• No results found

AKKOMMODASIE VIR DIE BEDRYF VAN STANDARD BANK SE BESIGHEID

4.3 Vereistes waaraan bankpersele, bankgeboue en banktakke moes voldoen

4.3.2.2 Fisiese vereistes waaraan bankgeboue moes voldoen

Omdat Standard Bank met geld en ander waardevolle voorwerpe gewerk het, was dit 'n basiese vereiste dat die bank se geboue stewig moes wees. Volgens voorskrif moes elke banktak 'n kluis hê en bankinspekteurs moes by elke besoek verslag lewer oor die standaard van die kluis. Geboue moes soliede deure, en vensters met tralies, hê. Hulle moes indrukwekkend in voorkoms wees, maar moes nie soos forte lyk nie. In die 20ste eeu het die bank se geboue toenemend voorsiening gemaak vir afsonderlike ingange en toonbanke vir mense van verskillende bevolkingsgroepe, hoewel dit aanvanklik nie statutêr voorgeskryf is nie.

4.3.3 Banktakke

Die term "banktak" verwys hier na die perseel, die gebou daarop, die funksionerende personeel, die bestuur en die toerusting en geldvorms wat in die uitvoering van die bank se dag-tot-dag werking gebruik is.

Die maak van 'n onderskeid tussen bankgeboue en banktakke kan kunsmatig voorkom.

Tog is elke deel van die banktak 'n afsonderlike entiteit. 'n Perseel het eie eienskappe en 'n gebou ander. Die personeelkomponent van 'n spesifieke tak en die wyse waarop dit bestuur is, het 'n verdere aspek bygevoeg. 'n Banktak is gevolglik meer as die somtotaal van die samestellende dele daarvan. By aspekte soos ligging is die gesamentlike perseel, geboue en dag-tot-dag funksionering van die bank ter sprake.

4.3.3.1 Metafisiese vereistes

Ligging

Hierdie faktor was veral in die myndorpe relevant omdat uitbreidende mynbedrywighede met lawaaierige skagtorings en ander mynapparaat oral opgegaan het. Daar was geen sonering of funksionerende plaaslike owerhede nie en stalle het byvoorbeeld langs banktakke bestaan. Soms het gevaarlike gate naby banktakke in die grond verskyn.

By bestaande banktakke, anders as in gevalle waar die tak nuut geopen is, het die ligging daarvan dikwels gereelde herevaluering genoodsaak as gevolg van die aard van ontwikkeling van jong dorpe of stede nadat die tak reeds 'n tydlank gevestig was. As die besigheidsdeel van 'n dorp of stad weg beweeg het vanwaar die banktak bedryf is, is ernstig besin oor die voortgesette geskiktheid daarvan. Soos in ander gevalle was die fisiese en metafisiese dimensies van relevante faktore ten nouste verweef in sulke gevalle.

Die bank het dit as van belang beskou dat 'n banktak in die sentrale besigheidsdeel van 'n dorp of gemeenskap geleë moes wees. 'n Ligging op 'n mark-, dorps- of kerkplein is ook gesien as gewens uit beide 'n besigheids- en 'n veiligheidsoogpunt.

Standard Bank het byvoorbeeld op 28 Augustus 1863 'n tak op Cradock geopen (SB ARCH 1/1/CRDK: 1988). Dit was in die mees geskikte akkommodasie wat die bank in die klein gemeenskap kon bekom en is vir sewe jaar van ene mev A Distin gehuur.

Die ligging, op Adderleystraat in Cradock, was sentraal maar die gebou se binnebeligting was beperk en daar was 'n gebrek aan privaatheid vir gesprekke tussen die bestuurder en bankkliënte (SB Inspection report Cradock 10 April 1867).

Die laaste deel van die 1860's het 'n ekonomiese afplatting in die Cradockdistrik gebring, wat nadelig ingewerk het op die omvang van Standard Bank se besigheid. Dit was só erg dat oorweging daaraan geskenk is om die tak te sluit. In 1869 is voorlopig besluit téén sluiting (SB GMO 1/1/3: 9/11/1869). In April 1871 het die bank die kontrak met mev Distin verleng tot 1874, daarna tot 1879 en daarna tot 31 Maart 1884. 'n Inspeksieverslag van 1878 het die perseel beskryf as [.] conveniently situated [.] (SB Inspection report Cradock: 26/3/1878).

Goeie besigheid is in Cradock gedoen en die bank het mettertyd besluit om 'n eie gebou op te rig. In 1883 het die bank 'n erf op 'n openbare veiling gekoop en argitek Sydney Stent van Grahamstad is aangestel om 'n bankgebou te ontwerp. Dit is in Augustus 1884 betrek en is beskryf as [.] in a central position and in every way suitable (SB Bank premises: 05/3: 151). As gevolg van omgewingsveranderinge het die perseel in Cradock egter teen die einde van die 1920's nie meer aan die bank se standaarde voldoen nie.

Op 26 Januarie 1929 het 'n bankinspekteur aangedui dat die bankgebou in Cradock 'n goeie voorkoms het, binne sowel as buite, dat dit genoeg ruimte bied vir beide die kliënte en die publiek, maar dat die ligging nie meer goed genoeg is nie. Die verslag dui aan dat daar dringend aandag aan die saak gegee moet word:

[.] it is becoming more imperative that something be done in the very near future, owing to the business portion of town being gradually moved away from the present bank premises (SB Inspection report Cradock: 26/1/1929).

In Oktober 1930 is 'n beter perseel gekoop en 'n nuwe bankgebou vir Cradock is deur die argitekte Farrow & Stocks ontwerp. Die nuwe gebou is op 6 Mei 1932 in gebruik geneem. In 'n inspekteursverslag is onder meer daaroor geskryf:

[.] the building presents a handsome and attractive appearance and is entirely suitable for our requirements, affording ample accommodation for banking business. [.] The premises are centrally situated, have been well constructed and [.] are the finest in town (SB Inspection report Cradock: 27/2/1933).

Die situasie ten opsigte van die ligging van banktakke in 'n ontwikkelende Suid-Afrika was van soveel belang vir die bank se bestuur dat daar in 1876 'n opdrag uitgestuur is na alle takke waarin versoek is dat daar op gereelde grondslag verslag gedoen moet word daaroor (SB GMO Circular 12/6/1876).

Op 8 April 1873 het Standard Bank 'n tak in Graaff-Reinet geopen. Verskillende persele is oor tyd gebruik en teen 1929 kon 'n bankinspekteur aandui dat die bank se tak sentraal geleë en, vir die toenmalige, geskik was vir die bank se doeleindes (SB Inspection report Graaff-Reinet: 24/12/1929). Ook in 1940 het 'n bankinspekteur aangedui dat die bank se tak in Graaff-Reinet goed geleë is op 'n hoek en in die middel van die dorp (SB Inspection report Graaff-Reinet: 2/10/1940).

Die bank se tak in Knysna is in 1881 vanuit een vertrek in Queenstraat bedryf. Dit is beskryf as nie ideaal nie, maar die beste wat die bank kon kry. Dit was veral nie geskik nie vanweë die feit dat dit ver buite die sentrale gebied geleë was (SB Bank Premises 13/2 1881: 44). Teen 1899 is aangedui dat dié perseel, vanweë die ligging daarvan, glad nie meer geskik was nie (SB Bank premises to 1899: 4).

In Johannesburg het Standard Bank in 1890 van perseel verander en na die Wehlgebou in Commissionerstraat getrek omdat dit gesien is as geleë in dié deel van die dorp waar die stad se sakelewe gesentreer was (Terry 1979: 173). In 1901 het die bank 'n nuwe perseel in

Johannesburg begin soek omdat geoordeel is dat die Wehlgebou, hoewel in Commissionerstraat, té laag af in die straat en té klein was (Terry 1979: 177).

Soos in baie ander aspekte van die lewe in Suid-Afrika, is dit 'n onweerlegbare feit dat etnisiteit en/of klasseverskille ook 'n invloed uitgeoefen het op die aanvaarbaarheid van die ligging van geboue. In 'n inspeksieverslag van 1895 maak die inspekteur die volgende opmerking oor die banktak in Middelburg, Transvaal: [.] the surroundings are not by any means choice, a number of coloured people living at the back (SB Inspection report Middelburg 26/10/1895).

In 'n inspekteursverslag van 21 November 1903 oor die nuwe takkantoor op Indwe, skryf die inspekteur onder meer: Our new premises [.] are well situated [.] (SB Inpection Report Indwe: 2/11/1903). Ook die banktak op Jagersfontein is in 'n inspeksieverslag van 1912 beskryf as [.] well situated [.]. 'n Nuwe gebou wat vir die bank op Jagersfontein in aanbou was, sou egter nog beter wees. Dit sou, volgens die inspeksieverslag [.] occupy one of the best business sites in the town and should prove to be suitable in every respect. Hierdie nuwe belegging sou ook, volgens dieselfde verslag, help om die bank se vertroue in die dorp se toekoms te bewys en sou help om gerugte van onttrekking deur Standard Bank (wat deur die bank se mededingers versprei is), te weerlê (SB Inspection Report Jagersfontein: 13/4/1912).

Die Queenstowntak is bedryf op 'n perseel wat volgens 'n inspekteursverslag van 1906 sentraal en goed geleë was (SB Inspection report Queenstown: September 1906). Oor die ligging van die bank se tak in Wellington het 'n bankinspekteur in 1908 verslag gedoen dat dit "150 jaarts" (125 meter) té ver wes op Kerkstraat geleë was (SB Inspection report Wellington: 7/11/1908. Die bank was baie tevrede met die ligging van die Kaapse tak in Adderleystraat. In 1903, 1912, 1915, 1916, 1922, 1924 en 1927 is dit beskryf as die mees sentrale en gerieflike ligging in die stad.

Die ligging van die bank se tak in Grahamstad is in 1907 deur 'n inspekteursverslag beskryf as sentraal geleë en geskik vir die bank se besigheid (SB Inspection report, Grahamstad: Januarie 1907). Meer as dertig jaar later, in 1938, het 'n inspeksieverslag aangedui dat dit steeds die geval is: Our premises are situated in Church Square and occupy one of the best business sites in this city (SB Inspection report Grahamstad: 29/7/1938).

In 1931 is in 'n verslag oor die bank se tak op Mosselbaai na die ligging daarvan verwys as nie geskik nie omdat dit in die ou deel van die dorp geleë was. Verskuiwing na 'n meer sentrale deel sou moontlik in die toekoms oorweeg moes word (SB Inspection report Mosselbaai 7/2/1931). 'n Jaar later word die aard van dorpontwikkelings-dinamika en die uitwerking daarvan op banktakke se ligging bevestig. 'n Inspekteur doen verslag:

We have a very good double storeyd (sic) property at Mossel Bay of solid construction and design and with quite an imposing frontage. More prosperous times here found us in the centre of the commercial section of the town and very suitably situated but with the passing of some of the old established businesses which formerly operated in the neigborhood we are now in something of a backwater (SB Inspection report Mossel Bay: 4/4/1932).

Bogenoemde is voorbeelde van die belang wat geheg is aan die ligging van Standard Bank se takkantore en die inwerking van die omgewing daarop.