opgetree het en waar goedige grappies ten koste van bankpersoneel gemaak is, en na solosang in die Kimberley Hotel in Barberton. Die Searle's Opera Company het die sub-kontinent besoek en opvoerings gegee. Hierdie groep se dames en leidende manlike kunstenaars het met drie koetse gereis en die dékor het per ossewa agterna gekom (Zeederberg 1971: 96). Synde ‘n myndorp was weddenskappe op feitlik elke denkbare ding gewild (Terry 1979: 65-68, 85).

Verskeie beamptes van die bank het op reise en op die dorpe waar hulle gewerk het groot gasvryheid van die gemeenskap geniet. Veral op plekke waar groot aantalle myners teenwoordig was, het spontane vermaak klaarblyklik ontstaan. Op 8 Junie 1887 het die Zoutpansberg Review 'n beriggie gedra van 25 dames wat deur Pietersburg sou reis op pad na Mashonaland. Dit het tot groot opwinding en die saamkoms van 'n skare mans in Pietersburg se strate gelei. Iets soortgelyks het in Leydsdorp gebeur toe die eerste koets wat gedeeltelik deur sebras getrek is daar aangekom het. Werkers het gereedskap neergelê en na die aankomspunt van die koets gestroom. Die aankoms, sê Zeederberg, . het vir groot opwinding gesorg. Binne 'n halfuur het honderde myners van omliggende myne die koets omring. In 'n spontane gees van feesviering is 'n veertig-gelling houer (sowat 180 liter) bier oopgemaak om die geleentheid te vier (Zeederberg 1971: 123,125).

Die markplein in die meeste dorpe het baie menslike interaksie verskaf: groente is gekoop en vendusies is gehou. Op markdae was dit 'n miernes. Ervarings is uitgeruil, rytuie en trekdiere is bekyk en bespreek en jagstories is vertel (http://www.barbertonmanor.com/museums.html). Meer makabere gebeure het ook voorgekom. In Barberton is 'n Chinese man gevang wat na bewering goedere van waens gesteel het. In 'n voorval van histeriese en onwettige

groepsgeweld, is hy sonder verhoor aan 'n Maroelaboom opgehang. Polisieman Pat Murphy het egter die riem om sy nek afgesny en hy het die Barbertondistrik baie vinnig verlaat

(http://mpumalangahappenings.co.za/barberton_homepage. html).