• No results found

Verskillende metodes van navorsing is vir die studie gebruik.

Daar is min informante wat eerstehandse inligting oor die tydperk van ondersoek kan verskaf, maar oor aspekte van die bankwese in die algemeen is wel onderhoude gevoer. Opgetekende herinneringe van bankbeamptes is gevind en bestudeer. 'n Uiteensetting volg verder in hierdie hoofstuk.

Die voor die hand liggende metode van navorsing was die bestudering van primêre dokumente in Standard Bank se besit, die aanvulling van inligting deur bestudering van geboue en die fynkam van sekondêre, gedrukte bronne, openbare media en elektroniese argiewe.

Primêre bronne van groot kultuurhistoriese waarde is goedgunstiglik deur Standard Bank se Erfenissentrum beskikbaar gestel en stelselmatig deurgewerk. Bankgeboue is gesien as ‘n primêre bron en is oor 'n groot deel van Suid-Afrika fisies besoek, argitektonies ontleed, gefotografeer en beskryf. Nuusberigte oor gebeure in neëntiende- en vroeg twintigste-eeuse plattelandse en ander koerante was van beperkte nut. Elektroniese bronne is minimaal benut. Die volgende aspekte van die bank word in hierdie studie geanaliseer:

 die personeelkomponent (mense wat in die bank gewerk en daarin of daar naby gewoon het)

 die huisvesting van die bank (insluitende argitektuurstyle)

 metafisiese dimensies van die bank se kultuurkomponente

 die werking van die bank as instelling met die menslike interaksie van personeel en kliënte, volgens die toepaslike wette, bank- en ander voorskrifte en met inagneming van omgewingsbedreigings en ander omgewingsfaktore, (waarna samevattend verwys word as die dag-tot-dag funksionering van die bank)

 die aanwending van tegnologie

 die rol van die omgewing

'n Uitvoerige analise van die bank se finansiële dienste, beleide en produkte in dié verband val binne ander vakdissipines en vorm nie deel van hierdie studie nie.

Stoflike dimensies van die personeelkomponent wat nagevors is, hou verband met die afstande wat personeel moes reis na banktakke, personeel se behoeftes aan voedsel, woonplek en klerasie. Nie-stoflike dimensies van die personeelkomponent hou verband met die beeld wat personeel uitgedra het deur goeie diens, hoflikheid, hulpvaardigheid, ingeligtheid en aspekte soos voorkoms en algemene gedrag.

Stoflike dimensies van die gebouekomponent sluit in die geboue self, meubelment en werktuie soos brandkaste (safes) en kluise (strong rooms). Nie-stoflike dimensies van hierdie kultuurkomponent sluit beplanning ten opsigte van die opening van banktakke en die bekom van persele en akkommodasie vir die doel in, asook die beplanning van nuwe geboue. Belangrike nie-stoflike aspekte was die identifisering van behoeftes, die konseptualisering van die gebou en die beeld of boodskap wat die voorkoms en die ligging, sowel as die gebruikersvriendelikheid van bankgeboue, sou uitdra. Dit sluit ook die abstrakte simboliek van mag en welvaart in.

Stoflike dimensies van die Bank se dag-tot-dag funksionering hou verband met aspekte soos fisiese beveiliging, die tel, vervoer en hantering van geld, die skrywe en kopiëring van korrespondensie en die doen van boekinskrywings. Nie-stoflike dimensies van hierdie komponent hou verband met die simboliese betekenis van geld in die vorm van banknote en munte, skuldbriewe en bankwissels, die belang van handtekeninge en die voortdurende beplanning om veilgheidsrisiko’s en verliese te voorkom.

Die bestuur van die bank het 'n kernrol gespeel in die bepaling van sy taak en missie, sowel as die stel van standaarde en die dag-tot-dag uitvoering van die bank se taak. In verskeie gevalle

het die daarstelling van ‘n banktak begin met ‘n opmerking in ‘n bankinspekteur se verslag aan die bank se Suid-Afrikaanse hoofbestuur. Dit is gewoonlik opgevolg deur verdere verslae, kommentaar deur takbestuurders, navorsing deur die Suid-Afrikaanse hoofkantoor, besprekings, berekeninge, beplanning en begroting. Na verdere beplanning en die teken van argiteksplanne en werktekeninge, het die gebou fisies gestalte gekry. Die meeste primêre bronne in hierdie verband is in Standard Bank se argiewe in Johannesburg, waar dit uitvoerig nagevors is.

Standard Bank het teen 1900 reeds 'n honderd takke in Suid-Afrika gehad. Oorweging is geskenk aan ‘n kwantitatiewe benadering ten opsigte van navorsing vir die studie. Floud is van mening dat ‘n kwantitatiewe benadering van groot nut in die sosiale wetenskappe is, selfs al raak dit nie alle aspekte van ‘n studie nie. Dié aspekte wat wél kwantitatief meetbaar is, kan, volgens Floud, juis help om die onmeetbares te belig (1979: 3). Sorgvuldige analisering het gelei tot die slotsom dat ‘n kwantitatiewe benadering tot die studie nie begrip oor die bank se kultuur sal bevorder nie. Die doel van die studie is om kultuurhistoriese aspekte in ‘n finansiële instelling te analiseer en nie om die geldelike aspekte van die instelling (waar kwantitatiewe ontleding onontbeerlik sou wees) te analiseer nie. Die aantal personeellede in diens is hoogstens 'n aanduiding van die omvang van 'n betrokke tak se werksaamhede en die aantal takke is slegs insiggewend as aanduiding van die wye omvang van die bank se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse gemeenskap en geskiedenis.

Die voorkoms van sy geboue was vir die bank van groot belang. Die klassifisering van geboue as "mooi" of esteties onaanvaarbaar word egter in die studie vermy omdat die twee begrippe subjektief en onwetenskaplik is. ’n Latynse gesegde lui: De gustibus non est disputandum: oor smaak kan daar nie debat gevoer word nie. Een standaard van estetika is die “Goue verhouding”, ook bekend as die Fibonacci-formule, die Golden proportion, Golden mean of die Golden section. In Latyn was dit bekend as sectio aurea. Hierdie formule bring ‘n spesifieke verhouding tussen elemente van ‘n voorwerp mee en kom onder meer in die natuur, in matesis, in musiek en in die menslike liggaam voor (Panovan 1999: 316). Dit word in die Weste vir meer as 10 000 jaar reeds beskou as esteties strelend vir die mens en is onder meer deur Pythagoras, Leonardo van Pisa, sir Arthur Wren, Le Corbusier en Salvador Dali aangewend om esteties strelende ontwerpe daar te stel (Van Bergh en ander 1986: 328). Sedert die twintigste eeu word daarna verwys as “phi”. Le Corbusier, wat geglo het in die matematiese orde van die heelal, het die Goue verhouding volgens Panovan beskryf as:

[.] rhythms apparent to the eye and clear in their relationship with one another. These rhythms are at the very root of human activities. They resound in man by an organic

inevitability, the same fine inevitibality which causes the tracing of the Golden section by children, old men, savages and the learned (Panovan 1999: 316).

Die aanwending van hierdie formule ten einde estestiese integriteit by ‘n gebou te verhoog, het beteken dat ‘n nie-stoflike gedagte/formule (waardeur stoflike materiaal in ‘n bepaalde fisiese verhouding tot mekaar geplaas, gerangskik of gebou word), word doelbewus aangewend om ‘n nie-stoflike aspek (estetiese streling) van ‘n kultuurkomponent te verhoog. Praktiese oorwegings maak dit ongelukkig onmoontlik om elemente van die bank se argitektuur fisies aan hierdie standaard te meet maar dit word in ag geneem en geanaliseer waar dit moontlik is om dit van bouplanne of uit ander bronne te verkry.

Fisiese en ook metafisiese komponente is deel van die bankwese, soos die mens [.] wat deur daardie wêreld gevorm word, maar tegelykertyd ] dit vorm (Dreyer 1987: 1). Deur hul deel wees (erleben) van Standard Bank se korporatiewe kultuur was bankpersoneel se lewens anders as ander individue s’n. Om dié rede neem die studie kennis van die gedagterigtings van Marc, Lucien Febre, Fernand Braudel en ander aangaande die bestaan en bestudering van menslike groepe en hul mentalité, soos gesien deur die Franse Annale-skool van geskiedenis (Burke 1990: 128).

1.2.2 Metodologie van die studie