• No results found

DIE GEOFISIESE EN GESKIEDKUNDIG-POLITIEKE KONTEKS WAARBINNE STANDARD BANK ONTSTAAN HET

2.2 Geskiedkundige kontekstualisering binne konteks van plek en tyd 1 Die globale konteks teen die middel van die 19de eeu

2.2.3 Suider-Afrika teen die middel van die 19de eeu

2.2.3.8 Die Anglo-Boereoorloë, die Jameson-inval en die Rebellie van

Gewapende konflik tussen die afstammelinge van vroeë Europese setlaars en Britse imperiale magte het veral in die laaste twee dekades van die 19de eeu en die eerste twee dekades van die 20ste eeu voorgekom. Die negatiewe invloed en nalatenskap van wantroue sou egter nog lank daarna 'n rol in die Suid-Afrikaanse samelewing speel.

Die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880 - 1881 en die Jameson-inval

Moontlik in navolging van Britse terme is daar in Suid-Afrikaanse regerings- en sekere ander kringe 'n voorkeur vir die term South African War of Suid-Afrikaanse Oorlog vir die konflik van 1899 tot 1902. Die oorlog het gevolg op en was die resultaat van 'n amptelike en formele démarche van een soewereine regering aan 'n ander. Wat daarop gevolg het, was 'n oorlog tussen daardie twee state en hul alliansie-vennote. Die regte beskrywing daarvoor is dus die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902, soos in hierdie studie gebruik. In sommige gevalle is verwys na die tweede oorlog tussen die republieke en die Britse ryk, wat ook korrek is. Om uit 'n Britse oogpunt daarna te verwys as The South African War is ook aanvaarbaar. Mense buite en binne die twee staatkundige groeperings is baie nadelig geraak daardeur, maar die oorlog was tussen twee staatregtelike entiteite, soos in die naam Anglo-Boereoorlog aangedui.

Na verskeie vreedsame pogings - onder meer twee deputasies na Brittanje - om die 1877 anneksasie van Transvaal om te keer, het die burgers van die Zuid-Afrikaanse Republiek aan die einde van 1880 in opstand gekom teen die Britse owerhede. Dit was 'n kort oorlog, ook bekend as die Eerste Anglo-Boereoorlog (ook genoem die Eerste Vryheidsoorlog), met groot verliese vir Brittanje, veral aan prestige. Aan Britse kant het 'n byna fanatiese behoefte ontstaan om Majuba, een van die mees vernederende nederlae wat Brittanje ooit gely het, te wreek. Die Boere, beweer Van Jaarsveld: ... het veral na die opofferinge van goed en bloed gedurende die Eerste Vryheidsoorlog nasionalisties gedink en die handhawing van die onafhanklikheid vooropgestel. Dis tot 'n soort ideologiese waarde verhef (1982: 223). Lacour-Gayet maak die volgende stelling oor die situasie na die eerste een van die twee oorloë: Afrikaner nationalism had taken shape (1977: 152).

In 1894 het Cecil John Rhodes en Leander Starr Jameson besoek gebring aan Londen, waar hulle onder meer vir koningin Victoria ontmoet het. Die koningin het opgemerk dat Transvaal nooit vir Brittanje verlore moes gegaan het nie en Rhodes het haar verseker dat dit teruggebring sou word as deel van die Britse Ryk (Lacour-Gayet 1977: 172). Rhodes was daarna vasbeslote dat die regering van president Paul Kruger van die Transvaal omvergewerp moet word ten einde Britse beheer oor die Transvaal en sy goudmyne te verkry (Rhoodie 1967: 14; Geyser 2001:14, 18). Van Jaarsveld skryf: Rhodes, wat die ideaal van 'n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag gekoester het, het haastig geword om dit in vervulling te sien gaan (1982: 228). Om die Transvaal weer deel van die Britse Ryk te maak, het Rhodes 'n sameswering met die groot mynbase in Johannesburg gesmee om 'n rebellie aan die Rand te begin. Die Britse regering onder Chamberlain was daarby betrokke (Pretorius in Pretorius (red) 2012: 236; Van Jaarsveld 1982: 228). Rhodes het groot hoeveelhede wapentuig na Transvaal gesmokkel en Leander Starr Jameson is met 'n sterk mag by Pitsani in die hedendaagse Botswana geplaas op grond wat deur die Imperiale regering beskikbaar gestel is (Lacour-Gayet 1982: 174). Volgens afspraak sou die Uitlanders in Johannesburg in opstand kom en sou Jameson tot hul redding kom en die Krugerregering omverwerp (Geyser 2001: 14).

Jameson was swaar bewapen met 'n paar honderd man, een 12½-pond kanon, 6 Maximgewere, en twee 7-pond kannonne (Crwys-Williams 1898: 94). Die plan het jammerlik misluk met verreikende gevolge (James 1996: 264). JC Smuts jnr sê: The repercussions of the Raid were serious and far-reaching (Smuts 1952: 35).

Terwyl fisiese skade relatief beperk was, was die metafisiese gevolge baie groot. Dit het onder meer gelei tot nog groter wantroue teen die Britse regering, meer nasionalisme, groter solidariteit tussen die Transvaal en Oranje Vrystaat en verslegte verhoudings tussen Afrikaanse en Engelssprekendes in die hele Suid-Afrika. Vir generaal JC Smuts persoonlik was dit 'n verraderlike daad (Krause 1944: 45). Hy het die Kaapprovinsie verlaat en in Transvaal gaan woon (Smuts 1952: 36). Ook Maria Rothmann (MER) het die Jameson-inval beskryf as die grootste keerpunt in haar lewe (Steyn 2003: 13). Die ontgogeling van hierdie twee mense kan gesien word as verteenwoordigend van 'n baie groot deel van die bevolking. Dit sou in die toekoms 'n direkte invloed uitoefen op die verhouding tussen Afrikaans- en Engelssprekendes in Suid-Afrika en op Standard Bank.

Die gebreke van die kommissie wat aangestel is om die skandaal te ondersoek, soos "verlore" telegramme en 'n algemene gebrek aan geloofwaardigheid, het meer ontnugtering en wrewel oor die voorval en toesmeerdery veroorsaak. Longford beskryf dit as 'n toesmeerdery (cover- up), en verwys na skrywers wat op grond van bewyse die premier van Brittanje se optrede

beskryf het as ... a superb if disgraceful exercise in political survival. Die premier self is beskryf as [.] in it up to the neck (Longford 1982: x).

Benewens die groter polarisasie wat die inval binne Suid-Afrika veroorsaak het, het die oënskynlik agterbakse aard van die kommissie van ondersoek wantroue teen Brittanje verhoog en die vlam van Afrikanernasionalisme sterk aangeblaas. Die wantroue wat geskep is, is ook deur Standard Bank ervaar en het onder meer tot die verlies van baie bankkliënte gelei toe 'n Afrikaanse bank later gestig is. Die inval het direk bygedra tot die vernietigende tweede Anglo- Boereoorlog wat sou volg en waardeur feitlik alle Suid-Afrikaners geraak sou word.

Die Tweede Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902

Belangebotsings van baie jare, die omsirkeling van die republieke en die strewe om die Transvaal weer deel van die Britse ryk te maak, het in Oktober 1899 uitgeloop op die Tweede Anglo-Boereoorlog, ook soms na verwys as die Tweede Vryheidsoorlog. Transvaal het in Oktober 1899 aan Brittanje 'n ultimatum gestel om die Britse troepe op die Transvaalse grense terug te trek of in 'n staat van oorlog met die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) te gaan. Die ZAR en die Republiek van die Oranje Vrijstaat het 'n verdedigingsooreenkoms gehad en met eersgenoemde se oorlogsverkkaring het die Vrystaat ook betrokke geraak.Die Britse premier, Chamberlain, was in ekstase toe hy van die Republieke se ultimatum hoor. They have done it! het hy uitgeroep (Farwell 1976: 47). So het nog 'n verwoestende oorlog in Suid-Afrika begin. Omdat die vegtende Boere voorrade en inligting by plaashuise kon bekom, het die Britte mettertyd 'n beleid van verskroeide aarde toegepas. Alle voedsel - oeste, skape, beeste, bokke, pluimvee - in 'n radius van 16 kilometer om elke plaas is vernietig (Pretorius in Pretorius (red) 2012: 245). Plaaswonings en ander geboue is afgebrand, vrugteboorde, heinings, watervore en krale is vernietig en selfs troeteldiere is voor kinders met bajonette doodgemaak. Groot getalle vrouens, kinders en ouer mense, wit en swart mense, is na konsentrasiekampe aangejaag. Die haglike omstandighede van hierdie mense en die afgryslike groot getalle sterftes, veral onder kinders, het 'n neerslag van bitterheid gelaat wat meer as 'n eeu later nog nie sou verdwyn nie. Die administrasie van die kampe was só swak dat die omvang van vroue en kindersterftes in swart kampe nie eers gedokumenteer is nie. Sonder inligting oor die lyding en sterfgetalle van mense in die swart kampe, beskryf Muller deel van die menslike lyding so:

Apart from the immeasurable human suffering, hardship and damage to property and possessions, it had cost the British treasury £191 000 000 to destroy the independence of the two Boer republics. Among the approximately half-a-million who participated on the British side, there were 97 477 casualties, of whom 7 091 were killed or died of wounds, and 19 143 were wounded; the rest suffered from illness, mainly dysentery. On the Boer

side 3 990 burghers were killed and 1 081 died of disease or accidents in the field. Boer statistics of wounded burghers were not kept. [.] civilian death rate and that of prisoners of war [.] brings the total figure up to 34 116. On closer examination of the Boer death rate 12% would appear to have died in battle, 6% died on commando from other causes, 17% were adults in the camps and 65% were children under the age of 16 years (Muller 1981: 361).

Een van die volkshelde vir Afrikaners wat uit die oorlog na vore getree het, was die Britse vrou Emily Hobhouse. Vir die Afrikaners het sy in groot mate alles wat goed en edel was verteenwoordig. Haar hardhandige behandeling deur die Britse militêre owerhede en persoonlike aanvalle op haar geloofwaardigheid as persoon het bygedra tot simpatie vir haar en sterk gevoelens by baie Afrikaanssprekendes teen feitlik alles Engels. Die verwoesting van die land en die verarming van die bevolking sou faktore word wat onmiddellik na die oorlog maar ook baie jare daarna 'n rol sou speel in die ekonomie en die bankwese van Suid-Afrika.

Aan die einde van die 20ste eeu sou die getalle van bevolkingsgroepe en die posisie en beskerming van die regte van Afrikaner- en ander minderhede deur 'n meerderheidsregering belangrike en deurslaggewende faktore word in onderhandelinge oor 'n nuwe politieke bedeling vir Suid-Afrika. Beskuldigende vingers is meer as 'n eeu later steeds na die Britse regering gewys, wie se aksies teen nie-vegtendes 'n groot invloed op Afrikaners se bevolkingsgetalle gehad het.

Omdat die Britte voor die oorlog aangedui het dat die oorlog ook ter wille van die swart mense van Suid-Afrika geveg sou word, was die swart mense se teleurstelling groot toe die Vrede van Vereeniging aan die einde van die oorlog geen voorsiening gemaak het vir die verbetering van hul politieke posisie nie. Die kwessie oor hul politieke deelname is uitgestel tot ná selfregering vir die republieke (Kestell & Van Velden 1982: 105; Lodge 1983: 1; Mbeki 1992: 9; Muller 1981:360; Scher 2012: 256).

'n Verdere resultaat van die oorlog was die aanstel van die South African Native Affairs Commission van 1903 tot 1905. Hierdie kommissie, deel van die sogenaamde Milner Kindergarten, is aangestel om 'n eenvormige beleid ten opsigte van swart mense uit te werk. Tatz voer aan dat Native policies of successive South African governments have remained unchanged in principle en dat dit alles teruggevoer kan word na die aanbevelings van hierdie kommissie (1962: 6). Volgens hom het professor Edgar Brookes gesê die enigste kritiek wat teen die kommissie ingebring kan word, is die onderverteenwoordiging van die Nederlandssprekende deel van die bevolking daarin (1962: 7). Die kommissie se aanbevelings het twee beginsels vasgelê: segregasie en territoriale skeiding tussen wit en swart bevolkingsgroepe; dat dominansie deur die wit mense verseker moes word (Brookes 1962: 9).

Omarming van hierdie benadering en die latere vaslegging daarvan in wetgewing, sou mettertyd tot gevolg hê dat wetlik aan Standard Bank voorgeskryf is wie hy in diens mag neem. Dit sou ook bepaal watter personeel van die bank op die bank se perseel mag slaap en dat die bank se besigheidspersele aangepas moes word om afsonderlike ingange te hê. In die sosiale omgang van die bank met sy kliënte, sou wetgewing bepaal wie deur die bank onthaal mag word, waar dit mag gebeur en of wyn aan so 'n kliënt voorgesit mag word. Personeel van die bank sou onderhewig wees aan wetlike voorskrifte oor die keuse van huweliksmaats. Die kleurslagboom-beginsel en die wetlike en ander voorskrifte in hierdie verband sou aanleiding gee tot vernedering, materiële en nie-materiële skade vir swart mense, groot konflik, 'n bevrydingstryd en talmende ontevredenheid, selfs ná 'n oorgang na numeriese meerderheidsregering.

Die Rebellie van 1914

In 1914 het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Vir baie Afrikaanssprekendes was dit ondenkbaar om saam met Brittanje te veg, veral teen Duitsland, vanwaar baie burgers afgestam het en op wie se steun in die Anglo-Boereoorlog gehoop is. Baie Engelssprekendes in Suid-Afrika het Brittanje se oorlogspoging heelhartig gesteun. Van die Afrikaanssprekendes het dit gesien as 'n geleentheid om die Boererepublieke te herstel en het gerebelleer (L'Ange 1991: 39). Die Rebellie is deur die regering onderdruk, maar nie voor die dood van etlike mense, groot skade, verdere polarisasie en die skep van meer bitterheid nie. Die teregstelling van Jopie Fourie, 'n offisier in die Unie se Verdedigingsmag wat nie sy offisierskommissie bedank het voor hy gerebeleer en etlike weermaglede doodgeskiet het nie, het veral baie bitterheid veroorsaak, met generaals Botha en Smuts die skyf van skerp kritiek (Muller 1990: 314; Van der Ross 1986: 83). Dit het gelei tot 'n toename in steun vir die minder gematigde Nasionale Party van dr DF Malan (Muller 1990: 315). Die konfiskering van rebelle se eiendom en groot boetes, benewens sosiale en politieke implikasies, sou ook die bankwese in Suid-Afrika raak (Krüger 1969: 95).

2.2.3.9 Uniewording, 1910

Op 31 Mei 1910 is die vier Britse kolonies van Suid-Afrika (waarby eens selfstandige gebiede onder swart bestuur vroeër ingesluit is), in die Unie van Suid-Afrika verenig. Vir die eerste keer is verwag dat die uiteenlopende streekslojaliteite in een nasionalisme saamgesnoer moes word. Vooraanstaande blanke leiers uit al vier provinsies het vooraf bymekaar gekom en aanvaarbare kompromieë gesoek. Die swart meerderheid van die bevolking is vir alle praktiese doeleindes uitgesluit uit die politieke proses.

Die ekonomiese voordele was voor die hand liggend en grootliks onweerlegbaar. Dit het direkte en indirekte voordele vir Standard Bank en bankwese in die algemeen ingehou. Henry beweer

dat Uniewording tot gevolg gehad het dat Suid-Afrika tien jaar ná die vernietigende oorlog en tot met die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog ekonomiese voorspoed belewe het (1963: 164). Politieke regte van die swart mense binne Unie-verband is deur blanke verteenwoordigers by die Nasionale Konvensie aangespreek maar geen swart mense was deel daarvan nie. Die resultaat was dat die sogenaamde kleurslagboom (differensiasie tussen swart en wit) van krag gebly het. Dit is in die grondwet ingesluit en is deur die Britse parlement in die wet op die Unie se grondwet bekragtig. Uiteraard was dit 'n groot en bitterre teleurstelling vir die klein swart professionele middelklas (Lodge 1983: 1; Mbeki 1992: 16). DDT Jabavu het die volgende daaroor te sê gehad: [.] the natives did not want predominance, they did not claim majority rights, but only such privileges as would not conflict with the maintenance of European rule (Roux 1966: 72 - 73). Hierdie uitsluiting was een van die faktore wat daartoe gelei het dat 'n landwye organisasie vir die verkryging van die stemreg vir swart mense in 1912 in Bloemfontein gestig is: die South African Native National Congress (later ANC).

Van 'n verstote gemeenskap sonder bevredigende regeringsdeelname en -verteenwoordiging sou die swart mense van Suid-Afrika in die toekoms die regerende elite word, met die ANC aan die spits.